Printer Friendly

G. Van N. Viljoen.

G. VAN N. VILJOEN (11.09.1926 - 29.03.2009)

Om 'n huldeblyk aan Gerrit Viljoen te skryf is moeilik, omdat hierdie werklik uitsonderlike man se vele voortreflikhede nie na reg onder woorde gebring kan word nie, maar aan die ander kant maklik omdat sy prestasies redelik wyd geboekstaaf is* (alhoewel hy self nooit aan eiereklame of eersug skuldig was nie).

Sy professionele loopbaan kan kortliks soos volg saamgevat word:

Gerrit van Niekerk Viljoen is op 11 September 1926 in Kaapstad gebore, vyf jaar voor sy vader, dr H.G. Viljoen, se aanstelling as professor in Grieks aan die Universiteit van Pretoria (UP). Hy matrikuleer in 1943 met sewe onderskeidings, wat indertyd 'n buitengewone prestasie was. Aan die UP behaal hy in 1946 die B.A.-graad met vier hoofvakke (Latyn, Grieks, Romeinse Reg en Romeins-Hollandse Reg), al vier met onderskeiding. Dit word gevolg deur 'n M.A. cum laude in Klassieke Tale in 1948.

Reeds in 1949 en 1950 beklee hy die pos van tydelike lektor aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) terwyl hy met sy LL.B.-studies voortgaan. In 1950 verwerf hy die Elsie Ballot-beurs en vertrek na Cambridge, waar hy in sy eerste jaar UP se finale eksamen vir die LL.B. met lof afle. In dieselfde jaar slaag hy ook die eerste deel van die Classical Tripos aan Cambridge, en tree op 4 Augustus in die huwelik met Magdalena van der Merwe. In 1952 slaag hy die tweede deel van die Classical Tripos in die eerste klas--die enigste Suid-Afrikaner behalwe Jannie Hofmeyr wat hierdie hoe prestasie aan 'n Britse universiteit (Oxford) kon behaal.

Van Cambridge vertrek die Viljoens in 1952 na Leiden, waar Gerrit drie jaar later promoveer met 'n proefskrif getitel Pindaros se Tiende en Twaafde Olimpiese Odes, wat onder andere deur die beroemde Britse klassikus H.J. Rose baie hoog aangeprys is (Rose het Hollands geken en kon dus Afrikaans lees).

In 1956 aanvaar Viljoen 'n senior lektoraat en word hoof van die Departement Klassieke Tale aan UNISA, waar hy 'n jaar later bevorder word tot professor.

Op 1 Maart 1967 word hy aangestel as die eerste rektor van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU, tans die Universiteit van Johannesburg), waar hy 'n reuse taak verrig in die vestiging van hierdie nuwe universiteit. Op 1 Augustus 1979 word hy Administrateur-Generaal van die destydse SuidwesAfrika, en veertien maande later word hy in die Suid-Afrikaanse kabinet opgeneem as Minister van Nasionale Opvoeding. Tot en met 1992 behartig hy verskeie portefeuljes in die kabinet met sy kenmerkende oorgawe en pligsbesef (daar word beweer dat 'n sekere staatspresident by geleentheid opgemerk het dat Gerrit Viljoen die enigste minister is wat a/ die stukke voor 'n kabinetsvergadering deeglik deurwerk).

Dat hy gedurende sy termyn as minister met sy suiwer denke en integriteit 'n ingrypende, hoewel onbesonge, kentering in regeringsbeleid help bring het, word getuig deur lede van daardie binnekring. So het oudpresident F.W. de Klerk van hom gese: 'As kabinetslid het hy uitstaande bydraes gelewer tot goeie regering. Hy het die grondslag help le vir die suksesvolle onderhandelings, die vreedsame oorgang na 'n nuwe bedeling en die omskepping van Suid-Afrka in 'n regstaat' (Die Burger, 30.03.2009). In November 1992 tree hy om gesondheidsredes op eie versoek uit die kabinet. Hy is op 29 Maart 2009 na 'n uitmergelende siekbed oorlede. Sover dan die oorsig oor sy loopbaan.

Omdat ek vir sowat nege jaar lid was van sy Departement Klassieke Tale by UNISA, met 'n kantoor langs syne, wil ek nou op 'n meer persoonlike noot waardering betuig vir sy enorme bydrae tot die vestiging en uitbou van UNISA as doserende universiteit. Vir die aanbieding van kursusse deur afstandsonderrig moes weldeurdagte studiemateriaal de novo opgestel word vir Latyn en Grieks I, II en III, sowel as 'n beginnerskursus in Latyn vir die vele studente wat nie meer Latyn op skool kon neem nie. In die opstel van hierdie gidse en die nasien van die tallose werkopdragte van studente het Viljoen meer as sy kant gebring, al het die universiteitsowerhede en die nood van die universiteitsbiblioteek al hoe meer aanspraak gemaak op sy tyd: in senaatsvergaderinge was sy skerpsinnige bydraes tot debatte onontbeerlik, en ook die rektore het hom tydig en ontydig geraadpleeg.

Al hierdie newe-verpligtinge het egter nie sy bestuur van die Departement Klassieke Tale minder doeltreffend gemaak nie. Ons studiegidse is deur hom gefynkam, en ons kon eweseer aanprysing vir goeie werk as skerp kritiek vir slordigheid verwag: hy kon geen nalatigheid duld nie. Hy het ons weekliks laat vergader vir 'n bespreking van die jongste klassieke tydskrifte, en maandeliks (in aandsessies) vir volbloed seminare waar 'n kollega se voordrag onder Viljoen se leiding met vrymoedigheid ontleed en gekritiseer is, en waardering ons opgeskerp het om nog beter te probeer doen. Hy het ook benewens sy gesteldheid op filologiese presiesheid steeds daarop aangedring dat ons die klassieke literatuur as volwaardige woordkunswerke benader en ontleed. Van hom het ons inderdaad geleer wat akademiese integriteit is.

Een van sy grootste passies was die ontwikkeling van die universiteit se biblioteek ('n passie, terloops, wat hy by sy pa, 'prof. H.G.', geerf het). Hy het die hoofbibliotekaris, Hans Zastrau, bygestaan--en stellig geinspireer--in die opbou van UNISA se biblioteek, en danksy Viljoen se onblusbare geesdrif vir hierdie saak kan UNISA vandag nog met besmoontlik die beste versameling boeke oor die Klassieke in die land spog. Hy het vir Zastrau saam met hom oorgeneem na die RAU, waar hulle weer saam van die grond af 'n uitmuntende biblioteek met uitgesoekte personeel tot stand gebring het. Hy was ook vir tien jaar (1958-1968) lid van die Raad van Kuratore van die Staatsbiblioteek en vir vyf jaar voorsitter. In die lig van die onafwendbare kwyning in die belangstelling in die klassieke tale is Viljoen se betrokkenheid by die biblioteekwese en die beskikbaarstelling van inligting, naas sy politieke bydrae, stellig sy mees blywende kulturele nalatenskap.

Wat Viljoen se betrokkenheid by die KVSA en Acta Classica betref, die volgende. Onmiddellik na sy terugkeer uit Leiden in 1956 span hy en 'n paar ander klassici saam om die eertydse Klassieke Genootskap te laat herleef as die Klassieke Vereniging van Suid-Afrika. Hy dien dan ook vir een skof (1957-1958) op die nasionale bestuur van hierdie vereniging, waar hy ook sterk voorbrand maak vir die publikasie van die KVSA se Acta. Hy word reeds in 1957 aangewys as die eerste 'Redakteur en Sekretaris' (later genoem Hoofredakteur) van Acta Classica, waarvan die eerste uitgawe die datum 1958 dra. In hierdie eerste uitgawe betrek hy 'n tiental vooraanstaande buitelandse klassici en begin met die werwing van oorsese intekenaars. Hy inisieer ook 'n uitruilprogram wat mettertyd meebring dat sowat negentig klassieke tydskrifte jaarliks in ruil vir Acta Classica ontvang word. Hy wy hom met tipiese deeglikheid aan die versorging van die blad totdat hy (na agt uitgawes onder sy redaksie) in 1967 vanwee sy aanstelling as rektor uittree. In 1972 is hy as 'n Erepresident van die KVSA gekies.

Hy het in hierdie tien jaar groot belangstelling getoon in die stand van Latyn as skoolvak: so dien hy dan ook vir 'n paar jaar as sekretaris van die KVSA se Noordelike Streek, wat sterk op die onderwys van die vak gerig was, en hy lewer voordragte en skryf artikels oor Latynse outeurs wat vir matriek voorgeskryf is.

Tydens sy verloftyd by die Sorbonne in 1963 verteenwoordig hy die KVSA by internasionale kongresse in Aix-en-Provence, Strasbourg en Parys.

Reeds in 1954 het die bekende Leidse professor J.H. Waszink in 'n brief aan UNISA onder meer gese: 'Ook op de werkcolleges heefte de heer Viljoen zich doen kennen als een man van uitgesproken wetenschappelijke zin: steeds deeglik op de hoogte van de bronnen, zeer critisch in de bewerking van zijn materiaal, en in het bezit van de gaven om zijn gedachten duidelijk in goede vormen te brengen.'

* Onder meer:

B. Louw & F. van Rensburg (reds.), Bestendige Binnevuur--Perspektiewe op Gerrit Viljoen. Tafelberg 1997.

B. Louw, 'Reguit soos 'n snaar.' Naweekbylaag in Die Burger 25.04.2009.
COPYRIGHT 2009 Classical Association of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2009 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:IN MEMORIAM
Author:Kriel, Dawie
Publication:Acta Classica
Date:Jan 1, 2009
Words:1333
Previous Article:Raising one's standards? Domitian as model in Ammianus 14.1.10.
Next Article:John Hilton & Anne Gosling (edd.), Alma Parens Originalis? The Receptions of Literature and Thought in Africa, Europe, the United States, and Cuba.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |