Printer Friendly

Andre P. Brink se bevrydende woord en dissidensie.

Ek het die opdrag om oor Andre F! Brink en ideologie te praat. (1) Met ideologie verstaan ons gewoonlik die idees, of die belange en waardes waarmee elkeen van ons, of die groepe waarin ons ons bevind, ons wereld beding. Ons waardeoordele en oortuiginge is nie uitermate individueel nie; in 'n sin is daar 'n historiese bepaaldheid vir hoe ons dink en waarom ons juis so dink. Hoe byvoorbeeld staan ons tot die ekonomiese magsverhoudinge in ons samelewing? Is ons in stryd met 'n bepaalde magsomgewing of reproduseer ons daardie ekonomiese, politieke en sosiale magsverhoudinge? Waarom dink ons soos ons dink? Waarom dink ons nie anders nie? En waar kom al die waardes wat ons so verdedig of teenstaan dan vandaan? Die opvatting van ideologie beteken egter nie 'n predeterminasie wat voorkom dat die individuele skrywer nie teen sy omgewing, teen sy historiese agtergrond en teen 'n magstruktuur kan inskryf nie.

Tog, kan ek nie aan 'n meer siellose onderwerp vir 'n openbare seminaar dink as juis so 'n teoretiese opgaaf nie. Die tydsbeperking laat my in elk geval nie toe om enigsins die onderwerp in diepte of volledig te bespreek nie, daarom sal ek slegs enkele hoofelemente aanraak. In die loop van die voordrag sal my interpretasie van die ideologiese onderbou van Brink se skryfwerk duidelik word. Ek sal hopelik die organiseerders ook tevrede kan hou. Van die aspekte--individueel en gesamentlik--wat ek hier bespreek, vorm deel van "die ideologie van Andre P Brink".

Gereduseer tot sy mees fundamentele--sy ideologeem--is die uitstaande ideologiese faset in Brink se werk sy geloof in die woord, miskien selfs in byna religieuse terme, die reddende krag van die woord. Daarom is die skrywer, die skrywer in stryd met sy omgewing, die skrywer as optekenaar, die skrywer as historikus, maar ook die skryfaksie en die woord as omvatbare waarheid so 'n kernkode in sy werk. In soveel van sy romans, byvoorbeeld, is juis 'n skrywer of optekenaar aan die woord. Selfs al word die skryfaksie en die skryfsel as vernietigbaar beleef soos in Kennis van die aand waar Josef Malan sy herinneringe opskryf en telkens in die toilet afspoel, oorleef die woord uiteindelik.

In sy eerste belangrike werk, die eksperimente wat in Lobola vir die lewe, Die ambassadeur, Orgie en tot 'n mindere mate Miskien nooit beslag kry, is dit die estetiese woord--literatuur as spel--wat vooropstaan. Terwyl hy in latere werk juis die waarde van daardie woord telkens onder die loep neem. Selfs in sy vroee werk is daar 'n soortgelyke proses van ontdekking van die seksuele onaantasbare, die religieuse onkenbare en dikwels die plooibaarheid en herontdekking van die gewone woord. Dit is by Brink 'n sentrale impuls om te vernuwe, om die oue te herinterpreteer en nuwe grense te formuleer. Dit is die ingesteldheid wat in die verdere verloop van sy skrywersloopbaan voortdurend in nuwe gedaantes opduik en in veranderde omstandighede aangepas word.

Maar die woord bly nie ongekontamineerd nie. Hierdie sentrale draer van betekenis, is konstant onderworpe aan distorsie. So is dit juis die verdraaide woord wat die leuen moontlik maak. Net so is dit die demagogiese woord wat verdrukking aanvaarbaarder maak. Daarom moet Brink sy geloof in 'n spesifieke soort woord, die skrywerswoord bely. Hierdie skeppende, waardedraende en vrygestelde woord, noem hy dit in Mapmakers, dra, wanneer dit waarheidsoekend gespreek word, sy eie bevryding met hom mee.

Nie alle skrywers glo noodwendig in die beinvloedende impak van literatuur nie soos die deurlopende debatte in die Afrikaanse letterkunde maar te goed getuig. Ook 'n eietydse skrywer soos J. M. Coetzee verwerp in geheel die konstruksie van die dissidente rol van literatuur of die skrywer. Maar juis Brink se beskouing oor die aard van die bevrydende woord maak dit vir hom moontlik om vir die grootste deel van sy loopbaan as dissidente skrywer op te tree. Dit is as dissident dat hy menslike waardes--dit waarvan apartheid so die absolute teendeel was--kon oopskryf en in elke roman van hom kon herbevestig.

Van sy indrukwekkendste demonstrasies van die rol en plek van hierdie skrywerswoord is 'n Oomblik in die wind, 'n Droe wit seisoen en Houd-den-bek waar hy nie net teen 'n bestel inskryf nie, maar ook die konstituerende waardes wat sosiale onreg en onverskilligheid teenoor mense moontlik maak, ontbloot. In die lig hiervan is dit nie 'n verrassing dat die digter, Vincent Oliphant (82) tydens die eerste Swart Afrikaanse Skrywerssimposium getuig dat selfs Brink se eerste eksperimentele werk 'n deurslaggewende rol in sy intellektuele ontwaking gespeel het:

   Die eerste Afrikaanse skrywer wie se werk ek uit eie belangstelling
   begin gelees het, is Andre P Brink. Hier verwys ek nie eens na
   Brink se latere "betrokke" werk nie, maar wel na sy vroeere romans
   soos Die ambassadeur. Die invloed van Brink se werk op my was veral
   groot as gevolg van die wyse waarop ek op my plattelandse dorp
   opgegroei het. Hier het 'n mens slegs in 'n baas-kfong-verhouding
   ten opsigte van blankes gestaan. Jy is dan ook deur hierdie
   lewenspatroon gekondisioneer tot 'n verhewe siening van Wittes.
   Deur die lees van Brink se boeke het ek vir die eerste keer besef
   dat Witmense mense is soos ek, dat daar nie sekere swakhede is
   waarbo hulle op grond van hul velkleur verhewe is nie. Ek is, met
   ander woorde, op so 'n wyse bevry van 'n stereotipe siening van my
   medemens.


Van die Suid-Afrikaanse skrywers is Brink, naas Nadine Gordimer, miskien die een wat die konstantste die geslagtelike, politiese en sosiale Ander oopskryf. In byvoorbeeld Kennis, Oomblik en Houd-den-bek skryf hy uit die ervaring en hoek van die swart politieke verdrukte; terwyl in Oomblik, Muur van die pes, States of Emergency, Sandkastele en Donkermaan die belewing van die vrou verwoord word. Vir die skrywer om 'n keuse te maak om die ander se ervaringe te beskryf, is nie eenvoudig nie, omdat die belewing van die Ander deur die skrywende ander tot sy/haar eie voordeel geappropieer kan word.

Die keuse is inderdaad nie maklik nie. As voorbeeld: my eerste reaksie met die lees van die toe verbode Kennis, as 'n student in die jare sewentig, was verwondering oor die enorme worp van sosiale geskiedenis, die ongebreidelde seksualiteit, maar veral die volwaardig-belewende karakterisering van Josef Malan. Met 'n latere herlees--in 'n sin die leser se "herskryf" van die teks--sou ek my oordeel hersien, omdat Josef so 'n ideeel-tipe is wat nie die werklike diepgang van die bruin of swart ervaring in Suid-Afrika kon verwoord nie. Selfs, al is dit 'n geldige oordeel, maak die skepping van Josef dit vir latere geslagte skrywers moontlik om 'n karakter in Afrikaans te skep wat die bruin of swart ervaring van binne-uit kan verwoord.

'n Belangrike deel van die samestel van ideologiese strominge in Brink se romans, en skryfwerk in die algemeen, is sy verkenning van die Suid-Afrikaanse landskap, sy herinterpretasies van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en per geleentheid selfs iets van sy ekonomiese relasies. Romans soos Oomblik, Gerugte van reen of Die kreef raak gewoon daaraan is by uitstek voorbeelde van die wyse waarop 'n romansier sy land verken, dikwels nie bloot as agtergrond nie, maar as deurleefde en ervaarde landskappe. Die volgende woorde wat Adam/Aob vir Elisabeth in Oomblik se, is op 'n groot deel van Brink se romanoeuvre van toepassing: "Ek dra nie papier met my saam nie. My land het ek met my oe gekyk en met my ore gehoor en met my hande gevat. Ek eet hom en ek drink hom. Ek weet hy's nie 'n ding daar nie: hy's hier. Wat weet jy van hom af?" (25). In menige van sy romans, en veral die wat ek in die verband genoem het, is by uitstek 'n romanmatige verkenning van hierdie land: die mense, die fauna en flora, die landsvorme. My raad aan my buitelandse kennisse is dikwels: as jy 'n perspektief op die multi-dimensionaliteit van hierdie land, as geografiese en fisiese gegewe, wil he, lees 'n Brink-roman. Meer as enige Suid-Afrikaanse skrywer probeer Brink op verrassende en uiteenlopende wyses die vraag--Wat weet jy van die land af--beantwoord.

In aansluiting hierby is 'n terugkerende Brink-procede sy opdieping, omvorming en herinterpretasies van die Suid-Afrikaanse geskiedenis soos byvoorbeeld in Houdden-bek, Die eerste lewe van Adamastor en Inteendeel. In 'n land waar die skriftelike geskiedenis, die geskiedskrywing altyd 'n bron van kontestasie is, slaag hy daarin om verby die bekende te kom en soms historiese (maar dikwels fiktiewe) terloopshede as die basis vir sy romans te gebruik.

Een van die verreikendste gevolge van apartheid was, dat dit oenskynlik 'n eenheidsgevoel aan Afrikaners gegee het. Aan almal, ook aan Afrikaners, is apartheid geproklameer as 'n beleid wat alle Afrikaners onder een kombers verenig het. Op die oog af was elke Afrikaner--elke man, vrou en kind--'n voorstaander van apartheid. Die alternatief--die liberale of radikale Afrikaner--was feitlik onbekend. Daar was nie 'n herkenbare Afrikanerstem van opposisionaliteit nie.

Vir my was dit 'n verrassende ontdekking as 'n voorgraadse student om van Bettie du Toit, die vakunieleier; of van Bram Fischer of Johan Degenaar te hoor of Beyers Naude se Pro Veritate-tydskrif te lees of kennis te neem van Gregoire Boonzaaier se linkse politieke tendense. In 'n wereld waar Afrikaner-voorbeelde van verset teen apartheid min en onbekend was, het Brink soos Breyten Breytenbach 'n wereld oopgeskryf wat dit vir ons, die geslag van apartheid, moontlik gemaak het om genuanseerder met ons leefwereld om te gaan: nie alle Afrikaners was verdrukkers nie, nie alle Afrikaners het apartheid gesteun nie, nie alle Afrikaners het hulle rug op swart mense gedraai nie.

Vandag in 'n tyd waarin die mantel van eertydse opposisionaliteit so maklik (en goedkoop) opgeneem en verkondig word, is dit noodsaaklik om opnuut Brink se bydrae tot die skepping van 'n opposisionele Afrikaans te onderstreep. In romans soos 'n Droe wit seisoen, Gerugte van reen en Die kreef raak gewoon daaraan gee hy nie net vorm aan sy opvatting van die krities, meelewende Afrikaner nie, maar help hy om 'n intellektuele ruimte te skep wat dit moontlik gemaak het om ook in Afrikaans antiapartheid te wees. Die aard en funksie van die dissident wat hy in onder meer Mapmakers en Reinventing a Continent verwoord, bly wesenlik gesetel in die literatuur. In laasgenoemde bundel stel hy dit so: "I come from a literature that still has many new words to learn: and with each new word new possibilities enter the realm of the imagination and extend the prison-house of our language. They offer us new means of contesting--of responding to--the challenges of the real." (203)

En daarmee is ons terug by die begin: daardie woord waarmee die skrywer waarhede probeer ontdek of die onaantasbare, ongehoorde verken en uiteindelik teen 'n bestel (en in Donkermaan werk teen die ouderdom) inskryf. Dit is Brink se uiteindelike keuse, waarmee hy verkennend en verruimend die dissidente Afrikaanse woord kon dien.

Hein Willemse

Hein Willemse is 'n letterkundeprofessor in die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria. E-pos: hein.willemse@up.ac.za

DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.16

Aantekening

(1.) Hierdie voorheen ongepubliseerde voordrag met die destydse titel, "Gaan roep vir Karl Marx en 'n verslete Kennis-fotokopie of die bevrydende woord en dissidensie", is gelewer tydens die Andre P Brink-seminaar, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, 12 Julie 2002. Ek bedank Die Volksblad, sowel die Dept. Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans as prof. H. P van Coller vir die uitnodiging. Ek bied hierdie effens aangepaste stuk aan as 'n huldeblyk vir 'n mens vir wie ek groot waardering gehad het en wat ek altyd as tegemoetkomend en wellewend beleef het. Gegee die omstandighede van sy dood het 'n Air France-vlug tussen Parys en Johannesburg in Desember 1989 toe ons meer as twaalf uur in mekaar se geselskap deurgebring het, 'n kosbare herinnering geword.

Geraadpleegde bronne

Brink, Andre P 'n Oomblik in die wind. Emmerentia: Taurus, 1975.

--. Reinventing a Continent: Writing and Politics, 1982-1995. Londen: Seeker & Warburg, 1996. Oliphant, Vincent. "Swart Afrikaanse skrywers en hulle ambag." Swart Afrikaanse Skrywers: verslag van 'n simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville. Reds. Julian F. Smith, Julian, Alwyn van Gensen, Hein Willemse. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland, 1986. 81-3.
COPYRIGHT 2015 Tydskrif vir Letterkunde
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2015 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Huldeblyk
Author:Willemse, Hein
Publication:Tydskrif vir Letterkunde
Geographic Code:6SOUT
Date:Mar 22, 2015
Words:2007
Previous Article:Reading can be disturbing: a tribute to Andre Brink.
Next Article:Johan Degenaar (1926-2015).
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters