Printer Friendly

Lang reis na Ithaka.

Lang reis na Ithaka.

Dolf van Niekerk. Pretoria: Protea Boekhuis.

ISBN 978-1-86919-293-8.

Die oeuvre van Dolf van Niekerk beslaan 'n wye reis deur verskillende genres. Sy debuut, Gannavlei in 1958 het as tema Dawid as buitestaander-reisiger. Laasgenoemde is 'n deurlopende tema in die veelsydige skrywer se kreatiewe oeuvre. In sy tagtigste lewensjaar verskyn Lang reis na Ithaka, sy vierde digbundel. Die reismetafoor en die spreker se soeke na "tuistelose / ruimtes van die gees" (64) word in drie samehangende afdelings verwoord.

Die bundel word opgedra "(a)an die geliefde wat ver bly" en vorm die matriks vir die soeke na die aangesprokene wat deur verskillende landskappe onderneem word. Dit is veral die landskap van die Noord-Kaap wat deurreis word, maar ook die landskapspore van tyd (16):
   Maar ek blaai my vas
   in vesels van die tyd--
   die twyfel
   of jy in hierdie dorre land
   'n koker vir
   my hart sal bly.


Die bundeltitel verwys ook na Odusseus, held uit die Griekse mitologie se reis terug na "verre" Ithaka en sy vrou Penelope. Dit is dus ook 'n terugreis in die mitologiese milieu en landskap wat die derde afdeling van die bundel beslaan. Die bundeltitel eggo ook in die afdeling en vorm so 'n ikoniese reis deur die bundel vanaf "Pellafolio" en "Historia" op soek na die geliefde, maar ook na die woord om die liefdesverklaring te maak soos verwoord word in die gedig "Boerneef het 'n woord laat val" (17):
   ek (soek) 'n woord
   dat ek
   vir jou kan se
   hoe diep my liefde vir jou le.


In afdeling een, "Pellafolio", staan die spreker se versugting om die regte woord(e) te kry om die geliefde aan te spreek, sentraal (23):
   hoe sal ek my woorde skik
   dat niks beskeie of brutaal
   tussen die lyne le;
   my woorde stroop
   dat elke woord in naakte taal
   eenvoudig se
   ek het jou lief


Hierdie gedig verwoord belangrike elemente in Van Niekerk se bundel, naamlik eenvoud, gestrooptheid en beskeidenheid. Die gedigte se "naakte taal" (23) word deur die gebrek aan titels asook eenvoud in vorm ondersteun sodat die spreker se soeke nie in komplekse rym en ritme verstrengel raak nie.

Die reismotief suggereer ook die spreker se "tuiste vir verlange / die kringloop van seisoene" (19) wat die dood is, want vra hy hoopvol (18):
   Moet ek liefde vir die rus verruil,
   dit soos 'n tent oor my laaste dae span
   en hoop dat die geliefde
   net voor die laaste nag
   na my sal kom?


Die samespel tussen landskap en tyd word deur die gedig "Mahler is ons reisgesel" (19) as "lied van die aarde", maar ook "lied van verlies" verwoord. Hierdie element van melancholie word ook in die tweede gedeelte van die bundel, "Historia" verwoord as die "dood wat digby lewe le". Die verhaal van lewe en dood kry dus gestalte in die verwoording van die "drif tot soek en tas" (28), maar wat in spanning verkeer met die stilte en sterflikheid van groei in die "najaarstuin" (48) en "laatwintertuin" (50). Die spreker se versugting "om die vaart van die oomblik te vertraag / terselfdertyd die geskiedenis / van nader in gevangeskap te sien" (34) word getroef deur die dringendheid van verlies se gang (35). Dieselfde dringende poging om te bestendig deur onthou, word in die volgende vers verwoord:
   ek wentel dae en jare terug
   en skommel die tyd
   en tas na 'n fokuspunt waar liggame kon bind;
   maar niks wil pas,
   die dag bly onvoltooid en rou
   en tog het ek nog nooit
   'n lee nag so graag onthou


Met die laaste afdeling van die bundel word afgewyk van die kort gedig en is die reisrelaas in epostrant geskryf. Die spreker het gaandeweg deur die reismerkers van ruimte en tyd in die vorige twee afdelings gevorder om uiteindelik die stilte te verkry as bestemming (63):
   Om stil te wees
   in die suising van lewe en sterwe,
   om stil te wees
   voor die gode wat arbitrer
   die lewensdrade span;
   om sonder vrees
   vir stilte stil te wees.


Ithaka word dus vir die spreker metafoor van "tuistelose / ruimtes van die gees" (64). 'n Ruimte wat nie met die grenslyne van begrip afgetas kan word nie, maar bewoon kan word deur die berusting in sterwe en verlies. Lang reis na Ithaka is 'n bundel wat my saam met die spreker die reisdomeine van die gees kon laat verken. 'n Verkenningstog wat die leser sal bybly in die gestrooptheid wat verdriet en verlies (62) meegebring het.

Marthinus Beukes

Universiteit van Johannesburg,

Johannesburg
COPYRIGHT 2010 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2010 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Beukes, Marthinus
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Mar 22, 2010
Words:743
Previous Article:Over grenzen. Een vergelijkende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poezie. Oor grense.'n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en...
Next Article:Bloot mens.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |