Printer Friendly

Keorapetse Kgotsitsile (1938-2018).

Ek het Keorapetse Kgotsitsile die eerste keer ontmoet tydens die Culture & Resistance-konferensie in Gaborone, Botswana in Julie 1982. Ek onthou die kort, maer mannetjie goed. Hy was vir die duur van die konferensie, altyd op 'n draf stappie besig om met bondels papiere onder die arm kruis en dwars oor die rooibruin grond van die konferensieterrein te loop, dikwels in die geselskap van genote soos Thami Mnyele en Mongane Serote of met 'n assistent in die nabyheid. Alhoewel die geleentheid aangebied is deur die Botswana Nasionale Museum en Kunsgalery was dit duidelik dat die African National Congress se MEDU Arts Ensemble 'n groot hand in die reelings gehad het en Willie, soos hy allerwee bekend was, was aan die voorpunt.

Dit was die eerste keer dat ballinge en interne kunstenaars, "kultuurwerkers" soos hulle toendertyd genoem is, met mekaar in gesprek getree het. Die reelingskomitee moes verskriklik besig gewees het, want die konferensiegangers het van reg oor Suid-Afrika en die buiteland gekom. Lede van alternatiewe, anti-apartheid kultuurorganisasies soos die Community Arts Project (CAP) uit Kaapstad, Sipho Sepamla se Federated Union of Black Artists (FUBA) en Colin "Jiggs" en Dolphine Smuts se Open School uit Johannesburg het meesal per bus opgedaag. Dit het voorgekom of Willie elkeen persoonlik geken en onophoudelik en geanimeerd met hulle gesels het. Toe hy op 'n stadium met ons groepie waaronder James Matthews uit die Kaap gepraat het, was dit duidelik dat sy opgewondenheid gespruit het uit sy vreugde om mense "van die huis" te sien.

Alhoewel hy oorkant die grens in Dithakong, naby Mahikeng, gebore is, was hy in 1982 reeds vir meer as twintig jaar 'n balling. In sy vroee twintigs het hy betrokke geraak by publikasies van die ANC en die Kommunistiese Party van Suid-Afrika, plaaslik en ook later tydens sy ballingskap in Tanzanie. Sy vroee gedigte dra tekens van die vernietigende uitwerking op die psige van die balling. In "Exile" uit The Present is a Dangerous Place to Live (1974) haal hy hierdie roerende aanhaling van Aime Cesaire aan: "My memory is surrounded by blood / My memory has its belt of corpses" en in die gedig word 'n opstapeling van hunkering en 'n hede waarby geen aansluiting gevind word nie:
And the ocean, my brother knows, is not our friend
I wonder if our ancestors might also be
in exile in places I dare not call by name

of

We try to begin again
but our dance is more waste
than the menstrual flow of a barren harem waif

of

I stand among my silences
in search of a song to lean on
but our breath lacks the rapid rhythm of the river


In die winter van 1962 verwerf hy 'n beurs om aan Lincoln Universiteit, naby Oxford, Pennsylvanie in die VSA te gaan studeer, 'n histories swart instelling met alumni soos die Afrika-leiers, Kwame Nkrumah, Nnamdi Azikiwe en later Namibie se Hidipo Hamutenya en die legendariese Amerikaanse regsman en regter Thurgood Marshall, maar hy sou nie sy studie daar voltooi nie. Die sou hy later aan die New School in New York voltooi, en ook in die stad sy meestersgraad in Kreatiewe Kuns aan die Columbia Universiteit verwerf.

Dit is in die VSA dat een van die deurlopende temas van Kgotsitsile se poesie beslag kry, die verwysing na die swart Amerikaanse Civil Rights-beweging met sy prominente figure soos onder meer Malcolm X, Kwame Toure (Stokely Carmichael), Amiri Baraka (LeRoi Jones) en Gwendolyn Brooks, asook die Pan-Afrikanistiese denkers en leiers soos Frantz Fanon, Patrice Lumumba en Cesaire. Sy bekendheid en kulturele betrokkenheid by swart Amerikaanse literatuur en literere figure het ek meer as een keer in New York, Chicago en Los Angeles ervaar waar hy met van die prominentste figure uit daardie tradisie skouers geskuur het.

Ek onthou die Culture & Resistance-konferensie veral vir die musiek, die jazzvertonings van Abdullah Ibrahim, Johnny Dyani, Jonas Gwanga en Hugh Masekela wat op 'n Saterdagaand byna oorskadu is deur 'n plaaslike trompetspeler, geklee in rooi, wat 'n oordonderende solo-uitvoering gelewer het. Net soos die bekendheid met die Afrika-diaspora blyk uit Kgotsitsile se werk, staan sy poesie ook in die teken van die terugkerende element van jazz, miskien die beste vergestalt in die treffende voorblad van die bundel This Way I Salute You (2004) waar 'n silhoeet van 'n saksofoonspeler afgeets is teen 'n rokerige agtergrond. In "For Johnny Dyani" in hierdie bundel lui die eerste strofe:
When I swim in my music
a harmattan of colours
becomes an area of feeling
where a rainbow of feathers
peoples all space
dancing in my heart


Willie Kgotsitsile was allereers 'n digter met 'n uitgesproke politieke identiteit. Sy betrokkenheid by die ANC, die kultuuraf deling van sy organisasie en sy latere posisie as Nasionale Digter was alles tekenend dat hy sy rol as betrokke skrywer ernstig opgeneem het. Tydens sy ballingskap het hy in sy persoonlike omgang die geloof bly behou dat 'n beter tyd voorle, dat sy ballingskap beeindig sal word en dat hy en sy mede-ballinge na 'n bevryde Suid-Afrika sal terugkeer. In 'n boodskap in een van sy publikasies skryf hy aan my: "Brother and Comrade, with much respect & love. Our victory is certain! Not that it will be without pain. Amandla!" Reeds in een van sy bekendste vroee gedigte, "My name is Afrika", word die geloof uitgespreek dat die moment van verdrukking slegs tydelik is en verby sal gaan en 'n nuwe orde gevestig sal word:
Drums roll and peal a monumental song
To every birth its blood
All things come to pass
When they do
We are the gods of our day and us
Panthers with claws of fire
And songs of love for the newly born


Op 'n persoonlike vlak was Willie 'n innemende mens wat my beindruk het met sy wye verwysingswereld en sy onblusbare entoesiasme. Soms het daardie entoesiasme ook die oorhand gekry. Ek onthou dat hy op 'n keer gehoor het dat ek 'n konferensie in Chicago bywoon en terstond besluit het om my te kom besoek. Al het ek hom probeer oortuig dat my vlugflouheid besig was om die oorhand te kry en dat ek nie 'n goeie gasheer gaan wees nie, het hy nietemin diep in die nag opgedaag en byna drie uur lank gekuier, terwyl ek gehunker het om soos die jong kind wat hy saamgebring het, net te slaap.

Hy is verskeie kere bekroon met onder meer die Conrad Kent Rivers Gedenkpoesie-toekenning, die Gwendolyn Brooks Poesieprys, die Harlem Cultural Council poesieprys en die Herman Charles Bosman-prys. Hy sterf op 3 Januarie 2018, net meer as 'n maand voor sy 80ste verjaardag.

Willie, jy het in "Memorial" geskryf: "Though we know / Life is no long joy /Someone enters your life / And stays there." Vaarwel.

Hein Willemse is 'n professor in Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Pretoria.

E-pos: hein.willemse@up.ac.za

Kleinkrantz, Wildernis

7 Januarie 2018

DOI: dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i1.4622
COPYRIGHT 2018 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2018 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Huldeblyk
Author:Willemse, Hein
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Article Type:Obituary
Geographic Code:6SOUT
Date:Sep 22, 2018
Words:1151
Previous Article:R. E. van der Ross (1921-2017).
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2020 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters