Printer Friendly

Katalekte.

Katalekte. Breyten Breytenbach. Kaapstad: Human & Rousseau, 2012. 224 pp. ISBN: 978-0-7981-5792-6.

I

Katalekte vorm 'n drieluik met Breyten Breytenbach se vorige twee bundels, Die windvanger en Die beginsel van stof. Die woordgoelaar en oeverblinderaar is hier aan die woord in 'n bundel wat die subtitel dra: "artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan". By Breytenbach is die ewige verbintenis tussen lewe en dood 'n deurlopende motief en hierom is daar dan ook 'n gedig "bardo" (76) wat hierdie oorgange beskryf. Katalekte bevat weer Breytenbach-reels wat op sy enorme verbeelding dui:
   wanneer verbeelding se lettergrepe
   nog bewe in die vingers (43)


Verder speel gedigte in op mekaar en ou bekende (en reeds klassieke) verse word herdig en binne die konteks van hierdie bundel word dit gelaai met 'n navrante siening van die einde-in-sig. Dit is 'n bundel wat die leser opnuut bewus maak van die digter se besondere klankgevoeligheid en die spanning tussen prosaverse en korter tekste.

Ons vind hier die bekende Breytenbachhandtekening: die ontginning van bekende idiome wat hy nekomdraai:
   ons dra die gene van die dood / maar ook die
   dese van die lewe (118)

   aan stront is geen salf te smeer nie (188)


Die plasing van foto's (soos die digter wat 'n pampoen vashou) neem ons na die werklikheid. Die digter dwing die leser om kennis te neem van komplekse sieninge van poesieteorie en die verwysing na die kora aktiveer Julia Kristeva se Begeerte in taal en hoe metafore geskep word.

In die lang vers "Besinning oor ruimte as katalisator van betekenisvorming" (155-58) word die leser medepligtige en aktiewe grafileser. Trouens, hierdie bundel dwing jou van die posisie van epi-leser (om die gedig op sy woord te neem) na die ruimte van die grafileser as aktiewe, medeskrywer (medeskepper) van die gedig. Hier verneem ons: "Gedig is leefruimte vir taal" en die volgehoue proses in die digter se oeuvre om die digkuns te verminder, vind ons eweneens hier:
   Poesie kom van nerens en gaan nerens heen
   nie--en ondersoek dan daardie nerens soek-
   soek

   soos 'n hond na doodsbeendere (157, 158)


Die digter van die paradoks, en die digter van die Oosterse verwysingsisteem; van die verdubbeling en terselfdertyd ont-kenning van die self. Van die oomblik en tog ook die ewigheid.

Die gesprekke met mededigters is opvallend. Soms speels, soms ernstig. Ingrid Jonker, Boerneef, Peter Blum kom aan bod en die herdigting, 'n skitterende parodie, van Boerneef verdien vermelding:
   'n kolgrans doodgery op die M3

   die kolgans het 'n veer laat val
   van die hoogste roep van waarookal
   mits dese wou sy vir ons se
   dis haar maat wat dood op die snelweg le
   [...] (22)


Herdigtings, 'n self-bestekopname, kom ook aan bod soos in "die engelaar se verweerskrif" (203) ("asof ek uit 'n langwerpige kop gedigte kon fabriseer...").

In "waterbrief" (28) kan die leser 'n demonstrasie sien van Breytenbach se vernuf as digter. Die tegelykertydaspek word in hierdie gedig 'n demonstrasie van die ek-in-krisis, die ek wat nie finaal bese kan word nie, soos Kristeva dit beskou. Die beweging van geboorte-droom-werklikheid-gedig-dood word omgeruil sodat die verskillende dimensies een word:
   in die nag is hy dikwels 'n koevert
   hy skryf die dokumente van geboorte
   nietnotas, belydenisfragmente soos skrifsels
   wat aan moet dui waar 'n fuik
   in die donker neergelaat is
   om more se witvleis te vang [...]


II

Katalekte beteken "versameling fragmente van ou dig- of prosastukke", aldus die digter in 'n onderhoud.

Die bundel bevat sewe afdelings met zenagtige verse en boere-haikoes. Die selfgesprek (soos in "BB: Intieme en beknopte CV", 57) is nou van Bittergesig Buiteblaf. Sy Bonnievalejeug, verblyf aan die Goree-instituut en 'n skryfskool in New York word gesinkopeer met 'n beskrywing van sy werklike verbintenis met die "mooimoedige vrou" wat van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans geinspireer het. Die metamorfose word in hierdie bundel beskryf as 'n katamorfose (59). Daar is (pynlike) nadenke oor die skryf van 'n gedig en gesprekke met Nietzsche en Emile Benveniste ("frottage", 60). Die gesprek met die ouers word eweneens volgehou in teer, liefdevolle besinnings in "ruikers woorde gepluk" (81) vir hulle.

Breyten Breytenbach neem ook standpunt in teen die politieke toestande hier te lande in die sterk "Moermikland" (161) wat in gesprek tree met Allen Ginsberg se magistrale "America". "Of dit 'n man sou wees" (169)--wat hy tipeer as 'n aanpassing uit Primo Levi--is eweneens 'n sterk sosiaalgerigte gedig, nes die lykdig vir Van Zyl Slabbert (143).

III

Dit is 'n bundel wat as "laatwerk" kwalifiseer soos Helize van Vuuren dit skitterend na aanleiding van Breytenbach se vorige bundel Die beginsel van stof behandel het op LitNet. Breytenbach bly in die digkuns 'n baken. 'n Mens haal die hoed af vir die volgehoue produktiwiteit sonder om gehalte in te boet. Van die kleinste optelvers tot die langer prosagedig of laagvers, bewys die meesterskap van Breytenbach wat die brokstukke van 'n lewe se herinneringe sprokkel. Die Orpheus-mite, IsisOsiris en ja, Pablo Neruda:
   Entre los labios y la voz, algo se va muriendo.
   Algo con alas de pajaro, algo de angustia y de
   olvido (uit "Poema", 13)


met 'n pragtige skets daarby, verklap ook iets verder van die rol van die digter.

Die digter as besegger van die liefde, die digter wat deur die woord beseg word, die digter wat onreg verseg.

Die bundel beslaan 212 bladsye en is besonder mooi uitgegee.

Geraadpleegde bronne De Vries, W 'Aanhou beweeg en gedigte maak." Burger, 8 Nov. 2012. <http://152.11U.87/argief/ berigte/dieburger/2012/11/08/SK/16/Breyten Breyten bach.html>.

Van Vuuren, H. "'n Almanak van klippe': Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge)." LitNet Akademies, 15 Nov. 2012. <http://www.litnet. co.za/Article/ n-almanak-van-klippe-laatwerk-enbreyten-breytenbach-se-die-beginsel-van-stof-laat-verse>.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v50i1.35

Joan Hambidge

Joan.Hambidge@uct.ac.za

Universiteit van Kaapstad

Kaapstad
COPYRIGHT 2013 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Hambidge, Joan
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Aug 28, 2013
Words:959
Previous Article:Die onsienlike son.
Next Article:Kry my by die gewone plek aguur.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |