Printer Friendly

Bloot mens.

Bloot mens.

Jelleke Wierenga. 2009. Pretoria: Protea

Boekhuis. 93pp. ISBN: 978-1-86919-311-9.

Die titel van die bundel skep sekere verwagtinge by die leser, naamlik die mens geteken in sy weerloosheid vanwee sy blootheid of naaktheid, maar ook "sonder meer" en "slegs" of "eenvoudig" (WAT, 1970: 447). Saamgelees met die bundelmotto--"opgedra aan almal / wat nie geoor word nie / wat nie gemond is nie"--is die verse waarin die mens gestroop of "bloot" verwoord word, die sterkste in die bundel.

In ses afdelings verwoord Wierenga (buiteen titelblad se spelling verskil) die mens in verskeie gedaantes: "(w)aar die manne bottel--/ bekkend sport dawer", "(w)aar vroue wortelkoek / met Wenresepte en sweer Sunlight / seep skottelgoed die skitterendste". Of as BB(reytenbach)-bewonderaar, selfmoordenaars, maar veral die spreker in die afdeling "Profiel" met die gedig "Kantwerk" (25):
   Tuinwerk.
   In blou kantbroekie.
   Son op die land.
   En lyf.
   Buurman.
   Op soldertrap.
   Sien.
   Wat jy sien.
   Hier.
   Is ek.
   Kant.
   En kaal.


Die gedigvorm dra by om die "bloot mens"--likheid te verwoord. Die gestroopte sintaksis gee stukrag aan die waargenome "(k)ant (en) kaal"-kantwerk van die figuur. Die mens wat deur die digter verwoord word, is "sommer net so" (26)--dus in die metafoor van die bundel, "bloot mens". Die gestaltes waardeur die vrou geteken word in "Argetipies" (28-9) sluit in "die rebel", "die bang kind", "die soeker", "die woordemaker", "die kluisenaarkunstenaar", "die saboteur, "die heldin", "die minnares-hedonis" totdat sy "weerloos: sy" word.

Die digter teken ook die "Galery Gewese Geliefdes" in bloot menslikheid in die gedigte "Mondwond" (36) en "Van Blou" (38). In die gedig die "Ronde ridder" word afgereken met die aangesprokene en "sny die verbinding" om haarself te red in die gedig "Hoe gaan dit nog met jou adiposity" (40). Die twee geliefdes se verhouding word menslik verwoord in "Epos sonder Helde of Heldinne" (43-8). Die strofe:
   maar geen tongval van die liefde
   of enige variant of varieteit soos
   liefie diefie diertjie duifie
   net dwingend


stel die aard van die verhouding direk en eerlik waar die man die vrou tipies kolonialisties kom verower. Dit is nie 'n sentimentele profiel van die twee geliefdes wat in hierdie gedig aan bod kom nie, maar 'n gestroopte en pynlike verslag van sy geweld en verowering van die vroulike liggaamsterrein.

Met die afdeling "Aan--en uitklag" skroom Wierenga nie om die mens se vernielhand op die omgewing aan die kaak te stel nie. In gebedstyl (53, 56-7) word mens en dier as die weerloses aan God opgedra vir regverdige behandeling:
   Wel wetende
   hoe die weerloses onder
   die vreeslike voet die inhalige hand die doldom
   denke
   sou steun sou kreun:

   God


Wierenga maak ruim gebruik van aanhalings in die bundel. Gedigafdelings word met motto's voorafgegaan, maar ook plek-plek by afsonderlike gedigte. Inderdaad 'n galery manskrywers met wie sy gesprek voer soos o.a. Breytenbach, Milan Kundera, W. G. Sebald, Mike McCormack, Fernando Pessoa en N. P. van Wyk Louw. Laasgenoemde word in die gedig "Dislojale verset" herskryf in nie alleen die prosa-opstel se titel van destyds nie, maar ook met die motto-verwysing na Raka en Koki. Dit is egter vir my soms moeilik om meer betekenis as bloot dekorasie met hierdie werkswyse te bepaal. Die lang aanhalings word nie genoegsaam in die afsonderlike gedigte verreken om te oortuig nie.

Gedigte wat my in hierdie bundel sal bybly, is die waarin die digter nie met 'n patroonmatige klank--en woordherhaling werk nie. Vergelyk die volgende voorbeelde: "Waarom so pervers om uit 'n vers passie te pers?" (11), "geheel heel" (26), "tee die fee" (27), ""volgende volg" (91). Dit is ook die bewustelike rymspel in "Die situasie" (62) en die twee laaste tersienes in "Rekenskap" (89):
   ek was net pot
   pot
   potensiaal

   gemorste
   mat
   materiaal


wat my nie van die klankkrag van poesie oortuig nie. Afgesien van die p-klankspelpalpitasies in die gedig "Profiel" (23) is daar nie vir my genoegsame kohesie tussen die klankoordaad en woordbetekenis nie.

Dit is egter die gedigte sonder oordaad truuks, rymdwang en onoortuigende woordomruilings wat Bloot mens 'n rakplek kan besorg. Gedigte wat my beindruk het, is "Vliegelied" (30), "Epos sonder helde of heldinne" (43), die volledige afdeling "Aan--en uitklag" (53-67), "Die geheim van die geheim" (78), "10 September 2007" (86) en "Op pad" (88) asook "Waarneming" (uitgesluit die dwangherhalings) (91). Die gedig "Kankerkuur" (12) is 'n kragtige verwoording van die pen as instrument om verby "die pynproses" te dig:
   Die antidood bloei blou
   uit vingers wit
   skrif na skrif
   staar sy
   hoe uit die see sleur
   selakant na lig na lug:
   letters woorde sinne.


Bloot mens is 'n versdebuut wat die weerloosheid van menslikheid aan die orde stel, maar is plek-plek nog te onafgerond en gemaakslim om my te ontroer. Die irriterende klanken woordherhalings is net te oordadig sodat die tema van "bloot mens"-likheid deur verfraaiing gekelder is.

Marthinus Beukes

Universiteit van Johannesburg,

Johannesburg
COPYRIGHT 2010 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2010 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Beukes, Marthinus
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Article Type:Book review
Date:Mar 22, 2010
Words:801
Previous Article:Lang reis na Ithaka.
Next Article:Swartskaap.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |