Printer Friendly

Chinchilla.

Chinchilla.

Nanette van Rooyen. . 2007. Kaapstad,

Pretoria: Human & Rousseau. 222 pp.

ISBN: 978-0-7981-4894-8.

Hierdie roman het ontstaan as Nanette van Rooyen se meestersgraad in Skeppende Skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad onder toesig van Etienne van Heerden. Die skryfster is reeds bekroon vir haar kinderboek, Maaneiers (1995), en kortverhaalbundel, Om te vlerk (2001), en die goed versorgde teks van Chinchilla getuig daarvan dat dit nie haar allereerste skryfpoging is nie. Die ruimte en besonderhede van die roman is redelik uniek: 'n chinchilla-telery in die Sutherlandomgewing waar die hoofkarakter, Lea, grootgeword het en waarheen sy terugkeer na 'n traumatiese huwelik en 'n miskraam.

Dit is miskien verregaande om ooreenkomste tussen studieleier en student te soek, maar die chinchillas in die roman herinner tot 'n mate aan die wedrenduiwe wat 'n groot deel van Van Heerden se In stede van die liefde uitmaak. Die creature feature van Chinchilla is egter ietwat minder geslaagd as Van Heerden se duiwe. Die vraag ontstaan redelik gou by die leser of die gegewe verdien om die titel van die boek en 'n vername deel van die voorbladontwerp te wees. Die chinchillas vervul 'n belangrike funksie in die boek, ja: dit is 'n seldsame bedryf waarom die gesin se bestaan wentel en dit is die rede waarom Bastos, die chinchilla-slagter, hom op die plaas bevind. Die verhouding tussen Lea en Bastos ontwikkel onder andere wanneer hulle saam na die chinchillas omsien. Les bes word die chinchillas dikwels voedsel vir die valke wat Lea se pa, Zacharias, aanhou. Maar dit sou tog interessant gewees het as die menslike karakters ietwat meer beskrywing geniet en ontwikkeling ondergaan het. Die wollerige diertjie op die voorblad (tesame met die krullerige lettertipe) ondermyn boonop eerder die ernstige temas van die boek.

Oor die algemeen is die vrouekarakters, Lea en Mirjam, oortuigender as die manlike personasies. Mirjam met haar kruie en bonatuurlike vermoens skep kontinuiteit tussen Lea se hede en verlede en begelei haar in die verwerking van haar verliese en die konsolidering van haar herstel. Lea loop as hoofkarakter 'n wisselvallige maar bestendige paadjie deur die bladsye van die boek en is die enigste karakter wat volledig uit die verf kom. Moontlik is literere geregtigheid baie doelbewus uitgemeet deurdat die mans tot niks meer as agtergrondfigure ontwikkel nie--die omgekeerde was natuurlik tot relatief onlangs alte dikwels in die letterkunde die geval. Hoe dit ook al sy, daar is min oor Lea se pa te se. Zacharias en Lea se verhouding was altyd yl weens die feit dat hy 'n uiterse introvert is en dit verander nie wanneer Lea weer haar opwagting op die plaas maak nie. Sy gaan op in die chinchillas, die bou van 'n huis, afrekening met die verlede en haar innerlike heelword met behulp van Mirjam. Zacharias word byna uitsluitlik geteken as 'n randfiguur wat geobsedeerd is met sy valke en daar is so te se geen betekenisvolle interaksie tussen hom en Lea nie. Die vernaamste innerlike kyk op Zacharias is die frustrasie wat uit sy mislukte valkambisies voortspruit (weereens word die leser voorsien van tientalle feite oor die afrig van valke a la Van Heerden). Hy strompel byna toevallig van tyd tot tyd in op sy dogter se transformasie en sy is ook nie werklik begaan oor sy doen en late nie.

Die slagter, Bastos, het wel meer van 'n geskiedenis aan die een kant en 'n bemoeienis met Lea aan die ander kant, maar hy kom nogtans 'n effens lukraak geplante karakter voor wat iets eksoties aan die roman moes verleen. Dit is egter nie altyd ewe konsekwent gedoen nie--waarom is daar byvoorbeeld moeite gedoen om sekere uitdrukkings wat Bastos gebruik en die kos wat hy voorberei in Portugees te vertaal, maar die gedig op bladsy 74 verskyn in Engels? Hy lyk ook die een oomblik baie fisies en emosioneel betrokke by Lea, maar die volgende kyk hy weer as passiewe toeskouer toe en hierdie rukke en stote in die ontwikkeling van die verhaal is effens verwarrend.

'n Resensent het gewys op die innerlike ontwikkeling en genesingsproses van Lea wat belangriker as die plot van die verhaal of korrektheid van al die feite is, en dit mag so wees dat alles nie staan wat daar staan nie, in Nijhoff se woorde. Nogtans word ook die uitbeelding van hierdie helingsproses ondermyn deur 'n rukkerige verteltrant wat miskien aan die uiters kort hoofstukke toegeskryf kan word. Die liefdestoneel tussen Lea en Bastos betrap die leser feitlik onverhoeds omdat daar so vinnig tussen tonele gespring word (83). Meer as een keer sou mens wou he dat iets in 'n hoofstuk gebeur voordat dit tot 'n einde kom.

Die roman delf sensitief in Lea se pynlike verlede en die hoofpersonasie behoort sterk tot heelwat lesers te spreek. As geheel tref die boek egter nie vir hierdie leser die teiken nie.

Jacomien van Niekerk

Universiteit van Pretoria, Pretoria
COPYRIGHT 2008 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2008 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:van Niekerk, Jacomien
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Date:Sep 22, 2008
Words:806
Previous Article:Kinders van die Sabbatsee.
Next Article:2 dae in Mei.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters