Printer Friendly

Van windharp tot selfoonkommunikasie.

Pretorius, Wessel. 2009. My selfoon is in my hand. Eshowe: Morris Press. 63 p. Prys: R99,00. ISBN: 978-0-9802685-1-5.

In Woorde vir 'n windharp (1974, Pretoria: Perskor) skryf Pretorius: "... in hierdie tyd van absolute verveling / sal ek die gees van die tyd saamvat / in een onherroeplike lettergreep". Hedendaags is die sel foon--soms sonder lettergrepe--'n nuttige kommunikasiemiddel, veral vir tieners, en Pretorius gedra hom in hierdie bundel in 'n sekere mate soos 'n tiener wat eiesoortige boodskappe oordra oor hoofsaaklik die liefde/passie en die dood, waardeur hy die "gees van die tyd"--sy persoonlike tyd--probeer weergee.

Vanaf "windharp" tot "selfoon" het daar kortsluitings plaasgevind en het die SMS-agtige kodes 'n inslag gevind in hierdie werk waar die digter 'n private verwysingsveld aanwend wat nie altyd vir die leser toeganklik is nie en wat gereeld Engelse woorde inspan. Daar is wel 'n skakeling met vorige temas, alhoewel hier afgeskaal: die kunste, liefde en passie, verganklikheid.

Die (vermoede) beplande "drieluik": "Vir my broer", "They took the magic out", en "'n Sakkende son en 'n stoep", het "vier" geword deur die vooropgeplaasde "Addendum tot die drieluik" waarin al die temas van die drieluik vervat is.

In die afdeling "Vir my broer" lewer die sewe gedigte kommentaar op die gang van 'n broer se afdraande stryd vanaf 18 November. Onder "23 Desember" lees ons:
   my broer is nou 'n lee kas
   vir iemand om op te pas

   my broer is nou 'n nokia
   sonder 'n simkaart

   my broer se hardware is daar
   maar al die software is weg

   my broer is 'n rekenaar sonder
      sy P4-chip


Dit, en die boodskap van sy broer se hartaanval wat hy op 14/2/2004 per selfoon ontvang (p. 37), gee aanleiding tot die titel van die bundel.

Op 17 Mei die volgende jaar bereik die broer sy "sell-by-date" (p. 39) wanneer hy steif. Hierdie afdeling is prosares, gevul met feite oor siekte, hospitalisering en kostes, met veelvuldige gebruik van Engelse woorde en uitdrukkings.

Die volgende afdeling met sy agt titels handel oor 'n verskeidenheid onderwerpe. "Geel diere, blou gode tussen honderde rooi mense" (p. 47) bevat bindingselemente in die wyse waarop die woorde kop, sirkelagtige gedraaide hout, skedel en dop gebruik word, maar die titel nie tereg korn nie. "(Binnekoptoer)" op p. 46 is, aan die ander kant, 'n voorbeeld van kriptiese skrywe met eiesoortige verwysingsveld: "Bangbabelas / Babanango (wors / hotel: Sandy) / Bloedrivier (op 'n boozebus)//Ek begin 'n zen-tuin" wat 'n leser 'n bietjie verslae laat voel.

Die laaste afdeling, met agt gedigte, konsentreer op die "moeg word" (p. 53) en die dood. Die een lang gedig, "Vir Phil" (p. 58-61) is vol nagmerriebeelde van 'n sterwende met, weer eens, verwysings na personasies wat nie deur alle lesers herkenbaar sal wees nie. Die res van die gedigte hier is van wisselende lengte en gehalte, met "Memory club" (p. 56) as 'n skalkse uitsig op die verhouding tussen lewendes en dooies.

Die bundel se inskrywings is feitlik totaal ontdaan van poetiese beelde of metafore, wat veroorsaak dat elke gedig met 'n eerste lees duidelik is en geen vertolking nodig het of verwondering meebring nie: die woord word nie nuut gemaak nie. Nou moet ek myself weerspreek: In enkele gevalle is daar verwondering--oor waar 'n idee vandaan kom en of Pretorius wel gedink het wat hy skryf. In "Nagte om" (p. 18) wonder die spreker byvoorbeeld oor 'n meisie wat hy voorheen gesien en geskets het en oor haar "pikante tone/ wat uiteindelik (s)y rug moet krap".

Tog is daar enkele tekens van digterskap soos in Pretorius se vroee publikasies, waarvan hier bewyse is in "Water en vuur" (p. 19)--alhoewel die persoonlike verwysings na "Christo", "Ampie" en "Louis" net by benadering nagespeur kan word.

Die een enkele gedig wat vir my uitstaan, is "Om jou hare te verfraai (Vir Maria Eugenia, 8 Maart 1956) (Na Agosthino Neto)" (p. 16-17): "In ons bloed groei rose / beide in liefde / en in verlange: / rose wat kwyn weens die kilheid / van ons verwydering ...". Hierdie kilheid en afstand word verder saamgevat en uitgebrei in onder andere "ystertralies / waar vryheid steif", "die verste grasvlaktes", en "op onherbergsame berge". Die "rose" is bedoel om 'n geliefde se "hare te verfraai".

Die gehalte van die gedigte in My selfoon in my hand wissel geweldig. Enkele gedigte getuig van Pretorius se vakmanskap, maar hulle is ongelukkig ver in die minderheid. Die bundel doen uiteindelik aan as 'n verkenning van die dood en naderende dood, baie persoonlik gerig, sonder om elegies te wees.

Resensent: S. Louw

Professor Emeritus, Universiteit van Limpopo
COPYRIGHT 2009 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2009 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:My Selfoon Is in My Hand
Author:Louw, S.
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Book review
Date:Dec 1, 2009
Words:754
Previous Article:Baasskryfster steeds aan die woord.
Next Article:Herman de Coninck--vertaald.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2020 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters