Printer Friendly

Vrededorp.

Vrededorp.

Charles J. Fourie. Pretoria: Protea Boekhuis,

2011. 112 pp. ISBN: 978-1-86919-592-2.

Charles Fourie is 'n bedrywige dramaturg wat produksies in Afrikaans en Engels op die planke bring, plaaslik en oorsee. Sy drama Vrededorp is bekroon met die 2004 KKNK/ Nagtegaal Beste Nuwe Drama-toekenning en is vir die eerste keer in Maart 2005 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer. Die toneelstuk is pas, ses jaar later, deur Protea Boekhuis gepubliseer en is 'n welkome toevoeging tot die skraal hoeveelheid dramatekste wat dit die afgelope paar jaar regkry om gepubliseer te word.

Na Fourie se baie interessante drama wat in vroee postapartheid Suid-Afrika afspeel, Don Gxubane onner die Boere (1994) was ek nuuskierig oor wat Vrededorp sou inhou, 'n drama waarin ook 'n swart hoofkarakter (Zandile) optree en wat duidelik (onder andere) inspeel op Marlene van Niekerk se roman Triomf (1994). Soos Triomf speel Vrededorp in 'n arm buurt van Johannesburg af in die onseker, gebeurtenisvolle tydperk tussen 1990 en 1994.

Naas Zandile Gxubane ('n moontlike familielid van Don Gxubane?) is die ander hoofkarakter in Vrededorp Bart Nel, wat homself as 'n direkte afstammeling van die karakter in Van Melle se roman beskou. Aan die begin van die toneelstuk is Bart en Zandile besig om te repeteer aan 'n toneelstuk wat Bart geskryf het, 'n postmodernistiese interpretasie van Samuel Beckett se Waiting for Godot. Later kritiseer Zandile Bart se pogings tot absurde teater wanneer hy se: "Who's ever heard of two guys sitting under a tree trying to open a beer bottle? What kind of a play is that?" (38). Neels en Morrie, 'n versukkelde paartjie wat 'n paar huise van Bart en sy vrou Emma af bly, probeer hul yskas aan Bart verkwansel. Uiteindelik is Zandile die een wat dit koop, net om uit te vind dat dit nie werk nie. Die stukkende yskas--homage aan Triomf --bly deurgaans op die verhoog en verkry teen die einde van die drama bykomende betekenis. Bart het alreeds 'n emaljebad op pote by Morrie-hulle gekoop; die staan in die agterplaas rond en is op die voorblad van die toneelstuk afgedruk. Bart het geen simpatie vir Morrie-hulle se swaarkry nie, want hy voel "[h]ierdie hele blerrie straat, die hele Vrededorp, is ge-inhabit met 'n spul losers. Hulle wou mos die Moslems hier uitjaag, nou suffer hulle vir hul sondes. Elke huis is op 'n lappie bad karma gebou" (23). Bart beskou ook vir Morrie en Neels as rassisties, en wil nie deur Zandile in dieselfde kategorie as hulle geplaas word nie. Zandile se egter dat Bart 'n "Boertjie" bly of hy daarvan hou of nie. Bart voorspel vol lekkerkry dat sodra Mandela vrygelaat word almal "in hulle glory" gaan wees--"die rykes en die armes, wit of te not" (25).

Bart is 'n ambivalente vermenging van verskillende Suid-Afrikaanse ideologiee. Die een oomblik ontken hy sy identiteit as "Boertjie" en noem homself Zarathustra, dan verduidelik hy vir Zandile van die AngloBoereoorlog en die konsentrasiekampe waarin sowel wit as swart mense dood is: "Dis history, joune en myne, gogo. Ons geskiedenis het nie begin en geeindig by apartheid nie" (30). Bart roem hom op sy identiteit as rebel: "Ek is Bart Nel, Kaapse rebel tot die dag wat ek sal vrek!", maar volg dit op met struggle-krete: "Viva! Amandla! Awethu!" (36). Aan die begin van die derde bedryf dra hy 'n Moslem-mansrok en 'n baard--miskien sy poging om vir die sondes van die vaders te vergoed?

Die handeling in Vrededorp wentel om twee sleutelmomente: aan die einde van die tweede bedryf word Mandela se vrylating die volgende dag aangekondig, en die derde bedryf speel op 27 April 1994 af. Die feit dat Bart en Emma se kind wat op die vooraand van Mandela se vrylating gebore word, gestremd is, moet duidelik as metafoor vir die geboorte van die nuwe Suid-Afrika gelees word, hoewel Bart dit ook gedeeltelik aan Vrededorp toeskryf --"'n vervloekte hool" (73).

In die derde bedryf is Zandile op die punt om na Amerika te vertrek vir verdere opleiding as akteur. Die vraag oor hoe sy verblyf in Amerika Zandile gaan affekteer, en die feit dat Bart nostalgies voel oor pre-1994 SuidAfrika, lei daartoe dat Zandile en Bart spontaan begin spekuleer oor hoe hul lewens oor tien jaar daar gaan uitsien--in 2004, met ander woorde (die jaar toe Vrededorp geskryf is)--"Ons maak dinge beter!" (98) verklaar Bart. Die toekoms wat hulle "voorspel" is egter hoegenaamd nie beter nie; ellende op ellende het die inwoners van Vrededorp oorval, wat as skreiende kritiek op die eerste tien jaar na demokrasie gelees kan word. Nie net dit nie: Vrededorp blyk ook kritiek te lewer op die naiewe optimisme wat voor die 1994-verkiesings in Suid-Afrika geheers het. Zandile voel ontnugter oor sy en Bart se gesamentlike projek van drie jaar vantevore: "What do we know about each other? So I stayed with you a few days, we rehearsed. I acted in your play. But we don't really know each other, Bart. Your life here in Vrededorp; my life in the township. We've always been worlds apart [...]" (108).

Ten spyte van die suggestie in Vrededorp dat die nuwe Suid-Afrika van meet af aan 'n uiters komplekse problematiek besit het en deur volop absurditeit gekenmerk word, eindig die drama op 'n hoopvolle noot. Die vergifnis en versoening wat daar op persoonlike vlak tussen Bart en Emma plaasvind, kan as allegories vir die inwoners van Suid-Afrika gesien word: opgeskeep met 'n gestremde, dikwels onsuksesvolle transformerende land, maar nog steeds met die belofte van ware versoening en verbetering.

Soos Don Gxubane onner die Boere voer Vrededorp 'n lewendige intertekstuele gesprek, van Van Melle tot Van Wyk Louw, Dylan Thomas tot Dante (en 'n byna lasterlike verwysing na Ingrid Jonker se gedig "Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga") asook die absurde teater en sy aartsvader, Beckett, wat van Vrededorp 'n metadrama maak. Hoewel die gevaar van talle literere verwysings altyd is dat dit 'n gedeelte van die gehoor of lesers kan vervreem, boet Vrededorp nie sy trefkrag in as byvoorbeeld 'n indirekte verwysing na Jan Rabie se "Droogte" gemis word nie. Die allegoriese en letterlike dimensies van die toneelstuk is sterk genoeg om gehore of lesers op talle vlakke te raak en tot besinning te stem.

Vrededorp was 'n uitstekende keuse vir publikasie en sal hopelik nog met vrug in heelwat besonderhede ontleed en bespreek word.

DOI: doi.org//dx.doi.org/10.4314/tvl.v49il.25

Jacomien van Niekert

Universiteit van Pretoria

Pretoria
COPYRIGHT 2012 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2012 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:van Niekerk, Jacomien
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Article Type:Book review
Date:Jun 26, 2012
Words:1076
Previous Article:Jonkvrou.
Next Article:Dwarstrekkers, dwepers en dokters: merkwaardige vertellings uit die Anglo-Boereoorlog.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2020 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters