Printer Friendly

Synapse tracing between self and other in Mede-wete by Antjie Krog (2014)/ Sinaps-opsporing tussen self en ander in Antjie Krog se Mede-wete (2014).

Mede-wete.

Antjie Krog. Kaapstad: Human & Rousseau, 120 pp.

ISBN 978-0-7981-6787-1, ISBN 978-0-7981-6788-8 (epub), ISBN 978-0-7981-6789-5 (mobi).

Met haar eerste Afrikaanse digbundel sedert die verskyning van Verweerskrif in 2006 bewys Antjie Krog dat sy haar tyd goed benut het om 'n digte en uitdagende bundel te komponeer. Soos die titel, Mede-wete, asook die titel van die Engelse vertaling deur Karen Press, Synapse, aandui, is haar projek hier gefokus op die uitreiking na en kommunikasie met die ander, na dit wat buite die begrensings van die self bestaan. Haar digterlike projek is dus sterk akademies en filosofies getint, maar dit is deur die bewuste werksaamheid met die taal as medium dat hierdie soeke na onderlinge verbondenheid met die ander veral op digterlike vlak 'n prestasie word.

Die Afrikaanse titel wat die leser met die invoeging van 'n koppelteken dwing om aan die samestellende dele mede en wete aandag te skenk, lei tot 'n verskerpte oorweging van die titel as 'n verwysing na die "[kjennis wat 'n mens van iets het saam met ('n) ander" (HAT 651). Die gedagte van gedeelde kennis is ook aanwesig in die Engelsetitel Synapse wat verwys na die sinaps as die struktuur wat die oordrag van 'n sein vanaf 'n senuweesel (neuron) na ander selle moontlik maak. Volgens die Online Etymology Dictionary beteken die Griekse woord synapsis "konjunksie" en skakel dit met die werkwoord synaptein wat "omvat", "saamvoeg", "saambind" of "verbind" beteken. In die gedigte "sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas" (114-15) en "ESSAY-ABSTRAKTE re: SINAPS" (116-7) in Mede-wete is die relevansie van die sinaptiese gegewe duidelik aanwesig.

Die verkenning van onderlinge verbondenheid sluit aan by die hoe premie wat Krog in haar werk heg aan etiese verantwoordelikheid teenoor die ander. Soos in n Ander tongval gaan Krog in "ESSAY-ABSTRAKTE re: SINAPS" in op die rol wat vertaling kan speel in die moeilike maar noodsaaklike oorbrugging van tale en kulture wanneer sy skryf: "vertaling word ekstensie en radikale voorwaarde vir begrip lees is om te vertaal? dit rus nooit maklik op die etiserende tong" (116). Vertaling is ook die aktiwiteit van lees en dig en hierdie werksaamheid is "etiesentrifugaal" deurdat dit die strewe na verbondenheid met ander mense binne die veeltalige Suid-Afrikaanse konteks insluit, maar ook verder gaan om die self oop te stel aan invloede uit die wereldliteratuur, aan 'n bemoeienis met niemenslike vorme van lewe op aarde en selfs die uitspansel van die sterre en die planete. Die gedigreeks "om te ver-jy" (46-51) is juis Krog se verwerking van die siklus Waar ik jou word (2009) wat sy na aanleiding van Govert Schilling se biografie van die kosmos Evoluerend heelal (2003) en die werk van Paul Celan vir Gedichtendag 2009 geskryf het. In "om te ver-jy" is die sterre die uiterste grens van die behoefte om 'n kreatiewe uitstraling te bereik wat ver buite die self strek te midde van die wete (na aanleiding van Schilling) dat die atome in ons liggame oorspronklik van die sterre afkomstig is:
   [...] daar waar ek jy is
   julle geword het
   begin ek buite myself
   ligte polsslae kwiksilwersingend
   iets anderkant alle mensheid kaats (49)


Die etiese vraagstuk is in hoeverre die strewe na verbondenheid met die ander mag strek sonder om 'n totaliserende projeksie, 'n magsgreep, van die self te word. Die besef dat "waar ek anders as jy is / begin ek / dis waar" (48) is daarom die teenbeeld van die oorskrydingsdrang wat die self buite die grense van die "ek" wil verplaas.

Die sinapsering van die self word in Mede-wete dus op verskillende maniere voltrek: in die verhouding met geliefdes, in die verwerwing van begrip vir die kulturele ander en uiteindelik ook in die strewe na groter eenheid met die natuur en die heelal. Hierdie ekologiese bemoeienis met die natuur is verder die basis van 'n natuurmistiek wat duidelike religieuse ondertone verkry. In my bespreking van die verskillende maniere waarop die self met die menslike en niemenslike ander artikuleer, verwys ek na die sinapse wat hierdie artikulasie oftewel sinapserings in die bundel bevorder.

Eerste sinaps: familieliefde as uitreiking buite die self

In gedigte oor die ervaring van grootouerskap (byvoorbeeld "junior", "ek en my kleindogter bou sandkastele" en "12 weke vier dae sonar") is dit die voortsetting van die self in die nageslag wat onder meer aandag geniet. Wanneer die spreker as ouma na die sonarbeeld van die fetus van haar kleinkind staar, word haar verwondering uiteindelik soos volg saamgevat:
   hoe het iets iets wat ek self nie weet nie maar iets van my in
   daardie frummelvormpie 'n miniskule kleim afgesteek sodat ek vanuit
   'n onvry gehamerde vaderland kan se die vreemdvarinkie daar is my
   bloed? (40)


Ook in die gedeelde ervaring van liggaamlike aftakeling wat by die self en by die geliefde waargeneem word, ontstaan 'n oorskryding van die beperkinge waaraan die ek as potensieel outonome en eensame wese uitgelewer is soos byvoorbeeld in "retina-loslating" (94), "ontoombaar en terrestries" (95) en in "toe die jongste kind" (101). Die erotiese liefde wat die spreker voorheen met gulsige verwagting aangegryp het, maak in die ouderdom plek vir 'n ervaring "uit die breuk wat ek is" waaruit die vasstelling voortvloei: "ons pruttel in / mekaar se arms omponsd van wonde" ("ontoombaar en terrestries", 95). Nog 'n sterk familiegedig, naamlik "ontwei" wat besliste weerklanke van Krog se bekende gedig "Ma" uit Dogter van Jefta (1970) bevat, begin met 'n strofe waarin die verbondenheid met die bejaarde moeder en literere voorganger (Viljoen 6-11) opval:
   jy gly onder my uit, Ma, in hierdie virulentgeurende lente
   vanoggend toe ek jou groet, klamp jy aan my vas
   en byna te buite hou ek jou (103)


Tweede sinaps: oorskryding van kulturele andersheid

Antjie Krog se gereelde besinning oor die etiese omgang met swart landgenote en uiteindelik ook die oorweging van kulturele andersheid met nadruk op die tale en kulture van Europa is onverminderd in Mede-wete aanwesig as deel van 'n meer oorkoepelende en ambisieuse nadenke oor die skarniere en kontakpunte tussen self en ander. Die gedig "hou jou oor teen die skeur van my land" (28-29) is 'n herbesoek aan die Waarheids- en Versoeningskommissie wat Krog in Country of My Skull in groter besonderhede beskryf het. In die gedig word die getuienis van Cynthia Ngewu oor die moord op haar seun Christopher Piet, leier van die sogenaamde Gugulethu Sewe, in 1986 weergegee. Cynthia Ngewu het met haar vergifnis van die apartheids-polisieman, adjudant-offisier Barnard, daarna gestreef om sy menslikheid te herstel. Die slotstrofe van die gedig bevind egter: "hulle het vergeefs interverbondenheid probeer inweef in / die concrete bunker wat in mnr. Barnard se witheid leef" (29). Swart konsepsies van ubuntu wat oor die kleurgrens heen gedeel word, stuit teen die weiering van die wit polisieman om hom vir "interverweefdheid-tot-samehang" (28) oop te stel. In die indrukwekkende "mirakel" verwoord die spreker soos in die openingsiklus van die bundel "die werf (9-25) haar verbondenheid met die land. Die woorde "mateloos is my liefde vir die land / verwikkeld gehard en onomwonde" (30-31) word in "mirakel" as refrein herhaal, en funksioneer as 'n kontrapunt tot die teleurstelling oor die gebrek aan visie en die brutaliteit wat 'n skadu oor die wonder van "die vreedsame vrymaking van my land" (31) werp.

In die eweneens indrukwekkende gedigreeks "Vrou Justitia geblinddoek" (32-35) is die vertrekpunt kennelik Zapiro (2010) se omstrede reeks spotprente oor Jacob Zuma wat gereed maak om die beeld van Geregtigheid as vrou met swaard en weegskaal te verkrag ten aanskoue van 'n aantal medepligtiges wat haar teen die grond vasdruk. In die gedigreeks is die klem op aandadigheid by die verkragting van Vrou Geregtigheid wat nie net die misdaad van 'n enkeling of 'n enkele groep is nie. In die slotgedig in die reeks word die verinniging van "mede-lug" as verweer teen die korrupsie en brutaliteit voorgestel--die uitreiking na die gedeelde ruimte met die ander word wederom die vertrekpunt van saambestaan met respek vir geregtigheid:
   maar hoe hou ons mekaar se bloed in bewaring anders
   as om vurig mede-lug en die sakrosante van alle liggame
   te verinnig sodat die hartelose die barmhartigheidslose die
   brutale die wrede die venyn nie al is wat ons het wanneer
   ons teenoor mekaar staan nie, eindelik, waar jy ook al is, die
   fondasies waarop alles rus bly korrupsie en aandadigheid
   maar die gevaarlikste hiervan is die skoon hande (35)


'n Selfbewuste besinning oor die etiese verantwoordelikheid van die digter in die representasie van die ander se dikwels onbegryplike ellende begelei die tweetalige weergawe in Afrikaans en Xhosa van 'n huishulp se stryd met armoede in die lang gedig "bediendepraatjies" (60-74) wat 'n volle vyftien bladsye in beslag neem. Drucilla Cornell se uitspraak dat "the noting of the failure of representation itself becomes a form of listening" (60) annoteer die gedig. Hierdie mislukking van representasie word in die ingevoegde fragment "(die slak as verbeeldingop die slapende subaltern wang)" opnuut na vore gebring wanneer die digterstem aanwesig gestel word as 'n (parasiterende) slak met die uiteindelik gefnuikte intensie om aan die subaltern uitdrukking te gee: "sy is een groot empaties-/smakkende skeur waardeur die wang weerklink voor brandend / van menssweet als misluk en sy terug in haar wit windings slink" (66). In Mede-wete is die versugting deurgaans aanwesig om vanuit die inkerkerende slakkehuis van "wit windings" te kan uitreik na die ander van kleur al is die etiese struikelblokke wat die nobele sinapserende intensies van die digter-spreker belemmer soms oorweldigend.

Derde sinaps: 'n gedeelde ekologiese materialiteit

Die gedig "connected in Berlyn" wat ingaan op die mens wat toenemend die tegnologie benut om verbondenheid en skakeling te bewerkstellig eindig met 'n koersveranderende uitwysing na 'n kraai buite die gewasemde ruit van die huislike ruimte waar informasietegnologie die toon aangee. Die wens van die spreker is dan: "o / om ooit te snoef deur sy snawel te straal met sy oog / sy brein glorieus uitspanselbindings te loof" (55). Die gewaarwording van die spreker dat die informatika inhou dat sy nie meer "'n noodwendigheid" vir haar familie is nie, laat haar smag na andersoortige verbintenisse soos met die niemenslike dier wat potensieel bindings en sinapse op 'n kosmiese skaal kan fasiliteer. Die vermoede is dat daar deur die medewetes van ander vorme van lewe op aarde uiteindelik fundamenteel groter ontdekkings mag wag as deur die blote illusie van 'n "bo-aardse gloed" wat van 'n rekenaarskerm afkomstig is.

Vir 'n oomblik is dit in "om te ver-jy" (46-51) denkbaar om die gesig van die geliefde te sien "sterrefiseer", "bomefiseer" en te "leeuefiseer" en daardeur iets van die "bo-sinnelike" op te tel. Die organiese en anorganiese materialiteit van die heelal is die poort tot groter artikulasies en transformasies wat begin by die wete dat die mens in sy samestelling uit dieselfde materie as die res van die uitspansel bestaan en daarom juis deur 'n bevestiging van hierdie gedeelde materialiteit die hulsel van beperkende denkbeelde oor 'n afgebakende menslike self kan deurbreek. Hierdie bewussyn van die aanliggendheid van materie wat byvoorbeeld in Krog se vroeer gedigte oor klippe en rotse aanwesig was, verkry in haar jongste bundel 'n groter dringendheid en skep haar werk, selfs meer as vantevore, die indruk van aansluiting by die nuwe materialisme. Die vertrekpunt van die nuwe materialisme wat ook deeglik in die ekokritiek verreken word, is dat mense in hul alledaagse lewe omring word deur materie en boonop self ook uit materie saamgestel is. Ons ervaar die rusteloosheid en onomstootlikheid van die materiele, ook terwyl ons dit verbruik en daardeur nuwe konfigurasies aanneem (Coole en Frost 1). Aangesien ons soos Krog dit stel "meer mikroob as mens" is omdat ons onder meer bestaan uit "90 triljoen naaiende onnoembares 'n kolonie juigendkompakterede kieme" (79) gebied hierdie interafhanklikheid en sinapse met die stoflike dat ons ook materialisties oor die bestaan moet nadink.

In die oorrompelende "'n dogtertjie in die tuin" erken die spreker in die spel van 'n dogtertjie 'n intuitiewe wete van intieme verbintenisse met die ander in die natuur en met ander mense:
   voor sy 'n melkhoutboom was, was sy 'n kraalogie
   dit was nou nadat sy die wind was
   haar haartjies is besig om vere te word
   'n muggie trek haar snawel nader (52)


Ewe moeiteloos kan sy in haar spel haar inbeeld dat die arms van die spreker op wie se skoot sy sit ook haar arms word en speels begin sy haar dan met die hand van die spreker te voer.

In "as ek doodgaan" is dit die wens van die spreker dat 'n boom op haar graf geplant moet word sodat die boom voeding kan haal uit haar ontbindende liggaam. Sodoende sal sy as deel van die boom na haar dood kan "tril as chlorofil" en kan oopteug "in blare" om "die liewe son" te bejuig (102). Die ambisie in die gedigte is dus om sowel die blik van ander lewende wesens te kan aanneem as om deur transformasie ander synsvorme in die natuur te kan aanneem in 'n ontsnapping uit die beperkende aard van menswees.

Onder die invloed van Emmanuel Levinas het die alteriteitsetiek (ook bekend as responsetiek) ontwikkel wat die filosofiese aandag verskuif het van wette en beginsels gebaseer op geisoleerde nadenke of rasionele argumente na die gevoelsmatige appel van die weerlose vreemdeling. In die alteriteitsetiek is die aandag dus op die ander wie se unieke identiteit die kennisverwerwende beperkinge van die taal en van bestaande begrippe blootle (Willett 9). Soos Antjie Krog se poesie onder meer deur "sillabeversteuring" (118) en ander uitdagings van die taal demonstreer, is daar sedert Levinas groeiende pogings om verbeterde etiese verhoudings met die menslike en niemenslike ander te ontwikkel. Die koppeling van die strewe na betekenisvolle uitwisseling in ons multispesie-gemeenskappe met die diepgesetelde kwasireligieuse ingesteldheid van die alteriteitsetiek (Willet 13) is in Mete-wete moontlik die basis van die fokus op mistieke eenwording.

Vierde sinaps: mistieke eenwording as mede-wete

Die gedig "'n eland staan by 'n kuil" in Mede-wete illustreer goed die samehang tussen, enersyds, die ekologiese sinaps in 'n gedeelde materialiteit en, andersyds, mistieke eenwording. By die spreker is daar 'n behoefte om te "soek hoe / die eland die water die berge deel is // van 'n geheue van oneindige voortglippendheid // hoe weet hulle van mekaar?" (54). Die spreker asook die ekologiese eksistensie buite haar is deel van 'n magtige beweging wat berus op 'n basis van 'n kontinue uitwisselbaarheid tussen self en ander. Hierdie beweging het egter nie God as doel nie, maar kom eerder voor as 'n nihilistiese natuurmistiek soos blyk uit die twee slotstrofes van die gedig:
   [...] so niks
   kan ek onthou van die ontniks waaruit ek kom
   so niks verstaan ek van die niksheidsnoute waarheen
   ek op pad is--haglik in hiernamaalsflardes krap-

   krap ek toevallende gaatjies na die Groot Goddelike Niets (54)


Normaalweg begin die mistisisme met die nihilistiese vernietiging van subjektiwiteit en van die wereld van die subjek. Daarvandaan beweeg dit dan na 'n uitreiking na die oneindige sodat die oneindige waarna gestreef word en die leegte van waaruit dit voortgekom het in werklikheid met mekaar saamval. In Krog se gedig begin die denke egter juis by die ontkenning van niksheid, naamlik die materiele "ontniks waaruit ek kom" en beweeg dit op 'n ontoereikende manier "in hiernamaalsflardes" (54) na die niks wat weliswaar goddelik en groot is.

In die enigmatiese slotgedig van die bundel "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" (118 20) word die wegstuur van God bepleit ten gunste van 'n ligtheid gekoppel aan die natuur en die "groen" en die strewe na 'n skil wat saambind en soomloosheid nastreef:
   ons moet God ry tot hy mak is en ons weggee
   as ademloos lig-wigtiges aan die tampende skyn
   van wimpelvlerknaguile skil wat ver-een
   verru jou hare in die skokmat-sig van groen
   om die geskiedenis van soomloses te vernu (119)


Simon Critchley wat in The Faith of the Faithless oor die (anargistiese) mistisisme skryf, konkludeer dat mistici soos die Middeleeuse skrywer Marguerite Porete 'n poging aanwend om nie 'n teofaniese (dit is iets met die aanskyn van 'n god) einddoel te bereik nie, maar om eerder 'n daad van absolute waagmoed te onderneem wat uitmond in 'n nagenoeg onsterflike dimensie van die subjek. Die punt is nie om ander uit die weg te ruim nie, maar om die eie self te vernietig sodat 'n getransformeerde verhouding met ander moontlik word, 'n nuwe manier om die gemeenskaplike en saambestaan met ander te bedink (Critchley 152-3). By Krog word selfvermindering, maar weliswaar geen selfverdwyning nie, bepleit in die natuurmistieke najaag van 'n niegodgerigte gesamentlike bestaan wat die ander, wyd gekonsipieer as medemense en medewesens, "ver-een" in 'n nuwe soomloosheid.

Die gedig "moniaal" (41), wat op die oog af as 'n soort omgekeerde Engelse sonnet opgebou is, is die moeite werd om volledig aan te haal omdat dit 'n aangrypend liriese gebed is wat die dilemma van 'n Godheid wat nou nog net deur die belewing van die natuur ervaar kan word, ter sprake bring:
   moniaal

   by watter naam roep ons die Universum aan
   anders as die uitgediende naam God:

   God se ek as wintergras die vlaktes vlas in rypwit
   en afgevrete pruim--kyk die speenkleur genaamd
   God se ek by die aandgloor van perlemoengehalmde lug
   heilig heilig hef die heuwels hulle tulle blou asems

   Maanheid fluister ek natgesweet as die grootse ding eindelik
   liplaat ek kniel voor die onuitspreekbare genade van

   Boomheid: Allerhoogste Bergheid sien u gesant in Wolkheid
   aan u proseliet in Herfs u ab van Water ek strek

   my in aanbidding neer O Somerappelkoosheid en smeek
   laat u dienskneg nog 'n wyle sintuiglik besete word
   in die Bergheid Uilheid barmhartige Nierheid
   die leefsuisende suurstofmantels van Sterlipsaligheid


In sommige afgeslote ordes van die Katolieke Kerk is die moniaal is 'n vroulike kloosterling wat na haar novisiaat 'n tydelike gelofte van drie jaar afle waarmee sy haar tot gehoorsaamheid, suiwerheid en armoede verbind. In hierdie gedig is die moniaal "sintuiglik besete" deur die natuur en is die naam God uitgedien omdat dit blykbaar nie voldoende die byna mistieke ervaring van die natuur kan vasvang nie. Die naam God word dan vervang met woorde soos "Maanheid", "Boomheid", "Bergheid", "Somerappelkoosheid", "Uilheid", "Nierheid" en "Sterlipsaligheid". Die gedig "moniaal" gee iets weer van die aansluiting wat Krog in Mede-wete vind by vroulike mistici soos die nonne en begyne soos Hadewijch ('n digter), skrywer Marguerite Porete en Teresa van Avila.

Slot

In hierdie verkennende resensieartikel het ek probeer om soos in die manjifieke slotverse in Mede-wete "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing" (111-20) op soek te gaan na sommige van die sinapse oftewel onderlinge verbondenhede wat deurlopend in die bundel voorkom. Hierdie sinaps-opsporing het my gelei na die sinaps tussen die spreker en haar familie en geliefdes, die sinaps met die kulturele ander, die sinaps van 'n gedeelde ekologiese materialiteit en daarmee gepaardgaande ook die sinaps wat dui op 'n natuurmistieke orientasie.

Mede-wete is weens die sillabeversteurings en soms ondeurdringbare, hermetiese aanbieding 'n uitdagende bundel. Die leser word verder aangemoedig om invloede soos die Duitse poesie van Paul Celan en Ingeborg Bachmann, die verse van die Kanadese digter Anne Carson, die prosa van J. M. Coetzee en die filosofie van Emmanuel Levinas raak te lees. In onder meer Krog se talle neologismes, woordsamestellings en ontyking van idiome herken Louise Viljoen (14) byvoorbeeld die neerslag van Paul Celan se pogings om Duits as taal te herskep en dat Krog eweneens uitdrukking gee aan 'n behoefte om in Suid-Afrika (maar ook elders in ander werelddele) 'n nuwe taal te ontdek wat "mede-wete" sal bewerkstellig.

In Mede-wete is daar nietemin talle toeganklike gedigte sodat die bundel nooit in 'n hermetiese eenselwigheid verval nie. Die lys hoogtepunte in die bundel is lank en sluit gedigte in soos die werf- en grondgedigte "leef die mite" (18) en "om soos vroeer" (21), en dan verder "mirakel" (30), "Vrou Justitia geblinddoek" (32-35), "12 weke 4 dae sonar" (40), "moniaal" (41), "om 'n mens kos te gee" (44), "om te ver-jy" (46-51), "'n dogtertjie in die tuin" (52-3), "'n eland staan by 'n kuil" (54), die eksperimentele "bediendepraatjies" (60-74), "kerssonnet" (75), die geheue-gedigte "buite skemer dit koeelgate spat erens donker" (97) en "(probeerslag 5: grond)" (100) maar ook "ontwei" (103) en al die gedigte in die reeks wat aan Jakes Gerwel opgedra is, naamlik "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing" (111-20).

Met Mede-wete tree Antjie Krog op as 'n digterlike sintetiseerder, maar dit beteken allermins dat daar nie ook talle tekens van 'n selfverruimende soeke en verbreding van haar eie digterlike visie is nie. Hoewel brandpunte in die politieke diskoers in Suid-Afrika, anders as wat Krog in Mede-wete en ook elders ("An Inappropriate Text") blykbaar te kenne gee, besig is om te verskuif van kleur na sosiale kwessies rakende klasse-ongelykheid en xenofobie, lees sy nietemin die gees van die tyd baie fyn in die gedigte waarin sy uiting gee aan 'n behoefte aan koppelings en saamwees tussen mens en omgewing. 'n Mens staan nie soseer versteld oor nuwe vergesigte wat Krog op 'n gedagtevlak oopmaak nie as oor die verbluffende omgang met die taal wat geplet en getoets word vir wordings en vernuwings. Mede-wete is 'n digterlike kleinood en 'n klinkende bewys dat die Afrikaanse poesie tans, anders as wat Krog self in 'n skeptiese oomblik van selfondersoek beweer, veel meer is as die werk van 'n groepie "bobeenversitters-in-krimpende-taal" (117).

Andries Visagie

Andries Visagie is 'n professor verbonde aan die Departement Afrikaans, Universiteit van Stellenbosch.

E-pos: agvisagie@sun.ac.za

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.21

Geraadpleegde bronne

Coole, D., en S. Frost. "Introducing the New Materialisms". New Materialisms. Ontology, Agency and Politics. Reds. D. Coole en S. Frost. Durham, NC: Duke UP 2010. 1-43.

Critchley, S. The Faith of the Faithless. Experiments in Political Theology. Londen en New York: Verso, 2012. HAT. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Midrand: Perskor, 1994.

Krog, A. 'n Ander tongval. Kaapstad: Tafelberg, 2005.

--. "An Inappropriate Text for an Appropriate Evening--Read Antjie Krog's Keynote Address from the 2015 Sunday Times Literary Awards". 29 Jun. 2015. 9 Jul. 2015. Books Live. <http:// bookslive.co.za/blog/2015/06/29/an-inappropriate-text-for-an-appropriate-evenmg-read-antjie-krogs keynote-address-from-the-2015-sunday-times-literary-awards/>.

--. Country of My Skull. Johannesburg: Random House, 1998.

--. Dogter van Jefta. Kaapstad: Human & Rousseau, 1970.

--. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau, 2014.

--. Synapse. Vertaal uit Afrikaans deur Karen Press. Kaapstad: Human & Rousseau, 2014.

--. Waar ik jou word. Rotterdam: Poetry International; Amsterdam: Uitgeverij Podium, 2009. Online Etymology Dictionary. 2001. 9 Jul. 2015. <http://www.etymonline.com/mdex.php?term=synapse>.

Schilling, G. Evoluerend heelal; de biografie van de kosmos. Hilversum: Fontaine Uitgevers, 2003.

Vljoen, L. Ons ongehoorde soort. Beskouings oor die werk van Antjie Krog. Stellenbosch: SUN PReSS, 2009.

--. "Baanbrekend, nuut vir Krog en taal". Beeld (ByNaweek+). 13 Des. 2014. 14.

Willett, C. Interspecies Ethics. New York: Columbia University P

Zapiro (ps. Jonathan Shapiro). "Jacob Zuma and Lady Justice". 11 Sept. 2008. 9 Jul. 2015. < http:// www.zapiro.com/Slideshows/Lady-Justice-Jacob-Zuma>.
COPYRIGHT 2015 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2015 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Visagie, Andries
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Geographic Code:6SOUT
Date:Mar 22, 2015
Words:3761
Previous Article:Chenjerai Hove (1956-2015).
Next Article:Mede-wete.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters