Printer Friendly

G.R. von Wielligh se nalatenskap.

Von Wielligh, G.R. 2009. Versamelde Boesmanstories I. Samest. Hennie Aucamp. Pretoria: Protea Boekhuis. 257 p. Prys: R140,00. ISBN: 978-1-86919-288-4.

Ek was jonk toe ek die eerste keer in ons dorpsbiblioteek op Boesmanstories versamel deur G.R. von Wielligh, afgekom het. Die vier gehawende boekies was met kleeflint reggemaak en blaaie het makeer. Die vreemde stories het my bekoor en 'n durende fassinasie met oerverskynsels, -gebruike en -gewoontes gevestig: die vreemde naam vir 'n Hottentotsgot, die boeiende verklarings vir reen en wolke, of die waterslang met die blink steen op die voorkop. Dit is eers jare later dat ek agtergekom het dat die verslete storieboeke op die kinderboekrakke eintlik onder religie, skeppingsverhale of inheemse literatuur tuishoort. Hierdie stories was meer as net vreemde verklarings vir bekende dinge; totale geesteswerelde en lokale kosmologiee is daarin opgesluit.

Die huidige uitgawe van Boesmanstories is versorg met 'n inleidende voorwoord deur Hennie Aucamp. In die voorwoord plaas Aucamp Von Wielligh as figuur in sy omgewing, teen die konteks van die navorsing van Wilhelm van Bleek en Lucy Lloyd en hy sluit af met 'n kort oorsig van die huidige stand van die Von Wielligh-navorsing Veral interessant is Aucamp se raak opmerking dat Afrikaans tussen die inheemse vertellers en Von Wielligh, die optekenaar, as "brugtaal" gedien het: "Bleek se Boesmanstories is aan hom gedikteer; Von Wielligh het sy stories binne spontane vertelsituasies ervaar" (p. 14). Elders het ek my uitgespreek teen die gebrek aan navorsing rondom die folkloristiese in Afrikaans. In die literatuur en oratuur het ons hierdie "brugtaal"-konsep nog nie genoegsaam ondersoek en ontwikkel nie. Daar is nog veel om te doen.

Bleek en Von Wielligh se werk het min of meer op dieselfde tyd tot stand gekom. Hoor wat Von Wielligh self skryf: "[Dit] blyk dat dr. Bleek en ek ons materiaal omtrent dieselfde tyd op dieselfde oppervlakte versamel het--net hy het 'n paar Boesmans uit die binnelande naby Midden-Afrika en ek het een van die Transvaalse Boesmans gehad" (p. 144). Rondom Bleek en Lloyd se versameling, Specimens of Bushman folklore en die latere werk van Dorothea Bleek, het 'n tradisie van sekond6re handelinge en navorsing verskyn en in die laat-negentigerjare gedy. lemand soos Pippa Skotnes het byvoorbeeld 'n totale artistieke en akademiese reputasie daarop gebou, terwyl andere soos Stephen Watson en Antjie Krog omdigtings rondom die Bleek-versameling van San-vertellers tot stand laat kom het. Van Von Wielligh en sy nalatenskap is daar egter weinig te sien of te hoor. In een van Pippa Skotnes se jongste boeke, Claim to the country: the archive of Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd (2007)--terloops: een van die pragtigste onlangse boeke--word Von Wielligh siegs sydelings genoem. Ook in terme van Afrikaanse navorsing staan Von Wielligh en sy versameling op die periferie en dit is tot die hele akademiese gemeenskap se nadeel.

Dit het nie veel sin om in 'n Afrikaanse akademiese letterkundige tydskrif in volle besonderhede verslag te gee van die twee dele van Boesman- en diereverhale wat Aucamp hier as herpublikasie byeengebring het nie. Vir die meeste lesers van Literator behoort die oorspronklike stof redelik bekend te wees, maar vir die wis en onwis, 'n proeseltjie van die verhale. Vir my berus die kosbaarheid van Von Wielligh se versameling in die kosmologie van die San- en Khoemense wat in die verhale beskryf word, byvoorbeeld dat alles uit duisternis gebore is:
   In die ou dae was daar net 'n skemering [...] Dit was koud en
   die son, maan en die sterre het toe nog nie geskyn nie. Ou 'Ga
   (Nag) en sy vrou 'Gagen (Duisternis) het in die klipspelonk
   gewoon. Hulle het nie seuns gehad nie, maar drie dogters.
   (p. 32.)


Of hoe sterre tot stand gekom het: "Maan het voortgekom uit die regterskoen van Hottentotsgot of 'Kaggen" (p. 81), of
   Son se twee seuns--Daeraad en Aandskemering--het van
   hulle jong dae af al nie met mekaar klaargekom nie. As kinders
   het hulle altyd getwis en wou nie bymekaar slaap nie." (p. 115.)


Naas die Bleeks en Lloyd se werk moet Von Wielligh se Boesmanen dierestories as van die belangrikste Suid-Afrikaanse kultuurhistoriese tekste gereken word. Met die navorsingsfokus wat deesdae in Suid-Afrika op inheemse kennisstelsels gerig is, bied Von Wielligh vir Afrikaanse lesers en navorsers 'n wonderlike geleentheid. Dit is met dankbaarheid dat ek hierdie volume ter hand geneem het. In sy aangepaste heruitgawe van die stories red Hennie Aucamp nie net Von Wielligh nie, maar ook hierdie skat van kosbare vertellings aan die vergetelheid.

Resensent: H. Willemse

Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria
COPYRIGHT 2009 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2009 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Willemse, H.
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Book review
Date:Dec 1, 2009
Words:747
Previous Article:Onbepaald op reis, verveling langs die pad.
Next Article:Baasskryfster steeds aan die woord.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2020 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters