Printer Friendly

Van eensame mense.

Serfontein, Dot. 2005. So min blomme; Onder skewe sterre; Sonder klein trou. Pretoria: LAPA Uitgewers. 512 p. Prys: R180,00. ISBN: 0 7993 3439 1.

Dot Serfontein het in 2005 haar tagtigste verjaardag herdenk. Ter viering daarvan het Lapa Uitgewers die romans So min blomme, Onder skewe sterre en Sonder klein trou in een bundel uitgegee. Die werke het oorspronklik in onderskeidelik 1966, 1967 en 1974 in die Sarie Marais as vervolgverhale verskyn. Die versamelbundel skop af met 'n interessante voorwoord deur Antjie Krog waarin daar "'n wonderlike wisselwerking tussen ma en dogter" is (Elize Botha in Boeke-Beeld, 19 September 2005). In die drie romans is 'n baasverteller aan die woord oor die wel en wee van die mense van die spoorwegdorpie, Laval.

Die trilogie is 'n sosiale dokument in die sin dat dit "'n boeiende geskiedskrywing van ons 'spoorwegfase' [is]" (Antjie Krog). In veral So min blomme is die treinomgewing die agtergrond waarteen die gebeure afspeel. Mooi word die Ioodsgeluide in die nag beskryf: "'n Stoomketel word met die egalige gedreun van 'n waterval leer geblaas; daar sny die sisgeluid van 'n stoomklep; daar kap-kap 'n lokomotief stadig vorentoe, skud sy stoom rond soos 'n reus wat sy kieste skoon spoel ... Trokke word kletterend gehaak (p. 82).

In So min blomme speel Dawid McClaglan en sy liefde vir Mia Neethling 'n belangrike rol. Daar is talle kinkels in die kabel van hulle verhouding. Dawid is 'n masjinis woonagtig aan die "verkeerde" kant van die treinspoor en Mia is 'n rykmansdogter uit 'n snobistiese gesin. Klasseverskil wat in al drie die werke aanwesig is, is hier die groot probleem.

Daar is ook die verhaal van Tokkie Coetzee en haar seuntjie, JanKoos. Hulle het nie 'n maklike lewe saam met Koos wat te lief vir die bottel is nie. Jan-Koos is 'n interessante, vroegwyse kind. Hy figureer ook as jong volwassene in die ander twee dele van die trilogie.

Van die ander karakters wat die wereld van So min blomme bevolk, is die patetiese onderwysersfiguur, Hoffie Eksteen, en die eenvoudige maar goeie Johanna wat in die ryk Archimedes se kafee werk. Sy koester groot bewondering vir Hoffie en dit loop later op 'n huwelik uit.

In die tweede deel van die trilogie, Onder skewe stewe, gaan die lewens van die meeste karakters uit die vorige boek voort. Die kollig val egter op Jan-Koos wat intussen in 'n sensitiewe jongman ontwikkel het, en sy hartseergetinte liefde vir Jettie. Van laasgenoemde word gese dat skewe sterre oor haar geskyn het, maar eintlik is dit van toepassing op byna al die eensame karakters in die drie boeke.

Baie aandag word in die deel bestee aan die oorlewingstryd van Tokkie Coetzee met haar haarkappersalon. Die groot speek in die wiel is die skatryk en snobistiese Ciska Engelbrech. Klasseverskil is weer die agtergrond. In hierdie deel word ook kennis gemaak met die twee onnutsige, maar kostelike seuntjies van Hoffie Eksteen en Johanna.

In die derde deel, Sonder klein trou, tree Dawid McClaglan en Mia weer op die voorgrond. Jan-Koos, wat sy verlede nie kan afskud nie, en sy (on)vermoens as skrywer figureer weer. Ook is daar die Nededander, Goof Duimke, wat eintlik 'n skurk is. Tog word hy, as een van die eensames, nie sonder deernis geteken nie.

Die liefde, veral die onbeantwoorde liefde, kom ook voor, soos in die ander twee dele. Daar is onder andere Jan-Koos se liefde vir Mia, en Magriet (dogter van die onderwyser) se liefde vir Jan-Koos. Hoewel daar soveel verdriet en ellende in die verhaalgebeure is, eindig al drie die dele tog op 'n hoopvolle noot.

Karakters van vlees en bloed word geskep deur 'n verteller met mensekennis. Later voel die figure soos ou bekendes. Hoewel daar nie doekies om die swakhede en tekortkominge van die mense van Laval gedraai word nie, word almal tog met deernis geteken. Dit geld selfs vir die skurkagtige Duimke wanneer hy aan Dawid McClaglan, sy held, die verwyt rig: "Waarom het jy my nooit geag nie?" (Sonder klein trou, p. 479). Die eensaamheid van die karakters is opvallend. 'n Oorkoepelende titel viral drie die werke sou kon wees "Van eensame mense".

In die drie verhale sorg 'n meesterverteller dat die verhaalgang vlot verloop. 'n Uitstaande kenmerk is die hantering van die taal. Raak, kostelike uitdrukkings en beskrywings maak die leeservaring besonder aangenaam. So word daar in Onder skewe sterre van die ongewilde rykmansvrou, Ciska Engelbrecht, gese dat sy met haar hare nie na 'n haarkapper moet gaan nie, maar liewer na 'n smidswinkel waar sy met tange en blaasbalke hanteer behoort te word (p. 204). In So min blomme is die onderwyser, Hoffie Eksteen, veronderstel om 'n perdekommando te lei, maar die perd met die "onsimpatieke oog" en groen kwyl wat by haar tande afdrup, jaag hom aanvanklik die skrik op die lyf. Maar vind hy uit, dit is bitter moeilik om die ou perd "in die algemene gees van vooruitgang te kry" (p. 127). Onverwags sit die dier egter op loop en op kostelike wyse word beskryf hoe Hoffie spartel om die perd te beheer. Toe hy uiteindelik weer op vaste grond is, twyfel hy sterk daaraan "of normale funksie ooit weer tot sekere van sy teerwarm liggaamsdele sou terugkeer" (p. 128).

Die onderwerpe wat in die drie romans ter sprake kom, steek nie vas by die mense van Laval nie, maar wen aan boeikrag, omdat dit algemeen menslik is. So is daar byvoorbeeld die liefde; en klasseverskille wat. baie onaangenaamheid en verdriet soos kleinlikheid, snobisme en valsheid meebring; en die verlede wat nooit afgeskud kan word nie.

Die bundel word aanbeveel as uitstekende leesstof in die genre van goeie gewilde prosa.

E.A. van der EIst Vroeer: Departement Afrikaans & Nederlands, PU vir CHO
COPYRIGHT 2006 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2006, Gale Group. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:So Min Blomme; Onder Skewe Sterre; Sonder Klein Trou
Author:Van Der Elst, E.A.
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Book review
Date:Apr 1, 2006
Words:952
Previous Article:Women writings in Africa.
Next Article:Oom Willem vertel: maar hier onthou 'n mens eerder die manier van vertel as dit wat vertel word.
Topics:


Related Articles
Dianne Hubbard: sy werk om landswette meer toepaslik en toeganklik vir vroue te maak.
Neshani Andreas: 'n passie vir skryf.
Christi Warner: 'n lewe gewy aan die kunste.
Bertchen Kohrs dapper stryder vir die omgewing.
Die wolbedryf in Suid-Afrika.
Beloofde Land-trilogie.
Naomi Kisting: ons kan die aangesig van die wereld verander!
Anita Isaacs: begin die lewe van nuuts af met HIV en Aids.
Oor die drumpel: liminaliteit en literatuur.
About Africa.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2022 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |