Printer Friendly

Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika: Deel 1.

W. A. M. Carstens en E. H. Raidt.

Protea Boekhuis, Pretoria, 2017. 639 pp.

ISBN: 978-1-4853-0038-0 (gedrukte boek),

ISBN: 978-1-4853-0039-7 (e-boek),

ISBN: 978-1-4853-0902-4 (ePub)

DOI 10.17159/2309-9070/tvl.v.56i1.6303

Met hierdie omvattende publikasie Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika; die biografie van 'n taal, open Carstens en Raidt as outeurs 'n besondere venster vir 'n blik op die voor- en lewensgeskiedenis van Afrikaans. Beide skrywers stel dit ter aanvang dat hulle op verskillende punte in hul akademiese lewens gevoel het dat daar 'n behoefte was aan 'n bron van hierdie aard. Carstens verwys na sy lang akademiese loopbaan, eie publikasies en belewing van die groei in literatuur oor Afrikaans. Hy wys daarop dat die taal 'n besondere geskiedenis het, maar terselfdertyd ook, soos enige ander taal, onderhewig is aan 'n voortdurende proses van verandering wat nie net op taalpolitieke vlak nie, maar ook op taalstrukturele vlak uitspeel.

Raidt het 'n behoefte aan 'n toeganklike bron vir studente oor die geskiedenis aangevoel wat gelei het tot haar werk Afrikaans en sy Europese verlede wat in 1991 'n derde hersiene en uitgebreide uitgawe beleef het. Hierdie werk vind ook nou grotendeels plek binne die groter raamwerk van Die storie van Afrikaans.

Die outeurs stel dit verder dat hierdie storie vertel word aan die hand van "grondige navorsing oor gebeure, tendense en patrone in die verloop van Afrikaans se 'lewe', van toe en ook van nou." (18). Die diepgang van hierdie werk spreek baie duidelik uit die indrukwekkende bronnelys en eindnotas wat op sigself 120 bladsye beslaan asook internet-bronverwysings wat te vinde is op die boek se webtuiste (Carstens en Raidt). As sodanig kan hierdie werk waarskynlik as ensiklopedies van aard beskou word waar dit alreeds gepubliseerde kennis saamvat binne 'n bepaalde storie. Gegewe die omvang van 'n werk van hierdie aard, is dit dan ook nie vreemd dat een volume, in hierdie geval Deel 1: Die Europese Geskiedenis van Afrikaans (639 bladsye), nie die volle 'storie' kan vertel nie en dat 'n verdere opvolgvolume nodig is. Die outeurs verwys dan ook na 'n tweede boek: "[s] aam beskou, word in die twee boeke die storie toegelig van 'n taal wat in Europa gegrond is (boek 1), maar wat in Afrika 'n volwaardige taal kom word het (boek 2)." (16). Die voorlopige hoofstukindeling van Boek 2 (31) handel oor prosesse rakende die groei en vorming van Afrikaans tot en met sienings oor die status van Afrikaans in die 21ste eeu.

Hierdie werk is kennelik gerig op 'n wye leserspubliek en nie noodwendig spesialiste nie; Carstens verwys na "potensiële lesers--wie hulle ookal mag wees (kundiges, leke)" (20). Die werk word aangebied in 'n gemaklike leesstyl met kruisverwysings en verwysings na eindnotas waar nodig.

Deel 1 bestaan uit elf hoofstukke wat elk 'n afsonderlike doelstelling bevat alvorens die inhoud volg. Elke hoofstuk word afgesluit met 'n samevatting (of vooruitskouing in hoofstuk 1) en aanvullende bronnelyste. Die werk bevat 'n lys van 27 kaarte wat onder meer taalverspreiding in Afrika en Europa aandui, asook 'n volledige inhoudsregister wat verwysings vergemaklik. Die uitgebreide lys eindnotas vir elke hoofstuk bied 'n goeie verwysingsraamwerk, nie net ter ondersteuning van sienings in die betrokke hoofstuk nie, maar ook as bronne vir verdere navorsing.

Hoofstuk 1 handel oor Die eksterne geskiedenis van Afrikaans, waarin terminologiese onderskeide toegelig word. Die konsep taal word verduidelik sowel as die onderskeid tussen diachroniese en sinchroniese benaderings tot die studie van taal. 'n Onderskeid word verder gemaak tussen die interne en eksterne geskiedenis van Afrikaans, wat respektiewelik verwys na historiese taalkunde en taalgeskiedenis. Hierdie eerste boek fokus slegs "op die eksterne storie van Afrikaans se verlede" (7).

Hoofstuk 2 het as titel "Agtergrond tot die studie van Afrikaans: die ontwikkeling van die taalkunde as wetenskap".

Hierdie hoofstuk is informatief van aard en gee veel aandag aan die opkoms en ontwikkeling van historiese en vergelykende taalkunde. 'n Uitvoerige oorsig word gegee oor identifiseerbare tydperke vanaf die "Oudheid", oor die Middeleeue en Renaissance, die oorgang van die 18de na 19de eeu, tot en met die 20ste eeu. Hierdie oorsig word ryklik geïllustreer met sketse van bekende taalkundiges en hul werke in veral die 19de en 20ste eeu. Gegewe egter die fokus van hierdie boek op Afrikaans as sodanig, en die vraag wat die outeurs self stel, naamlik "Deur watter prosesse en fases het die besondere taal (in hierdie geval Afrikaans) gegaan om die taal te wees wat dit vandag is?" (27), sou die sinvolheid van hierdie hoofstuk (of deel daarvan) waarskynlik bevraagteken kon word. Dit dien weliswaar 'n eksplisiete doel om die groei van taalkunde as wetenskap te boekstaaf, maar minder so om al die inligting relevant vir agtergrond tot die studie van Afrikaans te maak. Die vroeëre stelling dat "Gesamentlik vertel die twee boeke die geskiedenis van Afrikaans sedert die tyd lank voor Christus (tussen 5000--7000 jaar gelede in Europa) en die fase waarin Afrikaans vandag is (aan die begin van die 21ste eeu in Afrika)" (27), klink gewoon asof dit die insluiting van hierdie betrokke hoofstuk wil regverdig, ongeag die veel latere chronologiese verskyning van Afrikaans in hierdie proses.

Hoofstuk 3 handel oor die wese van taal asook oor die aantal gebruikers van verskillende tale en die problematiek verbonde aan getalle. Sienings oor sogenaamde lewende en dooie tale, asook die benamings van tale en dialekte word aan die orde gestel. Hierdie hoofstuk is goed gedokumenteer en bevat interessante statistiek oor die verspreiding van tale in globale konteks wat dan sinvol deur die skrywers geïnterpreteer word. Die rol van Engels as wêreldtaal word krities ontleed terwyl 'n besinning oor die eise van die 21ste eeu as afsluiting dien.

Hoofstuk 4 handel oor die klassifikasie van tale en kriteria vir sodanige klassifikasies. Spesifieke aandag word gegee aan, respektiewelik geografiese, etnografiese, genealogiese en tipografiese indelings. Elk van hierdie klassifikasiemetodes word krities bespreek met volledige verwysings na verskillende wêreldtale en in historiese perspektief geplaas. Hierdie is hoofstuk is uiters omvattend met besondere klem op genealogiese taalklassifikasie en toegelig met konkrete ooreenstemmende voorbeelde uit verskillende tale. Toepaslike diagramme van verskillende samehangende taalgroeperings word aangebied met die plek van Afrikaans duidelik aangestip. Die potensiële rol van korpuslinguistiek en rekenaarmatige verwerking van taal en taalstrukture word ten slotte uitgelig om moontlike oplossings te bied vir onbeantwoorde vrae op hierdie gebied.

Hoofstukke 5, 6 en 7 handel respektiewelik oor die plek van Afrikaans in die Indo-Europese taalfamilie, die Germaanse taalfamilie en dan meer genuanseerd binne die Wes-Germaanse taalfamilie. 'n Interessante beskrywing van aspekte van die Indo-Europese taalgroep, wat die verdeling in Satem- en Centum-tale insluit is nodig geag omdat dit deur die outeurs beskou word as deel van die "bloedlyn van Afrikaans" (179). Die groei van die Germaanse taalgroep as komende vanuit die Centum-tale word onder andere bespreek. Germaanse volksverhuising word toegelig met 'n kaart wat geografiese verspreiding aandui. Talle interessante voorbeelde word aangebied van Latynse invloed op die Germaanse woordeskat. Gebaseer op verskillende bronne maak die outeurs dan ook afleidings van die kenmerke van die "primitiewe Germaanse oervolk" (194). Die kenmerke van "Oergermaans" (198-201) wat klankverskuiwings, aksent-verskuiwing asook grammatikale veranderinge insluit word bespreek en gemotiveer teen die agtergrond van ontluikende Nederlands. Hoofstuk 7 handel in meer besonderhede oor, respektiewelik, Noord- en Wes-Germaans en bied 'n insiggewende bespreking van die rol en belang van Goties in die studie van tale uit die Germaanse taalgroep. 'n Aangepaste skematiese diagram van Raidt bied 'n goeie samevattende oorsig oor die besprekings in hierdie, asook voorafgaande hoofstukke.

Hoofstuk 8 bied 'n oorsig oor die pad na Nederlands oor Oud-Nederlands en Middelnederlands heen. Dit bespreek ontwikkelingsfases, die aard van die bevolking, 'n verskeidenheid Nederfrankiese tekste, asook die invloed van vreemde tale op Oud-Nederlands. 'n Verskeidenheid literêre en ander Middelnederlandse tekste word aangebied en bespreek; vele van hierdie tekste is nie onbekend aan studente in kursusse in Afrikaans en Nederlands nie.

Hoofstuk 9 fokus op die ontwikkeling van Nederlands in die sestiende en sewentiende eeu en op die ontstaan van Standaardnederlands, waar aandag onder andere gegee word aan die rol van prominente grammatici. Verskillende stylsoorte word beskryf en die bestaan van 'n formele Hollandse amptenaarstaal aan die Kaap ten tye van Jan van Riebeeck se vestiging word gemeld: "Op hierdie punt het die skeiding tussen Nederlands en Afrikaans gekom en die twee sustertale op twee kontinente elkeen 'n eie pad begin loop: Nederlands in Europa en Afrikaans in Afrika" (346).

Hoofstuk 10 word deur die skrywers as 'n "moeilike hoofstuk" (Eindnoot 1, 509) beskou waarvoor hulle sekere medewerkers bedank. In hierdie hoofstuk word aandag gegee aan die "geografiese, kulturele en historiese konteks waarbinne Nederlands ontwikkel en gebruik word", asook "Nederlands vandag" (349). Vele foto's (onder meer van die koningshuise) wat die algemene lewe in Nederland weergee asook geografiese detail en toeristiese beskrywings (veral van dorpe in Nederland en België), vul 'n groot deel van hierdie hoofstuk. Net soos in die geval met hoofstuk 2, is die inligting wat hier verskaf word interessant en dalk bruikbaar vir die leek, maar wyk ook af van die aanvanklike doelstelling: die storie van Afrikaans. Dit word 'n vraag of hierdie besonderhede noodwendig in 'n werk van hierdie aard pas. In afdeling 3 (401) van hierdie hoofstuk word Afrikaans egter weer betrek by die bespreking en word die boikot teen Suid-Afrika en Afrikaans gedokumenteer asook wedersydse taalbevorderingsaksies beskryf. Die hoofstuk word afgesluit met 'n bruikbare lys van taalverskille tussen Afrikaans en Nederlands.

Hoofstuk 11 handel oor die rol van taalverandering in die ontwikkeling en vorming van Afrikaans en bied 'n deeglike bespreking van 19 verskillende teorieë/benaderings oor die ontstaan van die taal. Besondere aandag word gegee aan die kreoliseringsdebat en Afrikaans wat duidelik nog ruimte bied vir verdere navorsing soos aangetoon. In hul eie benadering ondersteun die skrywers 'n natuurlike taalveranderingsproses (486) en bied 'n omvattende beskrywing van die aard van taalverandering vanaf Nederlands na Afikaans aan. Hierdie beskrywing verwys in 'n groot mate na sienings en voorbeelde van 'n wye spektrum navorsers van Nederlands en Afrikaans en bied besonder interessante gegewens op leksikale, fonetiesfonologiese, morfologiese en sintaktiese vlakke. Die hoofstuk word afgesluit met 'n sinvolle bespreking oor taalkontaken beïnvloeding asook taalversteuring waarna die skrywers dit stel dat "die ontwikkeling van Afrikaans as die produk van (i) normale taalverandering, (ii) beïnvloeding van taalkontak en (iii) taalversteuring gesien [moet] word" (485). Hierdie byna vanselfsprekende siening word egter besonder volledig toegelig en gemotiveer en dra by tot 'n meer geopende venster oor die ontstaan van Afrikaans.

Hierdie boek is 'n hoogs-verdienstelike werk wat inderdaad die storie vertel van Afrikaans se wortels in Europa. Die werk spreek van besondere aandag aan detail op verskillende vlakke en dra die inhoud van taalkundige en taalhistoriese terme gemaklik en verstaanbaar oor aan 'n wye leserskorps. Die Storie van Afrikaans (Deel 1) maak 'n besondere en tydige bydrae tot die literatuur oor Afrikaans se ontstaansgeskiedenis terwyl die verskyning van Boek 2 met belangstelling afgewag word.

Geraadpleegde bronne

Carstens, W. A. M. & Raidt, E. H. Addisionele verwysings en teksgedeeltes. Die storie van Afrikaans. www.storievanafrikaans.co.za. Geraadpleeg op 29 Apr. 2019.

Raidt, E. H. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou, 1991.

Justus C. Roux

j.chr.roux@gmail.com

Universiteit Stellenbosch

Stellenbosch

ORCID: https://orcid.org/0000-0001-6913-3686
COPYRIGHT 2019 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2021 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Roux, Justus C.
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Sep 22, 2019
Words:1784
Previous Article:El Negro en ek.
Next Article:Introduction: Commemorating the 50th anniversary of East African literature as an academic discipline.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |