Printer Friendly

Karnaval en Lent.

Karnaval en Lent

T T Cloete. Tafelberg-Uitgewers. 2014.

160 pp. ISBN 978-0-624-06774-0.

DOI: http://dx.doi.org/ 10.4314/tvl.v52i1.23

Karnaval en Lent is T T Cloete se tiende digbundel. Soos in sy voorafgaande bundels, maar meer pertinent hier, staan die spanning tussen die vleeslike en die geestelike, die soma en die pleroma. Die bundeltitel verwys na twee pole: die karnaval, die uitspattige fees in die Rooms-Katolieke kalender, en dan die Lent, die sober vastyd wat volg op die karnaval.

'n Sentrale visuele interteks waarna daar telkens teruggekeer word in die gedigte, is die bekende skildery uit 1569 van Pieter Brueghel de Oude, Die geveg tussen Karnaval en Lent, waarin wereldse feesvieringe teenoor geestelike instellings gestel word; die vark, simbool van onreinheid en vraatsug, teenoor die vis, simbool van Christus en van reinheid.

Deur die gedigte word daar dan telkens voortdurende, onopgeloste (en onoplosbare?) uiterstes (Karnaval en Lent is immers "een gedig", aldus die bundel se subtitel) teenoor mekaar gestel: oordaad teenoor tekort, rykdom teenoor armoede, ekstroverte uitleef teenoor pietistiese inkeer, seksuele aktiwiteit teenoor die dood, "in die eindelose onbesliste swaar / Geveg tussen Karnaval en Lent // kerk en kroeg// vismark en varkhok", 'n geveg wat "geen vredesverdrag of gewapende stilstand [ken] nie" ("Brueghel bestry Descartes en Kant", 24-5).

In die eerste gedig, "Vooraf", word 'n tema in die vooruitsig gestel wat verder in die bundel ontgin word, naamlik sterk kritiek op die vermeende intellektuele verklaringsvermoens van die mens, en dan spesifiek van sekere wetenskaplikes en astrofisici:
   die oersop aan die begin is konsuis
   gegis in die sielige
   wetenskaplike kombuis

   alles word daar geweeg getel en gemeet
   deur mense wat gevangenes
   van hulle eie intellek is

   alle ken en weet
   of ontken van die Daarvoor
   berus dus op 'n dun slymerige
   sopperige metafoor

   die metafoor is hart en siel van die gedig dus
   is dit onbetwisbaar dat alle wetenskap op 'n

   gedig berus


Hierdie wetenskaplikes ry ook aan die pen in "lewensafrigters" (116): "daar was ook geen ander digters as Hy / alleen nie / geen oorbodige lastige filosowe en teoloe / of astrante astrofisici wat aan Hom torring nie".

In die eerste afdeling, "Gedigte wat ek nie graag wou skryf nie", word die tematiek van teenoorstaande spanninge aan die bod gestel, asook die deurlopende motief van eet en die daarmee gepaardgaande, sikliese gevolg, uitskeiding. In "kat" lees ons: "ek vra vergifnis omdat ek die onreine / in my pynlike peins / saam met die spartelende vis indra" (15); in "die drie stadia": "uiteindelik sal ons sterf met vet om ons lippe / en vleis tussen ons tande as die armaggeddon kom" (17); "hoe onrein en aards is die grondstof/van my sublieme bepeinsing" (18); en in "Brueghel bestry Descartes en Kant": "ek eet / daarom is ek" (23).

Die verbruikersgemeenskap kom telkens onder skoot; in "dronk gedraai iv" staan daar: "ons eet van tafels af wat bemes is / met die herwinning van ons eie afval en uitskot / vasgevang in die siklus wat deur ons papille / gedryf word // die onstuitbare kringloop van tafel> / toilet>tafel>toilet>seks>tafel // [...] ons die ondernemende ontwikkelaars konsumeer / die aarde met ons tande en tonge" (323).

In die afdeling "Die middelpunt en die teewig" staan die soeke na en erkenning van God sentraal en dit word voortgesit in die volgende afdeling, "Hutspot", waarin, soos reeds bekend uit die Cloete-oeuvre, die heel kleinste met die heel grootste gejukstaponeer word. Die vervlegtheid van alles word weer in 'n entelegiese kragveld gestel--die verbandlegging tussen alles wat in die kosmos, as uitdyende Goddelike organisme, bestaan, en dit word met dikwels kinderlike verwondering beskryf, vergelyk die gedig "hutspot" (64):
   die nietige wegkruip-gansogie en die groot
   sonsoeker-sonneblom het dieselfde volmaakte
   identies geordende spirale

   gemaak deur dieselfde geniale
   Onbemande Krag
   is die misantropiese gesig
   van die hottentotsgod
   en Iwan die Verskriklike

   saamgestel in dieselfde saamvat
   kom die ribbok of nog mooier
   die koedoe met sierlike horings
   die stokinsek en die allermooiste
   teer vlinder Pisces Austratis
   en die vis
   Ichthus


Kritiek op die mensdom word nog sterker uitgespreek in die afdeling "Die onbemande krag': "hulle gaan Hom / as Hy in hulle hande val / uitsnuffel en doodmaak met sy eie instrumente / waarmee Hy hulle toegerus het / 'n mak gemaakte weerlig / 'n mak gemaakte meteoriet in 'n koeeldoppie // god vrees die mensvresende mense" (71). Ook: "ons is die vermeteles wat ons wonderlike self / onsself toe-eien en toereken / as onafhanklikes // [...] ons wat steels die Gans Andere eers na-doen / / en in en met sy eie stem hom daarna ontken" ("ploeg", 75-6). In "god lees koerant nadenkend" mymer God as liriese subjek: "ek het berou die eiegeregtige vrate / is te veel snoep klein happies / van my geheime toegelaat" (84).

Die kritiek teen die verworde mensdom en die verbruikersbestaan bereik 'n hoogte punt--dikwels satiries-parodies--in die afdeling "Antroposeen" ('n term wat in die bundel verklaar word as "'n informele geologies chronologiese term wat dien om die getuienis en omvang van menslike aktiwiteite wat 'n betekenisvolle globale impak op die aarde se ekosisteme gehad het, te kenskets" (my vertaling). Die sikliese aard en (onder)gang van die mensdom word kragtig en byna aforisties op die bekende Cloete-manier in die volgende strofe vasgevang: "bedelaars by stopstrate / en prostitute vir penisse van getroude selibate / is die kinders van die fallus / en eier wat eksponensieel / eier en maag en eier en maag teel" ("vyf brak kolle 2", 97). In "nieu-karnaval: sitstaking in londen of washington" word daar skerp sinies sosiopolitieke kritiek gelewer op diegene wat "op sypaadjies van die metropole / ontlas en urineer [.] tussen slymerige kondome / en tente vir die avontuur om postpostmodern riskant / te lewe" (110). En die slot van "lewensafrigters" is meedoenloos (118):
   ons die afstammelinge van die taai
   Skeurvallei en die hoe Hoeveld
   het noudat ons van Hom oorgeneem het
   week lewensafrigters geword
   (ek walg my siek van die woord
   hierdie teengif wat van gif gemaak is)
   wat deur bleek afrigters afgerig word
   vir die wekes wat ly aan angs aan stres
   trauma vrees neurose psigose

   afgerigte afrigters rig afrigters af

   my God my God ontferm U oor ons
   om ons soos honde en perde
   katte en papegaaie af te rig
   om te lewe


Die liriese subjek vra ook in "mi gruwelt" (met die inspeling natuurlik

op die mistiese digter Hadewijch) dat, as hy kan terugkeer, dit nie weer as "'n vandag se gruwende // afgerigte geoefende / gedresseerde / mens [is] nie" (121).

Die afdeling "Die onsigbare sprong" bevat onder meer pragtige gedigte oor jeugherinneringe en verse aan vriende en mededigters Heilna du Plooy, Joan Hambidge en Johann de Lange. In veral die derde vers aan De Lange ("onontsyferbare syfers") spreek Cloete se vermelde entelegiese verwondering duidelik.

Die bundel word afgesluit met die briljante "Agteraf":
   op sy beurt is die gedig omvattend geinteresseer
   in die beleefbaar eksistensiele benoembare
   en vermoedelike onnaspeurbare Onbenoembare:

   hoe die vis deur my ingewande gekonsumeer
   word tot drek en tegelyk Ichthus simboliseer

   die iiggaam kan selfs as hy vermink is
   homself in 'n raptus mentis
   tot die eteriese sublimeer

   die gedig verklaar
   die omblom van soma in pleroma
   is en bly onverklaarbaar

   die gedig wil die geveg tussen karnaval en lent
   in 'n onbesliste gewapende stilstand op die ou end
   in taal besweer


Karnaval en Lent is 'n waardige toevoeging tot Cloete se oeuvre; 'n merkwaardige bundel deur 'n merkwaardige digter.

Henning Pieterse Henning.Pieterse@up.ac.za Universiteit van Pretoria Pretoria
COPYRIGHT 2015 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2015 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:text in Afrikaans
Author:Pieterse, Henning
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:May 6, 2015
Words:1207
Previous Article:Skulp.
Next Article:[VII].

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters