Printer Friendly

Van heidebos en Skepper.

De Vries, Abraham H., samest. 2008. Van heidebos en Skeeper: 'n keur uit die werk van R.K. Belcher. Pretoria: Protea Boekhuis. 116 p. Prys: R150,00. ISBN: 978-1-86919-248-8.

Om 'n verteenwoordigende keur en keuse te maak uit 'n oeuvre wat oor amper vyftig jaar strek, is nogal heelwat gevra. Veral as dit, soos in die geval met R.K. Belcher, 'n oeuvre is wat oor die jare ingrypend van karakter verander het.

Abraham H. de Vries se seleksie in Van heidebos en Skepper laat hieraan reg geskied. Hy slaag daarin om aan iemand wat vir die eerste keer met Belcher (na wie die Ronnie Belcherprys vir poesie vernoem is) kennis maak, 'n betroubare beeld te gee van die dominante temas in hierdie digter se werk, asook die uiteenlopende soort verse wat hy geskryf het.

De Vries se keuse van gedigte kom uit Mens en Skepper (1956), Ver land (1960), Sois die lewe vir een pond sewe (1978), 'n Ding om te skil in crie maand April (1980), Ringe in 'n geelhoutboom (1982), My hart sing sewe moppies (1996) en Van heidebos en klip (2000). Soos De Vries tereg in die voorwoord opmerk, was daar nie net een Ronnie Belcher nie. Verstegnies ontwikkel sy poesie van 'n baie formele en tradisionele vers (van sy sonnette kan inderdaad as goeie illustrasie van hierdie subgenre voorgehou word) na 'n eiesoortige soort kwatryn, amper 'n moppie by tye. Hiermee saam Ioop daar 'n merkbare verandering in die idiolek waarin hy skryf: die formele standaard-Afrikaans van die eerste bundels sou met verloop van tyd Iosser raak om aan te pas by die Kaapse sfeer wat later dikwels oorheers.

Die tematiese wereld in die versameling is wyd en ryk. Dit strek van die vroee belydenisverse ("Blou Nyr', "Vroegmore", "Voel") en liefdesgedigte tot gedigte waarin kwaai maatskaplike kommentaar voorop staan. 'n Beduidende religieuse vlak is ook van die begin af duidelik aantoonbaar. Wanneer 'n mens na De Vries se keuse kyk, word die ironiese in Belcher se werk steeds duideliker, terwyl die soms humoristiese en satiriese kwatryne wat op die oog (en oor) af eenvoudig lyk, veel meer om die lyf het as om slegs 'n proeslag uit te lok.

Om hieraan in 'n resensie werklik reg te laat geskied, is eintlik nie moontlik nie, en slegs enkele voorbeelde word hier bygehaal om die leser 'n idee van die poetika van Belcher te gee.

Van die mooiste liefdesgedigte in die bloemlesing is "Trekeend" (Ver Land, 1960) waar die lewensgang en die gewoontes van so 'n trekvoel as metafoor dien vir die verlange van die spreker om weer opnuut met 'n geliefde verenig te word. Vergelyk die tweede strofe:
   Hoog teen die son
   sal hy namiddag kwe
   maar vanaand weer dig
   teen sy wyfie kom le


"Voel" (Ver Land, 1960) is 'n goeie vroee voorbeeld van die tema van lewe en dood wat deurgaans opvallend in die poesie van Belcher aanwesig bly.

Daar is sprake van die mooie wat eens bestaan het, die "... vlerke wat eers hoog en blink / gestyg het in die moreson ..." en nou in die dood selfs "stink". Dog, soos in vele van die gedigte word die dood gekenter deur hoop, 'n ander of nuwe variasie van die lewe. Die strekking van die laaste twee strofes van hierdie gedig, loop soos 'n refrein deur die bloemlesing:
   O moenie dat jou hande beef
   want alles wat die dood afsny
   moet jy laat leef.


   Haal dan jou sakmes uit
   en sny 'n hol wit beentjie uit sy bors
   en maak daarmee 'n fluit.


Die religieuse en die verhouding met die Skepper, na wie pertinent in die titel van die bloemlesing verwys word, is 'n verdere deurlopende motief in sowel die ernstige as die sogenaamde humorgedigte. Die ernstige, pietistiese "Gebed" en "Twee seisoene" (Mens en Skepper, 1956), en die ironiese "By die begrafnis van 'n volksman" (Ringe in 'n geelhoutboom, 1982) en "Reiniging van die temper' (Ver land, 1960) dra op verskillende maniere, maar met dieselfde opregtheid, die godsdienstige beskouing van die digter oor. In die bedrieglik eenvoudige kwatryn hieronder, word die mens se versugting om iets van God te begryp, en sy onvermoe daartoe, geillustreer:
   Die hoofstuk en die vers
   ja die hoofstuk en die vers
   maar al lig wat ek het
   is 'n dooie kers
   ("So is die lewe vir een pond sewe", 1978.)


In 'n kwatryn soos die volgende, wat op die oog af vir die oppervlakkige leser na spottery mag klink, word die Bybelse gegewens omskep tot 'n idioom wat vir die "gemeente" verstaanbaar is. Wat vir die gemeente (deur die digter) onverstaanbaar is, is die materialistiese gaping tussen die evangelis en sy prediking:
   "Noag was 'n dronkie
   en Dawid was 'n klonkie"
   eerwaarde ry Mercedes
   Maar die Here ry op 'n donkie


Die dood en die ewigheid asook die mens se inherente drang tot leef en oorlewing word dikwels treffend met satire en ironie in kwatryne geteken deurdat Belcher eenvoudige, onopgesmukte waarnemers kies om na 'n gebeure te kyk. Vergelyk die volgende humoristiese kwatryne waar tussen die reels iets heel anders gese word as waarna dit op die oog af lyk:
   Die gat is gegrou
   die mense staan en rou
   maar die hele okkasie
   bly 'n one man show
   ("Sois die lewe vir een pond sewe", 1978.)


en:
   Die begraafplaas se hek
   dis 'n scrapyard van 'n plek
   maar eendag as die hoeter blaas
   sal die Here ons weer opjek
   ("Sois die lewe vir een pond sewe", 1978.)


en:
   Die graf is toegegooi
   jou plek is leeg in die kooi
   die suster wat die kranse pak
   hoe buk sy dan so mooi
   ("My hart sing sewe moppies", 1996.)


Die leser wat Belcher se humor as verregaande of vulger beskou, sit die pot deeglik mis. Veel eerder is dit iets van Dylan Thomas se bekende protes: "Do not go gentle into that good night, / OId age should burn and rave at close of day; / Rage, rage against the dying of the light."

In "Poesie-aand" (Van heidebos en klip, 2000) spreek die gedig van Belcher ironiserend van die teenstelling tussen die publiek (met huile trendy; kursivering--CBIR) en die digter se eie beskouing:
   Sal ek in Dorpstraat se kafee
   my siel ontbloot for everyone to see
   ...
   Nee, eerder lieg en skurwe rympies maak
   oor snaakse goed wat ander siele raak
   ...
   Maar smokkel met my siel se brood-en-jem
   voor al die vreemde wesens? Not-a-dem!


Wanneer 'n mens so 'n oorsig van die begin tot die einde lees, skyn dit dus asof Belcher met sy latere verse meer en meer wegbeweeg het van die egte belydenisvers waarin hy met emotiewe klank en woord die leser so direk kon ontroer. Tog, indien 'n mens goed lees, is die egtheid, die fyn keuse van woord en die raaksegging van reels steeds onder die "sogenaamde" humorvers versteek.

Die beste bewys van hierdie werkswyse van Belcher, word moontlik in die gedig "Die ander woord" (Van Heidebos en klip, 1996) geillustreer:
   Die man wat dig se" Twee plus twee is vyf,
   want as hy skryf: my keel is droog ek roep
   omhoog die reier skyt so in my oog dan skryf
   hy Christus aan die kruis wat roep
   na die wit duif wat eens by die Jordaan
   kom sit het in sy niere nou verlaat
   en doof is vir sy woord: Ek is dors,
   en: Vader hoekom het jy my laat staan?
   En as hy skryf: die eelt in Tafelbaai
   dan skryf hy Robbeneiland nee Patmos
   waar God se blink sekel die wereld maai
   en as hy skryf: drie harders in 'n tros
   die sout drup uit hul sy vir een pond sewe
   dan skryf hy God wat drie keer sterf datons kan lewe.


Met die versameling van gedigte in Van heidebos en Skepper het De Vries goed daarin geslaag om die verskeidenheid en rykheid van R.K. Belcher se poesie aan te toon. Dit geld sowel vir die klankrykheid en ongedwongenheid van rym--ook in die formele verse uit die vroee bundels--as vir die virtuose raakvat-woorde en slim segging van die digter. Die bloemlesing is inderdaad 'n prikkel tot die herlees en waardering van Belcher se oeuvre, altyd met die vermaning van Marthinus Nijhoff in die oor: "Lees maar, er staat niet wat er staat".

Resensent: C. Barkhuizen le Roux

Barrydale
COPYRIGHT 2009 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2009 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

 Reader Opinion

Title:

Comment:



 

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Van Heidebos en Skeeper: 'N Keur uit die Werk van R.K. Belcher
Author:le Roux, C. Barkhuizen
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Book review
Date:Aug 1, 2009
Words:1369
Previous Article:Versindaba.
Next Article:Vir die duiwel woonplek gee in die huis.
Topics:

Terms of use | Copyright © 2014 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters