Dieremaniere
Confiteor pater mater
dat ic den otter ende den kater
ende aile diere hebbe mesdaen
--Reinaert
Eendjies, eendjies
'n Klein eendjie marsjeer met gesnater
en nog tweetjies val in by hul mater.
Die ou drietjies van dons
storm so fiertjies en pions
in die vywertjie, onder die water.
Mol
Verlate is die aarde, droef en donker
--Herderslied uit Extremadura
'n Ou klam en terneergedrukte mol
wou so graag in die opelug jol,
maar die lig het sy gees
in 'n oogknip genees:
die geluk, weet hy nou, is 'n hol.
Sjimpansee
"Met die reenboog gaan ons hemel toe klim,"
joel Eerwaarde Seer Heilige Sjim.
'n Span kapers in 'n trok
skaak hom, rok, kruis en klok,
en daar trek 'n verskietende skim.
Lama
Hul het iemal a liewa klein lama
opgamieks in a vrieslaka drama,
en die kleine kamiel
het by Moeder Ioep kniel
en gabler: "Is Pa rerag my pa, Ma?"
Perd
Met teer liefde en hawer gepamperlang,
het hy bekers, applous en miljoene ontvang;
tydlank merries gedek;
moet nou skrootwaentjie trek
en leer tongskuur teen bloedige stang
Renoster
'n Renoster is bra ongesellig,
vol renons, kortgebonde, dikvellig.
Hy sal gevoeligheid toon
as jy trap op sy toon
en jou stellig verras en oorweldig.
Wurm
'n Klein wurmpie wat woon in 'n ui
het sy maters aljimmers bedui:
"Wat 'n tranedal
is die droewe heelal!
Was daar 'n buite, sou ons soontoe aankrui."
Kalfies en koeitjies
"Skryf die vent wragtagwaar ons in versies?
Met ons per-, a- en kontro-, ons inversies?
Magtag! Ons in vers? Sies!"
Kom nou, onsin, versies,
Jul's g'n heilig! ... Dis onsinversies.