Printer Friendly

'n Speurtog met baie ompaaie, maar sonder 'n werklike konklusie.

Van Reybrouck, D. 2003. Die Plaag, die stil geknaag van skrywers, termiete en Suid-Afrika (uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Pretoria : Protea Boekhuis. 263 pp. Prys: R99.95. ISBN 1-86919-058-0.

"Ek maak collages van afvalmateriaal" (p. 164). Dit is een van die gevolgtrekkings van die worstelende jong Belgiese navorser in Die Plaag, die stil geknaag van skrywers, termiete en Suid-Afrika. Hiermee huiwer hy vir die soveelste keer in die boek voor die beperktheid en relatiwiteit van sy navorsingsaktiwiteit. Soos die uitgebreide titel egter al aandui, behels die "stil geknaag" nie slegs die skrywers en die geskiedenis van hul termietnavorsing hie, maar ook die hele Suid-Afrikaanse problematiek.

Die boek is die verhaal van 'n student wat tydens ander navorsing afkom op die beskuldiging dat sy beroemde landgenoot, Maurice Maeterlinck, in sy La vie des termites (1926) Eugene Marais geplagieer het ten opsigte van Marais se termietstudie. Dit sit 'n nuwe newe-studie aan die gang, maar ook 'n literere spanningsvraag: Is dit waar? Die eindproduk is hierdie roman, 'n teks waarin alle konklusies nie verder kom as "miskien" nie.

'n Mens sou daaroor kon debatteer of die term "roman" werklik toepaslik is. Die woord word opvallend vermy op die titelblad en elders in die teks. Die boek is immers 'n samevoeging van beskrywings van situasies en ontmoetings, lesings en uitlegte oor wetenskapsgekiedenis, literatuurgeskiedenis en natuurwetenskap-like bevindings. Alles word aanmekaar gebind deur 'n speur- en tegelyk ook reisverhaal. En soos die slotsin van die "Nawoord" dit stel--voor die skripsie-agtige "Verantwoording": "Maar soos altyd was die ompad belangriker as die eindpunt". (p. 256)

Op 'n enkele geval na waar 'n karakter in die roman na "David" (p. 198) verwys, word die verteller nooit geldentifiseer as die David van Reybrouck van die omslag nie.

Wat hy aanvanklik gedink het 'n eenvoudige stuk navorsing sou wees, lei hom deur stadiums van hoop en mismoedigheid. Die verwagting dat die besoek aan die Maeterlinck-argief in Gent al die geplagieerde uitgawes van Die Huisgenoot met aantekeninge in die kantlyn sal oplewer, laat hom bedroe. Die speurtog lei hom na Pretoria, Kaapstad, die Waterberge. Tipies van die genre word die stand van die bewysmateriaal telkens vir die leser aangestip. Wanneer dit lyk of hy die strop om die Nobelpryswenner se nek vastrek, duik daar weer teenstrydige gegewens op. Uiteindelik hang die saak aan die dun draadjie van een woord: "nasicornis" (p. 147).

Die speurverhaal hou egter nie op met die uitgawe van die oorspronklike Nederlandse De Plaag in 2002 nie. By die Afrikaanse vertaling is 'n "Nawoord" toegevoeg waarin 'n mens uiteindelik wel 'n samevatting kan lees van die konklusie: "My navorsing het getoon dat Maeterlinck Marais se artikels vermoedelik onder oe gekry het in die winter van 1926" (p. 252). Maeterlinck, wat toe al jare lank aan die Asuur-kus (Suid-Frankryk) gewoon het, het Belgie toe besoek met die oog op die uitgawe van sy omstrede boek. Die vraag was egter steeds hoe en waar hy Die Huisgenoot onder oe sou kon gekry het. Nou kan die speurder egter vertel hoe "Toeval (...) 'n goeie vriend wat helaas dikwels te laat kom", vir hom na die publikasie van sy boek onthul het dat die "misdaad" waarskynlik slegs enkele straatblokke van sy eie woning in Brussel piaasgevind het!

Ondanks deeglike beredenering en hoewel die aanvanklik skeptiese Leon Rousseau van Die Groot Verlange-faam uiteindelik oortuig is, bly die konklusies myns insiens maar steek in omstandigheids-getuienis. Die ontbreek van finaliteit pas egter perfek in by die strekking van die res van die boek.

Telkens neem episodes in die navorsing die gedaante aan van avonture. 'n Belangrike ontwikkeling in die boek is die navorser se toenemend geobsedeerdheid met Marais, iets wat buite sy pro-bleemstelling val. Dit word op sigself boeiend. By Marais se graf in Pretoria vind hy dat hy ten minste aspekte van Marais se persoonlikheid verstaan: "Marais het geweet wat angs is. Het geweet dat dit nutteloos is. Maar het nie geweet hoe om daaraan te ontsnap nie" (p. 241).

Die aangegryp wees gaan egter veel verder as die Marais-figuur. Die student kom Suid-Afrika binne as iemand wat meen dat hy reeds alles weet van die land en sy geskiedenis. Nagenoeg elke ontmoeting met 'n Suid-Afrikaner gaan gepaard met 'n negatiewe en uiters afstandelike beskrywing. Regse blankes in die Waterberge wat nie huiwer om die een rassistiese uitspraak na die ander te maak nie, bied oenskynlik 'n keerpunt. Dit skep 'n tipiese Europese intellektuele probleem. Vir die roman is dit noodsaaklik en spannend om sulke figure ten tonele te voer, maar die geimpliseerde outeur moet hom tog wel duidelik voor die leser daarvan distansieer. Die beproefde metode is om die karakters hul uitsprake te laat maak en dan met skerp, maar verswee gedagtes te antwoord.

Juis op hierdie punt bewys die skrywer sy dapperheid. Hy durf dit verder as die grense van politieke korrektheid. Hieruit ontwikkel 'n "gewetenswroeging". Hy besef dat hy in 'n "ingewikkelde politieke situasie" beland het. Wys hy die jong Afrikaners tereg, sou hy waarskynlik slegs "hul opvattings oor Europa (...) bevestig". Dat hy hul vertroue gewen het, laat hom "agterbaks" voel. Dit "knaag" egter nog "dieper". Dit raak sy "persoonlike etiek". Hy moet naamlik toegee dat hy as mens nogal hou van die jong Waterberger met wie hy die meeste te make het--"[o]ndanks sy veragtelike denkbeelde" (pp. 212-213).

('n Ingeligte leser hoor natuurlik wel die verswee roering van skadu's agter die links-intellektuele De Morgen-medewerker: soos Leopold II se destydse eksploitering van die Kongo tot op die rand van volksmoord, of die hedendaagse regse Vlaamse Blok se verkiesingsuksesse as gevolg van openbare weerstand teen swart immigrante.)

Ook ontmoetings met 'n stoet ander Suid-Afrikaners knaag aan sy sekerhede. 'n Aandjie by gekleurdes wat in die Nuwe Suid-Afrika middelklasposisies bereik het en wat as teenmiddel vir sy ervaring met die blanke rassiste moet dien, laat by hom die negatiewe term "nouveau riches" (p. 220) opkom. Uiteindelik is daar Thabo Humphrey Shube: "lemand sonder werk, sonder huis, sonder hoop, wat homself tog nog vry noem" (p. 239).

Hy erken in die "Epiloog" die land het hom verwar "op 'n manier wat geen enkele vroeere reis gedoen het nie" (p. 242). Dit word 'n verhulde liefdesverklaring tot Suid-Afrika. Deel daarvan is die klimaks van die termiet-metafoor wanneer die verteller homself deur 'n termiet-soldaat laat byt: "Die termiet draai om, loop binnetoe en dra 'n stukkie van my liggaam die duisternis in" (p. 251). Die slotsin van die "Verantwoording" bevat 'n belangrike toevoeging. Dit dra die boek op aan Stefan Bekaert "die ook van Afrika hield"--dus "wat ook Iief was vir Afrika" (my kursivering, maar ook my vertaling).

Hier fouteer die Afrikaanse vertaling ten opsigte van sowel die werkwoordtyd as die gevoelswaarde. Dit word naamlik weergegee as "wat ook van Afrika hou" (p. 263). Ongelukkig is dit nie die enigste deel van die vertaling wat nie klop nie. Meer as een keer (o.m. pp. 68, 193) word daar selfs hele sinne van die oorspronklike weggelaat. Andersins lees die Afrikaanse teks baie vlot en klink dit heel selde na vertaalde prosa.

Van Reybrouck bied due 'n eiesoortige, boeiende wetenskaps- en reisverhaal wat nie slegs 'n "brug" bou tussen Maeterlinck en Marais nie, maar tussen 'n onbetrokke Europa en 'n--ondanks hewige groeipyne--Iewende Suid-Afrika. Die Afrikaanse uitgawe voltooi hierdie bouwerk.

Resensent: Wium van Zyl (Departement Afrikaans & Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland)
COPYRIGHT 2004 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2004, Gale Group. All rights reserved. Gale Group is a Thomson Corporation Company.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Die Plaag, die stil geknaag van skrywers, termiete en Suid-Afrika (uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo)
Author:van Zyl, Wium
Publication:Literator
Article Type:Book Review
Date:Apr 1, 2004
Words:1215
Previous Article:"Kloof": beeld van kommunikasie-hindernisse tussen mense.
Next Article:Ongekarteerde Afrikaanse literatuur word verken.
Topics:


Related Articles
Reis, landskap en die verkenning van werelde.
Ras, identiteit en ontluisterende kommentaar.
Die digter as kartograaf.
Verdubbelde en verdigte tyd.
'n Geskakeerde bydrae tot herinnerings-literatuur.
Woestynruimte en die onkenbaarheid van mens en werklikheid.
Is taalsake 'n hulpbron of 'n probleem?
Nederlands en Afrikaans--eenders en tog so anders!
Komrij se poetiese reikwydte vertaal?
'n Waardevolle naslaanbron oor Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur.

Terms of use | Copyright © 2017 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters