Printer Friendly

Nog altyd hier gewees.

Nog altyd hier gewees.

Hermann Giliomee. Kaapstad: Tafelberg.

2007. 261 pp. ISBN: 9790624044666.

Dit lyk werklik asof die bruin mense herontdek word, of hoe se ekke? Nie te lank gelede nie verskyn In die bloed, saamgestel deur Howard Biscombe, oor die bruin mense wat deur die Group (dis nou die Wet op Groepsgebiede) uit Die Vlakte van Stellenbosch uitgeskuif is. En nou volg Hermann Giliomee se Nog altyd hier gewees, wat die breer geskiedenis van Stellenbosch se bruin mense behandel.

Natuurlik gaan dit oor heelwat meer as die bruin mense van Stellenbosch, want dit kan mos nie by Stellenbosch bly nie, want Stellenbosch is deel van die Kaap, en die Kaap van die land, en so kan jy aangaan.

En so is die bruin mense ook nie 'n afgesonderde bevolkingsgroepie in die land nie. Hans Heese het nie verniet sy boek oor slawe (van die voorgangers van die bruin mense) Groep sonder grense genoem nie.

Wat jou bring by die benaming bruin mense. Groep sonder grense? Ja wel, maar wat van Groep sonder naam? Giliomee se hy hou nie van "kleurling" nie en hy skryf liewer van bruin mense. Ek stem saam. Maar al hierdie gekarring oor 'n naam is net 'n bewys van die onwilligheid om te erken dat ons, die kleurlinge, ontstaan uit 'n vermenging van wit en slaaf en nog alles en wat.

Toe Giliomee se boek in Maart 2007 by 'n geleentheid op Stellenbosch bespreek is, vra ek aan die gehoor: Gee my 'n definisie van 'n wit Suid-Afrikaner? Geen antwoord nie. Ek vra weer: Steek op die hande die wat nie in sy of haar voorgeslagte bruin mense het nie? Die gehoor het uit byna honderd "wit" mense bestaan, maar nie een hand gaan op nie! Se dit iets?

Die belangstelling wat die boek wek, bewys dat die onderwerp, die bruin mense, nie alleen interessant is nie, maar ook dat sy onderwerp, bruin mense nog altyd aktueel is, en dat dit aan die hart van die land se politiek, sy hartklop en sy kultuur le. Die skrywer behandel die dorp se bruin mense in sy geskiedenis, sy ekonomie, sy skole, sy godsdiens, trouens in alle aspekte van sy samelewing. En dit kan nie anders nie, want wat is Stellenbosch sonder die bruin mense? Was sy stigter, Simon van der Stel dan nie 'n bruin man nie?

Wat die geskiedenis betref, doen dit 'n mens goed om te lees van S. P. Cilliers, Nic Olivier, Sampie Terreblanche, Erika Theron en andere wat hul deel bygedra het tot die verkryging van 'n meer geregterlike stelsel. Ek mis die name van Koos du Toit en Jaap Durand--miskien behoort hulle tot 'n jonger geslag! Maar dit is goed om te sien dat Pieter Daniels se bydrae genoem word. Ek sien al lankal daarna uit dat Daniels tot sy reg kom. Giliomee sou goed doen om sy posisie op US te gebruik om iemand 'n deeglike studie oor Daniels te laat doen. Daniels, 'n Stellenbosser, het in Desember 1883 die Afrikander League (Coloured) gestig, maar nog merkwaardiger was die invloed wat hy op Mohandas Gandhi se denke gehad het, en wat die Mahatma ingelyf het in sy filosofie van lydelike verset in Indie.

Kerk en skool word in diepte behandel, en daar sal heelwat nostalgie opbruis in die gemoedere van die ouer mense, ook buite Stellenbosch, soos hulle herinner word aan name soos Luckhoff, Hector en, ja, Cupido. Daar was nog baie andere, maar Giliomee se vertelling herinner ons daaraan hoe ineengestrengel kerk en skool is in die geskiedenis en ontwikkeling van Suid-Afrika, die Kaap en die bruin mense. Die groot aandeel van die Rynse Kerk en die Volkskerk word keer op keer genoem. Die N.G. Sendingkerk se rol word genoem en Giliomee huiwer nie om die leser te herinner dat die N. G. Kerk 'n kerk van slawe-eienaars was nie.

Die behandeling van die ekonomie van Stellenbosch bring aan die lig die wedersydse afhanklikheid van wit en bruin op ekonomiese vlak. En dis niks nuuts nie. Slawe is na die Kaap gebring om ekonomiese redes. Die vooruitgang van die blankes was afhanklik van arbeid wat verskaf is deur slawe. Die interaksie van slawe en blankes lei tot die ontstaan van die bruin mense. Die vrystelling van slawe versterk die getalle van die bruin mense. Die bruin mense bly die basis van die arbeidsmark. Die bruin mense word uit die middedorp gestoot, maar bly die ruggraat van arbeid, beide op die plase en in die dorp. Die lewe gaan voort.

Die genadelose werk van die Wet of Groepsgebiede is 'n vertelling van die verdraagsaamheid van die bruin mense. Ook van hul vredeliewendheid en van hul afhanklikheid van die wit base. Hier was Stellenbosch se optrede soortgelyk van dit van bruin mense oor die land. Min of meer. Lammers na die slagpaal? Miskien. Maar ook mense in wie se gemoedere sterk gevoelens opgebou het, gevoelens van teenstand teen onreg, getemper deur respek vir die reg. 'n Beter begrip van reg en geregtigheid as wat hul wit regeerders aan die dag gele het. Gevoelens van weerloosheid in situasies waar hulle getalle nie in hulle guns was nie, en waar ironies genoeg, juis hul respek vir die reg teen hulle getel het.

Dan kom die Slag van Andringastraat. Manhaftig, ja, maar ook in 'n sin pateties. Dit het sy oorsprong in ou, opgehoopte gevoelens van ongeregtigheid en minagting, maar die uitbarsting word bewerkstellig deur wit studente, en dan eers kom die slag, waar die twee groepe handgemeen raak. Dit begin in Kaapstad waar studente teen die "Britse" oorlog demonstreer, die studente die onderspit delf, en dan terugkeer na Stellenbosch, waar hulle bruin koerantverkopers aanval, en die bruin mense kry die kans om die wittes te donner. Lankal gewag daarvoor.

Maar vandag lyk dit of Stellenbosch se woede sak, en asof sake normaliseer. Wat is normal? 'n Bruin burgemeester of twee? 'n Bruin rektor van US? Hoe lyk Stellenbosch se toekoms? Daar moet seker nog 'n lang pad gestap word, maar Hermann Giliomee se boek sal sekerlik bydra tot beter begrip deur almal vir almal en daarvoor verdien dit 'n bree leserskap.

R. E. van der Ross

Voormalige rektor

Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville
COPYRIGHT 2007 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2007 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:van der Ross, R.E.
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Mar 22, 2007
Words:1030
Previous Article:Met 'n diepe verlange.
Next Article:Magical realism and the religious in Praying Mantis/Magiese realisme en die religieuse in Bidsprinkaan.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |