Printer Friendly

Die digter as kartograaf.

Crous, Marius. 2003. Brief uit die kolonies. Pretoria : Protea Boekhuis. 71 pp. Prys: R79,95. ISBN 1-86919-029-7.

Met die gelade titel Brief uit die kolonies stel Crous 'n (post)koloniale diskoers aan die bod. In die term "brief" is ingebed 'n skrywe aan 'n afwesige leser, die implikasie van 'n verslag van persoonlike belewing (vandaar waarskynlik ook die gebruik van die enkelvoud) en doelbewuste taalhandeling. Die "brief" van die titel word dan inderdaad uitgebrei na die skryf van 'n joernaal of 'n dagboek en die opteken van 'n ganse geskiedenis. Veelseggend is ook die feit dat die brief uit die kolonies geskryf word, met ander woorde die perspektief van waaruit geskryf word. Daar is inderdaad ook 'n veelheid van perspektiewe en stemme te onderskei: vanuit die sentrum en die marge, as setlaar en inboorling, as koloniseerder sowel as ge(de)koloniseerde. Vir die ingeligte leser is daar onmiddellik ook ander stemme wat saampraat, naamlik Ashcroft, Griffiths en Tiffin se boek The Empire writes back, sowel as Salman Rushdie se uitspraak "the Empire writes back to the Centre".

Die bundel is in vier afdelings verdeel. Afdeling 1 is titelloos en die treffende voorbladontwerp word herhaal, naamlik die afbeelding van 'n antieke kaart van die kontinent Afrika. Tematies is dit dan ook onder andere wat die bundel wil ondersoek: die kolonisering en dekolonisering van 'n kontinent. Afdeling 1 bestaan uit sewe gedigte getitel "kaart 1" tot "kaart 7", en die belangrikste kodes wat deur die bundel voorkom, word hier poeties karteer.

Die gedig "kaart 5" kan as 'n eerste sleutelgedig gelees word. Die koloniale besetting word in enkele verteenwoordigende hale beskryf: die "oop gebied" word gulsig gekarteer, benoem en geproklameer deur die wapperende vlag. Die religieuse-cum-taalkode van die bundel word ook reeds in die vooruitsig gestel met die verwysing na die "handleiding vir sendelinge", dus die onderskeie verkondigers van die digterlike/goddelike woord. 'n Tweede sleutelgedig in hierdie afdeling is "kaart 7". In hierdie gedig word die belangrike reiskode aan die orde gestel.

Daar word verskillende reise in die bundel onderneem. In die eerste plek is daar 'n geografiese reis deur 'n koloniale en 'n postkoloniale geografiese ruimte, asook 'n opskryf van die geskiedenis van besetting en ontsetting. Daar word die verlede in gereis en historiese gegewens word ontgin, maar terselfdertyd word ook die ervarings van 'n postkoloniale, kontemporere Suider-Afrika verwoord. Die digterlike bemoeienis met en besinning oor Afrika en die worsteling om 'n eie plek, 'n hoort op hierdie kontinent, is nie vreemd in Afrikaans nie (Monsterverse, Lady Anne, Kleur kom nooit alleen nie). Crous sit hierdie tradisie voort met sy reis deur die kontinent met sy beelde van belofte en 'n paradyslike bestaan, sowel as van verlies, verval en misere. Vir digter sowel as vir leser word die reis dus 'n voortdurende (her)definiering van die verhouding met die bodem en vaderland.

'n Dwingende gegewe in die bundel is die skryfproses as 'n reis. Die skip word 'n metafoor vir die gedig (soos by Opperman en Blum). Hierdie reis word onderneem deur die landskap van die gees, soos in "skedel" waar hy eksplisiet verwys na "'n kopreis deur 'n ongekarteerde gebied". Die reis voer die leser saam deur die landskap van die taal en van die letterkunde. Vergelyk maar die veelseggende titels soos "interteks", "taal", "kom ons bid saam", "versettaal", "vergifnis" en "skedel". Daar is talle "medereisigers" wat direk en indirek saampraat, soos D.J. Opperman (Komas uit 'n bamboesstok) en Antjie Krog (Lady Anne en Kleur kom nooit alleen nie). Talle gedigtitels speel direk in op ander titels soos onder andere "aankoms" en "joernaar" (Opperman), "drome is ook wonde" (Breytenbach), "man in frokkie" (Van Wyk Louw), "volmink" (Aucamp) en "rymdwang" (Eybers). Skrywers soos Blixen, Huxley en Cavendish wat eens in Afrika gewoon het, word betrek, asook die stemme van ander ontdekkingreisigers en koloniale geskiedskrywers. 'n Laaste reis wat onderneem word, is die verkenning en kartering van die landskap van die erotiek en van die geliefde se liggaam.

Brief uit die kolonies is 'n deurgekomponeerde bundel wat getuig van 'n logiese ordening. Afdeling 2 is getitel "die donker hart" en die titelblad het die afbeelding van 'n seilskip in vaart, omring deur vlieende visse. Hierdie afdeling handel oor die donker hart van Afrika, maar ook oor die donker hart van imperialisme en kolonisering. Afdeling 3 is weer eens titelloos en het as voorblad die fyn handskrif van 'n dagboek of joernaal, gedateer 23 April 1892. Hierdie afdeling staan in die teken van verwonding, pyn, verlies en verydelde drome. Daar word veral vanuit die hede terugskouend die verlede in geskryf. Die titellose vierde afdeling bestaan slegs uit twee gedigte en word voorafgegaan deur 'n afbeelding van 'n manlike en vroulike "Bosjesman Hottentots"--dalk 'n ikoniese teken van 'n stemlose, onteiende, uitgestorwe boorling?

Hoewel die meeste gedigte in vrye versvorm geskryf is, bind funksionele herhaling op struktuurvlak die bundel tot 'n hegte eenheid. Brief uit die kolonies getuig van intellektuele diepgang en is 'n ryk en opwindende leeservaring. Dit vra egter vir 'n ingewyde leser en sal waarskynlik vir die deursneeleser minder toeganklik wees.

Resensent: Adele Nel (Skool vir Tale, Vaaldriehoekkampus, NoordwesUniversiteit)
COPYRIGHT 2004 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2004, Gale Group. All rights reserved. Gale Group is a Thomson Corporation Company.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Brief uit die kolonies
Author:Nel, Adele
Publication:Literator
Article Type:Book Review
Date:Apr 1, 2004
Words:850
Previous Article:Midde-Oosterse krisis en 'n reis na spirituele wasdom ondersoek.
Next Article:Verdubbelde en verdigte tyd.
Topics:


Related Articles
Intellektuele diepgang en verfynde sensitiwiteit.
Verse oor verganklikheid en dood.
Afstand doen, oudword en verlies van hul angels ontneem.
Die sintuiglike meelewing van die oog en die oor.
Reis, landskap en die verkenning van werelde.
Nog 'n omdigting van Bybelse onthougoed.
'n Stygende lyn ... tog ontbreek fyner afwerking.
Digterlike transponering van 'n andersoortige denkwereld.
Die weerstandigheid van taal geillustreer.
Wat word van die meisie wat altyd alleen bly? (1), of, tegnologie van liefde en vergange.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2018 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters