Printer Friendly

Vergilius Ecloga 1.

Teks: Vergilius Ecloga 1

Agtergrond

Ek het Vergilius se eerste Ecloga vir my vertaling gekies aangesien dit as 'n baie relevante gedig in die huidige Suid-Afrikaanse konteks beskou kan word. Die hooftema van hierdie gedig is die herverdeling van grond en een mens se verlies word met 'n ander se wins gekontrasteer. In die huidige Suid-Afrikaanse konteks is grondhervorming 'n sensitiewe onderwerp en baie vrees die gevolge daarvan. Dit lei tot 'n verbrokkeling van die noodsaaklike dialoog tussen die betrokke partye: diegene wat by die herverdeling sal baat en diegene vir wie die grond wat hulle kan verloor meer as blote ekonomiese waarde het.

Vergilius se Eclogae is twee keer in Afrikaans vertaal: deur N A Blanckenberg in 1975 en J T Benade in 1983. Daar bestaan egter geen vertaling in kontemporere (een-en-twintigste-eeuse) Afrikaans nie. Soos alle moderne tale is Afrikaans 'n dinamiese taal wat in pas bly met veranderende omstandighede en nuwe vertalings behoort voortdurend onderneem te word.

Ek het 'n funksionalistiese benadering gevolg in die vertaling van hierdie gedig. Aangesien die teikenlesers meestal klassici sal wees, het ek besluit om so na as moontlik aan die oorspronklike te bly, maar terselfdertyd in 'n kontemporere, idiomatiese Afrikaans te skryf. Daarom het ek nie van domestikering gebruik gemaak nie, maar die oorspronklike name en geografiese verwysings behou.

Vertaling: Vergilius Ecloga I

Hierdie gedig is in die vorm van 'n dialoog tussen die twee skaapwagters Meliboeus en Tityrus. Meliboeus het sy plaas verloor weens die grondhervorming na afloop van die veldslag van Philippi in 42 vC. Hy is na 'n onbekende bestemming oppad en moet alles wat vir hom kosbaar is, agterlaat. Tityrus was eens 'n slaaf aan wie 'n jong man in Rome (Octavianus) sy vryheid gegee het. Sy nuwe, sorgelose lewe waar hy in die skadu le en oor sy minnares sing, word met Meliboeus se ontworteling gekontrasteer.

M. Tityrus, terwyl jy agteroorle onder die bree beskutting van 'n beukeboom Besing jy op 'n fyn fluit die Muse van die woud. Ons laat die grense van ons ouertuiste en die soet ploeglande agter. Ons vlug van ons vaderland; jy, Tityrus, ontspanne in die skadu, Leer die woud om die woorde 'lieflike Amaryllis' te weerklink. 5

T. O Meliboeus, 'n god het hierdie rus vir ons geskep. Want vir my sal hy altyd 'n god wees; 'n sagte lam Van my kraal sal dikwels sy altaar met bloed natmaak. Hy laat my beeste wei, soos jy kan sien, en vir my Laat hy speel wat ek wil op die landelike riet. 10

M. Ek beny jou natuurlik nie; ek verwonder my eerder: oraloor word Die hele land dan so omvergewerp. Kyk, hartseer dryf ek self My bokkies voort; hierdie een, Tityrus, kan ek skaars lei. Want hier tussen die digte haselneutbome het sy sopas 'n tweelinkie gekry --ai, die hoop van die trop--en na haar inspanning hulle op 'n kaal rots 15 Agtergelaat. Ek onthou, as my verstand tog nie dwaas was nie, dat die Eike deur weerlig getref dikwels hierdie teespoed vir ons voorspel het. Maar toe, Tityrus, se my nogtans wie hierdie god is.

T. Die stad wat hulle Rome noem, Meliboeus, het ek in my dwaasheid gedink Is soortgelyk aan hierdie een van ons, waarheen ons herders dikwels 20 Die wankelrige lammetjies van ons ooie aangedryf het. Soos ek geweet het dat klein hondjies soos die grotes is, en boklammetjies Soos hul ma's; so het ek dikwels die grotes met die kleintjies vergelyk. Hierdie stad het inderdaad haar kop so hoog tussen ander stede gelig Soos wat sipresse tussen geharde Gelderse rose uitstaan. 25

M. En wat was jou hoofrede om Rome te sien?

T. Vryheid, wat, hoewel laat, nogtans 'n lui man raakgesien het Nadat my baard geval het, al witter van die skeer. Sy het my nogtans raakgesien en na 'n lang ruk gekom Noudat Amaryllis my het en Galatea my verlaat het. 30 Want (ek sal bely) terwyl Galatea my vasgehou het, Was daar nog hoop op vryheid, nog omsien na spaargeld Alhoewel baie slagoffers my krale verlaat het En ryk kaas vir die ondankbare stad gepers is; Nooit het my regterhand gelaai met koper huis toe gekom nie. 35

M. Ek het gewonder, Amaryllis, waarom jy so hartseer die gode aangeroep het, En vir wie jy die appels aan die bome laat hang het: Tityrus was nie hier nie. Die denne self, Tityrus, Die fonteine en selfs hierdie boorde het jou geroep.

T. Wat moes ek maak? Ek kon nerens anders my slawelewe verlaat, 40 Of die gode so teenwoordig leer ken nie. Ek het daardie jongman gesien, Meliboeus, vir wie ons Twaalf dae jaarliks ons altare laat rook. In my soeke het hy my eerste die antwoord gegee: 'Laat julle beeste wei soos vroeer, jong mans; maak die bulle groot.' 45

M. Gelukkige ou man, die landerye sal dus joune bly En groot genoeg vir jou, alhoewel kaal klip en 'n moeras Met sy slymerige ruigte al die weivelde bedek: Vreemde voer sal nie jou dragtige diere leed aandoen nie, En skadelike kontak met die naburige trop sal hulle nie seermaak nie. 50 Gelukkige ou man, hier tussen die bekende riviere En heilige fonteine sal jy die skaduryke koelte uitsoek; Daar sal die heining op jou buurman se grens, Waar Hybla-bye op die wilgerblom voed, Jou soos altyd met 'n sagte gezoem ompraat om te slaap. 55 Hier onder die hoe rots sal die snoeier in die bries sing, En tussendeur sal die heesstem bosduiwe, jou troeteldiere, Asook die tortelduif, nie ophou om van die hoe olm te koer nie.

T. Vlugvoetige takbokke sal eerder in die lug wei, En see visse kaal op die strand agterlaat; 60 As bannelinge, mekaar se grense oorgesteek, Sal 'n Parther eerder uit die Arar drink, 'n Germaan uit die Tigris, As wat daardie man se gesig uit my hart sal verdwyn.

M. Maar ons ander sal hiervandaan weggaan; party na die dorstige Afrikane, Ander sal in Scithie aankom, en by die vinnige Oaxes wat kalk uitstort, 65 En by die Britte, geheel en al van die wereld afgesny. Sal ek my ooit hierna verwonder oor die grense van my vaderland En oor die grasdak van my nederige hut; Ooit hierna my koninkryk, 'n paar koringare, aanskou? 'n Goddelose soldaat sal hierdie bewerkte landerye besit, 70 'n Barbaar hierdie gesaaides. Kyk, burgerlike onmin het hierdie Hartseer voortgebring: Ons was na aan hierdie ploeglande! Ent nou jou peerbome, Meliboeus, plant jou wingerd in rye. Gaan, gaan, my bokkies, eens 'n vrolike trop. Ek sal julle nie weer hierna, uitgestrek in 'n mosgroen grot, 75 In die verte aanskou waar julle teen 'n digbegroeide rots wei nie. Ek sal geen liedere meer sing nie. Bokkies, julle sal nie klawerblomme En bitter wilgers pluk terwyl ek julle oppas nie.

T. Maar jy kan nog hier by my rus vir die nag Op die groen loof: hier is vir ons ryp appels, 80 Sagte kastaiings en kaas in oorvloed; Die hoe dakke van die plaashuise rook reeds in die verte En al langer skadu's val van die hoe berge.

Annemarie de Villiers, PhD-student (Universiteit Stellenbosch)
COPYRIGHT 2011 University of Stellenbosch, Department of Ancient Studies
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2011 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:KVSA VERTAALPRYS / CASA TRANSLATION PRIZE
Author:de Villiers, Annemarie
Publication:Akroterion
Date:Jan 1, 2011
Words:1185
Previous Article:Gorgias and the psychology of persuasion.
Next Article:Why did the Thebans defeat the normally militarily superior Spartans at the battle of Leuctra (371 BC)?

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2020 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters