Printer Friendly

Koffer in Berlyn: Essays oor kabaret.

Koffer in Berlyn: Essays oor kabaret.

Hennie Aucamp. Pretoria: Protea Boekhuis.

381 pp. ISBN: 978-1-86919-830-5.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v50i2.30

By die lees van hierdie versamelbundel met essays oor die kabaret, heel gepas getiteld Koffer in Berlyn, word die leser herinner aan Hennie Aucamp se enorme erudisie. 'n Mens word hier op 'n reis geneem deur die Musieken-liriek-beweging, die werk van Merwede van der Merwe, wyle Stephan Bouwer, Etienne van Heerden se unieke aanslag, ensomeer. Die verbintenis tussen liriek en poesie word bespreek, die bydraes (en vertolkings) van bekende kunstenaars en hoe Yves Montand opsluit verseg het om in kafees op te tree.

Aucamp neem sy leser op 'n reis oor die verskillende aspekte van die kabaret, onder andere hoe dit verskil van die revue of raakpunte vertoon met die tango. Dit is waarskynlik een van die beste bydraes in hierdie bundel: die essay "Muses van die modder: Die tango en die kabaret". Geweet Tango is 'n pleknaam in Angola? In Mali verwys dit weer na 'n geslote ruimte, terwyl Domingo dit speels 'n mini-opera genoem het. En hoe wonderlik is dit nie om van Casper Schmidt weer te hoor nie. Aucamp skat sy verhaal "Die Natuurgeskiedenis van die Tango" reg in!

Hy gee ook erkenning aan sy leermeesters (soos wyle Con de Villiers) en aan 'n figuur soos wyle Stephan Bouwer wie se werk as teaterregisseur, digter, televisieregisseur en veral kenner van die liriek en kabaret, nog nie na waarde geskat is nie. Die werk van Herman en Lettie Pretorius word eweneens erken. Pretorius, voormalige hoof van die US se dramadepartement en tans woonagtig in Australie, het baie werk in hierdie verband gedoen.

In 'n sentrale essay "Koffer in Berlyn" (oorspronklik verskyn in De Kat, Februarie 1987) wys hy op die subtiele verskille tussen Marlene Dietrich en Hildegard Knef--die smagting klink anders. En is smagting, begeerte, drif nie juis dit waarom dit gaan nie? 'n Mens dink hier aan die vertolkings van Amanda Strydom wat die "Sehnsucht" so magistraal kan opvang.

Die Aucamp-wyshede is hier (soos die verskil tussen die cruiser en die flaneur). Daar is weggooi-opmerkings en informasie soos Thomas Mann se belangstelling in gebruikte kondome of John Rechy se bekende Numbers wat as 'n lyfteks van die cruisers gesien kan word.

Die obsessie met die Weimar-kultuur is 'n metafoor: die letterkunde, die musiek, die skilder-en beeldhoukuns van Jode en anti-Fasciste kon uit die puin van Europa verrys (149). Die opmerkings oor die Jodedom getuig van gevoeligheid en insig via Neville Dubow en met kommentaar op Gordimer.

Besonder aangrypend is die huldeblyk oor Arnold Blumer: nie 'n enigeen nie, 'n iemand.

Verrassende insigte is daar oor David Kramer en Andre Letoit. Hy wys op die gevare van die kultusfiguur: of jy word oorskat of jy word nie ernstig genoeg opgeneem nie. Aucamp se opmerking dat 'n skrywer die prooi van sy eie retoriek kan word, is iets wat elke skrywer of digter behoort te internaliseer. Of dat talent jou vergeef sal word, veelsydigheid nooit (in die wyse woorde van Hubert du Plessis, 201).

Hy lewer kritiek op Nataniel se vertellinge wat dikwels so oorwoeker word deur die surrealistiese beelde dat 'n mens daarna die storie nie kan oorvertel nie. In kommentare rondom Kerkorrel, loof hy Willem Pretorius se werk. Hy merk ook op dat slegs diegene wat aan die ontvangkant van Koos Prinsloo se wrewel en wraak gestaan het, hul durf uitlaat oor die geveg tussen Kerkorrel en Prinsloo ("Liedjies lewe langer as mense"). Insigryk is die bydraes oor Dory Previn, Cole Porter, Noel Coward--'n hele lewe se leeswerk word gul gedeel.

Kundigheid is die wagwoord in hierdie belangrike boek wat 381 bladsye beslaan, 'n indeks het om die lees (en navorsing) te vergemaklik. Daar is benewens die bibliografie 'n relevante diskografie en die leser word dikwels verwys na die Universiteit van Stellenbosch se dokumentesentrum vir verdere inligting. Terloops, dit is David (nie Dawid nie) Kramer; Barbra Streisand (nie Barbara nie). Waarom word Roland Barthes in Nederlands siteer (139)? Hy is immers Frans; vertaal dan liefs na Afrikaans.

Uiteindelik is hierdie boek veel meer as "essays oor kabaret". Dit sit vol lewenswyshede, oor grense tussen kulturele uitinge, oor verskillende vertolkings, ensomeer. Dit verraai 'n beskaafdheid en enorme insig in 'n wereld wat waarskynlik vir menige jong mens van vandag onbekend is. Die kreatiewe programgedig "Kabaret-ABC" vir Maestro Casper de Vries, verraai Aucamp se digterlike talent. Daar word eweneens teatertekste opgeneem. Hier vind jy alles van Casper de Vries tot Hendrik Susan; van Peter Klatzow tot Jack Kerouac; van Jack the Ripper tot Bertolt Brecht. Van New Orleans tot New York.

Roland Barthes praat van "le grain de la voix", oftewel die "grein van die stem": Hennie Aucamp het 'n uitsonderlik veelgeskakeerde stem binne ons letterkunde as kortverhaalskrywer, bloemleser en kenner van kulturele randverskynsels. Dalk moes die subtitel eerder lui: essays oor kultuurverskynsels?

Joan Hambidge

Joan.Hambidge@uct.ac.za

Universiteit van Kaapstad

Kaapstad
COPYRIGHT 2013 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Hambidge, Joan
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Article Type:Book review
Date:Mar 22, 2013
Words:820
Previous Article:Diva.
Next Article:Shakespeare and the coconuts: on post-apartheid South African culture.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |