Printer Friendly

Jonkvrou.

Jonkvrou

Jean-Claude van Rijckeghem en Pat van

Beirs, uit die Nederlands vertaal deur Daniel

Hugo. 2011. Pretoria: Protea Boekhuis.

254 pp. ISBN: 978-1-86919-501-4.

Daniel Hugo het al 'n lang lys vertalings uit Nederlands op sy kerfstok, en 'n verskeidenheid tekste daarby: gedigte van Gerrit Komrij (2005), David van Reybrouck se speurtog op die spoor van Eugene Marais en Maurice Maeterlinck (Die plaag, 2003) en veral die Vlaming Tom Lanoye se outobiografiese tekste, mees onlangs Sprakeloos (2011), om werklik net 'n paar tekste te noem. Met Jonkvrou wyk Hugo af van die vertaling van bekende skrywers en digters soos Lanoye, Harry Mulisch of Herman de Coninck en waag hy hom aan die vertaling van 'n historiese jeugroman--beslis 'n interessante projek vir Hugo en Protea Boekhuis om aan te pak.

Jonkvrouw is oorspronklik in Vlaandere gepubliseer en het 'n hele aantal pryse verwerf. Hierdie toekennings is blyke van Jonkvrou se sukses in Vlaandere en Nederland en die agterplat van die Afrikaanse vertaling verklaar ook dat Jonkvrou tot die hernieude populariteit van die historiese roman gelei het. Die skrywerspaar Jean-Claude van Rijckeghem en Pat van Beirs het ook al 'n aantal ander jeugboeke geskryf asook 'n filmdraaiboek.

Die roman speel in die veertiende eeu in Vlaandere af en die verteller en hoofkarakter is Marguerite van Male, die enigste dogter van haar pa, die graaf van Vlaandere. Haar ma is geestelik ongesteld na herhaalde pogings om aan 'n manlike erfgenaam geboorte te gee. Marguerite is eiesinning en traag om al die reels van vrouwees te leer (soos dat haar voorste hare uitgepluk word om haar 'n hoer voorkop te gee) en stel eerder belang in manlike tydverdrywe. Sy oorreed die kasteel se smid om vir haar 'n klein swaard te vervaardig en leer by die kombuisjongens vloek, maar sy vloek nie meer as wat nodig is nie, dit wil se nie meer as tien of vyftien keer per dag nie! (25). Die een dag is Marguerite nog 'n kind wat saam met die seuns van ander adellikes kwajongstreke uithaal, en dan is sy dertien, veertien jaar oud en raak verlief op Willem van Sindewint, maar Willem gaan weg om 'n ridder te word en Marguerite weet dat sy eersdaags sal moet trou met die man wat haar pa aanwys. Groot geskiedkundige gevolge is gekoppel aan haar besluit: as sy met die prins van Engeland trou, word Vlaandere Engels na haar pa se dood; as sy met die hertog van Frankryk trou, bly Vlaandere onder Franse heerskappy, iets wat nie die invloedryke gildes Vlaandere tevrede sal stel nie. Marguerite se pa besluit op eersgenoemde opsie, maar kon natuurlik nie voorspel dat Marguerite juis by haar neef, die Franse hertog, sou aanklank vind en hoegenaamd nie by die Engelse prins Edmund nie: "Hy is een van die lelikste mense wat ek al ooit gesien het" (171). Marguerite wend haar tot die uiterste oplossing om nie met Edmund te hoef te trou nie. Sy is suksesvol, maar teen 'n prys.

Jonkvrouw is vlot en onderhoudend geskryf en bevat interessante inligting oor Europa tydens die Middeleeue, byvoorbeeld bygelowe en rituele, skoonheidsmiddels en -opvattings (soos die vroue se hoe voorkoppe), die rol van die Katolieke Kerk, veldslae soos die slag by Poitiers, ensovoorts. Die pragtige Middeleeuse stad Brugge (wat vandag nog baie van daardie era oorhou) speel ook 'n rol in die roman. Soms is die gedeeltes van die roman waarin daar breedvoerig verduidelik word van Marguerite se skermlesse en haar perdry-avonture effens aan die lang kant en verbreek dit die spanningslyn. Hoewel dit sinvol is om Marguerite se verset teen die Middeleeuse rol van die vrou uit te beeld, is dit wat die leser nuuskierig hou juis die vraag na wie uiteindelik Marguerite se hand gaan wen. Die oormaat aan geskiedkundige anek dotes skep soms die indruk dat die verhaallyn eintlik maar yl is, en die feit dat ook die pes aan die einde van die roman figureer, bevestig moontlik geykte idees oor die Middeleeue. Die pes is die deus ex machina wat die verhaalgebeure bevredigend laat eindig vir die moderne leser wat moontlik in die versoeking verkeer om Marguerite se vurige feminisme as vanselfsprekend te aanvaar.

Daniel Hugo se vertaling is maklik leesbaar en dikwels kreatief aangepak, byvoorbeeld by die vind van ekwivalente vir beledigings, dreigemente en kru taal wat volop in die roman is. Soos by die meeste van Hugo se vertalings kan die kritiek egter hier en daar gelewer word dat sekere Nederlandse segswyses te sterk behoue gebly het, veral wat betref konstruksies wat "gaan" behels, byvoorbeeld in die sin, "[m]y vader [...] gaan [...] dikwels na Sluis [...] (95). Die natuurliker Afrikaanse vertaling sou tog gewees het, 'my vader gaan dikwels Sluis toe' (of na Sluis toe'), met 'toe' as 'n belangrike merker van idiomatiese Afrikaans. Gelukkig (of helaas) sal die gemiddelde tienerleser weens die invloed van Engels waarskynlik nie hierdie onnatuurlike konstruksies raaklees nie.

Die grootliks knap vertaling en die bekroonde oorspronklike ten spyt, bly die vraag of Jonkvrou hoegenaamd iets te se het vir SuidAfrikaanse tieners. Die historiese gegewe van Vlaandere in die Middeleeue is ongetwyfeld interessant vir hedendaagse Vlaamse jongmense, maar sal Afrikaanse lesers enigsins die nodige kennis dra van die huidige politiek van Belgie wat die roman (ten minste gedeeltelik) sy relevansie gee? Die Nederlandse tiener Elyse de Sloovere mag dalk op Facebook te kenne gee dat Jonkvrou die "beste boek ooit!" is, maar ek twyfel of Afrikaanse lesers dermate opgewonde sal raak.

DOI: doi.org/10.4314/tvl.v49i1.24

Jacomien van Niekerk

Universiteit van Pretoria

Pretoria
COPYRIGHT 2012 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2012 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:van Niekerk, Jacomien
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Article Type:Book review
Date:Jun 26, 2012
Words:916
Previous Article:Oor en weer.
Next Article:Vrededorp.
Topics:

Terms of use | Copyright © 2018 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters