Printer Friendly

Swerwende verse.

Floating verse

Certain literary texts contain elements which transcend the language, the time and the general cultural climate within which they originated, and these transits sometimes happen over vast stretches of geographical distances and historical times. Themes and concepts, images and metaphors, verses of whole groups of verses, phrases and even archetypal poetic meterial float around between texts which originated in entirely different languages and historical periods and therefore also entirely different cultural, religious or national circumstances. That is what gives literature its dynamic, synchronic and global character. Five such texts will be dealt with in this article, Hymn to the sun by the enigmatic Egyptian Pharaoh Achnaton, some Old Testament Psalms, the Iliad by Homer, the mystifying Secret History of the Mongols by an unknown author, and the Dutch poem Mei by Herman Gorter. Key words: Comparative literature, global character of literature, Achnaton, Homer, Herman Gorter, Secret History of the Mongols, Psalms.

**********

Sekere literere tekste bevat opvallende momente wat weer in latere tekste opdaag en wat duidelik nie op 'n toevallige verwantskap berus nie. Ek verstaan die begrip "momente" soos die Woordeboek van die Afrikaanse Taal dit beskryf: "Enige onderdeel, wat gewoonlik nie selfstandig kan funksioneer nie, en wat 'n belangrike deel uitmaak of 'n essensiele faktor is in die samestelling van 'n komplekse geheel." Sulke literere momente sluit temas, beelde en metafore, of in langer gedaante frases, versreels en hele versgroepe in, verder ook konsepte en selfs sekere literer-argetipiese materiaal. Die poetiese migrasie van sulke momente vind dikwels plaas tussen tekste wat in gans verskillende geografiese, historiese en algemene kulturele omstandighede ontstaan het en wat eeue uit mekaar le. Dit gee aan die literatuur 'n boeiende dinamiese karakter en ontgrensing.

Daar bestaan vyf sulke tekste wat op die eerste gesig skynbaar niks met mekaar te make het nie maar tog literere familie van mekaar is: die eksentrieke Egiptiese farao Achnaton se Himne aan die son, die gesiglose Homerus se Ilias, een of meer van die Psalms, die Geheime geskiedenis van die Mongole van 'n anonieme skrywer, en Herman Gorter se Mei.

Drie van die vyf is uitsonderlik lank. Alleen Achnaton se Himne aan die son en die betrokke Psalms is betreklik kort gedigte. Die Ilias en Mei is besonder lang gedigte, van etlike honderde verse. Die Geheime geskiedenis is 'n mengeling van prosa, prosagedigte en egte gedigte wat in mekaar oorloop, 'n redelik lywige teks. Ek maak gebruik van F. W. Cleaves se pragtige Engelse vertaling, The Secret History of the Mongols, 'n merkwaardige boek.

Hierdie vyf tekste kom uit vyf verskillende lande: Egipte (die Himne aan die son), Griekeland (die Ilias), Israel (die Psalms), die Verre Ooste (The Secret History) en Holland (Mei), en hulle kom uit vyf gans verskillende tye.

Achnaton het geleef van ong. 1375-1358 v.C. Hy was 'n eksentrieke en omstrede farao. Sy naam is reeds digterlik. "Aton" beteken "son" en "Achnaton" beteken "geliefde van die son" of eintlik "Welgevallig vir Aton," 'n naam wat Amenhotep IV (Amnenophis IV) vir homself gekies het. Die beroemde Nefertiti was sy vrou. Homerus, "een naam als een klaroenstoot" soos dit al genoem is, kom uit ongeveer 850 v.C. Hy word beskou as Europa se oudste epikus en sy Ilias saam met die Odyssee word die oudste letterkundige monumente in die Griekse taal genoem. Die datering van die Psalms is baie moeilik, party daarvan het waarskynlik al voor die Babiloniese ballingskap van die Jode ontstaan. Nietemin, die bekendste psalmdigter Dawid het geleef van ongeveer 1010-970 v.C. Die Geheime geskiedenis kom uit die 14de eeu. Die Nederlandse Tagtigerdigter Herman Gorter se Mei kom uit die einde van die 19de eeu.

Die verwantskap tussen hierdie vyf tekste le in wat ons kan noem rondswerwende verse, sigeunerverse, nomadiese verse. Eintlik: vabondverse of vagebonderende verse, vabond nie in die huidige Afrikaanse betekenis van die woord nie maar in die betekenis wat dit gekry het van die Latynse vagabundus, vagari, rondswerf (vgl. Frans vagabond en Nederlands vagebond vir swerwer; vgl. ook Engels vagary.)

Met watter omwee sulke verse geswerf het, in plaas van direkte verbindinge, dit sal niemand weet nie, want daar sit agter die meeste van hierdie verse 'n mondelinge tradisie.

Daar is behalwe vers- en ander besonderhede egter ook in groot trekke sekere verwantskappe tussen hierdie tekste. As 'n mens sekere gedeeltes in boek XVIII van die Ilias lees en sekere gedeeltes in boek I van Gorter se Mei daarnaas, of as jy Achnaton se Himne aan die son en Psalm 104 naas mekaar lees, dan kry jy dadelik 'n globale indruk van die verwantskap van die tekste, wat meer is as die besonderhede bymekaar getel, maar as jy dan na die besonderhede gaan, word die verwantskap nog duideliker bevestig.

Presies hoe verse tussen die vyf tekste rondgeswerf het, dit is nie nou ter sake nie, maar dat daar verse in die vyf is wat van die een na die ander oorgeloop het, met omwee of kortpad, dit is aanduibaar.

Die verwantskappe tussen die vyf tekste vorm 'n web. Ons kan op enige punt van die web begin.

Die Ilias en Mei

In boek XVIII van die Ilias beskryf Homerus hoe die kunstenaar Hephaistos 'n skild maak vir Achilles as deel van die wapenrusting waarmee laasgenoemde Hektor gaan aandurf in die Trojaanse oorlog. Dit is bekend as een van die mooiste dele in die Ilias. Ek gebruik die baie goeie en mooi Afrikaanse prosavertaling van J. P. J. van Rensbsurg, wat 'n wonderlike poetiese krag behou het.

Van die Ilias af is daar 'n groot sprong deur die lang eeue na Herman Gorter se Mei gemaak. Die twee tekste verskil grootliks van mekaar. Die Ilias is 'n gewelddadige oorlogsgedig, 'n epos van etlike honderde verse. Gorter se Mei is 'n vriendelike, ontspanne liriese natuurgedig, nie so lank soos die Ilias nie maar ook wel 'n gedig van honderde verse. Ten spyte van die groot verskille tussen die twee tekste het sekere verse uit die Ilias hulle weg na Mei gevind, waarskynlik kortpadlangs. Gorter het die klassieke immers baie goed geken en dus ook die Ilias. As ons aan die ou term beinvloeding wil kleef, kan ons praat van beinvloeding van die Ilias op Mei. Tot in klein besonderhede stem Gorter se gedig merkwaardig ooreen met Homerus s'n, soveel merkwaardiger as ons dink aan die groot verskille origens tussen die twee gedigte.

Daar is vier oorlopers van die Ilias af na Mei toe.

Eerstens die smedery wat in albei tekste voorkom. In die Ilias begin die gedeelte wat vertel hoe Achilles se skild gemaak word met die beskrywing van Hephaistos se smidswinkel: "[...] Hy het na sy blaasbalke toe gegaan, die op die vuur ingestel en hulle beveel om te werk [...] Daarna het Hy die groot aambeeld op die aambeeldblok neergesit, met sy een hand die sterk hamer gegryp en met die ander een die vuurtang gegryp."

Hierdie smidswinkeltoneel, met vuur en hamer en meer, keer terug in Gorter se Mei, waar die Meifiguurtjie deur 'n dorpie in die dal swerf:
 [...] Uit de straat was 't flauwe
 Gerucht hoorbaar der swarte smederij,
 Het ijzer klonk onder de hamers, zij
 Hamerden in cadans de spranken vuur.


'n Mens sou allermins so 'n smidswinkelepisode in 'n loutere natuurgedig verwag, as dit nie vir die Ilias was nie.

Daar is in hierdie twee tekste ander verwante straattonele, tussen 'n antieke Griekse stad en 'n negentiende-eeuse Hollandse dorpie. In die Ilias is daar op Achilles se skild in die strate van die stad "'n weelderige huweliksfees [...] met vlammende fakkels [...] terwyl die huwelikslied vol opstyg en jongmanne al dansende in die rondte draai en die klanke van fluite en liere mos tussen hulle weerklink [...]" In Mei daag daardie bruid weer op, in die strate van 'n Hollandse dorpie:
 Het was een bruiloft; zooals een speelpop,
 Met kanten en juweel mooi zat de bruid
 Hoog boven 't stuiven en de bloemen uit


Mei se huweliksfees is minder klankryk as die in die Ilias, dis wel kleurryker, maar tog ook wel met straatgeluid soos in die Ilias:
 De paarden gingen stapvoets dat tuigschellen
 Rinkelden [...]


Daar is nog 'n ander merkwaardige verwante stads- en straattoneel in die twee tekste. In die Ilias is daar "'n twissaak" tussen twee manne aan die gang, met 'n "skeidsregter" en toeskouers: "die mense het altwee toegejuig, aan albei kante was daar ondersteuners". In Mei is die twissaak gemoedeliker, vriendeliker, minder ernstig as in die Ilias, want dit is kinders wat nou baklei, maar weer met toeskouers, en weer met 'n skeidsregter, hierdie keer die skoolmeester:
 Twee vochten er, de rest stond er om heen;
 Tot meester kwam, toen gingen ze bij tween
 En drieen huiswaarts [...]


Ten slotte is die beminlikste oorlopery uit die Ilias na Mei miskien die van die vrouens wat as toeskouers van die straattonele in hulle huisdeure staan en alles bekyk. In die Ilias lees ons in die stadstoneel by die huweliksfees daarvan: "en die vrouens staan daar vol bewondering, elkeen by haar voordeur." In Mei lees ons daarvan in die dorpstoneel net na die smidswinkelepisode:
 De straat was leeg, ze [Mei nl.] zag aan deur twee buur--
 Vroutjes staan spreken en een zwarten hond
 Rondloopen [...]


Die Ilias is 'n epos van duisende verse, maar die gedeeltes wat daaruit na Mei oorgeloop het, kom uit 'n passasie van slegs ongeveer 130 verse. Dis die sonderlinge daarvan. Ook Mei is 'n gedig van duisende verse, maar die gedeeltes daarin wat die roetes na die Ilias terugwys, staan weer almal bymekaar saamgetrek in 'n passasie van ongeveer 50 verse. Die verse uit die Ilias wat oorgeswerf het na Mei, het dit dus in 'n digte saamhorige optog gedoen.

In hierdie soort versmigrasie tussen die Ilias na Mei gaan dit om 'n samehangende groep motiewe wat van die een gedig na die ander oorgedra is; dit is nie 'n miskien toevallige ooreenkoms tussen die twee gedigte nie, en die wonderlike daarvan is dat dit dieselfde menslikheid is, ten spyte van alle verskille tussen mense uit 'n ou en moderne wereld en verskille in tyd en ruimte. Ten spyte van kulturele en taalverskille is dit literere familie. En menslike familie.

Die standhoudende in die literatuur kan net so wonderlik wees as die veranderlike en vernuwende.

Die Himne aan die son en die Ilias

Tussen die ouere Himne aan die son van die eksentrieke Egiptiese farao Achnaton en die latere Griekse wereld van Homerus se Ilias (en weer meer in die besonder die gedeelte waar Achilles se skild beskryf word), moet daar eweneens duidelik 'n nomadiese poetiese beweging plaasgevind het. Trouens, tussen Achnaton se Himne self en ander ou Egiptiese gedigte oor die son is daar talle rondloperverse.

Dat verse geswerf het tussen die Egiptiese en Griekse gedig is nie vreemd nie. Die antieke Egiptiese en Griekse werelde het in baie opsigte naby aan mekaar gele, ruimtelik, rondom die Middellandse See, militer, polities, kultureel, wat sekere rites betref en sekerlik ook digterlik.

Achnaton se Himne is soos die titel reeds se 'n loflied aan die son. Maar ook die Ilias is vol sonlig. Hephaistos begin met die maak van Achilles se skild met die son: "Die aarde het Hy daarop uitgebeeld, en die hemel, asook die see, die onvermoeide son [...]"

Die skild wat Hephaistos vir Achilles maak, is nie blote wapenrusting nie, nie bloot afweermiddel teen die dood nie, dit is inteendeel 'n stuk volle lewe, met mense, diere, plante, water, eintlik iets direk in teenstelling tot die vernietiging en die dood wat 'n oorlog meebring, 'n merkwaardie stuk werklikheid, 'n merkwaardige genesis, in die aangesig van die dood, gemaak deur 'n kunstenaar wat onder die antieke Griekse gode self 'n god was. Die pragtige, groot stuk lewe wat Hektor se dood voorafgaan op Achilles se skild, is een van die wonderlikste brokke ironie wat die Westerse literatuur opgelewer het.

In Achnaton se Himne is die son, aton, 'n god, en die gedig is soos die skild in die Ilias 'n genesis, van 'n ryk gestoffeerde wereld, wat soos Homerus se gedig mense het wat werk, diere wat in die veld wei, stede en riviere. In albei gedigte is hierdie stoffering die argetipiese boumateriaal vir die digterlike werelde waarin die mens beweeg. Ook hier is daar 'n globale verwantskap, wat bevestig word deur verskeie besonderhede. Die Ilias vertel in die beskrywing van die skild van werkers op die land, van ploeers wat 'n braakland ploeg, van 'n landgoed waar dagloners met skerp sekels in hulle hande oes. Reeds onder die Egiptiese son van die Himne is daar sulke werkers. (Daar bestaan baie vertalings van Achnaton se Himne. Ek gebruik die vertaling van J. L. Foster: Akhenaton's Hymn to Aton (Tomb of Aye):
 The Sunfolk awaken and stand on their feet,
 for you have raised them up;
 Their bodies are bathed, they put on their clothing,
 their arms raised in praise at your appearing.
 Throughout the land
 they take up their work.


In die Ilias vul Homerus die Griekse veld op Achilles se skild met mak diere, "'n kudde regophoringbeeste [...] by die bruisende rivier, by die golwende riete [...] 'n weiveld [...] vol wit skape [...] " Hierdie kuddes en weiveld en plante is reeds daar in die Himne:
 The herds are at peace in their meadows,
 trees and the vegetation grow green [...]
 With mankind and cattle and every sort of small beast


Homerus se stede, weivelde en rivier staan in die Himne aan die son as 't ware opsommenderwys reeds saamgetrek in een vers:

Cities, towns, fields, the road, the River.

Die riviere en see kry in albei gedigte besondere aandag. Hephaistos het op Achilles se skild "die groot krag van Okeanos se rivier daarop uitgebeeld". "Oceanus [...] in the oldest Greek poets is the god of the water which was believed to surround the whole earth, and which was supposed to be the source of all the rivers and other waters of the world" (Marindin 1928: 406). Hephaistos laat die groot krag van Okeanos se rivier, soos Homerus dit noem, die aarde omring soos Marindin dit beskryf, hy het dit "al langs die buitenste rand van die stewiggemaakte skild" geplaas. Die voorganger in die Himne van die Ilias se see-plus-rivier of rivier-plus-see is die Nyl wat met die see verbind word:
 The fish in the River dart about in your sight,
 and your beams are deep in the Great Green Sea [...]

 You create Hapy, the Nile, in the Underworld
 to bring him, at your desire, to nourish the people


Gorter se Mei en die Himne aan die son

Ook Gorter se Mei is, al is dit op indirekte manier, soos Achnaton se gedig 'n himne aan die son, maar daar is ook 'n direkte verwysing na die son in Mei:
 Weet iemand wat op aard het schoonste is [...]
 Het is het vuur, de warmte, 't is de zon


Boek 1 van Mei is vol son. Daar is ook weer verwantskap tussen Mei en die Himne aan die son in die besonderhede, soms byna woordeliks. Vergelyk die "kleine vee" van Mei en die "small beasts" van die Himne, die voels in albei gedigte, die kuddes, waar Mei gaan na
 Een effen duinvijver, een vogelpoel,
 Die 'n zomerdag niets doet dan spiegelen
 Het kleine vee dat de lucht afweidt en
 Zich zamen naar den stal beweegt waar ver
 Al zware rund'ren liggen en een ster
 Des avonds brandt; zoodra de avond komt,
 Dalen daar vogels in [...]


Achnaton vertel in sy Himne:
 The herds are at peace in their meadows,
 trees and the vegetation grow green,
 Birds fly from their nests,
 their wings spread wide in praise of your Person;
 All the small beasts leap about on their feet,
 and all who fly up or settle to rest
 live because you have shone upon them [...]


Al sou ons hier bloot argetipiese gedigmateriaal he wat die verwantskap tusen die twee gedigte skep, is dit op sigself 'n verrassende digterlike verskynsel waarvoor ons staan. Argetipiese gedigmateraal swerf soos hele verse, versgroepe, motiewe, en meer.

Die Himne en die Psalms

'n Baie fassinerende en onvermoede digterlike migrasie het plaasgevind tussen Achnaton se Himne en twee Psalms. Ons is gewoond aan die vertaalde Psalms as Bybelse prosa, maar inherent en oorspronklik is die Psalms gedigte, en soos ons dit in die Bybel ken, is dit eintlik prosagedigte, met meesterstukke soos Psalm 72, 90, 104, 128 en veral 139. 'n Leser hoef nie in die Ou-Testamentiese God te glo om byvoorbeeld Psalm 139 te bewonder nie, ons lees immers Griekse en Latynse religieuse poesie met bewondering sonder dat ons in die Griekse of Romeinse gode en mites hoef te glo. Ons lees Griekse, Latynse, Egiptiese en ander antieke gedigte en dink nie aan die Psalms as gedigte nie. Maar dit is gedigte, oergedigte, soos die Himne aan die son en soos die Ilias.

Daar is merkwaardige ooreenkomste tussen Achnaton se Himne en Psalm 19 en Psalm 104.

In Psalm 19 word drie verse aan die son gewy as daar van dag en nag gepraat word (vs. 5-7; ek gebruik die sg. Afrikaanse Nuwe Vertaling]:
 5 [...] Hulle taal bereik die uithoeke van die aarde. Vir die son
 is daar in die hemel 'n tent opgeslaan. 6 As hy stralend begin om
 sy baan te volg, is hy soos 'n bruidegom wat uit sy slaapkamer
 kom. 7 Aan die een kant van die hemel kom hy op en aan die ander
 kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy gloed nie.


Die opkoms en ondergaan van die son, die ruimtelike verreikendheid daarvan, die omvattendheid en die alomteenwoordigheid van die son in Psalm 19 is soos die in Achnaton se Himne:
 May you always appear thus gloriously in the horizon of the sky,
 O living Aton, origin of life!
 Arisen from the eastern horizon,
 you have filled all earth with your splendor;
 You are beautiful, great, dazzling, exalted above each land,
 yet your rays encompass the lands
 to the limits of all which you have created;
 There in the Sun, you reach to their boundaries,
 making them bow to your Son, whom you love;
 And though you are far, your rays are over the earth,
 and you are in the faces of those who watch your journeying.


Die strekking in die twee tekste is dieselfde.

Psalm 104 staan nog nader as Psalm 19 aan Achnaton se Himne aan die son, of laat ons se, tussen Achnaton se Himne en die Ou-Testamentiese gedig het daar nog duideliker as in die geval van Psalm 19 verse gevagebondeer ... frases, motiewe, beelde.

Psalm 104 is een van die mooistes onder die Psalms. Dit word in die Afrikaanse Ou Vertaling van 1933 "Die lied van die skepping" genoem. Psalm 104 begin soos die Himne met lig: "2 U is met 'n kleed van lig omhul. Dit is U wat die hemelkoepel soos 'n tentdoek gespan [...] het," dieselfde tent as in Psalm 19.

Maar veral die gedeelte in Psalm 104 wat met vers 19 begin, is belangrik in die gedig se verhouding tot die Egiptiese Himne:
 19 U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee, die son
 weet wanneer om onder te gaan. 20 As U die donker bring en dit nag
 word, roer al die diere in die bos. 21 Die leeus brul op soek na
 prooi [...] 22 As die son opkom, sluip hulle weg en gaan le in
 hulle skuilplekke. 23 Dan gaan die mens na sy werk toe, en hy werk
 tot die aand.


Achnaton se in sy Himne van die son:
 You have risen, and they are alive;
 you go to rest, and they die.
 For you are the measure of Time itself


Dit is hierdie son wat sy teenhanger het in Psalm 104 vers 19, waar dit saam met die maan 'n kosmiese horlosie is soos in die Himne: "U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee, die son weet wanneer om onder te gaan."

In die Himne is daar 'n hele aantal verse wat verwys na hierdie kosmiese horlosie wat die doen en late van die mense reguleer:
 You go to rest in the western horizon,
 and earth is in a darkness like death,
 With the sleepers in bedchambers, heads covered [...]
 Dawn rises shining on the horizon,
 gleams from the sundisk as day.
 You scatter the darkness, bestow your sunbeams,
 and the Two Lands offer their thanksgiving.
 The Sunfolk awaken and stand on their feet,
 for you have raised them up;
 Theire bodies are bathed, they put on their clothing,
 their arms raised in praise of your appearing.
 Throughout the land
 they take up their work.


Die motief van die opkoms en ondergaan van die son wat die doen en late van die mens reguleer in die Himne, met name sy werk, kom in saakliker gedaante voor in Psalm 104 verse 20-23: "20 As U die donker bring, [word] dit nag [...] 22 As die son opkom [...] 23 Dan gaan die mens na sy werk toe, en hy werk tot die aand."

'n Klein besonderheid is soms van groot belang, as dit in die omgewing van bevestigende ander motiewe staan. 'n Merkwaardige ooreenkoms tussen die Himne en Psalm 104, te midde van al die ander ooreenstemmende besonderhede, is die van die diere, met name die leeus. In die Himne gaan die son onder,

You go to rest in the western horizon [...]

die mense gaan slaap, en
 Every lion comes forth from his doorway,
 insects and snakes bite and sting [...]


Dit is sulke leeus wat in Psalm 104 verse 20-21 terugkeer: "As U die donker bring en dit nag word, roer al die diere in die bos. 21 Die leeus brul op soek na prooi [...]"

Ons het hier weer 'n saamhorige groep motiewe of beelde wat tussen die twee gedigte ooreenstem, dit is nie geisoleerde gevalle nie, dis migrasie en bloc of en corps.

Verder af in Psalm 104 word verwys na die see en die skepe wat daarop vaar: "25 Daar is die see, groot en wyd, wat wemel van diere, klein en groot. 26 Daar vaar skepe, en daar is die Leviatan. U het hom gemaak om mee te speel." Daardie see met sy gewemel en skepe is reeds daar in Achnaton se Himne:
 Ships go downstream or upstream as well,
 each path lies open because of your presence;
 The fish in the River dart about in your sight,
 and your beams are deep in the Great Green Sea.


Dit lyk of die digter in Psalm 104 polemiseer met Achnaton. En as't ware plaasvervangend te werk gaan. Waar Achnaton vertel hoe die aarde en die dinge daarop gaan slaap as die son gaan slaap (onthou die son Aton is 'n god) en weer ontwaak as die son opstaan (vgl. hierbo: "You go to rest in the western horizon, / and the earth is in a darkness like death / [...] Dawn rises shining on the horizon [...] The Sunfolk awaken and stand on their feet [...]"), so vertel die Psalmdigter insgelyks hoe die dinge verdwyn as die Ou-Testamentiese God sy aangesig verberg en weer verskyn as Hy sy Gees weer uitstuur: "29 Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof. 30 U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit."

Die motief van die (lewens)asem wat ons in die verse hierbo uit Psalm 104 teenkom, kom reeds ter sprake in die Himne:
 It is you who create the seed in women,
 shape the fluids into human beings [...]
 Nurturer from the womb to those given breath
 to bring into life all that he has created.
 He descends from the womb to breathe
 on the day of his birth [...] .

 The fledgling in the egg speaks in the shell,
 so you give him breath within it to succor him [...]


Daar is 'n menigvoud motiewe en beelde wat eenstemmig in albei gedigte voorkom, byvoorbeeld in albei nog die verwysing na die wolke of reen en die berge: Die Himne:
 For you have placed a Hapy in the sky
 that he might come down upon them--Making
 waves upon the mountains like those of the Great Green Sea
 to water the fields in their villages.


Vergelyk daarmee in Psalm 104 o.a.: "13 Uit die hemel laat U dit op die berge reen, die aarde word versadig deur die reen wat U gee. 14 U laat die gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens [...] 16 Die bome van die Here kry volop reen [...]"

In albei gedigte word verwys na dieselfde dinge: In Psalm 104: water, wilde esels, voels van die hemel, veld, gras, diere en plante, bome, voels wat hulle neste maak, die reier, klipbokke, dassies, en dan daardie leeus; in Achnaton se Himne: water, insekte, slange, "the heards in their meadows, cattle and every sort of small beast," voels wat vlieg of hul neste maak, bome, die veld, en dan daardie leeus wat van Egipte af Palestina toe geloop het.

Ten slotte 'n sterk woordelikse ooreenkoms tussen twee frases uit die twee gedigte oor hierdie menigvuldigheid van die geskape dinge. Die Himne: "How various are the things you have created" en "You create the numberless visible forms from yourself".

Psalm 104: "24 U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het."

Twee himnes uit twee monoteistiese godsdienste wat literer familie is. Achnaton was die eerste farao wat 'n monoteisme in Egipte ingevoer het.

Albei, Psalm l04 en die Himne aan die son, is skeppingsgedigte.

'n Eienaardige migrasie van verse of motiewe tussen gedigte is die waarin daar 'n polemiese verhouding geskep word deur die latere teks in sy verhouding tot die vroeere, soos ons hierbo reeds gesien het na aanleiding van Psalm 104 en Achnaton se Himne aan die son. So 'n verhouding ontstaan ook tussen die ou Egiptiese gedig "From the Tomb of King Intef" (Foster 1995: 154) en 'n ander Psalm, Psalm 49. Saaklik opgesom gaan dit in albei tekste daarom dat die lewe verbygaan, almal gaan sterf. In hierdie twee tekste se verhouding tot mekaar gaan dit nie soseer om versbesonderhede wat van die een teks na die ander geswerf het nie maar om konsepte en die globale verwantskap, die diapason wat mens hoor as jy Psalm 49 lees naas die Egiptiese gedig, as ons die musiekterm hiervoor mag gebruik (vgl. HAT: "Musiekdeel waarin al die snare saamklink, van Grieks: dia pason, deur al die snare). Die twee tekste is te lank om hier afgedruk te word, maar grepe uit die twee wys duidelik die verhouding uit. Die beginstrofe van "From the Tomb of King Intef " gee die strekking van die gedig aan:
 One generation passes, another stay behind--such
 has it been since the men of ancient times.
 The gods of long ago rest in their pyramids,
 and the great and blessed likewise lie buried in their tombs.
 Yet those who built great mansions, their places are no more.
 What has become of them all?


Uit Psalm 49, wat 21 verse het, haal ek net twee aan vir die vergelyking: "11 Elkeen sien dit tog: wyse mense sterwe net soos dwase en sotte, en laat hulle besittings aan ander na. 12 Die graf is vir altyd hulle tuiste; van geslag tot geslag is dit hulle woonplek, al het hulle eenmaal grond op hulle naam gehad."

As 'n mens die ouere Egiptiese gedig lees en die Psalm, klink dit of Psalm 49 debatteer met sy Egiptiese teenhanger. Pluk die dag, carpe diem, se die Egiptiese gedig, omdat ons amal gaan sterf en daar geen hiernamaals is nie, terwyl Psalm 49 met dieselfde dood in gedagte die mens oproep tot besinning en die sekerheid verkondig dat God die mens loskoop van die dood (vers 16: "Maar vir my sal God loskoop uit die mag van die dood [...]").

So 'n soort polemiese verhouding tussen gedigte kom ook voor in byvoorbeeld Middelnederlandse gedigte, waar oorspronklik wereldlike liedere omgesit is in Rooms-Katolieke geestelike liedere.

Terug na Psalm 104. Daar is ook geringe ooreenkomste tussen Psalm 104 en die Ilias. Ons kan in hierdie geval eerder weer praat van argetipies-motivisties nomadiese verse. Niemand sal weet of die enigmatiese Griekse Homerus die Joodse poesie gelees het nie, dit hoef ook nie, omdat daar in die antieke mondelinge literatuur waarskynlik baie rondloper- en leengoed was. En die Grieke, Jode en Egiptenare was bure rondom die Middellandse See.

In die Ilias is daar 'n tiental verse waarin 'n ploeg- en oesland op Achilles se skild beskryf word. Die ploeers drink wyn by die wenakker van "'n man met 'n beker heuningsoet wyn in sy hande", en vir die oesters is daar vrouens wat kos gemaak het en "wit garsmeel gestrooi het, 'n maaltyd vir die dagloners." Van die wyn en kos wat in die Ilias gedrink en geeet word, word ook gedrink en geeet in Psalm 104: "15 wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee." En die drinkende diere in die Ilias: "[...] by die rivier waar daar 'n drinkplek vir al die vee was," drink ook weer in Psalm 104: "10 U laat fonteine in die valleie ontspring en tussen die berge deur stroom. 11 Daar kom al die wilde diere drink en die wildedonkies hulle dors les."

In sowel die Ilias waar Achilles se skild beskryf word as in Psalm 104 word hemel, see, son en maan uitgebeeld. Die stede, mense, riviere, diere wat drink, mense wat op die lande werk, dit alles is gesamentlike besit van albei gedigte, argetipes of sigeuners.

Dit is hierdie gesamentlike besit, die argetipies-nomadiese elemente wat aan die poesie sy bopersoonlike en bo-nasionale waarde gee, hoe persoonlik en nasionaal dit in ander opsigte weer is. As die literatuur streng persoonlik en streng nasionaal was, sou dit nie gewees het wat dit is nie.

Die Secret History, die Bybel en die Ilias
 "The Secret History of the Mongols is not only the capital monument
 of thirteenth-century Mongolian literature, but it is one of the
 great literary monuments of the world" (Cleaves 1982: Preface).


Hierdie geheimsinnige boek, geskryf oor mense wat self nie kon lees en skryf nie, staan nie so eenkant as wat 'n mens sou kon dink nie. Cleaves, wat 'n pragtige poetiese vertaling van hierdie boek gemaak het, het op verskeie verwantskappe tussen die Secret History en die Bybel gewys, waarop ek nie verder ingaan nie. Een daarvan, egter (Cleaves 1982: 176), raak weer een van die Psalms, nl. Psalm 18. In die Secret History word daar van 'n vader gepraat, en van die rook wat uit sy neusgate kom:
 Clearly
 So as to snatch
 The smoke from his nose


Cleaves wys daarop dat dit 'n beeld is wat ook in Psalm 18 voorkom: "8 [...] Want Hy was vertoorn, 9 Rook het uit sy neus getrek [...]"

Cleaves noem hierdie voorbeeld slegs saaklik en in die verbygaan. Daar is egter meer literere swerwelinge uit ander tekste wat hulle weg na die geheimsinnige Secret History gevind het. Dit is merkwaardig dat die argetipies-nomadiese beeld of motief van die neus[gate] verskeie kere voorkom in die ou Egiptiese poesie. Ek haal 'n paar voorbeelde aan wat illustreer hoe een metafoor kan rondswerf tussen verskeie gedigte:

"Hymn to the setting sun" (Foster 1995: 43):
 You feed on Truth beside the one who brings it,
 refresh your nostrils with what is in it ...


"The great hymn to Osiris" (Foster 1995: 49):
 Sky would make breeze for his nostrils
 so that his heart could find peace ...


"The Cairo Hymns to Amun-Re" (Foster 1995: 62):
 Balsam and frankincense from the land of the Medjay,
 fresh myrrh for his nostrils


"Prayer of the Princesses for Clemency" (Foster 1995: 134): The Golden Goddess offers life unto your nostrils ...

"Three Harper's Songs, Third Song" (Foster 1995: 160):
 Live happily, O God's Father!
 Take fine perfumes pleasing your nostrils.


Ten slotte 'n voorbeeld uit "The Leiden Hymns, dc, Metaphors for God's nature" (Foster 1995: 79) waar dit gaan om die goddelike:
 His hot breeze is the breath for every nostril,
 and fate or good fortune for all are under his care.


Wat die Egiptiese gedigte op sigself betref, is daar onderling dus 'n groot migrasie van die neusgate-metafoor, en dit getuig van 'n eienaardige olfaktoriese belewenis van die menslike en die goddelike.

En onthou dan by hierdie herhaaldelik voorkomende motief van die neus(gate) ook die van die asem in Achnaton se Himne en Psalm 104 (vgl. hierbo).

Uit al hierdie gevalle leer ons dat dit nie net verse of metafore is wat tussen tekste rondbeweeg nie maar ook relatief groot versbrokstukke. Die onderskeiding tussen die vorm van die gedig en die gedigvorm is 'n handige. Die vorm van die gedig is enig, hoeveel verwantskappe so 'n gedig ook met ander gedigte mag he; die gedigvorm is nie uniek nie maar nomadies en gesamentlike besit, en dit sluit motiewe, metafore, hele verse of versgroepe en ten slotte ook vorme soos die sonnet, kwatryn, epos, ens. in.

Boek II van die Ilias het die titel "Die Droom--Die Boiotie of lys van die Skepe", en vanaf ongeveer vers 490 word dan 'n inventaris gegee van die skepe en die bevelvoerders van die skepe: "Nou gaan ek weer die bevelvoerders van die skepe opnoem, en al die skepe end-uit", en wat daarop volg. Dwarsdeur die Secret History, wat 'n baie jonger teks as die Ilias is, is daar soos in die Ilias die eindelose opnoem van name, en Cleaves, weer eens, verwys na die Secret History (hoofstuk VIII, par. 202) waar ons dieselfde soort inventaris van bevelvoerders kry as wat ons in die Ilias teenkom: "[...] When, appointing the captains of the thousands, he named them [...]" e.v. Wat Cleaves hier uitwys, weer net in die verbygaan, is 'n voorbeeld van hoe 'n epiese konvensie kan migreer--dit is trouens een van die baie algemeen digterlike gebruike om met naamstapelings te werk, ook in die liriek.

Die verwantskappe tussen die Ilias en die Secret History gaan veel verder as wat Cleaves uitwys. Daar is ook beelde en refreine wat van die ouere na die jongere teks geswerf het en wat 'n bevestiging daarvan is dat die ooreenkoms wat Cleaves uitwys nie maar 'n toevallige is nie. In die Secret History, hoofstuk VII, par. 196, word van 'n geveg vertel: "[...] They crushed one another so that they stood like rotten trees and thus they died"; en weer hoofstuk XI, par. 247: "slaying them [...] till they stood like rotten trees"; of hoofstuk XII, par. 272: "And so, overcoming the soldiers of the Kitad and having slain them till they stood like rotten trees [...]"

Hierdie soort prosarefrein of boombeeld-refrein kom vroeer al voor in die Ilias, boek XIII, vs. 388: "En hy het neergetuimel soos wanneer 'n akkerboom neertuimel, of 'n wit populier of 'n hoe den [...]"; boek XVI, vs. 482: "En hy het neergetuimel soos wanneer 'n eikeboom neertuimel, of 'n wit populier of 'n hoe den [...]"

Daar eindig dit nog nie. Een van die merkwaardigste migrasies uit die Ilias na die Secret History is die twee stoeigevegte wat in albei tekste voorkom, as sportiewe wedstryde. As ons daarby nog in gedagte hou dat die Mongole soos die Grieke in die Ilias ook perdewedrenne gehou het, is dit soveel merkwaardiger. Maar die stoeigeveg is die kostelikste vagebondage. In die Ilias, boek XXIII, vs. 700 e.v. stoei Aias en Odusseus, en "Toe het hulle rugge onder die vermetele hande gekraak [...]" In die Secret History, hoofstuk IV, par. 140 stoei Buri Boko en Belgutei soos Aias en Odusseus in die Ilias, weer voor toeskouers, en nou word die rug van die teenstander gebreek, nie net gekraak nie: "Belgutei [...] sat on top of him [...] and, putting his knee on his backbone, break it [...]" Die stoeigeveg, as sport, is in die Ilias minder wreed as in die Secret History, maar daar is omgekeerd in die algemeen meer wreedheid in die Ilias as in die Secret History, en die Ilias het in die algemeen dalk as prototipe gedien vir die enigmatiese Secret History wat die skrywersvreugde in wreedheid en oorlogvoering betref, al is dit baie indirek en dalk met omwee.

In die Ilias kraak die rugge van die stoeiers, in die Secret History word die een se rug gebreek. Maar voor die stoeigeveg in die Ilias is daar 'n vuisgeveg, en daarin se die een vuisvegter, Epeios, van 'n teenstander (boek XXIII, vs. 672): "ek sal sy liggaam geheel en al breek en sy beendere verbrysel!"

Ten slotte is daar in die Secret History vier honde wat die vleis van mense van die vyand eet; sulke honde is ook 'n bedreiging in die Ilias.

Wat die onmenslike geweld en oorlogvoering betref, behoort die Ilias en die Secret History, hoe dan ook, tot dieselfde genre. Genres kan ook swerf.

Ons moet onthou dat die meeste van die tekste wat hier ter sprake is, is uitvoerig: die Ilias, die Secret History, Groter se Mei, en baie van die ooreenkomste en migrasies le weggesteek tussen die talle en talle ander verse of prosaverse, maar weer eens, dit gaan nie net om ooreenkomste in die groot trekke nie maar veral in die besonderhede, en nie om geisoleerde verse nie maar om groepe verse, beelde, motiewe, frases, konsepte, ens. Rondlopers en famille.

Natuurlik is daar in die literatuur baie toevallige ooreenkomste tussen baie tekste, maar in die gevalle hierbo is daar elke keer meer as een ooreenkoms, verwantskap of vagebondage wat nie bloot toevallig kan wees nie.

Agter die tekste wat hier behandel is, uitgesonderd Mei van Gorter, le 'n baie lang mondelinge tradisie, en blykbaar het verse in die tyd van die groot mondelinge tradisie en anonieme digterskap baie makliker geswerf as in die tyd van die primer geskrewe literatuur, waaraan 'n duidelik identifiseerbare outeurskap verbind kan word. Tog swerf verse nog steeds tussen geskrewe tekste rond. Die belangrike insig wat hierdie swerwende verse bring, is dat dit waar is wat in Gorter se Mei staan:
 Er ligt in elk ding schuilend fijne essence
 Van and're dingen.


Inderdaad. Dit is waarvan die literatuur lewe. En die gedagte van een groot holistiese of homogene literatuur is dalk nie so vergesog nie, die gedagte van een groot literere tuin waarin die digter die by is wat stuifmeel aan sy of haar skrywerspote versamel, dikwels sonder dat hy of sy dit weet ... . 'n groot literere skat wat die skrywer voorafgaan en omring en wat 'n stuk werklikheid soos enige ander stuk werklikheid is waaruit hy of sy gevoed kan word. Die mooiste van alles is dat eeue-oue tekste nie doodgaan nie maar weer in die toekoms uitslaan. Nasionale literatuurgeskiedenisse se omvang laat dit nie daarop lyk nie, maar dit is meestal 'n massiewe eng kyk op die literatuur. Die swerwende elemente onder andere maak van die literatuur 'n sinchroniese menslike verskynsel en algemene besit.

Bronnelys

Cleaves, F. W. 1982. The Secret History of the Mongols. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.

Die Bybel. Nuwe Vertaling. 1983. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Foster, J. L. 1995. Hymns, Prayers, and Songs. An Anthology of Ancient Egyptian Poetry. Transl. J. L. Foster. Atlanta: Scholars Press.

Gorter, Herman. 1946. Mei. Een gedicht. Bussum: C. A. J. van Dishoeck.

Marindin, G. E. 1928. A Smaller Classical Dictionary. London: John Murray.

Odendal, F. F. 1979. HAT. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Johannesburg: Pers-Boekdrukkery.

Van Rensburg. J. P. J. g.d. Homerus: Die Ilias. Uit die oorspronklike Grieks vertaal. Stellenbosch: Pro Ecclesia-Drukkery.

Van Schalkwyk, D. J. (hoofred.). 1996. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Tiende Deel. M. Stellenbosch: Buro van die WAT.

T. T. Cloete is 'n skrywer en 'n emeritusprofessor in die Departemente Afrikaans-Nederlands en Algemene Literatuurwetenskap van die Noordwesuniversiteit, Potchefstroom. E-pos: ttcloete@iafrica.com
COPYRIGHT 2007 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2007 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Cloete, T.T.
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Mar 22, 2007
Words:6589
Previous Article:Biografie in die pryslied: die bydrae van Antjie Krog naas twee Xhosapryssangers.
Next Article:"Opdrag": inleiding of afskeid?

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |