Printer Friendly

Monsieur Michel Bonnet.

Ek het u nie vergeet nie, Monsieur Bonnet. Elke keer as ek die skoonheid van die Mona Lisa sien, dink ek aan u. My oe is oop, en ek het u naam onthou. Ek skryf 'n storie oor u. Baie mense sal die storie lees en van u goedheid hoor, Monsieur Bonnet. En hulle sal u onthou. Hulle sal u naam onthou: Monsieur Michel Bonnet.

My vriend Petrus het my gevra of ek saam met hom Parys toe sou gaan om die vertaalwerk te doen wanneer hy sy nuwe hobo gaan koop. Hy het 'n lysie gehad van al die obskure plekke waar 'n mens glo 'n hobo in Parys sou kon koop.

Ons het van Hannover, waar ons musiek studeer het, met die trein tot in Parys gery. Die koop van die hobo is 'n lang storie, maar op die ou end het Petrus met sy nuwe hobo in die hand gestaan, netjies in 'n swart kissie. Dit was die voorlaaste dag van ons besoek.

Die laaste dag wou ek nog gou binne 'n paar uur met die Louvre klaarspeel, terwyl Petrus na die Orangerie wou gaan kyk. Ons het afgespreek om mekaar om eenuur by 'n spesifieke deur van die Louvre te kry. Die posisie van die deur het ons met 'n kruisie op ons kaarte van die museum aangedui.

Toe ek die Louvre verwonderd betree, kom daar 'n waardige meneer na my toe aangestap. Hy stel horn as Monsieur Michel Bonnet voor, en verduidelik dat hy een van die "Vriende van die Louvre" is. Hulle is afgetrede mense wat in hulle baie vrye tyd besoekers deur die Louvre neem. Monsieur Bonnet bied aan om my as gids te begelei. Ek se dadelik ja en vra hom of hy die hele saak vir my in Frans kan doen. Die Monsieur willig in en vra my hoeveel tyd ek het. Ek verduidelik mooi van Petrus wat om eenuur by daardie spesifieke deur sal wag. Die gawe meneer se dat ons dus drie uur het waarin hy vir my die hoogtepunte van die Louvre sal wys. Hy weet presies hoe om die program in te deel vir een uur, twee ure of drie ure.

Monsieur Bonnet neem my na al die grootste kunswerke van die Louvre: die Mona Lisa, die Venus de Milo, die vier selfportrette van Rembrandt, die een-en-twintig portrette van Maria dei Medici. Ek sien die bruin van Poussin, die lig van La Tour, die glinstering van Watteau se satyn, die vrypostige Boucher en Fragonard. By elke kunswerk raak Monsieur Bonnet oorstelp oor die skoonheid van die werk, asof hy dit nou die eerste keer aanskou. Hy verduidelik die agtergrond van die kunstenaar en sy tyd, die omstandighede waaronder die werk geskep is, hoekom dit as so meesterlik beskou word, en--die hoogtepunt!--hoekom die kunswerk oor soveel jare vir hom nog steeds so baie beteken, hoekom dit vir hom die verwesenliking van skoonheid is, hoekom dit vir altyd en altyd vir hom vreugde sal verskaf. En tussendeur vee hy verdwaas met sy hand oor sy kaalkop. Deur Monsieur Bonnet se oe word ek ingewy in die essensie van skoonheid. Hy maak my oe oop.

'n Rukkie na eenuur is ek en Monsieur Bonnet by die aangewese deur. En daar staan Petrus en wag.

"Wat gaan julle nou doen?" vra Monsieur Bonnet, en ek verduidelik dat ons vir veiligheid 'n hele paar uur oopgehou het voordat ons die trein op die Gare du Nord moet haal.

"Nou wil julle nie eers saam met my kom eet nie, en dan neem ek julle met my karretjie op 'n rit deur Parys? Dan gooi ek julle later by die Gare du Nord af."

Monsieur Bonnet laai ons in sy blou karretjie met my voorin, want ek moet die nodige vertaalwerk doen vir Petrus wat agterin ingeprop sit. Ons ry heen en weer deur die verskriklike verkeer en parkeer halfpad op die sypaadjie in 'n onmoontlike klein gaatjie tussen twee karre.

"Ek neem julle na die Restaurant du Theatre op die plein voor die Comedie-Francaise. Dis waar baie beroemde kunstenaars geeet het."

Ek gaan sit onder 'n foto van Colette, en volgens Monsieur Bonnet se voorstel eet ons slakke en sop met brood. Ons klim weer in die blou karretjie en Monsieur Bonnet ry met ons na die Place des Vosges waar Victor Hugo gebly het. Daar stap ons in die yslike vierkant in met Monsieur Bonnet wat aanhaal: "Et quand j'arriverai, je mettrai sur ta tombe Un bouquet de houx vert et de bruyere en fleur. En wanneer ek daar aankom, sal ek op jou graf 'n ruiker van groen huls en bloeiende heide neersit." Daarvandaan ry ons na die kerk van Saint Gervais waar die Couperin-komponistefamilie tussen 1656 en 1826 ononderbroke gewerk het. Ons sien die Place Vendomes waar Chopin in 1849 by nommer 12 gesterf het. Ons ry verby die Opera en hang by die venster uit om so veel moontlik in te neem. Monsieur Bonnet jaag twee keer met ons in die dolle verkeer rondom die Arc de Triomphe. Daarna is daar nog tyd om deur die Bois de Boulogne te ry en die kontras te ervaar tussen die woeligheid van die besige stad en die skoonheid van die woud.

Monsieur Bonnet is so gaaf om eers by ons hotel langs te ry om die bagasie en die swart hobokissie op te tel en mik daarna vir die Gare du Nord sodat ons betyds kan wees vir die trein.

Toe ons daar uit die blou karretjie klim, se Monsieur Bonnet: "Je suis desole. Ek is so jammer dat julle nou moet gaan."

Ons het teruggery Hannover toe met Monsieur Bonnet se adres en telefoonnommer in my beursie. Ek het nie vir Monsieur Bonnet gebel om dankie te se nie. Ek het nie vir Monsieur Bonnet 'n brief geskryf om dankie te se nie. Ek was te besig om my voor te berei op my skitterende toekoms.

Maar nou, vyf-en-dertig jaar later, dink ek aanmekaar aan Monsieur Bonnet. Ek dink aan sy hand op die telefoon. Ek dink aan sy hand in die posbus. Ek dink aan my eie hand op die telefoon en my eie hand in die posbus.

Slaap sag, Monsieur Bonnet, slaap sag. Je suis desole. Maar ek het u nie vergeet hie. Elke keer as ek die Mona Lisa sien, dan dink ek aan u. My oe is oop, en ek het u naam onthou, Monsieur Bonnet! U naam sal vir altyd en altyd onthou word. In my storie sal baie mense u naam lees, en u naam onthou. Hulle sal sag u naam se: "Michel Bonnet".
COPYRIGHT 2011 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2011 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Kortverhale
Author:van der Mescht, Heinrich
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Short story
Date:Dec 1, 2011
Words:1102
Previous Article:My eie seun.
Next Article:god.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters