Printer Friendly

Sondag op 'n voelplaas.

Sondag op 'n voelplaas.

Johann Nell. Kaapstad: Tafelberg, 2013.

276 pp. ISBN-13: 978-0-624-06483-1.

Uit die tradisionele Afrikaanse plaasroman kan 'n paar gemene delers geabstraheer word. Eerstens word die plaas as 'n onvervreembare ruimte beskou, nie net maar 'n stuk grond nie, maar iets wat aanspraak verleen op die (Suid-)Afrikaanse bodem. Daarom word die plaas oorgedra van geslag tot geslag en (verkieslik) manlike erfopvolging is een van die belangrikste motiewe van hierdie subgenre. Die plaasruimte is hierargies georden, op die Middeleeuse model van leenheer en vasalle (eienaar en bywoners of arbeiders) en 'n patriargale waardestelsel onderle hierdie ruimte.

Laasgenoemde word nie net versigbaar in die erfopvolging, foto's en grafte nie, maar selfs in die voorkoms van spoke wat, gewoond aan hul heerskappy, hulle eiendom nie kan agterlaat nie. Voorts is die tipiese hoofpersoon 'n man wat trekke van die mitiese heldefiguur vertoon.

Hierdie hooffigure in die tradisionele plaasroman vertoon deur die bank stereotipiese manlike eienskappe. Hulle is nie net dapper jagters en regverdige heersers nie, maar beskermers van en die gesin en die "stam", wilskragtig en onverskrokke. 'n Outoritere geneigdheid, heerssugtigheid, roekeloosheid en selfs wellustigheid is helaas alles skadukante van hierdie ideaaltipe.

Soos so baie van die eietydse Afrikaanse plaasromans is Sondag op 'n voelplaas ook 'n parodierende herskrywing van baie aspekte van die tradisionele Afrikaanse plaasroman. Die titel is veelbetekenend en hou verband met die doodsheid van Sondae, die onverwagte gebeure wat telkens op Sondae plaasvind, die plaasgegewe en voels. Laasgenoemde verwys eerstens na die volstruise wat nog steeds 'n prominente plek inneem in boer derybedrywighede in die Oudshoorn-distrik.

Hierdie roman is 'n terugblik op 'n lewe, maar ook op 'n belangrike historiese tydsnit. Daarom kan die titel ook as dubbelsinnig geinterpreteer word, omdat veral die motief van manlikheid in hierdie roman onder die loep geneem word (kyk byvoorbeeld 237: "hierdie vallei wat wemel van voels wat met hulle nekke soos erekte penisse rondloop, waar jy jou nie kan draai nie of jy sien net piel, piel en nogmaals piel"). Die ek-verteller verskil duidelik van die tipiese hooffigure van die tradisionele Afrikaanse plaasroman. Hulle is die "ware manne", het geen bang haar op hul kop nie; hulle werk, speel en drink hard, bevrug hul vrouens moeiteloos en is emosioneel ook weerstandig teen die lewe se teenslae. Op meer as een plek suggereer hy ook dat hierdie geykte beeld van manlikheid steeds bestaan en boonop deur die hoofpersoon se eie vrou gedeel word (142; 144; 169 en verder) hoewel sy sy sagtheid waardeer (176; 185).

As teenpool van die hoofpersoon wat hom verset teen geykte opvattings wat manlikheid betref, is daar 'n buurdogter, Andri, wat op haar beurt belas is met mansname en deur haar vader as erfopvolger en as man opgevoed word. Weens beide se opstand teen die sosiale verwagting, is hulle ook in meer as een opsig verwant.

'n Mens sou selfs uit die motto: "Maar my geheim is in my weggesteek, die naam waarvan niemand sal weet nie" en op heelwat ander plekke die afleiding kon maak dat die hoofpersoon se geheim 'n latente homoerotiese instelling is, iets waarvan hy later ook deur sy vrou verwyt word (237, 247, 248). Tog word hierdie motief nooit uitgebou nie en is die uiteindelike geheim (wat ek nie sal onthul nie omdat die pret van die leeservaring daardeur bederf sal word) iets heel anders wat uiteindelik ook taamlik onverwags op die leser afkom.

Wat die motief van manlikheid betref, is die manlike hoofpersoon, wie se identiteit deurgaans verhul word en net op indirekte wyse vasgestel kan word (kyk 2 en 219), 'n uitsondering. Nie net dra hy die van "Niemand" nie; hy is die niemand, die niemendal binne die plaasopset, soos Kobus in 'n Lug vol helder wolke bra onwillig om die rol te vervul van erfopvolger.

Veel meer boekemens as boer, is hy vroeg byna obsessief betrokke by lees en boeke (kyk onder andere 38, 63 en verder, 87, 97, 137, 142, 143, 145, 151, 152).

Hierdie terugblik op 'n vergange era is dikwels skerp kritiek op rassediskriminasie wat skynbaar so natuurlik was soos asemhaal. Uit die sinsnede: "Die hele land is gerig op die toekoms, waarom neuk ek agtertoe?" (202) wat dui op die utopiese verwagtinge van die vroee negentigerjare na die ontbanning van die ANC, blyk dat die ek voel dat die verlede eers opgeklaar moet word, voordat die toekoms betree kan word. Uiteraard hou dit verband met sy eie psigologiese ballas, maar is dit ook 'n regverdiging van die Waarheidsen Versoeningskommissie.

Ons is egter "nie almal so nie". Anders as die ander boere raak die ek-verteller emosioneel oor die skoonheid en broosheid van die dinge en tree anders as ander mans op teenoor die "onderhoriges" wat vrouens en arbeiders insluit, ook en veral mense van kleur.

Jester, die bruin seun is tekenend van die gemarginaliseerde, maar tewens vervul hy ook die rol van die court jester, die hofnar deur wie kommentaar gelewer word op die gebeure. Hy word byvoorbeeld die pleitbesorger vir die orale geskiedenis as teenpool van die geskrewe, koloniale geskiedskrywing (kyk 102) wat die outochtone bevolking se rol uitgeskrywe het uit die historiese diskoers.

Weens sy buitestanderskap en andersheid voel die ek-verteller hom ontuis op die plaas en wil vroeg reeds daarvandaan wegvlug. Dit doen hy ook op suksesvolle wyse. Tog bly daar 'n hunkering bestaan na die die wereld van die jeug; selfs 'n noodsaak om die verlede trompop te konfronteer. Hoewel daar van direkte beinvloeding geen sprake is nie, sou Nell se roman met vrug vergelyk kon word met Leroux se eerste twee romans waar die ontwikkeling van 'n sensitiewe en eensame jongman beskrywe word: eers sy worsteling met lewenskwessies soos godsdiens, die dood en die eie seksualiteit; daarna sy lewe in die stad, omgang met vriende en sy huwelik met 'n onsimpatieke vrou.

Hierdie debuutroman het 'n hele paar pluspunte: die skrywer slaag goed daarin om die los verhaaldrade heg te bind; geen geringe prestasie vir 'n debutant nie. Voorts skryf hy onderhoudend en vlot, benut terug- en vooruitwysings op 'n sinvolle wyse om verveling en voorspelbaarheid te vermy en slaag daarin om goed te karakteriseer. Dit is veral die beskrywing van die plaasaktiwiteite en die besoeke aan die Kangogrot wat van die geslaagste gedeeltes van die roman is; die stadsgedeeltes daarteenoor kom dikwels as iets te gemanipuleerd oor.

In 'n konvensionele ek-roman is identifikasie met die verteller belangrik. Hier is die ek-verteller by tye ietwat neulerig en soetsappig en eien hom soms 'n uit-die-hoogte morele posisie toe wat gepaardgaan met stereotiperende karakterisering en 'n venynigheid wat vervreemdend kan werk (kyk sy uitbeelding van Raymond en Tertius en die tradisionele Afrikaanse kerk: 147, 148, 150, 163). Boonop is die fantasmagoriese beskrywing op p. 164 te na aan Jan Rabie se kortverhaal "Drie kaalkoppe eet tesame". 'n Godsdienstige sousie wat sporadies ietwat abrup en ongemotiveerd nader getrek word (kyk byvoorbeeld 123), kon eweseer maar agterwee gebly het.

Wat hierdie werk nodig gehad het, was 'n kundige en meedoenlose redakteur wat as tugmeester kon optree. Wat die oordadige (en soms te gemaklike) eksegese (kyk 244) en gedwonge simbolisering kon snoei en daarmee gepaard die tipiese neiging van 'n debutant om 'n geslote teks te skrywe, in plaas daarvan om die leser 'n bietjie meer vrye teuels te gee wat veral die le van verbande betref.

Desondanks is dit in die geheel geoordeel 'n geslaagde debuut; selfs meer as behoorlik, van iemand wat sonder twyfel die talent en vaardigheid besit om 'n belangrike roman te skryf.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v51i2.17

H. P. van Coller

vcollerh@ufs.ac.za

Universiteit van die Vrystaat

Bloemfontein
COPYRIGHT 2014 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2014 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:text in Afrikaans
Author:van Coller, H.P.
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Mar 22, 2014
Words:1265
Previous Article:Maar wie snoei die rose in die nag?
Next Article:Dubbelfoto.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |