Printer Friendly

'n Skeptiese Satan aan die woord.

Walters, M.M. 2004. Satan ter sprake. Pretoria: Protea Boekhuis. 83 p. Prys: R79,95. ISBN: 1-86919-051-3.

Dit klink effens vreemd om Satan ter sprake te bring: stel jy hom "aan die woord" of "bespreek" jy hom? Altwee hierdie betekenisse is ter sake vir hierdie bundel, want al word Satan oorwegend self aan die woord (of aan die vers) gestel, is die aard van die bose deurgaans ook onderwerp van die gesprek. Eintlik nie die aard van die bose soseer nie, maar eerder die aard en die paradokse van die geloof.

Die aanleiding van die bundel is dat Satan se dae getel is. Soos dit in die eerste gedig, "Eksklusiewe verslag van 'n metafisiese personderhoud met die Duiwel te Kaapstad ..." uitgespel word, word die voortbestaan van die Duiwel bedreig noudat die mense God begin verwerp. Hy moet in mottegif verpak word; hy is 'n geraamte in die kas, 'n fossiel; hy het 'n verleentheid geword. Selfs die skrywers vergeet van sy inspirasie. Dit noop hom dus om persoonlik te verskyn en self sy bestaan en betroubaarheid te bevestig. Hy draai die Latynse spreuk om: "Nullus redemptor, nullus diabolus"--sonder 'n verlosser is daar geen duiwel nie.

Hierdie gedig illustreer reeds die digter se satiriese werkswyse, want die Duiwel aan die woord maan die mense op 'n omgekeerde wyse om die Here huile God lief te he en stel huile swakheid, dubbelslagtigheid en hulle gebrek aan godvrugtigheid aan die kaak. Die gedig staan egter ook onder die motto van Milton, wat lui dat die ware digter aan die Duiwel se party behoort. As partyganger van die Duiwel kan die digter hom baie vryhede veroorloof.

Die bundel sluit dus goed aan by Walters se werk tot dusver en die sterk satiriese inslag wat spreek uit sy bundels Cabala (1967), Apocrypha (1969), Heimdall (1974), Saturae (1979) en Sprekende van God (1996). Ook in Saturae: die essays (1994) en in sy dramas Die wingerdstok sal rank, Die vroue van Kores (albei 1975), Miskien woon julle onder ons (1978) en Drakenstein, my Drakenstein (1982) worstel Walters met die probleme van outentieke bestaan en satiriseer hy pretensie en onnatuurlikheid ten gunste van eenvoud en ongekunsteldheid. Hy worstel ook steeds, vanuit 'n rasionele instelling, met die paradokse van Bybel en die geloof. 'n Sterk religieuse bewussyn en 'n deernis met die mens en sy onvolmaaktheid straal egter ook uit sy werk.

Dit neem nie weg dat Satan soms venyning skerp is in sy kritiek op Christene en die Christelike geloof nie. Veral die misbruik van die Duiwel om mense bang te maak, Ioop kwaai deur. AI het dit "so effens quichotterig" geword om teen die duiwel te veg, bly die kole van die vuur reg vir aanblaas, immers "bangmaak bly bondgenoot van die boetgesante" ("Soos die gety verloop", p. 28). Die eng beeld van God as jaloers (in 'n menslike sin) word telkens gesatiriseer. Skerp vrae word gevra, soos waarom God lyding toelaat en of Hy nie dalk saam met die Jode in die gaskamers van Auschwitz gesterf het nie ("Sonnet", p. 72). Is die geloof nie ook maar mites en legendes nie, "oorblyfsels van opvattinge en gebruike by ou bevolkingsgroepe" ("In memoriam, p. 74)? En is Christus en sy "oertipes" soos Zagreus, Tammuz of Osiris nie dus maar net "beelde van die mens", drome, ervarings wat later "verplaas word na die lewe"--menslike bedenksels dus.

Die hele afdeling "Klip in die bos" (p. 32-40) bestaan uit kwatryne waarin 'n rasionele en ingeligte stem (seker dan maar Satan s'n) die paradokse van die geloof vindingryk aan die orde stel. 'n Groot deel van die bundel is 'n geloofskritiek in versvorm wat die (on?)rein lig van die rede laat val op die ongerymde (en onreine). En daaruit blyk dat die bose as kreatiewe beginsel, as strewe na kennis, as verbeelding en vertelling en as kritiek op die uitwasse van die kerk (soos sy vreesteologie) noodsaaklik is. Verbeelding en mag, vrees en bedrog loop saam en is in die woord, in menslike oorvertellings en voorstellings van die onvoorstelbare, ingebou. "In mensetaal word hy mens gemaak deur mense wat bly klou aan die verdigsels wat hulle geskape het deur die eeue." (p. 38.) Dit is omdat hy oorvertel, verbeel, dig dat die skrywer in kompetisie is met die vorste van die kerk en ook familie is van die Duiwel. Dit blyk duidelik uit "Verbeelding" (p. 42): die verbeelding is lank beskou as "Satan se toegang tot die mens", as "illusie en verleiding", maar tog vrees elke diktator "die vrye spel van verbeelding"--juis omdat sy mag ook op fantasie berus.

Veral in die derde (en langste afdeling), "Die Duiwel is los", word die logies-teenstrydige van die godsdiens in 'n bree historiese perspektief van die ontwikkeling van die verskillende godsdienste geplaas. Sodoende satiriseer die digter eng beelde van God sowel as van Satan. Satan word nie voorgestel as 'n lelike en grof-komiese karakter uit 'n Middeleeuse duvelrie nie, maar eerder as 'n verligte en beskaafde heer wat die menslike doenighede en opvattings wrangironies betrag. So sien Walters byvoorbeeld die wedersydse afhanklikheid van God en Duiwel: Satan is die paaiboelie na God toe, maar andersyds ook God se alibi vir ailes wat boos is. So word goed en boos in "Paradoks" (p. 44) gedekonstrueer.

Die aporia van hierdie bundel is dat dit die Bose self aanwesig wil stel, maar hom dan noodwendig in woorde en beelde vasvang. Die resultaat is 'n taamlike mak Satan, veel minder boos as die mens wat self verantwoordelik is vir gruweldade soos Hirosjima, Burundi of Zimbabwe. Satan is in hierdie bundel veral 'n posisie van waaruit die digter die dogma van die kerk kan kritiseer en die paradokse van die geloof kan uitwys. Kortom, hy speel die rol van 'n satiriese persona (of masker).

Al versug die bundel in 'n wye historiese perspektief dat gode sterf, word die satire ook subtiel en effektief plaaslik gemaak. Een kostelike manier is die wyse waarop die digter nuwe samestellings op bekende name vorm: "Maartens-maagde", "'n nuwe peewee-politikus" (p. 72), "die ge-jingel van die sleighs in die pick & pays" (p. 27). "Religie kom die mensdom duur te staan" kla die spreker in "Die sand het uitgeloop" (p. 77). Gelowiges skenk miljoene, maar "uiteindelik beland die ekklesiastiese donasies / in die samelsakke van die boesak-basies". Die rym onderstreep hier die spanning tussen mooi en vroom woorde en grypsugtige werklikheid baie veelseggend.

Die bundel is geskryf in 'n gemaklike styl. Die rasionele bedenksels pas gemaklik in die vers in--so maklik asof dit prosa is, en inderdaad is die taal allesbehalwe digterlik en neig die gedigte na die prosaiese. Tog bevat dit talle dodelike skerp seggings (dikwels met sterk alliterasie). Die Kaapse predikante word afgemaak as "kaartmannetjies van die kerk" (p. 10). Die Heilige Gees dra aan Satan op om met die kerk te raas en vir huile te se: "julle het die goddelike kat aan sy gat beet" (p. 14). Kennis wil vry wees, streef na 'n "prikkelende paradys sonder die ou beperkinge" (p. 61). "Gelowiges veg teen 'n gedaanteverwisseling van god" (p. 60). Selfs die "onregverdige gelykenis" van die verlore seun loop deur: Satan meen dit eggo die stryd tussen die oudste seun, Satanael, en die jongste, Christus, en word "met heimlike bedoelinge deur wie anders / as die boemelende boetatjie verter' (p. 43).

Een van die juweeltjies in die bundel is die "Resensie" van die verhaal van Rut (p. 53). Reeds in die eerste strofe word 'n speelse erotiese raam opgestel met die herhaling (rym!) van die woord tyd:
   Dan is daar die verhaal van Rut
   die plattelandse platjie
   wat in die traptyd, die vrytyd,
   die paartyd vir volgende jaar se oestyd,
   in die slaaptyd skelm-skelm gaan inkruip
   aan die voetenent van die baas.


'n Alte menslike verhaal, maar wat eintlik min met God te doen het: vandaar die slotsom:
   Heerlike hygverhaal, maar net te, te
   stout vir ses mate gars in 'n tjalie!


G'n wonder dat Rut in 'n ander tyd raak nie. En inderdaad: hoekom sou God dit in sy bloemlesing opgeneem het?

Hier slaag die speelse aanslag, want dit onderstreep die spanning tussen die verhewe Bybeltaal en die menslike hygverhaal. 'n Ander speelse aspek vind ek egter hinderlik, en dit is die doelbewuskomiese voorblad en die lawwe hoofletters wat lyk soos slange of wat onleesbaar is. Dit het nog te veel weg van 'n duvelrie--'n poging om die Duiwel as belaglik en komies voor te stel. Dit is lelik en onnodig vir die ernstige satiriese inslag van die bundel.

Al vra dit skerp en ongemaklike vrae is die bundel nie godslasterlik of satanverheerlikend nie--dit stel 'n ingeligte, rasionele en beskaafde wese aan die woord wat die Iogiese teenstrydighede en paradokse van verskillende godsdienste (ook die Christelike) blootle. Dit is 'n bevrydende satire, al is dit indringend en antidogmaties. Hierdie wese treur ook oor die verbygaan van dinge--ook van godsdienste--en die vervlakking daarvan; treur oor die verlies van outentieke ervarings van die numineuse. "Die wetenskap korrigeer die magie", maar reduseer gebed tot "bloot monoloog, vervelige gesprek met die self" (p. 76). "Period piece" (p. 56) is meedoenloos in sy kritiek op die vlak, modieuse praktyke van die "nuwerwetse advance meR",
   die sielsoekers en die soul savers, siel-dodend
   die pretensieuse peuseltjies vir die dag van die boekiebakkers
   die grommerige glimlagte van gospel gangs en die happy-clappies.


Outentieke vernuwing beteken datons aanvaarde sekerhede, soos ons al te menslike en beperkte of abstrakte beeld van God, moet laat vaar ("Gotteserneuerung; p. 60). Skerp kritiek is nodig omons te bevry van "die skaamtelose neiging om god in besit te neem en te bind met begrippe" ("Dogma; p. 62). "Die oop gesprek" (p. 78) spel hierdie strewe na geloofsvernuwing duidelik uit:
   Onbevrees moet begin word met analiserend dink
   en praat oor 'n god wat stimuleer tot groei en durf
   en verder uitreik na 'n bestaan wat nog ongekaart is.


Agter die kritiek op die beeld van 'n jaloerse god wat sy eie seun vermoor, op die Iogiese teenstrydigheid van die sondeval en op 'n onvolwasse kinderkransgeloof, reik die bundel dus uit na die moontlikheid van 'n ander siening, na 'n nuwe begin, na 'n vernuwing van die geloof (al word die strewe ha vernuwing self ook gesatiriseer in "Universal challenge", en dan nog in 'n eietydse kuberidioom).

Maar natuurlik is dit nie net dink wat saak maak nie. Die bundel eindig met twee Iofdigte waarin Satan (of is dit nou die Digter?) sy geloof in die woord bely. Slegs in die woord "vind die Groot Verhaal vervulling". Daarom is dit die woord wat hy as god "bo alle ander gode eer" se die spreker in "In die begin was die woord". Die bundel eindig met 'n verklaring dat die spreker die geloof in die woord behou het en 'n Iofsang op die woord:
   Geloof sy die woord wat lig maak en verlos,
   woord wat wind en seil is, skip wat uitvaar ...
   O, woord sy geloof ...


Is die digter dus tog maar 'n ketter? Of is dit Satan wat die digter hier na die mond praat? Dit moet die leser maar self besluit.

Resensent: Hein Viljoen

Navorsingseenheid: Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit
COPYRIGHT 2008 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2008 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Viljoen, Hein
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Date:Apr 1, 2008
Words:1850
Previous Article:Lakens op die bleik.
Next Article:Die pad Boesmanland toe.

Terms of use | Copyright © 2017 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters