Printer Friendly

Die leefwereld van die San--verlede en hede.

Botha, Christiaan. 2005.//Kabbo op die ysterspoor. Pretoria: Protea Boekhuis. 62 p. Prys: R90,00. ISBN: 1-86919-063-7.

Die naam//Kabbo in die titel verwys nie bloot na die hoofkarakterverteller en die woord ysterspoor siegs na 'n sentrale motief in die drama nie. Die naam //Kabbo resoneer ook 'n verband met die /Xam-sprekende //Kabbo en sy vertellings soos dit tussen 16 Februarie 1871 en 15 Oktober 1873 deur die linguis Wilhelm Bleek en sy skoonsuster Lucy Lloyd in die Bleek-woning in Mowbray, Kaapstad, opgeteken is (Lewis-Williams, 2000:15-17).

Sommige van hulle aantekeninge is in 1911 van 'n inleiding deur George McCall Theal voorsien en onder die titel Specimens of Bushman folklore gepubliseer (Bleek & Lloyd, 1911). Hierdie publikasie en die wat daarna gevolg het, tree gevolglik as intertekste vir die drama op. Die afbeelding van die historiese//Kabbo op die buiteblad sluit by die gedagte van 'n historiese interteks aan. Dieselfde afbeelding verskyn op bladsy 2 van Lewis-Williams (2000) se inleiding tot Stories that float from afar.

Die drama is daarby die gevolg van navorsing deur die dramaturg oor die geskiedenis van die San (Tempelhoff, 2001:8). Dat sy navorsing die gepubliseerde drama befnvloed het, is waarskynlik die rede waarom die handelingsverloop nie die historiese //Kabbo se wedervaringe aan die hand van Bleek en LIoyd se optekening volg nie, maar eerder as 'n voortskrywing beskou moet word Die historiese//Kabbo is op 'n ouderdom van ongeveer sestig jaar op 'n klag van skaapdiefstal tot harde-arbeid gevonnis en vanaf Bitterputs (in die omgewing van Kenhardt) Kaapstad toe gestuur (Watson, 1991:9). Bleek het daarin geslaag om die Britse goewerneur te oortuig om //Kabbo en nog enkele ander San in sy bewaring te plaas, waarna hy en Lloyd hulle verhale getranskribeer en in Engels vertaal het.

Botha verplaas sy //Kabbo na die moderne tyd toe teen die agtergrond van die intertekste. Hierdie //Kabbo is "kaalvoet en geklee in 'n te groot, verflenterde, groen kortbroek en 'n vuil, stukkende T-hemp" (p. 5). Hy vlug voor die "gangster boys" (p. 7) in 'n sinkstegie naby die stasie in, waar hy met die gehoor sy herinneringe aan 'n buiteruimte (diegetiese ruimte, woordruimte) elders deel. Namate hy in nostalgie versink, vervaag die sinkstegie vir hom en die gehoor, want hede en verlede vervloei en Ioop in sy vertelling saam in 'n ontmoeting mer die "Groot God Eloib" (p. 54).

As grondpatroon vir die teks geld gevolglik die San se shamanistiese rituele waartydens siekes genees en reen gemaak is. //Kabbo se naam beteken immers "droom", terwyl Lewis-Williams (2000:11, 16, 24) aandui dat//Kabbo histories wel 'n shaman was. Hierdie drama-as-ritueel kulmineer sodoende in 'n openbaring waaraan die gehoor deel het. Daarmee gryp die teks terug na een van die wortels van die Westerse teatertradisie, naamlik die opvatting in die klassiek-Griekse drama dat teater 'n openbaring van die gode is.

//Kabbo op die ysterspoor vertoon in hierdie verband 'n verdere vorm van hibriditeit, wat die dramaturg soos volg verwoord (Tempelhoff, 2001:8): "Hul [die San se] lewe was deursuur van 'n diepgevoelde verhouding met hul Skepper, wat groot ooreenkomste mer die van die Christendom getoon her." Dit is teen hierdie agtergrond dat bepaalde tematiese (soos die lied "Stille nag" op p. 49, of "Jesus min my salig lot" op p. 51) en ruimtelike kodes (die lui van Kersfeesklokke op Oukersaand) as indeksikale tekens optree. Vergelyk die neweteks op p. 55: "'n Menigte kerkklokke begin lui. 'Stille nag' en Boesmanmusiek word gelyktydig gehoor."

//Kabbo keer in die slot simbolies na sy oorsprong ("Eloib se binneklop!", p. 55) terug, wanneer hy die kodbroek en T-hemp uittrek om in die tradsionele drag van die San voor die gehoor te staan. Hierdie optrede kontrasteer met sy handeling op p. 16 waar hy sy versierings, dit wat hom as San-mens aandui, afhaal.

Hier is gevolglik sprake van teenoormekaarstellings wat in die teks in die teenoorgesteldes van hout en yster na vore tree. Laasgenoemde groei tot 'n uitgebreide metafoor waarin die grense tussen natuur en kultuur, animisme en Christendom, spiritualiteit en werklikheid toenemend vervaag. Die teenstelling tussen//Kabbo se binneruimte en die teks se diegetiese ruimte sluit daarby aan. Dit is egter juis in die aanbieding van die diegetiese ruimte dat die dramaturg se stem soms te duidelik deurslaan.

Behalwe in //Kabbo se hoofteks word dialogiese ruimte ook deur stemme geskep wat oor luidsprekers in die opvoeringsruimte (ouditorium) hoorbaar is. Die gehoor hoor telkens hoe voetstappe vanaf die stasie tot stilstand kom. Dan reageer 'n gesiglose Kotie op die kaping van Emma en haar baba (p. 11), luister die gehoor na 'n vrou wat onderhoud van Shaun eis (p. 17), hoor hulle van Margaret Williams se bendeverkragting (p. 32), ensovoorts.

Terwyl hierdie ruimtes byna as blote klankflitse aangebied word, is //Kabbo se vertellings van die San se geskiedenis, omgewing, gewoontes en mitologie redelik uitgebreid. Daarom kan die betrokke gedeeltes tydens 'n opvoering vir sommige lede van die gehoor (te) veeleisend wees. 'n Mens herken verder in die vertellings en in die teks as 'n geheel die invloed van resente en huidige kultuurstudiebenaderings, wat verband hou met herinnering, nostalgie, (post)kolonialisme, identiteit(sruimtes), hibriditeit, liminaliteit, ensovoorts.

Die gepubliseerde teks bevat aan die einde 'n welkome lys woordverklarings uit die "Noord-Kaaps-Namakwalands en 'n Boesmantaal" (p. 5) wat //Kabbo gebruik. Ook nuttig is 'n beskrywing van die uitspraak van San-klanke (p. 6) wat op Bleek se ortografie gebaseer is (vgl. die inleiding in Bleek & Lloyd, 1911).

Die verskyning van //Kabbo op die ysterspoor moet, as gevolg van die fokus daarin op die leefwereld van die San, verwelkom word. Dit is nie net 'n herinneringstuk nie, maar ook 'n drama oor ons tyd. Semioties beskou is dit 'n digte teks wat in lesingslokale tot interessante besprekings aanleiding kan gee. Vanwee die monologiese--veral narratiewe--aard daarvan, behoort dit ook die algemene leser se aandag te hou.

Geraadpleegde bronne

BLEEK, WH.I. & LLOYD, L.C. 1911. Specimens of Bushman folklore. London: Allen. http://www.sacred-texts.com/afr/sbf/index.htm Date of access: 30 Dec. 2005.

LEWIS-WILLIAMS, J.D. 2000. Stories that float from afar: ancestral folklore of the San of Southern Africa. Cape Town: David Philip.

TEMPELHOFF, E. 2001. Sah se lot roer horn tot 'n drama: "Hulle leef gees van Christus-boodskap uit". Beeld: 8, 4 Okt.

WATSON, S. 1991. Return of the moon: versions from the/Xam. Cape Town: Carrefour.

J.L. Coetzer

Departement Afrikaans & Algemene Literatuurwetenskap,

Universiteit van Suid-Afrika
COPYRIGHT 2006 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2006, Gale Group. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Kabbo Op Die Ysterspoor
Author:Coetzer, J.L.
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Book review
Date:Aug 1, 2006
Words:1060
Previous Article:Disseksie tot die geheimenisse van die lewe.
Next Article:Lewensreis van 'n aardling--in digvorm.
Topics:


Related Articles
Coverage of issues related to language, in particular language rights and language policy, in the South African print media/Mediadekking in die...
Prosadebuut--afskeid, verlies en vervreemding.
Vertellings vir genot, nadenke en 'n nuwe lewensuitkyk.
Historiese roman--die Amerikaanse Burgeroorlog.
Humor, liegstories en Kalaharidinge.
P.J. Schoeman bring nostalgie.
In stede van 'n psigoanalise: narkotiese ritmes van 'n onophoudelike trom.
Wereldbekersokkerspan vir 2010.
Volksheld en--leier.
Die Dakarkewer.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2020 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters