Printer Friendly

Tikkop.

Tikkop. Adriaan van Dis. Uit die Nederlands vertaal deur Daniel Hugo. Pretoria: Protea Boekhuis, 2012. 224 pp. ISBN: 978-1-86919-456-7.

Tikkop, Daniel Hugo se Afrikaanse vertaling van Adriaan van Dis se gelyknamige Nederlandse roman, is 'n teks wat in die Nederlandse resensiepers oor die algemeen baie goeie kritiek ontvang het. 'n Resensie soos hierdie sit tussen 'n paar stoele--dit behoort die waarde van die teks en as literere werk en as vertaling te waardeer, asook te verreken dat hierdie 'n ander resepsiekonteks as die oorspronklike veronderstel. Tikkop vertel die verhaal van twee wit mans wat eertyds betrokke was by die stryd teen apartheid. 'n Dikwels ontluisterende (self-) ondersoek na die oorspronklike beweegredes vir beide se betrokkenheid maak 'n groot deel van die roman uit: nie net is dit bepalend vir sekere tematiese motiewe nie, maar ook belangrik in terme van die karakterisering van die twee hoofkarakters. Want uiteindelik was/is hulle daadwerklike betrokkenheid by die morele stryd nie uitsluitlik gebaseer op ideologiese of morele oortuiging nie. Die verkenning van hierdie problematiek lei noodwendig tot 'n herbesoek aan die eie rol wat in nabetragting dalk anders en eerliker verantwoord kan word. Die idee van nabetragting is uiters belangrik, want daardeur word nie net op die verlede kommentaar gelewer nie, maar ook die hede word hierdeur gekleur.

Bloot wat die handeling betref, gaan dit oor Martin / Mulder se herbesoek aan Suid-Afrika, op uitnodiging van Donald, aangesien dit "goeie oefening vir sy brein" sal wees na afloop van 'n beroerte. Die verwysing na "tikkop" dui enersyds op Martin se geheuetoestand, hoewel dit op sy besoek aan Suid-Afrika tog nie so ernstig blyk te wees nie. Die "tikkop"-motief is egter ook die skarnier waarop die verhaal aan die hede gekoppel word: Donald woon in 'n kusdorp, waar hy steeds betrokke is by die plaaslike arm, bruin vissersgemeenskap. Een van die seuns, Hendrik, wat self 'n buitestaander is, is egter in die ware sin van die woord 'n tikkop--verslaaf aan meta-amfetamine. Die figuur van Hendrik word byna 'n kulminasie van die maatskaplike en politieke probleme wat die huidige Suid-Afrika teister--en die rede waarom beide vriende erns maak om Hendrik te red, word 'n veelduidende poging om sekere dinge te bevestig, te red, reg te stel--met al die implikasies wat hiermee saamhang.

Die gevaar wat enige tematisering van sosiopolitieke problematiek loop, is dat noodwendig gebruik gemaak word van stereotipes, beide wat karakters en omstandighede betref, indien die teks kensketsend van die groter konteks wil wees. En dit is bepaald wat met die beskrywing van die vissersdorp en omliggende omgewing gepretendeer word: dit is 'n mikrokosmos van euwels: korrupsie, armoede, dwelmmisbruik, nepotisme, stropery, rasseverskille, ensovoorts. Die Afrikaner van die nuwe Suid-Afrika is in al sy geledinge teenwoordig, maar tog oortuig hierdie en ander gestereotipeerde aspekte in die funksionaliteit daarvan nie altyd as organiese substansie van die verhaal nie. Hierdie strak siening van Suid-Afrika is moontlik verantwoordbaar deur die "blik van buite" wat setel in die figuur van Mulder-as 'n Nederlander woonagtig in Frankryk sal hy die Suid-Afrikaanse omstandighede, waarbinne al hierdie probleme natuurlik wel voorkom, nie noodwendig genuanseerd waarneem nie. Hierdie buitestaandersperspektief is natuurlik ook af te lees in outeur Van Dis wat vir 'n lang tyd ter plaatse aan sy manuskrip gewerk het.

Die gevolg is dat sekere handelingsmomente nie altyd oortuigend in die teks geintegreer word nie, asof daar vir sekere dinge nie natuurlike beweegredes is nie. Dieselfde kan beweer word by die keuse van karakters (vernaam newekarakters) en dit is soms selfs merkbaar in bepaalde dialoogfragmente, soms vloei die woordewisseling nie natuurlik nie, en is dit weereens eerder die funksionaliteit van die uitlatings--hetsy as beweegredes vir karakterisering of die invul van historiese gegewens--wat voorop staan.

Maar dit is veral die ambivalensie van sosiopolitieke betrokkenheid wat in hierdie werk met insig uitgebeeld word en wat uiteindelik ook die hart van die teks verteenwoordig. Hierdie betrokkenheid en veral die beweegredes wat dit ten gronde gele het (of steeds le), is die stukrag van die hele vertelling. Die slot is daarom besonder sterk en ten spyte van die talle oortuigings en insigte wat in die loop van die verhaal gebesig is, is dit veelseggend wanneer daar staan: "Kyk net, hy kon toe nie anders nie as hom met die wereld te bemoei".

Daniel Hugo se vertaling lees besonder natuurlik en daar is meer as een pragtige poetiese vonds. Die Nederlandse oorspronklike maak skynbaar dikwels gebruik van Afrikaanse uitdrukkings--wat noodwendig ook 'n bepaalde spanning tussen die twee tale in die bronteks sal beteken. Hierdie aspek gaan noodwendig verlore in die Afrikaanse vertaling, wat ten spyte van die inherente kwaliteit daarvan, dus tog 'n verskralende effek sal meebring.

Van Dis se liberale en in sekere sin dus ook ideologiese perspektief is hier duidelik. Die ondersteuning, al dan nie, van hierdie perspektief sal in 'n groot mate bepalend wees vir die instinktiewe reaksie op die teks: assosiasie met welke karakters, kan dalk ook net lig werp op eie oortuigings in die huidige verpolitiseerde konteks.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v50i1.33

Cilliers van den Berg

vdbergjp@ufs.ac.za

Universiteit van die Vrystaat

Bloemfontein
COPYRIGHT 2013 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:van den Berg, Cilliers
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Aug 28, 2013
Words:847
Previous Article:Die pes.
Next Article:Die onsienlike son.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |