Printer Friendly

Leroux-biografie wys twyfel en grootste verbeeldingsvlugte.

Kannemeyer, J.C. 2008. Leroux: 'n lewe. Pretoria: Protea Boekhuis. 734 p. Prys: R325,00. ISBN: 978-1-86919-234-1.

Stephen le Roux, oftewel Etienne Leroux is 'n byna magiese figuur in die Afrikaanse letterkunde, wat onder andere weens sy idiosinkratiese voorkoms--steeds in donkerbril en swart geklee--in 'n aura van misterie gehul was. Ook die mitiese en by tye selfs mistieke aard van sy werk waarvan die simboliek nie algemeen verstaanbaar was vir Afrikaanse lesers van sy tyd nie, het hom as "duister" en selfs 'n okkulte skrywer gebrandmerk. Wie onthou nie oom Koot Vorster se berugte vuilspuit-uitspraak en die beswaarde briewe in koerante oor Leroux en sy mede-sestigers se werk nie? Die onbedoelde gevolg van hierdie uitsprake was stellig dat Leroux se boeke destyds deur baie gekoop is, slegs in die hoop dat dit iets opwindends sou oplewer, iets buite die dood, droogtes en sprinkaanplae wat die Afrikaanse letterkunde destyds nog swaar geteister het. Die tyd is inderdaad nou ryp vir 'n omvattende biografie waarin hierdie skrywer se lewe en die opwindende tydperk waarin hy geskryf het, behoorlik gedokumenteer word.

Kannemeyer se biografie is 'n volledige en deeglik-nagevorste werk waavoor hy, benewens sy eie jarelange verbintenis met Leroux, ryklik geput het uit die Leroux-dokumente wat by die Universiteit van die Vrystaat bewaar word, asook uit Leroux se gepubliseerde en ongepubliseerde werk. Hoewel Johann Lodewyk Marais in sy ietwat hiper-kritiese resensie (Rapport, 14 September 2008) vind dat sommige sogenaamde triviale aanhalings die biografiese aard van die werk tot nadeel strek, dra veral die aanhalings uit Leroux se uitgebreide korrespondensie beslis daartoe by dat sy eie stem 'n sterk teenwoordigheid in die biografie word--iets wat myns insiens juis die biografie tot voordeel strek deurdat dit die biografiese onderwerp binne sy historiese en intellektuele milieu plaas. Uit sy briewe leer die leser Leroux ken in uiteenlopende fasette: sowel sy twyfel aan homself en sy literere en kreatiewe vermoens as sy grootse verbeeldingsvlugte. Lucas Malan wys in die flapteks daarop dat Kannemeyer se biografie waarskynlik die bes-gedokumenteerde verhouding tussen 'n skrywer en sy uitgewer bevat--'n vertrouensverhou ding wat algaande ontvou aan die hand van die uitgebreide briefwisseling tussen Leroux en Koos Human.

Kannemeyer maak, soos gebruiklik is in literere biografiee, van sowel eksegetiese as diagnostiese metodes gebruik om sy hoofkarakter lewensgetrou uit te beeld. Veral in sy bespreking van Die eerste lewe van Colette wys hy gedurig verbande uit tussen outobiografiese en fiktiewe gegewens, asook hoe hierdie fasette mekaar onderling beinvloed en gevoed het. Hierdie metode verskaf aan die leser 'n unieke insig in die kreatiewe proses en die wyse waarop lewe in kuns omgesit word.

Wat egter 'n gemis in die biografie is, is dat die mense met wie Leroux ten nouste saamgeleef het en wat dus 'n belangrike vormende invloed op hom gehad het, dikwels randfigure bly. Oor sy ouers wat vooraanstaande mense was en oor wie uiteraard baie bekend is, word dikwels geskryf, terwyl die Greshoff-versameling in die Nederlands Letterkundig Museum in Den Haag sorg vir interessante feite oor Leroux se verhouding met Jan en Atie Greshoff. Meer inligting oor Leroux se vriendskap met Graham Greene, wat beslis in sy werk neerslag gevind het, sou die biografie byvoorbeeld sekerlik tot voordeel kon strek. In verband met die verhouding tussen Leroux en sy twee eggenotes kom die leser weinig te wete en daar is byna niks oor sy kinders nie. Die rede word reeds op die eerste bladsy van die voorwoord verstrek, naamlik dat Leroux se dogter "'n soort herinneringsgeskrif" oor haar vader wil skryf en daarom nie met Kannemeyer wil saamwerk nie--terloops, dit is 'n kleinerende opmerking wat alte veel na 'n verskoning vir onvolledige navorsing klink en nie pas binne die professionele raamwerk van waaruit geskryf word nie. Ook teen die einde van die biografie word gesuggereer dat inligting weens persoonlike spanning en vyandskap tussen Kannemeyer en die Bloemfonteinse literatore uit daardie belangrike bron van hom weerhou is. In hierdie verband spreek die kritiek van Hennie van Coller op Kannemeyer se biografie (Beeld, 22 Sept. 2008) en John Kannemeyer se skerp bewoorde antwoord daarop (Die Burger, 26 Sept. 2008) boekdele! Die negatiewe wyse waarop deurlopend in die biografie na professor Van Coller en sy kollegas verwys word, terwyl dit goed bekend is dat daar vanuit Bloemfontein hoogstaande Leroux-studies gekom het, doen nie slegs afbreuk aan 'n andersins puik teks nie, maar is onvanpas en onprofessioneel.

Wat die struktuur van die teks betref, werk die biograaf meestal chronologies en vorm die ontvouing van Leroux se literere oeuvre die onderliggende ordenende prinsiepe. Terwyl (onnodig) baie vertelde tyd afgestaan word aan die ontluikende fase van Leroux se skryr-werk en sy eerste, swakker tekste byna tot vervelens toe ontleed en ontrafel word, voel dit asof die balans in die laaste deel van die teks versteur word deurdat daar soms alte vlugtig met belangrike werke soos "Magersfontein, 0 Magersfontein" omgegaan word, terwyl die teks al vinniger ten einde spoed.

In die geheel gesien, is Leroux: 'n lewe egter 'n belangrike naslaanwerk oor een van Afrikaans se suksesvolste en interessantste skrywers. Dit is toeganklik geskryf en bevat 'n magdom inligting. Dit kan met vrymoedigheid vir 'n wye spektrum lesers as studiemateriaal en leesgenot aanbeveel word.

Resensent: Marlies Taljard

Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit
COPYRIGHT 2009 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2009 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Leroux: 'N Lewe
Author:Taljard, Marlies
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Book review
Date:Aug 1, 2009
Words:862
Previous Article:Brood vir dik en dun dae.
Next Article:Eensame, vreedsame wereld.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters