Printer Friendly

Jan Scholtemeijer, Plautus Praat Vlot Afrikaans. Vier komedies van Titus Maccius Plautus in Afrikaans vertaal.

Jan Scholtemeijer, Plautus Praat Vht Afrikaans. Vier komedies van Titus Maccius Plautus in Afrikaans vertaal, met 'n Inleiding deur Koos Kritzinger. Pretoria, Cordis Trust Publikasies, 2012. Pp. 202. Fotobylae i-x, DVD van Potparanoia (Aulularia). ISBN 978-0-620-53104-7. Prys R120. Rig navrae aan koos.kritzinger@up.ac.za.

In sy Inleiding verduidelik Kritzinger dat Scholtemeijer met sy Plautus-verwerkings beoog het om weergawes te skep wat nie stokkerig was nie, maar geleef het en wat die 'karnaval atmosfeer met sy lawaai en musiek, met sy uitbundigheid' sou laat hoor het (p. 2); dat Scholtemeijer gevoel het 'dat die eindproduk in natuurlike Afrikaans sou wees wat op die verhoog sou werk' eerder as 'n 'studeerkamer- of leeslampvertaling' (p. 2). In die verwesenliking van hierdie doel is die hulp van die studente van die Dramadepartement van die Universiteit van Pretoria onder leiding van Carel Trichard (en Estelle Zeeman vir Die Spookhuis) ingespan, wat die teks 'terwille van die komiese trefkrag en die opvoerbaarheid' verder aangepas het (p. 2, 4). Vir twee van die opvoerings is musiek deur Stefans Grove en Karin Hougaard gekomponeer (p. 5). Die Inleiding gee verder inligting oor die produksies van die vier stukke, asook besonderhede oor die DVD (p. 6-8).

Die vier komedies in die bundel is Brigadier Bek (Miles Gloriosus [MG], 1984), Die Gebodder met die Broeders (Menaechmi [Men.], 1979), Die Spookhuis (Mostellaria [Most.], 1986) en Potparanoia (Aulularia [Aul.], 1991). Die Afrikaanse titels verkondig onmiddellik dat die toneelstukke nie akademiese of 'akkurate' vertalings van die oorspronklike stukke is nie, maar verwerkings vir die verhoog wat ook hulle eie humor wil skep. Scholtemeijer slaag uitmuntend daarin om die komiese effekte van situasie (verwarring van identiteit, vermomming, tersydespraak) en dialoog (slegseery, gevloek, woordspeling), wat deel was van die oorspronklikes, te herskep. In hierdie verwerkings praat die karakters werklik vlot Afrikaans wat die lagspiere prikkel.

Hier is net ruimte om drie aspekte uit te lig. Eers is daar die name van die karakters, wat in die oorsponklike Grieks vir 'n hedendaagse gehoor heeltemal vreemd en onverstaanbaar sou wees. Die karakters word met pittige Afrikaanse name herdoop, om iets van die oorspronklike name se 'betekenis' en woordspeling weer te gee (waar dit bepaalbaar is). Byvoorbeeld, in MG word die grootpraterige soldaat Pyrgopolynices (Gr. purgos, 'n toring + poluneikos, veel-oorwinnend) as Brigadier Bek voorgestel; die parasiet Artotrogus (Gr. artos, brood + trogein, om te kou) word nou Jabroer en die skelm slaaf Sceledrus (wat die Latynse woord scelus, 'misdaad', oproep) Drommel. In Men. word die parasiet Peniculus (Lat. peniculus, borsel), wel--Borsel, en die kok Cylindrus (Gr. cylindros, beker, silinder) heel paslik Vaatjie genoem. In Most. is die handelaar Theopropides (Gr. theopropos, siener, profeet) Piet Staar, die buurman Simo (Gr. simos, stompneus) Koos Neus, Callidamates (Gr. kalli, goed + damazein, bedwing, tem) Ben Breker, en die geldskieter Misargyrides (Gr. misein, haat + arguros, silwer) Sep Sikspens. In Aul. klink die bediende Staphyla se nuwe naam Stoffila nes die Griekse naam (staphula, druiwetros) en ook soos die Afrikaanse stoflap; die buurman Megadorus (Gr. mega, groot + dora, geskenke) is Barend Beursen, die slaaf Strobilus (Gr. strobilos, warrelwind) is Warrel, en die kokke Congrio (Lat. conger, seepaling) en Anthrax (in Gr. en Lat. houtskool) is Vlam en Vonk. Daarteenoor word die ouman Periplecomenus in MG net Oubaas, die vindingryke slaaf Palaestrio Rakker, en die vrou Philocomasium, sowel as die prostituut Erotium in Men. en die meisie Philematium in Most. almal Liefie genoem.

Ander name en verwysings word deur middel van Afrikaanse ekwivalente vir die gehoor en leser toegankliker gemaak. Quemne ego seruaui in campis Curculioniis, | ubi Bumbomachides Clutomestoridysarchides | erat imperator summus, Neptuni nepos? (MG 13-15) kry nuwe lewe en komiese effek as 'Juis, dis mos sy lewe wat ek laas op die Knersvlakte gered het. Generaal Boksom Boksemdaais was mos toe die opperbevelhebber ... hy's mos 'n kleinseun of so iets van koning Neptunus' (p. 13). Scytholatronia (MG 40) word die Swartsee (p. 14), Sardeis die Sardiers, Macedones die Masedoniers, maar Cilicia (MG 39) word verander na Sisilie (p. 14, vermoedelik 'n fout).

Die tweede aspek is die vloekwoorde en uitroepe. Scholtemeijer wys weer sy vindingrykheid om gepaste Afrikaanse kragwoorde te kry. Edepol word weergegee as 'aag, u weet', 'verdomp' of 'maggies', hercle as 'wragtag', pol as 'sowaar', vae mihi misero (MG 180) as 'wragtag dat ek ...' (p. 18), euge, euscheme hercle (MG 214) as 'Pragtig! Pragtig!' (p. 19-20), conmerui malum (MG 531) as 'Slaat my dood!' (p. 32), St. Tace (MG 985) as 'Sjuut' (p. 49), vah (MG 962) as 'Ag toe nou' (p. 48) of 'ag jittetjie tog' (Most. 457; p. 134), V deli u' (MG 984) as 'Ag, u is nou skoon laf' (p. 49), sat edepol certo scio | occisam saepe sapere plus multo suem (p. 586-87) as 'Siestog. 'n Geslagte speenvark het meer verstand as hy' (p. 34), malum (Most. 6, 34) as 'vervlaks' (p. 119, 120), perii (Most. 9) as 'Eina!' (p. 119), dignissumumst (Most. 52) as 'dis bakgat' (p. 120), ecastor (Aul. 279) as 'Ag aardetjie tog' (p. 175), en absumpti sumus (Most. 365) as 'ons het ons "chips" gehad' (p. 130).

Die derde aspek is die kwinkslae, geskel en gevatte dialoe tussen base en slawe en tussen die slawe onderling. Ego uostra faciam latera lorea (MG 157) word 'laat ek julle rue aan repies slaan' (p. 18), Ibi dum condignam te sectatu's simiam (MG 505) word uitgebrei tot 'toe jy agter daai bleddie aap van julle aan is--net so 'n slegte dierasie soos jy' (p. 32), furcifer (MG 545) word 'Swerkater!' (p. 33), Me habent venalem (MG 580), 'hulle dink ek is 'n bleddie fool' (p. 34), Nullumst hoc stolidius saxum (1024), "n Regte klipkop, hierdie vent' (p. 51), At te Iuppiter | dique omnes perdant (Most. 38-39), 'Te hel met jou, man' (p. 120), di bene vortant (Aul. 272) 'Goeie hemel' (p. 174), Non omnes possunt olere unguenta exotica (Most. 42), 'ons kan nie almal na "Mum for Men" stink soos jy nie' (p. 120), Abi (Most. 66) 'voertsek' (p. 120), vide ut fastidit simia ... impure parasite (Most. 886-87), 'Nes 'n bleddie aap ... jou bleddie parasiet' (p. 149), en faber (Most. 892) 'gatkruiper' (p. 149). Daar is ook idiomatiese herskepping: Tu fortu-natu's, ego miser: patinda sunt | meum bonum me, te tuom maneat malum (Most. 49-50) word weergegee as 'Jy't in die botter geval, ek's kniediep in die dinges. Dis die lewe daai. Maar elke hond kry sy dag' (p. 120), en ferocem facis, quia te erus amat ... quia fumus molestust (Most. 890-91) as 'Grootbek, ne? Die baas se witbroodjie ... Ja, van al die robbies wat jy praat' (p. 149).

Die ergste van Plautus se uitdrukkings word om verstaanbare redes (die stukke is immers voor skoolkinders opgevoer) op 'n beleefder wyse gestel (soos ook in die Loeb- en Bude-vertalings): Itaque hic meretricis, labiis dum ductant eum, | maiorem partem uideas ualgis sauiis (MG 93-94) word 'voor hom maak die asters vir hom ogies; agter sy rug trek hulle vir hom skewebek' (p. 16); Impero auctorque <ego> sum, ut tu me cuivis castrandum loces (Aul. 251) word 'gee ek jou toestemming, nee, beveel ek jou om my te ontman' (p. 174), en Bellum et pudicum vero prostibulum popli (Aul. 285) word 'Hoor so 'n lieplapper! (p. 175).

Natuurlik is daar ook weglatings, uitbreidings (voetbal word in die lys sportsoorte bygevoeg, p. 122!) en aanpassings, almal in diens van groter komiese effek op die verhoog.

Die taalversorging en tegniese afwerking is goed; daar is net enkele glipse: 'dis verseker' i.p.v. 'dis vir seker', 'weereens' i.p.v. 'weer eens', 'onmiddelik' i.p.v. 'onmiddellik' en 'ookal' i.p.v. 'ook al'.

Die boek word sterk by belangstellendes aanbeveel; en hopelik verskyn daar 'n regisseur wat hierdie verwerkings weer op die verhoog sal laat praat.

Koos Kritzinger is ons dank verskuldig, nie net vir die Inleiding nie, maar vir die leidende rol wat hy gespeel het in die projek om hierdie toneelstukke te versamel, versorg en publiseer. Die geheel is 'n passende huldeblyk aan Jan Scholtemeijer.

W.J. Henderson (Universiteit van Johannesburg)
COPYRIGHT 2013 Classical Association of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Henderson, W.J.
Publication:Acta Classica
Date:Jan 1, 2013
Words:1322
Previous Article:Beryl Rawson (ed.), A Companion to Families in the Greek and Roman Worlds.
Next Article:Suzanne Sharland, Horace in Dialogue: Bakhtinian Readings in the Satires.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2020 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters