Printer Friendly

Kry my by die gewone plek aguur.

Kry my by die gewone plek aguur. Loftus Marais. Kaapstad: Tafelberg, 2012. ISBN: 978-0-624-05646-1. EPUB: 978-0-624-05647-8.

Na die ongehoorde sukses van Staan in die algemeen nader aan vensters (2008), wat met vyf vername poesiepryse bekroon is (waaronder die Eugene Maraisprys en die Ingrid Jonkerprys), slaag Loftus Marais die moeilike toets van 'n tweede digbundel oortuigend met Kry my by die gewone plek aguur (2012). Soos die subtitel van die bundel suggereer, kan 'n mens die "Kaapstadse gedigte" situeer binne die eietydse stadspoesie. Die leser word immers op 'n begeleide "toer" van die stad geneem en beskou 'n mens die verloop van 'n "gewone" Kaapse dag.

Ruimtelike merkers sluit in (onder meer) die Heerengracht, V&A Waterkant, De Waalpark, De Waalrylaan, Khayelitsha, Clifton, Leeukop en Thibaultplein terwyl die bundel se chronologiese tydsordening blyk uit die gedigtitels. Eers is daar "'n Begin" (7), daarop volg dan "Oggend en jou lyf (twee oomblikke)" (8), "Dit is 6:00 en ek probeer dink" (9) en "Oggendhoorder " (11). Op bladsy 46 vind ons "Twaalfuurkanon", nog later "17:15" (71) en "Halflig" (72). Uiteindelik nader die bundel sy einde met "Nagvatter" (85), "1:58" (90), "Stadsnag" (92) en ten slotte "Bronx & vroegoggend" (95).

Dit is opvallend dat Kry my by die gewone plek aguur in gesprek tree met vroeere Afrikaanse stadsdigters. Vergelyk byvoorbeeld "Fabulisha de la Queillerie maak reg vir die dag" (17) wat resoneer met Stockenstrom se titellose gedig oor Kaapstad uit Aan die Kaap geskryf met die volgende openingsreels: "Die stad se bors trek toe. Sy kug, /betaamlik soos 'n dame [...] Ek is baie meer as net geskiedenis. Ek is die vrou. En ek blink."; asook "Stad in die mis" (13) wat herinner aan D. J. Opperman se gelyknamige vers. Ouer stadsgedigte, veral die van Opperman en S. J. Pretorius, het dikwels die stad as dreigend of vervreemdend beskou. Marais poog daarenteen om 'n genuanseerde blik op die Moederstad te bied en "haar " te stroop van opgesmuktheid, pretensies en opgehemelde geskiedkundige verwaandheid.

Hoewel die digter hom hoegenaamd nie aan prekerigheid uitleen nie, het die nuwe bundel 'n duideliker politieke inslag as Staan in die algemeen nader aan vensters. So begin die gedig "Twaalfuurkanon" (46) byvoorbeeld met die treffende woorde: "die kern van die stad/is 'n stuk geweld". Die fyn waarnemings van die digter in 'n kosmopolitiese Kaapstad is subtiele kommentaar op maatskaplike en politieke kwessies waarmee die stad (en die land?) te kampe het.

"Verkeerswaarneming" (27) is verder die veelseggende beskrywing van 'n padwoedeinsident tussen 'n "wit madam" en 'n taxidrywer: "spoeg die bestuurder [.] op die ruit van die wit mevrou/en dis nie eintlik toe nie, maar toe sy sonder skok/en met 'n tipe takt haar veers aansit/dat ek besef (en hierso neem ek my afrit)/ons gaan dit nie haal nie, ons land is gefok."

Dit is egter veral die diskrepansie tussen die skrywer se bevoorregte posisie en die harde realiteit van armoede waaroor hy skryf wat sentraal staan in die (meer) "betrokke" gedigte soos "Oorbrug" (66) en "Twaalf maniere om vanuit jou motor op die N2 na Khayelitsha te kyk" (50). In "Roelandstraat, betrokke" (64) ontvang die spreker met sy sosiale gewete die volgende raad van 'n gespreksgenoot: "'beskryf eerder bome, los die politiek, die gemoanery, uit, /gaan werk in 'n sopkombuis as jy dan wil bydra--/so mors jy minder van jou tyd.'"

In die bundel is daar 'n besliste afwysing of ondergrawing van diepsinnige mymerings oor abstraksies wat die digkuns as genre dikwels kenmerk. Die digter het waarskynlik hierdie doel voor oe gehad toe hy die komiese

figuur van Fabulisha de la Queillerie bedink het--'n "fabulous", filosofiese fopdosser wat meen "die stad is te vol. identiteit/en die geskiedenis se een groot fout is dat almal hulleself te ernstig bly opvat het" (18).

Met humor en selfironisering kom Fabulisha keer op keer oortuigend uit die verf en daag sy gevestigde opvattings uit, veral rakende identiteit en geskiedenis, maar sluit sy as liminale figuur ook aan by die deurlopende idee van "oorgange" en grensoorvurking wat 'n mens in Loftus Marais se gedigte aantref. Oorgange en grensoorskrydings figureer reeds in die twee openingsreels in die bundel ("'n Begin"): "hoe om vroegoggend oor / oorgange te skryf?" (7) en in "Hysbak" (28) met die waarneming van 'n "strokie afgrond" wat 'n "grenslyn" verteenwoordig.

Eenduidig is die spanning tussen oppervlak en diepte egter nie. Ten spyte van sy soeke na 'n meer onmiddellike, minder abstrakte leefervaring in die vorm van kortstondige plesier of bevrediging (hy het 'n "outjie wat wag"), kry die spreker in "Bronx & vroegoggend" (95) dit steeds nie reg om daardie neiging tot filosofiese meevoering volledig uit te skakel nie. Hy staan op 'n terras onder die sterrehemel en kan nie die versoeking weerstaan om selfs in 'n doodgewone oorbelstopper die ewigheid in te lees nie; hy gooi die stoppertjie afwysend (maar veelbetekenend) "oor die afgrond/van vannag" (95). Dieselfde soort metafisiese besinning is aanwesig in "Ontologie-les" (12) wanneer die neonligte van LEWIS meubelwinkel flikker "...IS" "...IS" "....IS" en die spreker byna onwillekeurig wonder: "maar jirre, moet die werklikheid ook adverteer?"

In verskeie opsigte verteenwoordig Kry my by die gewone plek aguur 'n voortsetting van die tematiek waarmee Marais in sy eerste bundel werk. Daar is dieselfde teerheid en homoerotiek in sy liefdesverse--sien byvoorbeeld "Oggend en jou lyf (twee oomblikke)" (8), "Op 'n sypaadjie (23) en "Groot ode aan die V&A Waterfront" (86), en veral die pragtig onkonvensionele "'n Liefdesvers" (20) waarin hy die broeksakke van 'n geliefde omdop en die inhoud betrag. Daar is ook poetikale besinnings oor die belang van die letterkunde en die skryfproses in verse soos "Die digter" (57), "Maart" (73) en "Die trek klavier" (88); en dit alles kry die leser in 'n kenmerkend vaardige verstegniese aanbod, geklee in dieselfde onpretensieuse gewaad waarvoor Loftus Marais bekend geword het.

Wat egter belangrik is, is dat die digter nie alleen by 'n bekende resep gehou het nie, maar dat hy dit verruim het en sodoende ryper werk lewer. Loftus Marais wys ondeund in 'n personderhoud op sy ma se mening dat Kry my by die gewone plek aguur "gayer" as sy vorige bundel is. Marais se tweede digbundel is verder 'n opwindende, multidimensionele toevoeging tot sy oeuvre en kan beskou word as 'n baken in die eietydse Afrikaanse stadsliteratuur.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v50i1.36

Neil van Heerden

neil.sneeuleeu.vanheerden@gmail.com

Universiteit van Suid-Afrika

Pretoria
COPYRIGHT 2013 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:van Heerden, Neil
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Aug 28, 2013
Words:1066
Previous Article:Katalekte.
Next Article:Culturalism and existentialist thought--a reading of Julien Kilanga Musinde's Retour de manivelle.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |