Printer Friendly

Fragmente uit die Ilias.

Fragmente uit die Ilias.

Homeros. Vertaal deur Cas Vos. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014. 160 pp.

ISBN: 978-1-4853-0181-3.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.32

Die Ilias en Odusseia van Homeros behoort tereg tot die hoogtepunte van die wereldletterkunde. Hoewel daar die afgelope tyd 'n groot aantal Engelse vertalings hiervan verskyn het, is die enigste volledige vertaling in Afrikaans nog steeds die van die Stellenbosse klassikus J. P J. van Rensburg wat in die middel van die vorige eeu gepubliseer is. Van Rensburg se vertaling, hoewel baie noukeurig, is egter taamlik argaies en prosaies en slaag nie daarin om reg te laat geskied aan die poetiese aard van die eposse nie. Cas Vos, 'n teoloog en digter met verskeie digbundels op sy kerfstok, se poging om 'n vars, nuwe vertaling van 'n keur van uittreksels uit die Rias in digterlike formaat te lewer, moet dus van harte verwelkom word.

Die eerste helfte van die werk word in beslag geneem deur drie inleidende hoofstukke. Die eerste hiervan--ietwat onvanpas getitel "Homeros se afdrukke" aangesien dit om veel meer as net die "afdruk" (impak?) van Homeros handel--bespreek naas die invloed van Homeros ook die tipiese inleidingsvraagstukke soos die komposisie, outeurskap, taalgebruik, vergelykings en versmaat. Hierdie hoofstuk sluit 'n hele aantal aanhalings uit moderne werke in wat die invloed van Homeros uitnemend illustreer. Hoewel die hoofstuk verder heelwat interessante inligting vir die oningewyde leser bevat en selfs vir die ingeligte leser verrassende perspektiewe op die invloed van Homeros bied, is daar tog ook 'n paar sake wat pla. Die onderskeid tussen paragraaf 2 ("Die invloed van Homeros se werke") enersyds en paragrawe 5 en 6 ("Die Rias se invloed op die poesie" en "Die Rias se afdruk in die Afrikaanse poesie") andersyds is nie baie dui delik nie, aangesien paragraaf 2 ook na die invloed op poesie verwys. In al drie paragrawe word Homeros (dit wil se die Ilias en die Odusseia) dikwels gelyk gestel aan die mites waarop Homeros berus. So word daar byvoorbeeld op bl. 15 beweer: "Homeros bied ook die grondstof vir Seamus Heaney se voortreflike drama, The cure at Troy (1990)". In hierdie drama bied Heaney 'n weergawe van die mite wat ons uit Sophokles se drama Philoktetos leer ken. Hoewel daar verwysings na Philoktetos en Neoptolemos (die ander hoofkarakter in die mite) in die Ilias en die Odusseia te vinde is, is Heaney deur Sophokles en nie deur Homeros beinvloed nie. 'n Kleiner, meer filologiese probleem is die inkonsekwente spelling van Griekse eiename: so vind ons byvoorbeeld Heraklitos in plaas van Herakleitos; Plutarchus, Pindarus, Glaukus en Hesiodus naas Homeros, Philoktetos en Priamos. In die notas word verder vreemd genoeg dikwels na bybelse ensiklopediee en woordeboeke (byvoorbeeld The Dictionary of New Testament Background; The International Standard Bible Encyclopedia; The Eerdmans Dictionary of Early Judaism) as bron vir 'n Griekse mite of historiese feit verwys in plaas van na standaard klassieke naslaanwerke soos die Oxford Classical Dictionary of Brill's New Pauly. Laasgenoemde werke sou vir die leser wat verder wou lees oor Homeros van meer waarde wees as die bybelse naslaanwerke.

Die tweede hoofstuk, "Die Ilias op die weegskaal van die tyd", plaas die gebeure van die Ilias kortliks in historiese konteks (die titel is dus weereens nie heeltemal van toepassing nie), terwyl die derde hoofstuk, "Konteks", 'n baie nuttige en leesbare kort opsomming van die inhoud van elke boek van die Ilias gee.

Vos se weergawe van uittreksels uit die Ilias vind ons in die tweede helfte van die boek Uit sy "Besinning oor vertaling' in hoofstuk 1, paragraaf 7.2 is dit duidelik dat hy in die "omdigting" van die Griekse teks nie probeer om die oorspronklike versmaat direk weer te gee nie, maar nogtans probeer reg laat geskied aan die poetiese kwaliteite van die oorspronklike: "'n Vertaling vra ook na die musikaliteit en samevoeging van woorde en sinne. Die vertaler moet luister na die woorde wat hy kies en dit vergelyk met die letterlike betekenis van die oorspronklike taal. Hy moet dan die gevoelswaarde daarteen opweeg ten einde die geskikte toonaard en kadens te vind" (38). Daarbenewens moet die vertaler so ver moontlik rekening hou met die kultuurhistoriese konteks van die oorspronklike teks (40). Wanneer 'n mens Vos se weergawe lees, word jy inderdaad keer op keer getref deur die vars wyse waarop Grieks in Afrikaans oorgedra word. Ek gee slegs enkele voorbeelde wat redelik lukraak gekies is:

Toe die Daeraad die vroee oggend soos 'n nageboorte kleur, stuur Apollo vir hulle 'n kragtige wind. Hulle laat die mas regop staan en vlerk die wit seile oop. Die wind blaas haar asem teen die seile en die skip se kiel roer purper golwe. (Boek I 91)

Twis laat galm die strydkreet, hits die Achajers se harte aan, oorlogswoede pak hulle beet, die aarde sug, bloednat gesweet. (Boek VI 109)

Terselfdertyd moet die leser daarop bedag wees dat Vos se weergawe nie werklik 'n vertaling in die eng sin van die woord genoem kan word nie; daarvoor wyk dit te dikwels af van die Grieks. Ek noem 'n paar voorbeelde uit die begin van Boek I, met die letterlike vertaling van Van Rensburg ter vergelyking:
   Agammemnon en Achilles se nerwe is maar
      dun.

   Met die wroklied kry Zeus, die oppergod, sy
      sin.

   Wie laat die twis tussen die twee opvlam?
   Apollo los in blinde woede 'n donker pes.
   Agammemnon is die oorsaak van die onheil.
   Dit is hy wat die eer van priester Chruses
      krenk. (85)


In Van Rensburg se vertaling lui dieselfde gedeelte:
   [...] die plan van Zeus is voleindig!--ja, vandat
   Atreus se seun, koning van manne, en die
   goddelike Achilles vir die eerste keer in twis van
   mekaar geskei het. Wie van die gode het hulle
   twee dan in twis en stryd teen mekaar gestel?
   Leto en Zeus se Seun: woedend vir die koning,
   het Hy 'n bose pes dwarsdeur die laer verwek,
   en die manne het gesterwe, omdat die seun
   van Atreus sy priester, Chruses, beledig het.


Net hierna, op dieselfde bladsy, word "die sterkskeenplaat-Achajers" en "die gode wat hulle Olimpiese wonings het" (Van Rensburg) deur Vos vertaal met "julle ander oorlogbeheptes" en "die gode wat in Olimpiese herehuise in weelde leef", wat klaarblyklik die kultuurhistoriese konteks uit die oog verloor.

Vos se weergawe van die Ilias-uittreksels moet dus as 'n "indruk" of "resepsie" van Homeros beskou word, eerder as 'n vertaling. Lesers wat 'n kort indruk wil bekom van die Ilias sal baie vreugde he aan die goedversorgde en aantreklike band met die kragtige en frisse Afrikaans. Vir 'n nuwe Afrikaanse vertaling van die Ilias moet 'n mens egter nog wag.

Johan Thom

jct@sun.ac.za

Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch
COPYRIGHT 2015 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2015 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Thom, Johan
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Article Type:Book review
Geographic Code:6SOUT
Date:Mar 22, 2015
Words:1107
Previous Article:The Road of Excess.
Next Article:in a burning sea. contemporary Afrikaans poetry in translation.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters