Printer Friendly

Vaarwel, my effens bevlekte held.

Vaarwel, my effens bevlekte held.

Johann de Lange. Kaapstad: Human & Rousseau, 2012. 110 pp.

ISBN: 978-0-7981-5630-1.

Epub: 978-0-7981-5889-3.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v50i2.20

Die openings--en slotgedig van Johann de Lange se keurig versorgde bundel Vaarwel, my effens bevlekte held verwoord 'n kernspanning in sy digoeuvre, naamlik die saamvoeg en inpas van woorde ter wille van 'n "vaste orde" teenoor die uitmekaartorring en onthegting van samehang(e). In hierdie elfde bundel van De Lange bevestig hy sy verdiende en gekanoniseerde posisie in die Afrikaanse digkuns, in besonder vanwee 'n volgehoue sigbaarmaking van verhoudinge tussen mens en kosmos; mens en medemens; besit en verlies; broosheid/verganklikheid/verwonding teenoor herstel en heelmaking.

'n Bepaalde gesprek word deur die bundeltitel gesuggereer. Met die slotverse, "Die einde" (104), "Totdat niks oorbly nie" (105) en "Aandlied" (107), bevestig die spreker sy groetwoord aan die "bevlekte held(e)". Meer nog is die keuse van Walt Whitman se "I resign myself to the dusk" (uit "The Sleepers") bekragtiging van die deerniswekkende motief van "bevlekking": "Double yourself and receive me darkness, /receive me and my lover too, he will not let me go without him. //I roll myself upon you as upon a bed, I resign myself to the dusk." Eensaamheid, verdriet, verlies en sterfte is maar enkele aspekte van die bestaansnood. In "Aandlied" word die skoonheid en angs van en vir sterfte, maar 66k ontstaan verwoord. (Terloops: die eggostem van Wilma Stockenstrom is aanwesig in die gedig. Uit haar bundel, Van vergetelheid en glans, is die eenmaligheid van die menslike bestaan in die volgende woorde, geskoei op Rilke se Duino-elegiee, so geformuleer: "Dit is genoeg om te gelewe het, een maal/een maal in eenmaligheid van chromosome/ ... te kan dink: ek was eenmaal".)

As slotgedig is "Aandlied" besonder gemerk--finaliteit is dus komposisioneel maar ook inhoudelik vooropgestel:
   Eendag, al weerstrewiger vlees & been
   ruisende bloed & rats sinaps,
   tong wat teestribbel & troos,

   gaan die haglike samehang
   van selle & die eensame een
   maligheid van DNS ophou saambestaan,

   & wat my ineengeweef
   gehou het, & my salwend in my brein
   laat leef het, na alle uithoeke

   van hierdie aarde vervreemd
   raak, & hierdie hand met pen
   sy greep op taal verloor

   & los raak van alle woord & sin.
   Wie sal in die nag my uitasem
   hoor? Wie sal onthou?

   Dis amper middernag.
   Wanneer daag die dag
   waar ek als verloor wat ek bemin?

   Hoe ontheg 'n hart hom van 'n heelal
   wat aanhou se: Begin, begin, begin!


Op 'n byna koloniserende wyse proklameer die digter: "Woorde is my kontinent, & poesie is my republiek" ("Woorde" 9) om die waarde van die digterlike woord en die "heersersmag" oor hierdie domein te verwoord. In die "Republiek van woorde" is die pen(punt) die instrument van die digter om kaart en transport "afkleimend" te verwoord. Helaas anders as die narwal is die digter met sy penpuntmerke priemend maar ook skeppend. Hier is nog eens 'n element van tweeledigheid of ambivalensie wat 'n opwindende kreatiewe spanning in De Lange se poesie daarstel.

Binne die konstruksie van sewe afdelings is die voortstu vanaf besitterskap en verkenning van die landskap in gedigte oor diere, landskappe en mense die afskeidsverse wat die broosheid van die menslike liggaam en psige byna tasbaar verken. In 'n digoeuvre waarin versgesprekke inter- en intratekstueel voorkom, is die obsessiewe bewuswees van tydelike besit en verganklikheid kwellend aanwesig. (Die intertekstuele verwysing na gedigte oor bome is "Die diensbaarheid van bome" [71] en "Ikone" [73].)

As motivering geld De Lange se bundelvoorblaaie wat meer is as illustrasiemateriaal. Die "ontkleedans" van Battis, Mason, Cussons tot Diedericks vertel 'n lewensverhaal van die spreker. "Wordende naak(t)" as "verkenning vir onsself" (51) soos die "Death of the inside warrior" van Diedericks sekuur die spreker se skeppings- en oorlewingspanning illustreer, staan geteken in die lig van verlies, leegheid, maar tog ook die nalaat van "sy spore op papier" (12; vergelyk die motto by die gedig: "The notion of emptiness generates passion."). Dood, woorde as nalatenskap, of orgasme(s), is die "grein van hunkering" en hieruit is poesie die neerslag.

Sterflikheid, hetsy selfmoord soos in die geval van John Berryman ("Skielik skemer", 78), "Selfmoord van 'n priester" (106) of die digter se rouverse oor sy geliefde katte (102103), laat die volgende woorde soveel aangrypender klink. Die leser kan die afskeidswoorde van die bundeltitel in samehang lees as 'n afstropingsdaad of aflegging om soos volg te verklaar:
   Eers as ek afle
   als wat menslik aan my is,
   kan ek verlig & veerlig weet

   ons is suiwer siel ... ("Brahmaan", 103)


Afdeling 2 van die bundel stel 'n definitiewe konflik tussen besitterskap en verlies op die voorgrond. Teen die agtergrond van groei, wording en natuurlike seisoenswisseling is die

spreker se gelykstelling aan bestaanseenmaligheid soos volg in die gelyknamige gedig van die afdeling, naamlik "Wisseling" (26), in die slotversreel gestel:
   Die eeukaktus blom glo eers na 'n honderd
   jaar

   & net een maal, 'n noeste geel kroon. Stoot
   'n loper uit & maak tydsaam vir sterwe klaar.


Verkenning van die self en die ander (in watter gestalte ook al--geliefde, natuurelement, ander digters of skrywers en kunstenaars) word deur die oog van die waarnemer-spreker ge(re)konstrueer. Die oog, kameralens wat stipstaar en 'n besondere fokus ontsluit, is in die derde afdeling van die bundel, "Hunkering se grein", die onderwerp van die gedigte. (Hierdie gegewe kan wyer gelees word teen die metafoor van die "judasoog" se visie.) "DIEVX DV STADE 2007" (48), "The loneliness of the longdistance shooter" (50) asook "Gedig wat eindig met 'n reel van Cussons" (54), verwoord die lens se onderwerp wat hier die gestalte van manlike skoonheid is.

Die waarnemer se oog is 'n (af)kyk van die sportfigure se naakwording, 'n aspek wat in afdeling IV "Tn die vlees" met die sologedig "Platonies" ('n herdigting van Auden se vers, "The Platonic Blow") die fokus word (59-63).

Die waarnemer se oog wat die toenemende verval, verlies of verwisseling opteken, is in afdeling V "Skielik skemer" verwoord. Die randfigure wat in hierdie gedigte aanwesig is, staan voorop in De Lange se vergestalting van die versteurde of bevlekte karakters--byna "buite beeld" (om die titel van die optelgedig oor Marilyn Monroe hier buite konteks aan te haal). In versnellende ritme teken De Lange die eenkantfigure in hierdie afdeling wat voortstu in "Google Golgota" en "I resign myself to the dusk". Marilyn Monroe, Christus van die houtkruis ("Die diensbaarheid van bome", "Ikone" en "Google Golgota"), Uys Krige, Tsjaikofski, Oscar Wilde, Ingrid Jonker en Paganini is onder ander die "bevlekte helde" wat in die beeld van Cellini ("Temper") se Perseus & Medusa "oorleef". (Terloops: Chris Diedericks se skildery wat as voorbladillustrasie gebruik is, is 'n raak tekening van die (voort) durende konflik in Vaarwel, my effens bevlekte held.)

Met die slot van die gedig "Agterhuis" (75) som De Lange die waarde nie alleen van Anne Frank op nie, maar van die gekwelde figure wat in sy gedigte "oorleef [...]/& in woorde wering soek, /& rug teen rug [...] dig versreel" word. Die digter verleen duur aan die bevlekte figure om "nog 'n wyle langer te luier as ikoon" ("Temper" 81). Insgelyks het die digter met Vaarwel, my effens bevlekte held ten spyte van die dominante gegewe van verganklikheid, vermindering deur verlies en aflegging of nietigheid, 'n nalatenskap van "spore op papier" (12), of "ingebed in [...] onthou" soos dit staan in die gedig "Alleenspraak by donkermaan" (35):
   my in trou & ontrou
   vashou, of by die gloed
   van 'n digterlike maan
   met die brons beloftes
   van bloed nogmaals kul:

   julle laat ek een-een gaan
   want my woorde le beenwit
   waar die lug te dun vir liefde
   & wyn tussen bedrywe vergaan.


My aanhaling is moontlik buite konteks gaan haal, maar gelees teen die agtergrond van die tema van aflegging, is die slotstrofe bevestiging van die spreker se ewewigsoeke tussen verlies en behoud.

'n Verdere aspek waardeur De Lange in hierdie vers in die besonder verstegnies "ingebed" bly (afgesien van die inter- en intratekstuele diskoers met "Stil lewe by donkermaan" (28) en Van Wyk Louw se bundeltitel Alleenspraak.) is die chiasme in versreels drie en vier:
   Snags by donkermaan
   le ek ingebed in die onthou
   van lywe & leegtes

   & die leegtes van lywe
   wat my gebede & beddens vul


In 'n sekere sin is die digter getrou aan die imperatief waarmee die aangehaalde gedeelte uit Whitman se gedig "The Sleepers" (vergelyk die slim spel met die intimiteitsverband tussen slaap, "ingebed" en "beddens"), afdeling sewe as motto inlei: "Double yourself and receive me darkness." Donkerte kan as sinoniem met leegte en verlies gelees word.

Op dieselfde wyse "snoer" De Lange betekeniselemente saam. Die spreker in "My minnaar" (44) sluit die gedig so af om die kwingkwangbeweging tussen intimiteit en verlies te stel:
   my minnaar is gesoog
   in die spiraal-arm van 'n melkweg
   my minnaar is uitgeslinger
   in my arms deur sterrestelsels
   omdat hy my liefhet
   ontvou alle geheime voor my
   & sy naam ontsluit
   die snoere van konstellasies.


So kan die leser versverbande uitwys tussen die diergestaltes in die bundel. In die eerste twee afdelings van die bundel figureer diere om 'n besondere netwerk te skep en as 't ware te dien as vertroostingsamulet teen die menslike element van verlies en dood. Die diere is nie alleen aantreklike en veraanskoulike gedigonderwerpe nie, maar De Lange kaats die mens teen die dier om laasgenoemde se (r)evolusionere entelegensie te demonstreer, byvoorbeeld die narwal (12), doringduiweltjie (21), leeuvis (22), duisendpoot (24) of die sneeureier (31). Daarteenoor is die mens byna minuskuul onopsigtelik soos De Lange in "Stil lewe by donkermaan" (28) skryf:
   Roerloos onder 'n donkermaan
   in 'n roeiboot op die naat van my rug
   wieg ek in die middel van 'n dam,
   die smal pupil van 'n kat se oog.

   Bo my tussen Niet & Al die melkweg
   soos 'n motgevrete hangmat wat knus
   die boot, die dam, & en my sonnevleg
   saam met droom-oog visse sus.


De Lange se digkuns is berekend en beredeneerd--'n konstruksie met tekstuur waarin "woord vir woord/ [.] presies net soveel veerlig wit [verplaas]" (22). Poesie is dus met reg die digter se republiek waarin die leser behoedsaam, maar ook met verwondering die woord soos 'n kontinent binnetree. Dit is 'n reis van verryking--verse wat ek graag weer en weer sal wil lees. Vir my een van die belangrikste eise van geslaagde poesie.

Marthinus Beukes

marthinusbeukes@gmail.com

Navorsingsgenoot: Noordwes-Universiteit

Mmabatho-kampus
COPYRIGHT 2013 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Beukes, Marthinus
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Article Type:Book review
Date:Mar 22, 2013
Words:1699
Previous Article:Vol draadwerk.
Next Article:Teen die lig.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |