Printer Friendly

Skoenlapper.

Skoenlapper. Irma Venter. Kaapstad: Human & Rousseau, 2012. 352 pp. ISBN: 978-0-7981-5673-8.

'n Leser behoort nie tydens die lees van 'n spanningsverhaal lus te wees om onkruid uit te spit nie. 'n Goeie spanningsverhaal sit 'n mens nie neer nie. Jy lees tot dagbreek toe en kom met blou kringe onder rooi oe by die werk aan. Ongelukkig kon ek Skoenlapper, Irma Venter se debuutroman, wel 'n paar keer neersit. Maar ek het dit altyd weer na so 'n rukkie opgetel en voortgelees, want so teen die middel van die boek is die heldin ewe skielik die verdagte en ek wou weet of die held hierdie wyfiespinnekop sal oorleef.

Die heldin is Ranna. Sy het swart krulhare en bloupers oe en is 'n fotograaf. Die held is Alex Derksen en hy is 'n joernalis. Hy raak verlief op haar "in minder tyd as wat dit neem om jou asem in te trek" (10) en hy dink self dit is absoluut belaglik. Ranna en Alex ontmoet mekaar by 'n troue in Tanzanie. Ranna is misterieus. Sy verskyn in die restaurant met 'n meswond in haar arm en wil dan niks daaroor praat nie. Vriende waarsku Alex om weg te bly van die gevaarlike vrou. Ranna en Alex probeer saam om 'n groot vloed in Tanzanie op die wereld se voorblaaie te kry. Hulle geluk draai toe 'n rekenaarmiljoener se strandhuis ineenstort en die miljoener verdwyn. Die buitelandse media stel meer belang in die dood van een multimiljoener as 342 mense wat in 'n vloed in Tanzanie gesterf het (137). Dit is die enigste stuk politiek in die roman. Terloops vind Ranna die lyk van die miljoener uitgespoel langs die strand. Die toeval lyk nie vir my funksioneel nie. Die skrywer wou he dat Ranna moes sien dat die miljoener se vingers afgesny was. Hamisi Bahame, die speuder wat vermoed dat die rekenaarmiljoener vermoor is, is baie slim, maar omdat sy vrou spoorloos verdwyn het, word hy ook 'n verdagte. Die raaisel rondom Hamisi word aan die einde van die boek heel bevredigend opgelos, sonder dat die skrywer vir die lesers enige stereotipes as leidrade gegee het. Die polisieman vertel Alex dat Ranna voorheen Isabel Baker was en dat twee van haar kerels vermoor is. Ranna gee Alex 'n moontlike verklaring, maar omdat Alex nie weet of hy haar kan vertrou nie, vertrek hy na Suid-Afrika om twee weke by sy ma te kuier. Sy ma word deur sy pa geslaan. Ranna se pa het ook haar ma mishandel. Soveel gemokerde vroue is net te veel van 'n toeval om geloofwaardig te wees.

Ranna se pa het jare gelede selfmoord gepleeg of miskien is hy vermoor? Tog is die identiteit van die moordenaar(s?) net te voorspelbaar. Ek het die persone onmiddellik uitgeken en toe gedink die oplossing kan nooit so eenvoudig wees nie en gesoek na ander leidrade. Uiteindelik word iemand uit selfverdediging doodgemaak, maar toe, sonder enige bevredigende bespreking, word besluit om nie die polisie in te roep nie. Gaan die polisie uitvind of nie?

Die verhaal is vlot geskryf en daar is genoeg kinkels in die kabel en verdagtes om die belangstelling van die leser te behou. Die vertelling word afgewissel tussen Ranna en Alex as eerstepersoonsvertellers. Soms vertel Alex vanuit 'n agternaperspektief, van toe hy joernalistiek doseer: "Later sou ek die laaste, blyste foto op my lessenaar staan maak" (15). Hy gee nooit leidrade oor die skurk nie, iets wat 'n mens sou verwag indien hy werklik die verhaal retrospektief sou vertel met die wete van wie eintlik die moordenaar was. Die verhaal word meestal in die teenwoordige tyd geskryf.

Natuurlik is daar by 'n goeie spanningsverhaal altyd 'n uitstel van inligting, maar dit is hier nie altyd geslaag nie. So se Alex toe hy Ranna se kamer sien: "Maar hier's dan niks ..." (65), en dan moet die leser 'n halwe bladsy wag om uit te vind dat daar geen foto's teen die muur is nie. Ek was so verward dat ek die vorige bladsy herlees het om uit te vind wat ek gemis het.

Ek kon ook nie altyd visualiseer wat bedoel word nie. Ranna se huis is vol boeke: "Selfs in die kombuisgedeelte hou dit die sout, peper en paprika binne bereik" (64). Hoe? Is die kombuisrakke vol boeke? Is die sout bo-op 'n dik boek? Die vergelyking van Ranna se kamera met "'n AK47" wat aan haar sy hang (11), is ook moeilik om voor te stel.

Soms is die detail fassinerend. Ranna noem Alex "ordentlik" en verduidelik die woord: "jy sal my in die bed sit sonder om self in te klim" (20). Later is daar 'n man wat die dronk Ranna nie ordentlik behandel nie. Ranna het 'n tatoeeermerk wat bestaan uit die beginreels van 'n gedig van N. F! van Wyk Louw. Op 'n keer kry Ranna 'n boek oor die 356 siektes wat 'n roos kan kry om te lees en sy stel belang. Sarah Fourie, wat die FBI en Europol se rekenaars kan kraak, is fassinerend genoeg om 'n hoofkarakter te wees in die opvolgboek van Skoenlapper.

Karin Brynard gee op die flapteks 'n misleidende beskrywing van 'n "witwarm romanse" en die "eksotiese Dar es Salaam". Skoenlapper is wel romanties, maar die woorde "In. Nou. Nou. Nou." (69) maak nie die boek smeulend, witwarm eroties nie. Daar is ook bittermin beskrywing van die wereld van Dar es Salaam gegee. Irma Venter het nie soos baie koloniale skrywers 'n donker, eksotiese Afrika as agtergrond vir wit misdaad gebruik nie. Afrika lyk heel bekend en alledaags.

Ek kan egter met Karin Brynard saamstem dat Irma Venter 'n belowende nuwe spanningskrywer is. Ek hoop om veel meer avonture oor Alex te lees.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v50i1.17

Lianne Barnard

barnardlianne@gmail.com

Palacky Universiteit van Olomouc

Olomouc, Tsjeggie
COPYRIGHT 2013 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Barnard, Lianne
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Aug 28, 2013
Words:969
Previous Article:Die skrywer.
Next Article:Kelder.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters