Printer Friendly

Vuilspel.

Vuilspel.

Bettina Wyngaard. Kaapstad: Umuzi, 2013.

160 pp. ISBN: 978-1-4152-0387-3.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v50i2.25

Die onstuitbare populariteit van genrefiksie in Suid-Afrika sedert 1994 word aan verskeie faktore toegeskryf. Daar is die vervaging van die grens tussen hoe en lae kultuur wat beteken dat dit nie meer so maklik is om tussen "letterkunde" en populere fiksie te onderskei nie. Heelwat populere boeke het volop literere meriete en "hoe" letterkunde leen vrylik by populere genres. Wat veral misdaadfiksie betref, meen Leon de Kock dat hierdie romans help om die sosiopolitieke werklikheid vir lesers te bemiddel in 'n samelewing vol misdaad (aangehaal deur Chetty) en elders voel hy dat skrywers van krimi's (om die Duitse term oor te neem) "sekere antwoorde oor die sosiale opset" vind deur hul vertellings in die misdaadgenre te situeer (De Kock). In Afrikaans het Deon Meyer meer as 'n dekade gelede begin om die voortou te neem met die skryf van speurromans (wat dikwels ook kenmerke van die riller vertoon) en sedertdien het skrywers soos Chris Karsten en Karin Brynard hul by Meyer aangesluit. Die skrywers en 'n groeiende aantal ander skrywers probeer elk 'n nis in die Afrikaanse speurromanmark uitkerf.

Een van die nuwe skrywers wat besluit het om haar hand aan die misdaadgenre te waag, is Bettina Wyngaard, wenner in 2010 van die Jan Rabie Rapportprys vir haar debuutroman, Troos vir die gebrokenes. Haar nuutste roman, Vuilspel, speel in Kaapstad af (soos die meeste van Deon Meyer se romans) en die handeling sentreer soos by Meyer om 'n multikulturele groepie speurders wie se ondersoek heelwat uitdagings van die polisiemag en regstelsel in post-1994 Suid-Afrika belig. Wyngaard se styl en aanpak is egter uniek en sy aap Meyer beslis nie na nie; mees opvallend is die oorspronklike plot van die roman. In Vuilspel is die hoofkarakter (en hoofspeurder) 'n vrou--'n bruin vrou, en boonop 'n lesbiese vrou. Nicola (Nicci) de Wee is een van die eerste polisielede op die toneel van die grusame moord van 'n swart vrou, Thandi Ndhlovu. Thandi was die lewensmaat van Jet, een van Nicci se vriendinne, en so word Nicci se persoonlike lewe en haar werk vir die duur van die roman op ontwrigtende wyse vermeng. Sy word hierin onderskraag deur Sally ('n Anglikaanse priester in Khayelitsha en ook 'n lid van die vriendekring) op wie Nicci heimlik verlief is.

Die gegewe dat Nicci en haar vriendinne lesbies is, is nie net agtergrondinligting nie; dit staan sentraal tot die misdaad en die oplossing daarvan. Dit blyk naamlik dat Thandi voor sy vermoor is op gewelddadige wyse deur soveel as agt mans verkrag is, 'n voorbeeld van "korrektiewe verkragting" deur 'n groep mans wat Thandi se lesbiese verhouding as bedreigend ervaar. Nicci beskik heelwat vroeer as haar manlike kollegas oor hierdie inligting, maar sy durf nie die leidrade wat 'n ander lesbiese slagoffer verskaf met hulle deel nie. In die manswereld van die polisiemag is Nicci glad nie openlik oor haar seksuele orientasie nie, en dit lei daagliks tot ongemaklike interaksies met veral een kollega aan wie sy nie kan verduidelik waarom sy nie in hom belangstel nie. Nog 'n aspek van die daaglikse realiteit van lesbiers in Suid-Afrika is die talle verwysings na die pynlike coming out-ervarings van die verskillende vroulike karakters. Jet se ma wil selfs na Thandi se dood beswaarlik die romantiese aard van haar dogter se verhouding erken, ons lees dat Thandi se Xhosa-ouers nie kon vrede maak met hul dogter se keuses nie en ook Nicci mymer oor haar ma se gebrek aan begrip en volkome aanvaarding.

Behalwe vir die talle persoonlike details van die karakters se lewens waarmee die leser kennis maak, word ook 'n eietydse prentjie van 'n polisiestasie in Khayelitsha geskets. Nicci het 'n nou werksverhouding met haar bruin en wit kollegas, en veral die verhouding met Blackie Swart, die ouer wit speurder, is een vol deernis, onderlinge afhanklikheid en respek. Nicci is deeglik bewus van die feit dat sy op grond van haar velkleur al etlike kere bo Blackie bevorder is; tog affekteer dit nie sy toewyding tot sy werk en tot haar nie. Op interessante wyse heers daar aansienlike solidariteit tussen die wit en bruin karakters wat herhaaldelik hul teleurstelling met die nuwe, korrupte bedeling uiter, soos beliggaam deur hul swart bevelvoerder, kolonel Matoane. Wit en bruin het ook ewe min toegang tot die Xhosa-gemeenskap van Khayelitsha en word gekonfronteer met 'n stelsel waar die "street wardens"--ouer Xhosa-mans--wet en orde in die township handhaaf. Hul gesag is so verreikend dat ooggetuies bereid is om met die wardens te praat maar nie met die polisie nie, iets wat indruis teen alle polisieprosedure. Uiteindelik word die polisie se onmag om geregtigheid te laat seevier finaal onderstreep deur die vigilante-optrede van die Xhosa-gemeenskap teenoor Thandi se moordenaars, 'n gegewe wat herinner aan Deon Meyer se Infanta. Dit is 'n kenmerk van die hard-boiled speurverhaal dat die polisie en regstelsel dikwels onbekwaam en kragteloos is; by Deon Meyer en hier in Vuilspel is daar unieke aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing na 1994 wat dit moeilik maak vir speurders en slagoffers om in die effektiwiteit van die stelsel te glo.

Vuilspel maak 'n belangrike bydrae nie net tot die Afrikaanse speurverhaal nie, maar tot Afrikaanse literatuur in die bree as gevolg van die aktuele temas wat dit aansny. Lesbiese karakters, en veral bruin lesbiese vroue, was tot dusver 'n verswee verskynsel waaroor daar nog baie geskryf kan word, en die roman se hantering van genderkwessies is veelkantig. Ook die uitbeelding van die interaksie tussen verskillende rasse en tussen Westerse en Afrika-opvattings verdien nadere ondersoek. Om hierdie redes het Vuilspel my opgewonde gemaak oor die nuwe rigtings wat Afrikaanse boeke kan inslaan. Ja, heelwat kritiek kan ook teen die roman geopper word: die spanningslyn word telkens ondermyn deur herhalende, feitlik identiese gesprekke tussen die speurders, en die slot van die roman fokus slegs op die misdaad en nie op die oplossing van die verskeie persoonlike dramas nie. Die styl is oneweredig en die taalversorging kon beslis deegliker gewees het. Tog wil ek ten spyte van talle dinge wat haper lesers sterk aanmoedig om die unieke leeservaring van Vuilspel mee te maak.

Verwysings

Chetty, Kavish. "Is Crime Fiction the New Political Novel?" Slipnet. 12 Mei 2012. 2013. <http://slipnet. co.za/view/event/new-political-novels-not-sopolitical/>.

De Kock, Leon. "Sosiale moord in die Karoo." Beeld. 22 Jun. 2011. 2013. <http://www.beeld.com/Boeke/ OnlangsVerskyn/Sosiale-moord-in-die-Karoo 20110622>.

Jacomien van Niekerk

jacomien.vanniekerk@up.ac.za

Universiteit van Pretoria

Pretoria
COPYRIGHT 2013 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:van Niekerk, Jacomien
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Article Type:Book review
Date:Mar 22, 2013
Words:1084
Previous Article:Wolf, wolf.
Next Article:Rodriquez.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |