Printer Friendly

Die weerstandigheid van taal geillustreer.

Du Plessis, Phil. 2004. Woordweer. Gedigte uit die twintigste eeu. Pretoria: Protea Boekhuis. 78 p. Prys: R99,95. ISBN 1-86919-070-X.

Resensent: Bernard Odendaal (Departement Afrikaans & Nederlands, Duits & Frans, Universiteit van die Vrystaat)

Met Woordweer vier Phil du Plessis sy sestigste lewensjaar. Die retrospektiewe aard van die bundel word deur die subtitel aangedui. Uitstaande kenmerke van Du Plessis se digterskap word daarin teruggevind.

In die eerste afdeling word byvoorbeeld twee dadaistiese werke aangetref wat Du Plessis reeds in die sestigerjare gepubliseer het. Die eerste behels vier rangskikkings van rekenaarponskaarte. "(K)wadrantiese aleatoriek" bied weer vier "aansigte" van die geskommelde letters van die woorde "nirvana" en "karma" in blokvorm, waarbinne die woord "RAKA" telkens iewers uitkristalliseer. Die figuur uit N.P. van Wyk Louw se bekende epiese gedig word klaarblyklik verbind met die willekeurigheid en irrasionaliteit, die teenkulturele drifte van Dada.

Twee vry vertaalde verse (van Moliere en Lewis Carroll) wat grens aan onsinpoesie wat so kenmerkend van Dada was, kom voorts in die afdeling voor. "Bedanking" is geskryf in 'n brabbeltaal vermeng uit Afrikaans, Frans en Latyn, en is, op grond van die aanspreking van die "Grandes doctores doctrinae" in die aanhef, waarskynlik te begryp as 'n satirisering van akademiese geleerddoenery en voorskriftelikheid.

In Afdeling 2 word gefokus op die verlies van geliefdes aan die dood, 'n bekende tema in Du Plessis se werk. Die meeste van die verse bevat redelik treffende momente (veral "Pa", "Ekologie van die gees" en "Paasstryd"). Aan die slot van "Tussen hakies" funksioneer die hakie- en voetnootbeelde egter nie verhelderend ten opsigte van die "verbygaande" aard van die menselewe soos bedoel word nie. "Blues vir Claire" is volgens die digter 'n poging om "'n klassieke Amerikaanse blues-teks" daar te stel (Engelbrecht, 2004:17), maar die resultaat is 'n liriek wat as leesteks prosaies aandoen.

'n Volgende terugkerende tematiese gegewe in Du Plessis se verskuns betrek die kwesbaarheid van die mens en sy vreugdes. Die motiewe kom in die derde bundelafdeling aan bod in gedigte wat dikwels, op funksionele wyse, haikoe-agtig voorkom en flitsmomente vasvang. Ongelukkig ontkom sulke impressionistiese gedigte nie altyd aan die gevaar van oppervlakkige waarneming nie.

Die swartgallige tematiek van afdelings 2 en 3, maar wat weens Du Plessis se gestroopte, onliriese styl van swaartillendheid bewaar bly, word in die vierde voortgesit. Hier staan die ontluistering deur irrasionele drange of natuurkragte sentraal. Vernaamlik "Twee maskers", "Die fabel van die visser en die klipvis" en "Klaaglied vir 'n soldaat aan die oewer van die Eufraat" laat die sosiaal-politieke dimensie van Du Plessis se oeuvre weer opduik. Laasgenoemde gedig behels 'n vrye vertaling in drie kolomme van die agtste tablet van die Babiloniese Gilgamesh-epos. Deur die bulle en duiwels uit die lug van die oorspronklike teks voor te stel as Amerikaners en Britte, werp Du Plessis 'n kritiese blik op die onlangse militere inval in Irak. Die opvallende anachronisme laat die relevantmaking egter te opsetlik voorkom.

Digterlike en algemeen-menslike pessimisme oorheers in die slotafdeling. Eers verskyn 'n vertaling van 'n Franse gedig deur Wilhelm Knobel. Aan die relatief vroeg gestorwe tydgenoot van hom het Du Plessis al meer as een gedig gewy. Toespelings op terugkerende geesteskrankheid laat die gedig tuishoort in hierdie afdeling oor disintegrasie en verwording (onder meer deur oorlog en die Vigspandemie, wat ietwat aan die hare bygesleep word in "En wat kry die sodatevrou?").

Iedere gedig in die afdeling is vertalings of verwerkings van ander digters se werk (Knobel, Apollinaire, Bertolt Brecht), 'n openlike vorm van intertekstualiteit wat ook in die res van die onderhawige bundel en van Du Plessis se oeuvre voorkom. 'n Mens kan in hierdie verband van 'n relativering of vervaging van die digterlike identiteit en van die integriteit van die teks praat.

Sodanige vervaging, deur Du Plessis self in verband gebring met die uitwissing van die outeur in die postmodernistiese literere teorie (Engelbrecht, 2004:17), word grafies voorgestel op die laaste bladsye van die bundel. Eers volg 'n vertaling van 'n Bertolt Brechtgedig (met die titel "Slegte tye vir liriek"!), wat doodgekrap is omdat die digter, soos blyk uit die aantekeninge daarby, kopieregprobleme verwag het en dit reeds in Afrikaans vertaal is. Daarna 'n deurgehaalde vorige vertaling van die slotstrofe van "En wat kry die soldatevrou?", met die jongste vertaling in handskrif daarby. Vervolgens 'n deurgehaalde eie gedigpoging in die handskrif van die digter. Daarop slegs deurhaalstrepe op 'n lee bladsy. En ten slotte 'n lee bladsy waarop selfs die bladsynommer doodgekrap is.

Dat talle van die opgeneemde tekste fotokopiee behels, ondersteun die idee van integriteitsrelativering.

Verskeie betekenismoontlikhede van die neologistiese titelwoord Woordweer word dus in die bundel geaktiveer: die herbesoek aan die bakens van 'n digterlike loopbaan; die intertekstuele herhalingselement; die wyse waarop die taal en digkuns hul teen digterlike identiteitsoplegging verweer ... Dit is asof die digter die weerstandigheid van taal teen (en die gevolglike mislukking van) die/sy digterlike onderneming wil demonstreer. 'n Onthutsende belydenis!

Ironieserwys lewer Woordweer 'n boeiende leeservaring en 'n hoogtepunt in Du Plessis se oeuvre op. Dit bestendig sy profiel as 'n opmerklike avant-garde-digter in Afrikaans.

Geraadpleegde bron

Engelbrecht, Theunis. 2004. Immuun teen minagting (onderhoud met Phil du Plessis). Rapport, 18 April:17.
COPYRIGHT 2004 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2004, Gale Group. All rights reserved. Gale Group is a Thomson Corporation Company.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Woordweer. Gedigte uit die twintigste eeu
Author:Odendaal, Bernard
Publication:Literator
Article Type:Book Review
Date:Aug 1, 2004
Words:850
Previous Article:Nederlands en Afrikaans--eenders en tog so anders!
Next Article:Plaaslike kennis is vintage Marais: sosiaalpolities betrokke en omgewingsrelevant.
Topics:


Related Articles
Intellektuele diepgang en verfynde sensitiwiteit.
Reis, landskap en die verkenning van werelde.
Nog 'n omdigting van Bybelse onthougoed.
Die digter as kartograaf.
Digterlike transponering van 'n andersoortige denkwereld.
Is taalsake 'n hulpbron of 'n probleem?
Plaaslike kennis is vintage Marais: sosiaalpolities betrokke en omgewingsrelevant.
Bliksemlose woorde.
'n Vermenging van die Khoi-San en die Ooste.
Wat word van die meisie wat altyd alleen bly? (1), of, tegnologie van liefde en vergange.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2020 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters