Printer Friendly

Toevallige tekens.

Toevallige tekens

Martjie Bosman. 2010. Pretoria: Protea

Boekhuis. 81 pp. ISBN: 978-1-86919-400-0.

Sewe jaar na haar sterk debuutbundel Landelik van 2002 verskyn Martjie Bosman se tweede bundel met die intrigerende titel Toevallige tekens. Die programgedig "Op die spoor" ('n woord met talle taalfilosofiese konnotasies) werp lig hierop deurdat dit verwys na die spreker se behoefte om die wildernis te lees, om 'n metafoor, 'n patroon of 'n verhaal te vind in die spore wat kruis en dwars in die sand le. Onderliggend aan die situasies wat in die bundel beskryf word, le daar dus volgens hierdie gedig die behoefte om sin te maak van die tekens rondom ons en ook tot vergelyk te kom met die toevalligheid daarvan.

Die verskillende gedigte in Toevallige tekens word op deurdagte wyse in vyf afdelings gegroepeer. Die eerste afdeling van die bundel beskryf die lot van verskillende arm, landelike bevolkings in Afrika. Die eerste gedig "Meent" verwys na 'n landelike bestaan waarin vertroudheid met die natuur die botoon voer en mense nog "die tekens van die gemene besit / op allemansgrond" kan lees. Hierteenoor teken die ander gedigte in die afdeling situasies waarin die bestendigheid van hierdie soort sosiale sisteem vernietig is deur oorlog, siekte en armoede. Die spreker in hierdie gedigte is 'n buitestander-waarnemer wat die verskillende situasies soos 'n navorser registreer eerder as interpreteer. In sommige gedigte word die gevoelige "ek" in die neutrale waarnemer egter sigbaar wanneer sy haar emosionele betrokkenheid verraai: in "Die seun met die sere aan die been" moet sy verlee wegkyk omdat sy nie kan help nie en in "Mosambiekse vlugteling III" lees sy die fisiese tekens van geweld aan 'n vrou se liggaam wanneer "al die tale tussen [hulle] faal".

In die gedig "Monument van 'n volksmoord", wat verwys na die gebeure in Rwan da in 1994, blyk die empatie wanneer besoekers aan die toneel nadruklik versoek word om te kyk, om hulle te probeer indink hoe dit was en om nie hulle oe weg te draai van die toneel nie. In die geheel gesien is die teneur van die eerste afdeling een van onbegrip, magteloosheid en wanhoop (vergelyk gedigte soos "Shongwe Mission Hospital" en "Die dokters van die WGO"). Hiervoor probeer die laaste gedig in die afdeling "Eendagskoon" vergoed wanneer dit 'n beskrywing gee van 'n geil blou rankplant in 'n vervalle dorp wat skielik "die toonaard van die ganse buurt verstel". Dit is een van die "toevallige tekens" wat op sentrale punte in die bundel geplaas word om te suggereer dat daar wel momente van oplugting en hoop is te midde van die ellende.

Die tweede afdeling bring gedigte saam waarin verskillende soorte bedreigings beskryf word. Daar is byvoorbeeld die alomteenwoordige blootgesteldheid aan misdaad: in "Skreeu" word daar met behulp van 'n goed-deurgevoerde metafoor beskryf hoedat die skreeu van 'n slagoffer 'n slang word wat uiteindelik die aanvaller sal pik. Daar word ook in die gedigte oor misdaad uiting gegee aan gevoelens van verontwaardiging en magteloosheid (soos byvoorbeeld in "Handsak" waarin die spreker na 'n aanval op haar "probeer onthou hoedat ek gister was"). Die gevoel van bedreiging groei egter mettertyd in hierdie afdeling uit tot iets meer universeels sodat die spreker in die gedigte begin voel hoedat sy bedreig word deur 'n woekerende natuur ("Bedreigende tuin"), die dood ("Pendelaar, M1"), psigiese donkerte ("Hesperiese neerslagtigheid"), die verlies wat gepaardgaan met emigrasie ("Voorland") en die vrees dat haar taal en "stam" sal uitsterf (" Vanishing voices').

Die deprimerende tekening van 'n bestaan uitgelewer aan misdaad, verval, neerslagtigheid en vernietiging word getemper deur die gedigte in die derde afdeling wat herin neringe aan die kindertyd en kortstondige momente van geluk weergee. Die gevoel oor die verlede is enigsins ambivalent in gedigte soos "Somerstorm", "Middagrit" en "Somersaand" waarin daar by retrospeksie reeds 'n gevoel van weeigheid by die waarnemer teenwoordig is. In ander herinneringsgedigte soos "Lemoene", "Heuning" en "Ma se plante" is dit duidelik dat die verlede vir die spreker koestering, weldadigheid en gulheid verteenwoordig teenoor 'n onherbergsame hede. Ander gedigte laat blyk dat die gevoelige waarneming van natuurelemente soos voels, diere en plante ook momente van verademing kan verskaf. In die gedig "Bosveldvisvanger" kom die spreker tot die insig dat 'n mens al jou sintuie moet oopstel om sulke flitsende oomblikke van geluk vas te vang: die visvangers is "so mooi, so mooi dat jou hart inkrimp / en jy helder weet dat jy nou / alle vensters oop moet maak / om in die woonhuis van die sinne / die kortstondige geilte te behou".

Die vierde afdeling bevat gedigte wat impressies gee van bepaalde kunstenaars en kunswerke. Die sterkste hiervan is die drietal gedigte onder die titel "Nagte in die tuine van Spanje", waarvan die tweede gedig "Dans in die verte" 'n evokatiewe beelding gee van 'n kunstenaar wat besef dat hy alles "dringend in klein tekens op papier" moet merk om dit te beskerm teen die vergetelheid. Afdeling vyf gee indrukke van natuurverskynsels soos bome, die seisoene en die maan. Die hoogtepunt in hierdie afdeling is die gedig "Soet seisoen" wat 'n reaksie op Eybers, Krog en Spies se verse oor die verval van die ouerwordende liggaam verteenwoordig. In teenstelling met Krog wat in haar bundel Verweerskrif gesukkel het om die "woordeskat vir ouderdom" te verwerf, is die spreker in hierdie gedig dankbaar dat sy nog nie 'n metafoor vir die "vergaan van 'n lyf" of "aftakeling" gevind het nie. Hierdie lewensbevestigende sentiment word voortgesit in die bundel se slotgedig "Toevallige digter" wat in aansluiting by die bundeltitel verwys na daardie skaars momente waarin die rare en wonderbaarlike in die gedig gebeur ("die swart swaan / 'n oomblik lank verskyn").

Alhoewel Toevallige tekens tematies minder gevarieerd is as Bosman se debuut, lewer sy tog 'n interessante bydrae met hierdie bundel. Met haar tekening van distopiese elemente in die Suid-Afrikaanse samelewing sluit sy aan by 'n sterk tema in die kontemporere Afrikaanse poesie; met haar fokus op 'n groter Afrika-gemeenskap en die lot van verplaaste mense bou sy voort op soortgelyke verse in Johann Lodewyk Marais se bundel Plaaslike kennis. Bosman se bundel is ook besonder toeganklik: die gedigte praat helder en direk met die leser eerder as wat hulle hermeties verseel is. Daar word nie soseer met verskillende betekenislae gewerk nie, eerder met 'n enkele insig wat in die slotreels van die gedig saamgevat word. Die verdigting van die verstekstuur vind plaas deur die gebruik van metafore, sensitiewe klankgebruik en netjiese ritmiese patrone. Die gedigte in Toevallige tekens daag nie die leser uit met veeleisende temas of tegniese truuks nie, maar dring tog sag en beleefd by die leser aan om opnuut te kyk na die wereld en te sien wat daar gesien moet word.

Louise Viljoen

Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch
COPYRIGHT 2011 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2011 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Viljoen, Louise
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Article Type:Book review
Date:Mar 22, 2011
Words:1110
Previous Article:Knowledge in the blood.
Next Article:Versindaba 2010.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |