Printer Friendly

Die onsienlike son.

Die onsienlike son. Jacobus van der Riet. Pretoria: Protea Boekhuis, 2012. 104 pp. ISBN: 978-1-86919-751-3.

Volgens oorlewering het die Russies Ortodokse Kerk sy bestaan te danke aan 'n ondersoekekspedisie wat na 'n verkenning van die drie groot monoteistiese godsdienste aan Keiser Vladimir moes rapporteer. Op grond van hulle terugvoer sou hy sy keuse maak oor watter godsdiens die volke van Rusland sou aanneem. Hulle aanbeveling was die Christelike godsdiens, spesifiek die Ortodokse geloof. Dit was 'n aanbeveling wat spesifiek gegrond was op hulle belewenis van die Heilige Liturgie waaraan hulle deelgeneem het in die Hagia Sophia in Konstantinopel waartydens hulle volgens oorlewering nie geweet het of hulle in die hemel en of hulle op die aarde was nie. In die Bisantynse liturgie waaraan hulle deelgeneem het, was daar onder andere rolle ingeskryf vir die engele, omdat dit vir hulle 'n gegewe was dat die engele inderdaad saamsing in die liturgie.

Hierdie sogenaamde kosmologiese Christendom waarin die aarde en hemel hande vat en dit op 'n besondere wyse in byvoorbeeld die viering van die liturgie en die lewens van heiliges, 'n benadering tot die Christelike geloof wat redelik vreemd is vir die gemiddelde Afrikaanse leser, is die bedding van Jacobus van der Riet se debuutbundel Die onsienlike son. Die bundel bestaan uit meer as sestig sonnette wat almal handel oor Ortodokse heiliges, sommiges is bekend, veral die wat ook Bybelfigure is, maar die meerderheid is vir 'n nie-Ortodokse leser onbekend. Wat hierdie redelik onbekende en ietwat vreemde wereld wat die leser deur hierdie bundel betree egter meer toeganklik maak, is die kort biografiese aantekeninge oor die heiliges ('n soort kriptiese weergawe van die bekende genre van die vitae oftewel heilige-lewens van die Middeleeue) wat in die gedigte behandel word asook die aantal afbeeldings van ikone (geskilder deur Julia Bridget Hayes) van sommige van die heiliges wat ook in kleur opgeneem is en van 'n hoe kwaliteit getuig. Nadat jy as leser die kort biografiese opsommings van die lewens van die heiliges agterin ontdek, word dit 'n interessante leesoefening om te besluit wat jy eerste gaan lees, die gedig oor die betrokke heilige of die opsomming van sy of haar lewe. Die gedigte is verstaanbaar met 'n eerste lees, alhoewel die agtergrond wat verskaf word wel die sogenaamde "wereld agter die teks", hier spesifiek die lewensomstandighede van die betrokke persoon van geboorte tot sy/haar sterfdag (die sterfdag van 'n heilige word dikwels beskou as sy/haar dies natalis oftewel geboortedag), beter uit die verf laat kom. Laasgenoemde help uiteraard om die "wereld in die teks" beter te verstaan en konfronteer die leser voortdurend deurdat hierdie gegewens onwillekeurig vra om verbande met die "wereld voor die teks" te trek. Hoe geslaagd hierdie hermeneutiese prosesse voltrek word, sal sterk beinvloed word deur die leser se openheid vir die onbekende en redelik vreemde inhoud wat aan bod kom. So byvoorbeeld word die moderne leser inhoudelik gekonfronteer deur relieke van heiliges wat op wonderbaarlike wyse nie vergaan nie en wat oor genesende kragte beskik soos byvoorbeeld die Heilige Grootmartelaar Dimitrios van Thessalonika uit wie se relieke tot en met vandag genesende, welriekende salf vloei. Daar is histories gesproke in hierdie bundel nie 'n diskontinuiteit tussen die Bybelse tyd en vandag wat die voorkoms van wonders aangaan nie. Dit vra aan die kritiese leser 'n besondere oopstelling om sigself in hierdie wereld te laat opneem. Hierdie leeservaring word versterk deur die gebruik van religieuse konsepte soos "relieke" en "leviteer" en die ruim gebruik van Afrikaanse woorde wat weinig in die algemene omgangstaal gebruik word soos "sens", "fuik" en "murmel".

Die bundel neem die leser ook diachronies deur 'n bykans vierduisend jaar se geskiedenis. Die oudste heilige wat behandel word, is "Die Heilige Voorvader Abraham" oor wie geskryf is in Genesis en die jongste is "Die Heilige Maksimowitsj, Wonderdoener van Sjanghai en San Francisco" wat in 1966 oorlede is. Die sonnette oor die heiliges is dan ook chronologies gerangskik, vir die wat daar wel ook 'n ikoon voorkom, is die ikoon langs die gedig geplaas, en die name van die heiliges op hulle ikone is telkens in Afrikaans--op drie uitsonderings na. Hierdie drie uitsonderings is egter ook sleutels ten opsigte van die lees en verstaan van die bundel.

Eerstens is die enigste heilige wat nie chronologies aan bod kom nie, maar wie se gedig wel heel eerste geplaas is die van "Die Heilige Romanos die Melodis" wat in 555 n.C. oorlede is. Nadat die Heilige Maagd Maria hom 'n boekrol laat eet het, het hy 'n engelagtige stem en besondere digterlike vermoe gekry. In die slotstrofe van hierdie eerste sonnet versoek die digter dan ook dat Romanos hom sal help:
   Voeg jou stem, Romanos, by my gebed se
      refrein

   dat ek suiwer mag sing, klinkklaar soos 'n
      kelkiewyn.


Die tweede uitsondering is die afbeelding van die ikoon van Die Heilige Johannes van Damaskus wat nie langs sy sonnet voorkom nie, maar wel reg aan die einde van die bundel na die laaste gedig. Johannes van Damaskus het bekendheid in die kerkgeskiedenis verwerf as verdediger van die gebruik van ikone in veral die eerste ikonoklastiese stryd en veral met 'n beroep op Kolossense 1:15 waarin geskryf word dat die Seun die "ikoon" van die Vader is wat nie gesien kan word nie. In die Ortodokse tradisie word hierdie ikone gesien as venster op die hemel en is die verf van so 'n ikoon 'n geestelike taak wat besondere dissipline en vaardigheid vra, vergelykbaar in 'n mate met die ontwikkeling van 'n preek in die Gereformeerde tradisie. Ikone moet dan ook aan baie spesifieke konvensies voldoen en elke individuele ikoon sluit besonder sterk aan by die bestaande tradisie. Van der Riet doen dit ook by uitstek in sy gedigte deurdat hy konsekwent hou by die sonnet as vorm, dat hy deurgaans van verskillende soorte rym gebruik maak en dat al die gedigte inhoudelik konsekwent by een tema bly, te wete die heiliges. Miskien is dit te ver geneem om sy sonnette geskrewe ikone te noem, alhoewel dit inderdaad daarna neig en 'n soortgelyke uitwerking het, naamlik om die kyker/leser op te trek na die hemel.

Die derde uitsondering is dat die afbeelding van die ikoon wat op die buiteblad aangebring is, die enigste ikoon is waarop Grieks en nie Afrikaans aangebring is nie. In Afrikaanse vertaling lui die naam "Die Heilige Gregorius die Teoloog" en dit is dan juis ook in die sonnet oor Gregorius op bladsy 44 wat die bundeltitel aangetref word. En die strofe waarin hierdie uitdrukking, wat duidelik 'n beskrywing of naam vir God is, voorkom, handel dan juis ook oor die besondere vermoe om 'n teoloog te wees. In die beskrywing van die lewe van "Die Heilige Simeon die Nuwe Teoloog" hoor ons dat die titel "Teoloog" uiters seldsaam is en slegs aan Gregorius, Simeon en die Apostel Johannes tot op hede toegeken is. Hierdie tema van son en lig wat so sterk in die Evangelie van Johannes figureer, keer dan ook telkens in die gedigte terug. Die digterlike gawe, die belang van en respek vir die tradisie asook die insig wat die teologie kan bring, word op 'n besondere wyse bymekaar gebring in hierdie debuutbundel van Vader Jacobus van der Riet, 'n digbundel omgeef deur die geur van heiligheid. Met 'n oop gemoed mag 'n leser dalk net die engele hoor saam sing in hierdie bundel, of ten minste die stem van Die Heilige Romanos die Melodis.

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v50i1.34

Cas Wepener

Cas.Wepener@up.ac.za

Universiteit van Pretoria

Pretoria
COPYRIGHT 2013 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Wepener, Cas
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Aug 28, 2013
Words:1257
Previous Article:Tikkop.
Next Article:Katalekte.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |