Printer Friendly

'n Terugpraat en vooruitgesprek met tekste.

Hambidge, Joan. 2002. Ruggespraak. Pretoria: Protea Boekhuis. 79 p. Prys: R79.95. ISBN 1 919825 94 0.

Met Ruggespraak, Joan Hambidge se jongste toevoeging tot die reeds bestaande stapeltjie bundels, besing sy soos in Lykdigte weer eens verganklikheid. In hierdie opsig is dit meer as die loflied aan 'n geliefde of bekende, maar eerder 'n sterflied vir die poesie soos dit in die gedig "Oordeel" [58] gestel word:
 Die son skroei hierdie versreel
 weg en die gedig word geweeg
 en te lig bevind. Inderdaad
 'n Oordeelsdag vir die poesie.


Die bundel tree dan ook in gesprek of oorleg met die vorige bundels, ander digters en tekste. Sodoende is die ruggespraak 'n terugpraat met die verlede, maar ook 'n vooruitgesprek met nuwe tekste. Hierdie proses skyn 'n poging van die spreker te wees om met poesie die poetiese onvermoe en ontoereikendhied te oorbrug om die geliefde te berym [18] en in/deur die woord gestalte te gee:
 Die meeste liefdesdigters het al sedert Salomo
 die liefde (en verlange) holrug berym.
 As ek aan jou dink, boonop 'n vers saamflans,
 kom ek telkemale voor geykte stellings
 en lee woorde te staan. Boonop het ander
 dit al veel beter gestel ...


In weersprekende taal (ruggespraak met die self?) verklaar die spreker haar metaforiese verknogtheid aan die geliefde by wyse van poetiese vorme en middele wat haar aanvanklik tekort geskiet het (21):
 Soms word sy 'n lang ballade. Ander kere
 'n sonnet of uitgerekte distigon ...
 Vanoggend sukkel ek om haar ingeperk
 te kry in die strofes van my huis ...


Juis deur die opnoem van digvorme is die spreker in diens van die digterlike ambag wat dien as 'n moontlike verweer teen digterlike onvermoe. Haar gevoel dat poetiese middele tekort skiet, eindig in 'n soeke na rymwoorde en woorde om die geliefde mee te berym (te verstaan?). Sy kom egter "telkemale voor geykte stelling/ en lee woorde te staan" [18]. Gedigvorme word ikonies van die liefdesverhouding, byvoorbeeld "Distigon" (50) en "Gebreekte sonnet" (51). Met die "Vyf haikoes uit Japan" (72) en die "Tankas" (75) is die aan- en afwesigheid van die (ge)liefde digonderwerp. En ook in die gedig "Eat your heart out, A.G. Visser" [25] kan die spreker verklaar:
 Ja, sy is die roos van my hof
 en die roos van my hoof.
 Uit haar ontspruit vele verse.


Die beste gedigte in die bundel is die reeks "Ars proetica" [49-51] met 'n merkbaar dubbelbetekenismoontlikheid saamgesnoer rondom "proetica". So poog die spreker om die geliefde te berym in 'n voortdurende stryd teen die ontglippende woord: "Hoe sal ek jou ooit berym?" [49]. Die worsteling met taal en die onvermoe van poesie om te verwoord, word in hierdie bundel op 'n aantal wyses oorbrug, byvoorbeeld deur intertekstuele gesprekvoering wat 'n direkte aanleuning met die bundeltitel suggereer. In "Die anatomie van melancholie" [56] is die aanleun van gedigte so vertaal: "te veel verse (is) op ander se rugge berym" want verklaar die digter met die gedigtitel "'n Gedig plagieer die werklikheid": "(d)aar is niks nuuts in die digterlike kryt nie!" [59]. En soos Breytenbach en Krog, wat ekskresie digterlik versgestalte gee, is Hambidge bewus van die uitskotfunksie en disfunksie. Gedigte pleeg oorleg met mekaar, rug aan rug, bundel teen bundel in intratekstuele en intertekstuele verband om die onvermoe van die poesie sodoende te kierang. Maar helaas is die spreker te angsvallig bewus van die ruggespraak wat nie in erkenning vermeld word nie en "stol alle liggaamsfunksies" (59). Gedigte se teruggryp is voortspruitend uit die spreker wat hierdie dualiteitsproses in die volgende woorde stel (42):
 Vanoggend kyk ek terug
 die digter het 'n Januskop:
 enersyds betrokke geliefde;
 andersyds verwyderde skriba.


Dat praat, gesprek, skrif, geskrif, geskrewenes die ruggraat van Ruggespraak vorm, is 'n volgehoue werkwyse. Sommige van die gedigte is nie alleen "op ander se rugge berym" (56) nie, maar ook op mekaar. "Ars poetica" (34) op "Ars p(r)oetica" (49) op "Aarselende poetica" (62) met "intertekste en slim verwysings" (35) is terugsprekend ook in Lykdigte (p. 33; 37) ingeskryf op ander tekste. Talle verwysings na ander tekste en skrywers kom voor in die bundel. So byvoorbeeld eggo Bybelverse [31] Ps. 23 en [65]; Hooglied, Langenhoven se Die Stem, "Hebban olla vogala" (p. 46 en 66), Sylvia Plath, Auden, Elisabeth Eybers, A.G. Visser, Van Wyk Louw en Opperman in die bundel. Die spreker se verweer: "(d)aar [is] niks nuuts in die digterlike kryt" (59) nie, bevestig die verweefdheid tussen tekste en die noodwendige gesprek daartussen. So word die woordspel voltrek met digonderwerpe soos die (ge)liefde(s), reise, Ground Zero, huishoudelike dirige, Louis Washkansky se hart, die kuberruimte, God in die internet en rekenaarbegrippe.

'n Verdere wyse waarop die digterlike taak aangepak word om bogenoemde doel te bereik, is deur die gebruik van 'n aantal digvorme. Die bundel is gerubriseer in vier afdelings wat ingelei word met 'n ode as opdragvers waarin op soortgelyke wyse as Antjie Krog in haar ontroerende en grootse "skryfode" uit Kleur kom nooit alleen nie, ook oor die problematisering van poesieskryf besin word. Hambidge stel dan duidelik: "Oor die misverstane woord/ is daar nooit weer 'n gedig te skryf nie" (11) waarin Van Wyk Louw uit sy "Ars poetica" nagepraat of mee ruggespreek word:
 Uit die gevormde literatuur
 is nooit weer poesie te maak nie
 uit die ongevormde wel


Dit is juis 'n groot beswaar teen hierdie bundel: daar ontspruit te veel verse oor die kuns van poesie wat nie deur meesleurende, nuutseggende beelde woordlyf kry nie. Die spreker merk inderdaad op: "die uitse van woorde wat net by benadering, / so naastenbyerig, ampers-ampers" (62) kon slaag. Kon die digter as "'n visser van woorde / 'n diepseeduiker / van die beeldende woord" (31) (ook in "Skryfode" kom dieselfde beeld voor) nie langer en durender na woorde en beelde gesoek het nie? Met die aanvangswoorde uit "The shape of my heart" (65) merk sy op: "My woorde gaan mank aan beelde" en voel die leser dat talle gedigte in hierdie bundel gelaat kon gewees het, byvoorbeeld: "Intertyd" [24], "Eat your heart out, A.G. Visser" [25] en die (miskien speels-bedoelde?) "Op soek na 'n verlore vers" [28] en "Jakkals trou met wolf se vrou" (38). Gefabriseerde alliterasies soos in "Gewoonlik skryf minnedigters" [19] is ook hinderlik:
 'n smeulende sonnet,
 'n kosbare kwatryn, 'n ballade sonder berou


Miskien is Johann de Lange se raad en uitnodiging geldig vir die spreker (34) om in die bedoeling van die bundeltitel ruggespraak mee te hou: "'... Kom, gee jou finaal oor aan die digterlike tug / en skryf sonder interteks of beheer 'n gedig.'" Is die digter en uitgewer nie in die volgende woorde aan te maan nie: "... ons moet stadiger werk ..." (63)? Na Lykdigte wat in Hambidge se oeuvre 'n hoogtepunt was, is Ruggespraak 'n teleurstelling. Hierdie bundel het momente van onthou, maar die oorlegpleging tussen tekste, die spreker en die geliefde het "in breekbare verse kom stulp" (12).

Marthinus Beukes

(Randse Afrikaanse Universiteit)
COPYRIGHT 2003 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2003, Gale Group. All rights reserved. Gale Group is a Thomson Corporation Company.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Ruggespraak
Author:Beukes, Marthinus
Publication:Literator
Article Type:Book Review
Date:Apr 1, 2003
Words:1147
Previous Article:Liefde met 'n hoofletter.
Next Article:'n Verwagting van wording.


Related Articles
Woestynruimte en die onkenbaarheid van mens en werklikheid.
NALN.
Weerstand teen teksgebonde navorsing: 'n bydrae tot 'n omgekeerde benadering tot kultuurstudie (1).
Gepaste styl laat 'n teks kommunikeer.
Toeganklike lirieke met 'n digterlike aanslag.
Bliksemlose woorde.
Die spel van assosiasies in en om "Die verlossing van die beeld" van Breyten Breytenbach.
Wat word van die meisie wat altyd alleen bly? (1), of, tegnologie van liefde en vergange.
Anton Goosen--digter en liedjieskrywer.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2021 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters |