Printer Friendly

'n Groot Afrikaanse roman.

Van Niekerk, Marlene. 2004. Agaat. Kaapstad: Tafelberg. 718 p. Prys: onbekend. ISBN: 0624042065.

Agaat is ongetwyfeld 'n groot Afrikaanse roman--groot opgeset, geverf op 'n wye doek, gewaagd van aanbieding, ewe boeiend en onthutsend as vervelig van inhoud. En dit werk met dinge wat na aan die Afrikaner se hart le, soos erfgrond, die plaas, boerdery en moeilike verhoudings met die Ander. Bowenal is dit 'n gesinsdrama: die verskriklike verhaal wat hom afspeel in die intieme verhoudings tussen Agaat, Milla, Jak en Jakkie. Dalk 'n omgekeerde soort Oidipus-drama. Die stryd, soms ten bloede toe, oor wie vir Jakkie as kind sal he.

Die aanbieding is gewaagd, omdat dit die leser van die begin af, en vir groot dele van die boek, deelgenoot maak van die bewussyn van Milla waar sy verlam op haar sterfbed Ie en net nog haar oe kan knip. Sy kan met niemand kommunikeer nie, behalwe, binne die kunsmatige bedinksel van 'n roman, volledig en in detail met die leser. Bo alle waarskynlikheid maak die skrywer die leser getuie van Milla se sterfbedverhale--haar gedagtes en haar herinneringe, haar liriese, byna ylende intermezzo's, haar dagboeke van 25 jaar. Voorwaar 'n gedurfde kunsgreep.

Aan die ander kant is die leser vir byna die hele lengte van hierdie lywige roman van 718 bladsye vasgevang in die gedagtewereld van Milla de Wet, die eienaar van die plaas, Grootmoedersdrift. Net in die proloog en die epiloog word ons verplaas na die gedagtes van Jakkie, haar seun. Ons sien dus die wereld en die plaas en haar gesinsgenote feitlik uitsluitlik deur haar oe, en waar hulle self optree of praat is dit onvermydelik gefilter deur haar sensibiliteit. Die enigste maatstaf vir die betroubaarheid van haar waarneming is die ontplooiende verhaal self, hoewel Jakkie se epiloog tog die finale enigma, die geheim van die laaste verhaal wat Agaat aanhoudend aan hom vertel het, onthul--die verhaal self, plus natuurlik die woorde van Jak en die optrede van Agaat. Jak dien in baie opsigte, soos Treppie in Triomf, as 'n soort Griekse koor wat die gebeure van skamper, insigryke, soms onthutsend, juiste kommentaar voorsien. Jak se aforismes is van die genietings van die boek, hoe polities inkorrek hulle meestal ook mag wees.

Agaat is egter allesbehalwe eenstemmig. Milla praat met minstens drie stemme: die stem van die hede op haar sterfbed, die herinnerde stem van Milla uit verskillende sleutelmomente uit die verlede en dit word verder gerelativeer deur die stem van Milla die dagboekskrywer, wie se pretensies en vooroordele en self-rigtheousness maar ook tragiek, meedoenloos onthul word. Die verlede kry 'n swaar ironiese lading juis omdat Milla in die hede magteloos uitgelewer Ie aan die sterk hand en die swak handjie van Agaat. Sub specie aetemitatis word alle gewaand-belangrike dinge eintlik stof en as, behalwe die "moederliefde" wat Milla, ondanks alles, vir albei haar kinders het, en Agaat vir haar.

Die veelstemmigheid van die boek kom ook uit in die manier waarop Milla se stem op verskillende maniere deur haar teenspelers geeggo, nagepraat en nageboots word. Daardeur kry amper elke woord 'n dubbele bodem, selfs die aanhalings uit die groot borduurboek of Die handboek vir boere, wat Agaat so woordgetrou kan opse. Selfs Agaat se wit geborduurde kep spreek welsprekend saam (of juis teen) Milla se woorde. Ander "tale" is die alfabetbord en die taal van al die dinge wat Agaat in die kamer indra om oenskynlik te probeer agterkom wat Milla wil he--alles deel van die magspel tussen hulle. Die ander stemme word toegelaat om in briewe en gesprekke, soms afgeluister, saam te praat en Milla teen te staan. Dit geld ook die liedjies en woordspeletjies wat Milla rapporteer--herhalings van die liedjies wat sy vir Agaat as kind geleer het. Die ontduik van kommunikasie, naamlik in die manier waarop Agaat opse uit die handboek vir boere, is ook 'n ironiese vorm van kommunikasie. Uiteindelik praat Agaat se borduurwerk van haar kep en van Milla se grafdoek self hard hierin saam.

Die genderkwessie in die boek is ewe kompleks. Waar Agaat redelik geslagloos is, woed daar dwarsdeur die boek 'n bloedige gendergeveg tussen Milla en Jak. Sy is die een wat in beheer wil wees en vir wie Jak in sy onthullende verhaal beskryf as die een wat met niemand anders behalwe haarself tevrede is nie. In hierdie opsig is Agaat 'n goeie kloon van haar. Ten spyte van al sy manlikheid kom Jak--en eintlik alle mans--taamlik bekaaid daarvan af in die boek. Die manier waarop hy sterf--gejanfiskaal aan 'n boomtak, soos 'n insek aan 'n doring--is 'n brutale stuk genderwraak op MooiJak de Wet wat sy vrou geslaan het (maar eintlik in velerlei opsigte deur haar gekastreer is, al kan hy so mooi praat oor die teelkrag van sy nuwe ram). Dit is nie om dowe neute nie dat Milla al die tekens van hom en van sy manlikheid onmiddellik na sy dood uit die huis laat verwyder nie. Sy funksie as teelhings was toe immers lankal (hoewel met 'n groot gesukkel, want Milla wou nie "vat" nie) vervul.

Milla se diskoers is in 'n groot mate gelaai met die rassehoudings van haar tyd: 'n diskoers van apartheidsidees en apartheidshoudings--wat natuurlik ironies resoneer met die politiek van vandag. Die roman illustreer die dwingende mag van so 'n soort ideologiese diskoers en die menslike koste daarvan maar te duidelik. Agaat, in haar posisie tussen wit en bruin, ondermyn hierdie diskoers met woord en daad. Sy se Milla se woorde ironies na en lees in haar eie trant voor uit haar dagboeke. Haar onberispelike uniform praat sy eie taal van onversetlikheid, net soos die rampe wat sy veroorsaak. Dit is teen die einde van die boek egter ook duidelik dat sy in 'n sin hierdie diskoers voortsit in haar rol as opkomende boer en genadelose grondbesitter.

Die boek onthul ook in groot detail hoe verwikkeld die verhouding met die Ander is, geillustreer aan die geval van Milla en Agaat: daar sit sosiale afstand in; daar sit haat en wraak in, maar daar sit ook 'n diep en wrede toegeneentheid in--selfs 'n wedersydse soort begeerte: die begeerte na die onbereikbare ander; die ander mens wat jou as mens self kan vervul. Die geheim van hierdie toegeneentheid word eers in die heel laaste hoofstuk onthul, waar ons uiteindelik by die derde reeks van Milla se dagboekies uitkom--die wat heel eerste geskryf is, tussen 1954 tot 1960, en wat die vreemde begin van Agaat se verhaal onthul--die begin wat sy nooit opgeskryf het nie.

Dit is juis in die volgorde waarin die verskillende verhaallyne aangebied word dat 'n mens die meesterhand van die skrywer kan herken. Milla se verhaal in die hede ontrol oor die laaste maand of wat van haar lewe, van begin November tot middel Desember 1996 met haar dood. Dit is die verhaal van haar laaste liggaamlike agteruitgang en haar laaste desperate pogings om op die kaarte haar domein weer te verken en oto met Agaat te kommunikeer ten einde 'n soort vrede te bewerkstellig. Naas die gedeeltes in die hede, bestaan elke hoofstuk ook uit 'n terugflitsgedeelte, 'n liriese intermezzo en 'n uittreksel uit Milla se dagboeke. Die liriese intermezzo's is gedeeltes waarin Milla, dalk in 'n toestand van suurstofgebrek, vry assosieer oor die verloop van haar siekte en die opruim van haar lewe. In die terugflitsgedeeltes van elke hoofstuk word die verloop van Milla en Jak se huwelik en die opgroeiproses van Jakkie redelik chronologies vertel, vervleg met belangrike momente in die boerdery op Grootmoedersdrif. Die dagboekgedeeles volg ook 'n chronologiese lyn, vanaf die moment in 1960 toe Agaat gedwing is om die status van bediende te aanvaar tot met Jakkie se verjaardag in 1985, waar hy eweneens besluit het om die land en sy ouers te verlaat. Die mees intieme en mees geheime deel van die verhaal van Milla en Agaat word eers heel laaste onthul, wanneer die laaste reeks dagboekies aan die orde kom--dan onchronologies, sodat die heel eerste dae met Agaat (of Asgat) eers heel aan die einde in al huile gruwelikheid en teerheid onthul word.

Agaat is ook 'n groot roman, omdat dit die tradisie van die plaasroman verder ontwikkel, kompliseer en vernuwe. Die gemoedelike, geordende en gelowige wereld van die ouer plaasroman het hier plek gemaak vir 'n beroerde en onseker wereld, waar die chaos telkens dreig om die oorhand te kry. Die gemoedelike rasseverhoudings maak plek vir 'n fel stryd van die subaltern teen die magte wat haar op haar plek wil hou. Selfs die plaas, Grootmoedersdrif, is 'n weerbarstige stuk grond waar 'n mens voortdurend op jou hoede moet wees vir rampe. Dit is 'n vreemde tussen-in plek, en die drif funksioneer as 'n soort drumpel tot hierdie byna heilige en verbode grond, wat nie goedsmoeds of ongestraf oorgesteek kan word nie. Die toegange tot die plaas word bewaak deur berge, en die drif word heel nadruklik gemerk as drumpel (in verskillende grade van onoorsteekbaarheid), wat toegang gee tot die sakrale ruimte van Grootmoedersdrift--wat daardeur iets van die misterie van lewe en voortplanting kry--ironies, omdat die plaas op die ou einde nie danig vrugbaar is nie.

Wat die boek egter wel bewaar en voortplant, is die taal en manier van praat op Grootmoedersdrif en al die name van die dinge, die diere en die plante op die plaas. Die roman is vol heerlike herhaling van name--vol taalspel. Die liriese intermezzo's is verbluffende eksperimente in vrye assosiasie waarin die rede en die sintaksis opgeskort word. Die roman is met ander woorde vol van wat Julia Kristeva die semiotiese element van taal noem, wat ritme, intonasie, gebaar en melodie vooropstel. Dit is naby aan die onbewuste en word sterk met die moeder geassosieer. Die roman is dus nie net 'n omkering van die patriargie nie, maar 'n soort kolonisering van die plaas in vroulike skriftuur. Agaat is nie net 'n groot roman nie, maar 'n groot feministiese roman.

Agaat is 'n groot boek en nie 'n boek sonder foute nie. Soms word die verhaal darem baie breed uitgespin--so breed dat die boek sy voortgang verloor. Dit gee noodwendig 'n vertekende beeld van die werklikheid op plase in Suid-Afrika, juis om die tragedie van apartheidshoudings en -denkwyses in hierdie konkrete geval so aangrypend te kan ontwikkel. Daar is nie 'n sterk korrektief op Milla se feminisme nie. Die negatiewe gevolge daarvan is dalk die duidelikste sigbaar in Jakkie se koersloosheid en ontreddering in die epiloog. Hy is nog een van die swak helde waarmee heelwat resente Afrikaanse romans eindig.

Hierdie feit sou dalk krag kon verleen aan Johan Rossouw se siening dat Agaat 'n roman van die selfopheffing van die Afrikaner is. Miskien van 'n sekere soort Afrikaner--die een gevorm in apartheid, die een wie se verstand nog gedekoloniseer moet word. Maar Rossouw laat Milla se epifanie buite rekening. Dit beskryf sy eers in die heel laaste hoofstuk--die moment van selfontdekking in volkome vereenselwiging met die verwaarloosde kind in die vuurherd: daardie innige verknogtheid met klein Agaat en alles wat sy verteenwoordig--die onbereikbare maar intiem gekende Ander van Afrika.

Resensent: Hein Viljoen

Vakgroep Afrikaans & Nederlands, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit
COPYRIGHT 2005 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2005, Gale Group. All rights reserved. Gale Group is a Thomson Corporation Company.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Viljoen, Hein
Publication:Literator
Date:Nov 1, 2005
Words:1835
Previous Article:'n Heerlike leeservadng--ten spyte van die oorbekende.
Next Article:Photography--the orphan of visual arts?


Related Articles
Spore in die sand--'n herbeskouing van die oeuvre van C.M. van den Heever. (Research Articles).
Waardepeilings van die digkuns van C.M. van den Heever. (Research Articles).
Vrouekarakters in enkele prosawerke van C.M. van den Heever. (Research Articles).
Die gesprek tussen C.M. van den Heever se werk en enkele moderne Suid-Afrikaanse romans. (Research Articles).
Eleanor Baker se laaste roman.
'n Speurtog met baie ompaaie, maar sonder 'n werklike konklusie.
Die "krale" van 'n kleurvolle narratief.
Sterke vrouwen! De institutionele positie van de eerste Afrikaanse schrijfsters (1).
Uitnodiging tot verdere gesprekke.

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters