Printer Friendly

Maar wie snoei die rose in die nag?

Maar wie snoei die rose in die nag?

Abraham H. de Vries.

Kaapstad: Human & Rousseau, 2013. 127pp.

ISBN: 978-0-7981-5774-2.

Maar wie snoei die rose in die nag? is Abraham de Vries se een en twintigste kortverhaalbundel sedert sy debuutbundel Hoog teen die kranse (1956). De Vries het homself in sy skrywersloopbaan van sewe en vyftig jaar telkens bewys as meesterverteller en bowenal as meestervakman, en sy omvangryke oeuvre word onder andere gekenmerk deur samehang en onderlinge verbande of 'n bepaalde "oeuvre-struktuur".

Dit het tot gevolg dat die toegewyde leser met 'n bepaalde verwagting die bundel opneem, en weer eens word die leser nie teleurgestel nie. Die verhale is (weer eens tipies van De Vries se oeuvre) kontreiverhale, verhale wat laat lag en huil, maar steeds ook die leser uitdaag vanwee die gelaagdheid daarvan.

Die bundeltitel is ontleen aan 'n klein magies-realistiese flitsopname in die openingsverhaal van 'n huis in die nou reeds vertroude landskap van die Klein-Karoo; "'n huis wat eintlik twee aan mekaar geboude huise is" (21). Hoewel die eertydse inwoners almal oorlede is, is die regterhuis skoon en geverf en versorg, terwyl die linkerhuis tot 'n murasie verval het. Hierdie verhaal-binne-die-verhaal eindig dan met die vraag: "Maar wie snoei die rose in die nag?" Ingebed in die "fotoverhaal" en die vraag-as-titel is die (steeds) opvallendste kenmerk van De Vries se oeuvre, naamlik die rol wat inversie in die verhale speel. George Weideman (2007) verduidelik dat die inversiesimbool op die omkering, maar ook saambestaan van "opponerende werelde" dui, in hierdie geval realiteit/fantasie, werklikheid/ droom, donker/lig, "die nag se koue"/"die son op die werf" (15). Die vraag van die titel is op metaforiese vlak wesenlik 'n synsvraag--'n vraag wat egter onbeantwoord bly in 'n "landskap [...] vol geheime, met mense vol raaisels" (17). As teenvoeter vir die donkerte oor die land, die dreigende chaos, die woesteny en "droe leegte" (123), is egter die kultuurhandeling van snoei om vorm te gee aan skoonheid--dus ook by implikasie die kreatiewe handeling van vertel, van stories opskryf, van vormgewing deur die woord.

Die eerste briefverhaal, "Agter nege passe", is opgedra aan Breyten Breytenbach, en het as motto 'n aanhaling uit sy antwoord. Hierdie verhaal dien terselfdertyd as "padpredikant" vir die res van die bundel. Die "gedeelde werwe" (11) van die twee skrywers verwys na Barrydale (Breytenbach se geboortedorp) en Ladismith (De Vries se tuisdorp). Die titel van die verhaal speel intertekstueel in op Breytenbach se bundel Nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde. Daar is dan ook in De Vries se verhaal direkte en implisiete verwysings na landskappe, hetsy konkreet of abstrak. Nege passe verbind die Klein Karoo met die groter land en in die eerste gedeelte van die verhaal karteer die skrywer die topografiese landskap: plekname en landskappe as ruimtelike merkers van die landstreek waarin die onderskeie verhale afspeel. Landskap word egter meer as blote geografiese agtergrond, want dit dui ook op relasionaliteit tussen mens en mens vanwee gedeelde werwe, en 'n ontologiese verbondenheid op grond van ons menslike eksistensie binne die landskap van aardse bestaan. Ook is daar sprake van relasionaliteit tussen landskap en mens, want die landskap is ingegrif in die menslike gees, maar terselfdertyd is die mens ingebed in die landskap waarin hy hom bevind: "Die werelde in ons le soos woorde in 'n verhaal, ingebed in 'n eerste landskap van die gees, [...]" (14). Daar is verder 'n direkte verwysing na "die landskap van onthou en droom en verbeel" (terselfdertyd ook sleutelwoorde in die bundel), en 'n terugkeer na "die landskap van eerstes" [...], "terug na die landskap van ons kinderlikste gebede en ons grofete nalatighede" (22). Dit gaan dus, soos wat Breytenbach in die motto stel, om "herinneringe" en "hierinneringe". Deur middel van die vertelhandeling en die skryfhandeling kom daar egter ook 'n bykans mitiese skryflandskap tot stand; 'n artistieke landskap van die geskrewe woord.

'n Volgende aspek van landskap wat na vore kom in die eerste verhaal is die verwantskap tussen landskap en die oog. Dit gaan egter nie soseer om wat jy sien nie, maar eerder hoe jy daarna kyk. As die verteller verduidelik waar sy Klein Karoo begin, soek sy "oe na die son" (14) en is dit asof hy die son en die wonder in die gewone die eerste maal raaksien: "Alles was sulke nuwe dinge en ek het hulle, vol verbasing, vir die eerste keer raakgesien. Was dit wat Goethe bedoel het met verwondering as die hoogste waartoe die mens in staat is?" Uiteindelik gaan sien dan telkens oor in insig, "soms toegedraai in byna vergete ondervindings" (123), soos wat die verteller in die aangrypende slotverhaal "Oor goeterse en woorde" bely.

Soos in talle ander De Vries-verhale staan die handeling van vertel, van "tot verhaal kom" as verweer teen die "groot stilte" (125), ook sentraal in hierdie bundel. Daar is verwysings na ander storievertellers van die Klein Karoo (dus by implikasie weer eens 'n bevestiging van relasionaliteit), soos Breyten Breytenbach in die openingsverhaal, die legendariese Stanley de Wit in die verhaal "Die ander lig", C. J. Langenhoven en David Kramer, maar ook fiktiewe (?) vertellers soos Izak, Karel Wessels, Stefaans Voorbaat, Poen, Tom, Tienie. Die meerderheid verhale begin dan ook met "se" of "vertel" so-en-so, en word dan in die eerstepersoonsperspektief vertel--'n tegniek wat die verwantskap tussen verteller en Karoo-kontrei, maar ook tussen vertellers nogmaals bevestig. Telkens word daar al vertellende verbande gele met ander verhale en vertellers in De Vries se oeuvre. Stanley de Wit as verteller het byvoorbeeld reeds aan die woord gekom in die komiese verhaal "Die koei en die tand" in Dorp in die Klein Karoo (1966), 'n verhaal wat ook deur David Kramer volkseie gemaak is in sy liriek "Stanley en die koei". In die openingsverhaal van Maar wie snoei die rose in die nag? is daar terselfdertyd ook 'n verwysing na David Kramer en sy rooi vellies. Voorts word ook telkens in die verhale oor die ontstaan van stories besin; die guitige ontstaan van spookstories in "Spookstorie", of die onverwagte plekke waar stories skuil soos in "Vendusie" of "Waar op aarde is my sleutels?". In laasgenoemde verhaal verkry die veralgemeende vraagstelling van die titel ook letterlike betekenis as die enigmatiese Bill aan die hand van 'n reuse wereldkaart en 'n aardrykskundeles vir Sakkie sy verlore sleutels help soek. Getrou aan die beginsel van omkering word die verlore sleutels egter ook sleutels vir die ontstaan van stories, asook sleutels vir die ontsluit van verhale.

Die twaalf verhale in Maar wie snoei die rose in die nag? is 'n waardige toevoeging tot die indrukwekkende oeuvre van Abraham de Vries. Dit bied leesgenot, maar steeds ook stof tot nadenke.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v51i2.16

Geraadpleegde bron

Weideman, G. "Die clowneske in die kortverhale van Abraham de Vries." Red. Wium van Zyl. Elke slot 'n weerbegin. Abraham H. de Vries 70. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland, 2007.

Adele Nel

Adele.Nel@nwu.ac.za

Noordwes-Universiteit

Vanderbijlpark
COPYRIGHT 2014 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2014 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:text in Afrikaans
Author:Nel, Adele
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Mar 22, 2014
Words:1150
Previous Article:Contrary: Critical Responses to the Novels of Andre Brink.
Next Article:Sondag op 'n voelplaas.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |