Printer Friendly

Ontbloting van die menslike.

Wieringa, Jelleke. 2009. Bloot mens. Pretoria: Protea Boekhuis. 93 p. Prys: R130,00. ISBN: 978-1-86919-311-9.

Jelleke Wieringa debuteer in 2001 as een van die jong opkomende Afrikaanse digters in nuwe stemme 2 (Tafelberg). Haar debuutbundel Bloot mens (2009) word gekenmerk deur die ontbloting van die bloot menslike en daarmee saam ook die kwesbaarheid van die mens.

Die verse in hierdie bundel word in ses afdelings aangebied. Weerloosheid en kwesbaarheid, verbittering en ontnugtering en lewensdrif word tematies in die bundel hanteer. Daar is ook sterk intertekstuele verwysings ("muskietmoord met die windvanger", p. 16; "dislojale verset", p. 63) en gesprekke met ander digters ("vir bb", p. 15). Laasgenoemde verduidelik waarskynlik ook die talle "breytenbachismes" (woordsamestellings in die styl van Breyten Breytenbach) wat in die bundel voorkom.

In "waarom digters en soortgelyke siele nie aan natuurlike oorsake stenf nie (dikwels)" (p. 17) word die verganklikheid en weerloosheid van die skrywer weerspieel. Die weerloosheid van die mens word veral beklemtoon in "kantwerk" (p. 25):
   Tuinwerk.
   In blou kantbroekie.
   Son op die land.
   En lyf.
   Op soldertrap.
   Sien.
   Wat jy sien.
   Hier.
   Is ek.
   Kant.
   En kaal.


Ook die weerloosheid van die natuur word in hierdie bundel aangeraak soos in "geklassifiseer gedoem" (p. 54). Selfs "dit kan nie wees nie" (p. 59) handel oor die weerloosheid van 'n kind wat gemolesteer word, gepaardgaande met ontnugtering wanneer die ouers haar nie glo nie. Ook is weerloosheid en ontnugtering teen politieke magte ter sprake in onder andere "reenboognasie: fear dot com" (p. 61) en "dislojale verset" (p. 63).

Verbittering en ontnugtering word tematies ondersoek in die derde afdeling, getiteld "Galery van gewese geliefdes". Hier word die woord die snydende swaard wat vergelding eis vir die verlies gelei. Verkleinerende verwysings na die verlore geliefde se seksuele vaardighede beklemtoon die verbittering--"en nou hang hy / droeworsie / in haar galery" ("Dag van afbakening", p. 15) en "trippel jy tienton-sexy / kleinvoetjies* ...".

In "rekenskap" (p. 89, 90) beklemtoon die ek in die gedig ook haar ontnugtering met 'n lewe wat nie aan haar eise voldoen nie en konkretiseer 'n verdere tema in die gedig, naamlik die van 'n ontevredenheid met die verlede:
   Ek dink ek het 'n lieg gelewe
   saamgestel in stories
   ...
   ek was het pot
   pot
   potensiaal
   gemorste mat
   mat
   materiaal

   Skuldig, Meester.


Hierdie ontevredenheid word verder ondersoek in "Gespook" (p. 50) waarin die "ek" kommentaar lewer op die vlietende en gekommersialiseerde menslike bestaan. Lewensdrif staan voorop in "geboortedag: 1 Mei 2007" (p. 26):
   maar die Dinsdagaand
   die eerste Mei
   wil lewe
   en lewe wil


Bloot mens (2009) toon dat Wieringa die potensiaal het om 'n belangrike digterstem in die Afrikaanse poesie te word. Daar is egter 'n aantal hinderlikhede waaraan vir die toekoms aandag geskenk kan word. Die oordaad van alliterasie wat in gedigte soos "Profiel" (p. 23), "Argetipies" (p. 28), "Hoe gaan dit nog met jou adiposity?" (p. 40), "Klaaglied van die kleintjies" (p. 58) en "Dislojale verset" (p. 63) voorkom, is meer hinderlik as wat dit funksioneel is en neig tot die banale. Geykte beelde en woordspelings ondermyn die gedagte dat poesie by uitstek woordekonomie is. In "Huis ontuis" (p. 71) is geen sprake van subtiliteit nie en word die voor die handliggende eerder banaal en ontneem die krag van vaardige woordspeling
   Dis bedoel om my & jou
   --hallusineer / droom ek--
   te wakker na bewus:
   no pain, my dear, no gain:
   en dis die kotsbare waarheid.
   ...
   jy pomp seks sy slaaf werk ek god geld hy penis Porsche
   ...
   ek sei my siel jy spin die Web hy kuber seks sy Second Life


Nie-funksionele neologismes en samestellings (bv. "breinself" p. 28, "egopompend" p. 40, "kopwaai-swaardtegniek" p. 61), woordfunksie-wisselings (bv. "gekruisband" p. 41, "piesang met sy vingers" p. 59), opeenstapeling van sinskonstruksies met "en" (bv. in "Klaaglied van die kleintjies" p. 58), loslitafrikaans (bv. "Reenboognasie: Fear dot com" p. 61, "Huis ontuis" p. 71, en dies meer korn geforseerd voor en lei tot 'n vervlakking van betekenislae. Selfs die "breytenbachismes" kom geforseerd voor. Dit lyk asof die digter die leser met die grootvertoon van "taalvernuf" wil beindruk--tog word die teenoorgestelde bereik. Die leser soek na die individuele stem van die digter.

Die hinderlikhede ten spyt, is daar wel enkele gedigte wat toon dat die leser te doen het met 'n nuwe stem, soos blyk uit onder andere "Profiel" (p. 23), "Gespook" (p. 73) en "God, ons almal se pel" (p. 80). 'n Mens hoop dat Wieringa ontslae sal raak van al die woordbagasie (by implikasie emosionele bagasie) en dat ons met 'n volgende bundel meer van laasgenoemde gedigte sal sien.

Resensent: L. van der Merwe

Stigting vir Afrikaans
COPYRIGHT 2009 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2009 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Bloot Mens
Author:van der Merwe, L.
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Book review
Date:Dec 1, 2009
Words:757
Previous Article:Herman de Coninck--vertaald.
Next Article:Watermerke maak rimpelings.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters