Printer Friendly

Donkerkamer.

Donkerkamer. Fourie Botha. Kaapstad: Queillerie. 2011. 80 pp. ISBN: 978-0-7958-0022-1. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v49i2.17

Net soos in die digbundels van Loftus Marais en Melt Myburgh word die leser in Fourie Botha se debuutbundel blootgestel aan 'n unieke perspektief op manlikheid en manlike seksualiteit. Soos in die geval van Marais en Myburgh is daar die seminale knik in die rigting van Johann de Lange wat ook deurlopend in sy werk oor hierdie tema dig--trouens, Botha se gedig "Nagsweet" tree direk met De Lange in gesprek. Dit sal 'n interessante ondersoek wees om te kyk in watter mate De Lange die vaderdigter of precursor in hierdie bundel is, met wie daar afgereken word en in welke mate die jong digter die diskoers van die ouer digter naskryf, inskryf in sy werk of selfs oor-skryf.

Soos te verwagte van Botha se titel, gaan die leser hier te doen kry met foto's, die ontwikkeling van foto's en van afdrukke, maar ook die donker kamer wat mens byvoorbeeld in gay klubs aantref en wat uitsluitlik die domein van man-man-seksualiteit is. Botha sluit byvoorbeeld etlike foto's in van mans (hoekom dit nie teenoor die betrokke gedigte afgedruk is nie, weet ek nie. Is dit om saam te praat as ingevoegte tekste?), van die manlike liggaam in onderbroeke, in die macho-konteks van die weermag of die gestileerde foto's van die Les Dieux du Stadesportmanne met hulle uitlokkende homososiale poses. Botha se gedig, "Lunch II" wat op een van hierdie foto's gebaseer is, vang die essensie van die afdruk besonder gepas vas: die twee adonisse met hulle ferm boudjies, die nuuskierigheid of hulle goed genoeg lyk op die foto en dan die vrou met "die donker kieliebak" vir wie (anders as vir ons as die voyeuristiese kykers en kopers van die kalender) dit maar net nog 'n dag se werk is.

Botha se bundel word in drie afdelings aangebied: "Bedgebied", "Skoot" en "Roberts Birds", maar die eerste gedig in die bundel heet, "Foto van my pa se gesig". Weer eens, net soos by beide Loftus Marais en Melt Myburgh wend die jong digter hom tot die vaderfiguur en word 'n insiggewende psigologiese spel met die vader en die houvas van die vader geaktiveer. In 'n latere gedig in die bundel, "Ornitologie" (71), word ook verwys na die vaderfiguur in sy hoedanigheid as skoolhoof en word aan die hand van 'n reeks voelbeelde die vader-seunverhouding ondersoek.

'n Aspek van die bundel wat ek besonder boeiend vind, is die mate waarin Botha byvoorbeeld die foto's van John Liebenberg oor die hoogbloei van die gemilitariseerde Suid-Afrikaanse samelewing gebruik as vertrekpunt vir sy gedigte. In "Ombalantu" (38) word die foto op bladsy 75 die prikkel vir die volgende gedig:
   Here, hoe gee 'n mens
   'n byskrif vir so 'n foto?
   Twee troepe: bronstig
   na 'n stort-sonskyn
   op hul bruin flanke
   (jy kan jou die kontoere
   van hul roere net-net
   onder die handdoekies verbeel)--
   slenter oor die parade
   verby 'n bult ontbinde mens:
   'n hoop verkoolde film
   op 'n draagbaar, beurend
   teen die donkerkamers
   van die brein.


Op bladsy 15 word weer 'n foto van 'n aanmeldingsparade van rekrute afgebeeld in allerhande verskillende tipes onderbroeke. Dit vorm die grondslag vir die gedig "Ek was toe mos net 'n kind" (69) waarin die dienspligtige met sy ma praat en vra: "Ma, is dit sonde om oor die dooies te droom? / Die onderbroekies soos duifeiertjies." Weerloosheid en weerlose maskuliniteit ten tye van oorlog word gestel teenoor die falliese "pishorings soos R1's" in "geruite boxers". Hierdie idee van weerlose maskuliniteit word ook aangetref in die gedig oor die akteur Owen Wilson wat probeer self-moord pleeg het en wie se foto (op bl. 48) die "stigmata" vertoon.

Tussendeur word die bundel aangevul met gedigte oor politiek, aktuele aangeleenthede, 'n man wat verbrand is en 'n jagse Shakespeariaan op 'n toer deur Afrika. Die wrede werklikheid van mishandelde kinders spreek uit die gedig "Iemand het 'n lappop ..." (67) met die gepaardgaande foto op die volgende blad. Of daar is 'n poging tot relativering in die naasmekaarplasing van gedigte oor dieselfde onderwerp.

Daar is etlike gedigte in hierdie bundel wat nog onaf voorkom en waaraan gewerk kon word, maar in die geheel gesien is dit 'n hegte, goedgeskrewe bundel wat tematies onderling verwantskappe toon en waarin die gedigte op mekaar inspeel. Dit lewer 'n belangrike bydrae tot die debat oor manlikheidstudies en die situering van die halfnaakte manlike liggaam in die diskoers oor weerloosheid.

Marius Crous

Marius.Crous@nmmu.ac.za

Nelson Mandela Metropolitaanse

Universiteit

Port Elizabeth
COPYRIGHT 2012 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2012 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Crous, Marius
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Mar 22, 2012
Words:754
Previous Article:Briewe van W. E. G. en N. P. van Wyk Louw 1941-1970.
Next Article:Die see.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |