Printer Friendly

Repliek.

'n Resensie word binne die Afrikaanse letter-kunde beskou as 'n eerste mening van 'n ingeligte leser. Oor smake kan 'n mens altoos verskil en daar was al felle polemieke oor verskille met betrekking tot waarvan 'n kritikus hou of nie.

Maar wanneer 'n resensent 'n veralgemening maak wat myns insiens 'n belangrike afdeling van die vakgebied as sodanig verdag maak, moet daar gevra word vir 'n verheldering of verduideliking.

In die bespreking van S. J. Naude se Alfabet van die voels, Tydskrifvir letterkunde 49.2 (2012), skryf Jacomien van Niekerk: "S.J. Naude se debuut is een van die min produkte van grade in kreatiewe skryfkunde wat 'n mens werklik opgewonde maak oor wat hierdie nuwe skrywer nog verder gaan oplewer. Sommige romans of verhale wat na afloop van so 'n kursus gepubliseer word, is dikwels yl of pretensieus of lomp--af al drie." Hierteenoor is Naude se verhale, wat haar betref, egter ryk, sonder fieterjasies en knap geskryf.

Ek veroorloof my as 'n professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, wat jong digters begelei, om op haar stelling oor die prosa te reageer.

Kreatiewe skyfskole of -kursusse (of programme) aan die Universiteit van Kaapstad, Universiteit van Stellenbosch, Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit, en Wits het die afgelope paar jaar die Afrikaanse letterkunde van etlike belangrike tekste voorsien. Die impasse wat daar in die Afrikaanse digkuns geheers het, is opgehef met digters wat deur skryfskole of -programme beweeg het: Rene Bohnen, Aniel Botha, Fourie Botha, Karen Kuhn, Martina Klopper, Loftus Marais, Carina Stander, Lou-Ann Stone en andere.

Die Afrikaanse prosa--en dan praat ons nie eens van die Engelse prosa met Henrietta Rose-Innes en Sean O'Toole nie--het name opgelewer soos Willem Anker (Siegfried), Helena Gunter (Op n plaas in Afrika) en verder terug in die tyd: Spoor (Sonja Loots), Kom slag 'n bees (Izak de Vries) asook werke van Jaco Botha, Tom Dreyer en andere.

In die onlangse verlede was daar ook Maal van Nicole Jaekel Strauss, 'n uiters volwasse en ryk geskakeerde bundel. Deon Meyer het eweneens 'n draai gegooi by die Universiteit van Stellenbosch se program.

Daar is ook Chinchilla deur Nanette van Rooyen. Dit is waarskynlik onnodig om met nog goeie voorbeelde vorendag te kom.

'n Mens sou graag 'n lysie wou sien van die "yl, pretensieuse of lomp" tekste waarna sy verwys. Trouens, die Afrikaanse letterkunde is die afgelope paar jaar gevoed met tekste wat juis binne skryfskole of -programme ontstaan het. Dit is natuurlik nog net 'n portefeulje waarmee die student verder moet woeker.

'n Uitspraak soos Jacomien van Niekerk s'n is 'n growwe veralgemening en maak die belangrike werk en bydraes ongedaan. Vele van hierdie skrywers is bekroon en het al met 'n tweede boek vorendag gekom wat hierdie uitspraak des te meer aanvegbaar maak. Meer nog, daar is nog nuwelinge op pad!

Skryfprogramme is nie bo kritiek verhewe nie en vele van die aanbieders kyk metakrities na die proses, maar so 'n veralgemening ontken die belangrike bydraes wat die letterkunde die afgelope paar jaar gevoed het.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v50i1.11

Joan Hambidge

Joan.Hambidge@uct.ac.za

Universiteit van Kaapstad

Kaapstad

COPYRIGHT 2013 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Hambidge, Joan
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Aug 28, 2013
Words:525
Previous Article:Jakes Gerwel (1946-2012).
Next Article:Die afrikaanse skryfgids.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |