Printer Friendly

Kraai.

Kraai.

George Louw.

Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.

2006. 128 pp. ISBN 0-7981-4586-2.

Die titel van hierdie bundel Kraai sou 'n mens allermins verbind met wat melodieus, welluidend soos poesie sal klink en tog is Louw se nuutste bundel 'n versameling egte poesie, miskien verfrissend weg van wat ons die regstreekse aktualiteit van Suid-Afrika sou noem. Suid-Afrika se literatuur / letterkunde hou hom nog voortdurend besig met dit wat hom hier op die Suider-Afrikaanse grond afspeel en afgespeel het. En dit moet ook so wees: Dit is naamlik 'n soort louteringsgebeure in ons letterkunde, die terapie om van die verlede afstand te neem. Tog word 'n mens nog steeds aan daardie verlede herinner. Neem maar Pat Stamatelos se Kroes wat 'n mens laat gru vir wat in die verlede met mense gebeur het. Ook Etienne van Heerden se nuutste treffer In stede van die liefde kom nie heeltemal weg van die verlede nie. Die hede van die roman hou nog steeds verband met die verlede van 'n politieke en ontwrigte Suid-Afrika.

Kraai is in vergelyking hiermee anders. Henning Snyman praat van 'n bundel wat wegbeweeg van die politieke diskoers--dis "vars gedigte geskryf in 'n klassieke idioom". Hiermee wil ek heelhartig saamstem. Daar is plek vir so 'n bundel in Afrikaans, hoewel ek wel daarvoor begrip het dat daar ruimte is vir skrywerskap / digterskap wat terapeuties met die verwondinge van die verlede, wat op allerlei wyses in die hede manifesteer, omgaan.

Tog het Kraai 'n universeler ondertoon. Dit funksioneer in 'n wyer menslike verband as bloot die Suid-Afrikaanse leefwereld.

Die bundel bestaan uit vier afdelings. Die eerste afdeling is effens meer anekdoties met verwysings na familielede, 'n oom, 'n pa en 'n pa, en 'n vriend. Dit gaan gepaard met die digterlike belewing van wereldgebeure en besinnings oor tyd, ewigheid en die dood.

Die tweede afdeling, minder anekdoties, bevat besinnings oor die digterlike ek en die omwereld, God en die wereld, die mens in die algemeen en sy verhouding tot die omgewing ("Wurms van die veld", 61).

Afdeling drie bevat die verwysing na die titelgegewe--die kraai met soortgenote soos die strandloper, die dikkop en die paradysvoel.

Afdeling vier handel oor Girolamo Savonarola (1452-1498), die Italiaanse boeteprediker, dosent in teologie aan die klooster van San Marco, wat kerklike en wereldlike gesag hekel en doemprofesiee uitspreek, "striemend teen ontaarding" (119). Hy genereer uiteindelik soveel vyandskap dat hy met sy lewe op die brandstapel moet boet.

In sy voorkoms was daar eweneens 'n ooreenkoms met die kraai:
 Ek het jou gemaak, Kraai
 na my smaak: van buite
 nie te waffers, maar
 van binne alte fraai. (82)


In "Ontdekkers" (12) is die digter 'n ontdekkingsreisiger soos Columbus en Dias wat die grense van hulle opdragte oorskry het, maar tog onherroeplik moes terugkeer na hulle beperking wat neergele is in die dood. So het die digter ook die "hasepad" gekies, maar ondanks die wyd en ver beweeg, weet hy dat:
 pootuit na al die heen-en-weer geskarrel,
 kom vasmeer teen die walle
 van die Styx:
 uiteindelik
 finaal.


So sien die digter homself ook weerspieel in sy "Oum" Japie, 'n bloedverwant ("Rympie vir oum Japie", 14) wat tog so kordaat was, maar "die slimgeit het sy kop / uit lit gebrand" en dan weet die digterlike ek dat die oum Jaap se gene sal by hom "gaan uitslaan", amper soos die wet van die erflikheid.

Ewe pessimisties kom die boodskap van erflikheid en eindigheid deur in "Amazing race" (25) met die woordspeling op Ongeloof-like genade. En saam met menslike eindigheid kla die digter ook oor die moord op die omgewing ("O, die aarde pyn", 19):
 Ons het dit reggekry, sowaar
 om moederaarde effektief
 tot dorbank af te skaal.


Elders ("In die nuwe tyd", 21) word verwys na die "pokdeurdrenkte aarde". Dit gaan oor geboorte waar die mens "voorgeboortelik geprogrammeer" en "perfek voorsien met als / wat die verbysterende reis / van hom of haar vereis" uiteindelik "die einders van die grysland" binnetrek. En soos in "Ysman" (40) meegedeel word: "[...] die einde bly bisar".

Soos hierbo aangedui, is die tweede afdeling minder anekdoties met minder gedigte: 14 teenoor die 35 van die eerste afdeling: die eerste titellose gediggie van die afdeling is tematies programmerend vir die res van die afdeling wat handel oor God en sy plek in die skepping: sy betrokkenheid en onbetrokkenheid daarby, maar tog steeds in beheer ondanks menslike meesterplanne:
 jul dink jul ken My, weet waar
 Ek my in my Skepping skuilhou:
 se voet! Terwyl jul arrogant
 my meesterplan bly uitstryk,
 in kansel en koerant my doen
 en late uitpluis, is Ek die een
 wat steeds, na al die eeue
 bloot flegmaties toekyk.
 ("Hokslaan", 56)


Die derde afdeling bevat die diere- of liewer die voelgedigte met ietwat meer aandag aan die kraai. Die kraai word simbool van die verkenner van die skepping, 'n buitestaander: hy "[...] takseer, waardeer, beoog [...]", afsydig van "hoogheiliges, // twee-twee saamgesnoer" ("Kraai, Noag en die walvis", 65).

En dis presies wat Girolamo Savonarola, die digterlike personasie van afdeling vier is. Hy is die verpersoonliking van die onbevange kritikus:
 Se voet! God het my bruusk
 gemaak. Self die waarheid
 by my ingeplant: pront
 en sonder hierdie tierlantynse
 stront.
 ("Die Kraai slaan teen die bestel", 84-85)


Savonarola het die wereldlike en kerklike gesag van sy tyd vreesloos gekritiseer en kompromisloos getrotseer:
 Klein van postuur, pikant, het hy
 oor God en andere bly waak,
 met Christus saam gebloei,
 die wonde aan eie lyf verduur.
 ("Girolamo sterf ", 119)


'n Mens vra jouself af waarom die digter aangegryp is deur so 'n veraf-figuur--veraf in die verlede en veraf in kultuur, die laat-Middeleeuse Italiaanse geskiedenis. Dit hou miskien verband met die Savonarola se intellektualiteit, sy religieusiteit teenoor barheid van die nie-intellektuele, die diktatoriale waar alles "[...] omvorm [is] tot verval" (119).

En dis hier waar die bundel dalk tog weer 'n bietjie omswaai na die aktualiteit van die wereld en ook Suid-Afrika. Girolamo laat hom sterk uit teen die godsdienstige en politieke bestel en die korrupsie van sy tyd.

Maar bowenal is die laaste afdeling van die bundel tog die lewensverhaal van Girolamo geskryf in onverbeterlike Afrikaans.

Hy skryf oor korrupsie:
 Dis rugsteek, gatlek waar 'n mens kyk
 wat het geword van grasie?
 ("Middeleeuse wraaklied", 86)


Samevattend kan 'n mens Kraai as 'n inspirerende bundel beskryf--ryk aan inhoud met aktualiteit, met 'n digterlik-vaardige hand geskryf. George Louw is 'n gevestigde digter in die Afrikaanse tradisie. Kraai is sy vierde digbundel. Hy het die SA Akademie se Eugene Marais-prys ontvang vir sy digbundel Koggelstok (1965) en die W.A. Hofmeyr-prys vir sy drama 'n Skip is vir ons beloof (1969).

Jacques van der Elst

Universiteit van Noord-Wes,

Potchefstroom

Universiteit van Pretoria, Pretoria
COPYRIGHT 2007 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2007 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:van der Elst, Jacques
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Apr 1, 2007
Words:1096
Previous Article:Not White Enough, Not Black Enough.
Next Article:Aardling.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |