Printer Friendly

So lig soos klip.

So lig soos klip. Jacques Pretorius. Kaapstad: Tafelberg, 2012. 224 pp. ISBN-13: 978-0-624-05362-0.

So lig soos klip is die debuutroman van Jacques Pretorius. Sy tragiese afsterwe op 'n baie jeugdige leeftyd is 'n groot verlies, ook vir die Afrikaanse letterkunde, omdat hierdie roman heelwat meriete het.

So ligsoos klip sou as 'n ontwikkelingsroman bestempel kon word, omdat dit nie net die lewensloop van 'n jongman beskrywe van sy traumatiese jeugjare tot en met sy dood nie, maar ook al die tipiese probleme verbonde aan volwassewording.

Tipies van hierdie subgenre worstel die hoofpersoon met identiteitsprobleme, godsdiens, geweld en seksualiteit. Net soos Colet van Velden in Etienne Leroux se beroemde ontwikkelingsroman, Die eerste lewe van Colet, is die hoofpersoon hier 'n sensitiewe buitestaander, lewe ook 'n "dubbellewe" (72), tewens enigste kind en ook verskeurd tussen onversoenbaarhede: hier tussen hemel/ hel; die Duiwel en God; die goor werklikheid van 'n armoedige bestaan binne 'n disfunksionele gesin en die heerlike verbeeldingsbestaan verteenwoordig deur drome.

Hierdie roman is ook verwant aan 'n ander bekende Afrikaanse prosadebuutwerk naamlik Jaco Fouche se roman, Die ryk van die rawe. Nes Fouche se Ratkas Goosen beleef die "studentekonstabel" of "konstabel" hier 'n eksistensiele krisis. Hy kom uit dieselfde laermiddelklas, word groot in 'n era van (politieke) geweld, belewe tye van oorgang en is 'n rasegte buitestaander wat te gou te diep sien. Waar Ratkas se wereld die is van die "Graphic Novel" met sy onderliggende gewelddadigheid, word die hoofpersoon in Pretorius se roman groot in 'n wereld van strokiesverhaalhelde.

Vroeg reeds droom hy dat hy kan ontsnap uit sy ongelukkige bestaan waar sy ma hom daagliks ongewens laat voel en sy pa hom voortdurend verneder en hy soos Superhero, Jet Jungle of Batman (kyk onder andere na 14, 33) sal kan wegvlieg van alles wat hom knel. Die opleiding as polisieman is van jongs af sy ideaal, want dan sal sy lewe gravitas (gewig) kry, sal hy kan respek afdwing (2021) en sal hy iemand word (45). Dit is asof die polisie-uniform hom sal kan transformeer soos Superman se gewaad.

Parallel met hierdie soektog na eksistensiele sin verloop sy soeke na die "droomvrou" (118) met haar "oe dom en groot en blou van reinheid en onskuld" (143). In sy drome lyk sy nie veel anders nie as die stereotipiese animale vergestaltings soos dit aan te tref is in sprokiesverhale met haar woeste hare, dun middel, ferm spiere en groot borste. In die werklikheid is sy droomvrou manipulerend en ontwykend. Op 'n wrede manier stel sy sy armoede en onsekerheid aan die kaak en laat hom ook nie toe om seksueel met haar te verkeer nie. Vroeg reeds besluit hy om haar te onderwerp, te "straf" met sy penis (126), wat uitloop op 'n werklike verkragting. Hierdie toneel word ook stuksgewyse onthul. Wat kulminasie moes wees van al sy drome raak 'n ontluistering van die seksuele as vervulling; byna soos die seksuele inisiasie deur 'n hoer in dieselfde roman.

Die verteller in hierdie roman is die "konstabel" wat diens doen tydens die voorstedelike geweld van die jare tagtig van die vorige eeu. Ratels, halssnoermoorde, gewelddadige betogings en brandende townships is aan die orde van die dag. Omdat jy nooit weet wanneer jy die volgende slagoffer gaan raak nie, klou jy vas aan reel 1: hou die laaste patroon vir jouself.

Outentifiserende tegnieke, soos die opnoem van motors, drankies, kleredrag, musiek en derglike dra by tot 'n oortuigende herskepping van 'n era, maar dit is veral die wyse waarop Pretorius daarin slaag om die onderliggende wanhoop en letargie van die tagtigerjare vas te vat wat beindruk. Hierdie vertelling is verwant aan ander "keertydvertellings" in die Afrikaanse letterkunde (soos die van die sterwende tantetjie in Schoeman se Hierdie lewe) deurdat die realiteit van die naderende dood jou dwing tot eerlike retrospektiewe bestekopname.

Broksgewys word 'n lewe gerekonstrueer en dit is narratologies gesproke ikonies van 'n gefragmenteerde bestaan. Die verteller word groot as enigste kind in 'n disfunksionele gesin, letterlik gestrem deur ortopediese skoene (16-17), wat bykans simbolies is van al die ander dinge wat hom vasknel soos armoede, liefdelose ouers, onbegrypende en onsimpatieke onderwysers (161) en 'n pa wat enersyds drank smokkel en andersyds opgaan in 'n oordrewe godsdienstigheid.

As daar een ding is wat kwel, is dit juis die eensydige wyse waarop Pretorius die verlede weergee, 'n tendens wat veelvuldig voorkom in baie resente Afrikaanse tekste van 'n uiteenlopende reeks skrywers. Alles wat Afrikaans is, word summier van die tafel gevee en dit is asof alle vaders sadiste en molesteerders was, alle moeders bitter en gefrustreerd en alle gesinne disfunksioneel. Die Afrikaner kom in al hierdie tekste uit die verf as sadiste met patologiese trekke. Een van die mees ontstellende tonele in hierdie roman (ook een van die beste) is hiervan 'n staalkaart: die kaptein wat 'n jong oortreder lyfstraf toedien. Aanvanklik nog met die skynbare doel om die jong Afrikaner van sonde af te keer, later bloot om sy eie sadisme te laat botvier (24-29).

In die aangesig van die dood word "die konstabel" se jeug vertel, sy opleiding as polisieman en word die verkragtingstoneel stuksgewyse onthullend weergegee. Die skokkende slotonthulling van Chene se uiteindelike lot is die hoogtepunt van die agterna-vertelling, ook omdat eie skuld nou erken moet word. Die kragtige slot sluit naatloos aan by die openingsparagraaf waardeur 'n sirkelsluiting verkry word, iets van 'n determinisme gesuggereer word en die titel geaktiveer word: "Sy wink na hom. Haar oe is sag en sonder oordeel. Haar stem is vol troos. Hy tuimel, val sag deur die oneindigheid. Soos 'n klip." (208).

Pretorius belas die titel met 'n reeks betekenisse wat nie almal ewe geslaagd die lading dek nie. Juis klip kan die ontsnapping verhaas (105), die ligtheid bring waarna hy smag (122), die ligtheid van 'n bestaan (14647), die klip is ook beeld van vernietigende energie, dit wat nooit ongedaan gemaak kan word nie (167), dit wat beeld is van die vergifnis wat nooit sal kom nie en aan jou hang (191) en oplaas 'n ligtheid verkry deur die dood (208).

Hierdie roman is nie sonder 'n flinke klomp mooiskrywery nie (kyk maar na 61, 64, 83, 181 en 191), boordenstoevol van "diep" filosofiese besinnings en gee ook soos gese geen objektiewe beeld van die verlede nie. Maar in die geheel bevat dit stukke uiters knap prosa (kyk byvoorbeeld na bl. 102), toon dit reeds 'n skrywer wat die diverse verhaallyne van 'n roman moeiteloos vashou en oor die vermoe beskik om verskillende wyses van vertel op sinvolle manier af te los. Veral as weergawe van 'n traumatiese tydperk in ons geskiedenis, slaag dit om die essensie van daardie jare vas te vat. 'n Baie belowende debuut.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v50i1.25

H. P. van Coller

vcollerh@ufs.ac.za

Universiteit van die Vrystaat,

Bloemfontein
COPYRIGHT 2013 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:van Coller, H.P.
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Aug 28, 2013
Words:1131
Previous Article:Die vloek.
Next Article:Die water wat verby is.

Terms of use | Copyright © 2017 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters