Printer Friendly

'al weer'n seisoen'.

Book Title:

Hanekraai

Book Cover:

[ILLUSTRATION OMITTED]

Author:

Daniel Hugo

ISBN:

978-1-86919-763-6

Publisher:

Protea Boekhuis, Pretoria,

2012, 72 p., ZAR130.00 *

* Book price at time of review

Daniel Hugo is veelsydig. Hy was lank spesialis-omroeper by Radio Sonder Grense (RSG) en is 'n ervare bloemleser en samesteller. Hugo is egter ook die redakteur van die boek Halala Afrikaans (2009), 'n byderwetse nuwe 'biografie' van Afrikaans. Hy verwerf sedert die negentigerjare veral bekendheid as produktiewe vertaler van Nederlandse literere werke. Hierin word sy veelsydigheid geopenbaar deurdat hy daarin slaag om werke uit verskillende genres en van uiteenlopende aard byna ewe suksesvol te vertaal. Veral sy vertalings uit die oeuvre van die Belgiese outeur Tom Lanoye vind groot byval by die leserspubliek sowel as die kritici.

Hugo het as digter aan die begin van die tagtigerjare aan die woord gekom. Alhoewel sy vroee werk baie sterk op DJ. Opperman voortbou, vestig hy hom in opeenvolgende bundels al sterker as volwaardige digter. Hy is bekend vir die hegte en oortuigende konstruksie van sy werk--op enkelgedig-, bundel- asook intertekstuele vlak. Hy toon van vroeg af 'n voorliefde vir geestige en vernufpoesie. Tot die eerste helfte van die negentigerjare kom vernuftige spel in sy bundels in 'n ryk en resonante digterlike omgewing tereg. Sy meer resente bundels gaan mank aan 'n relatiewe verlies aan diepte.

'n Kenmerk van sy beste poesie is deurgekomponeerde beelding en in hierdie verband bevat sy verse soms reel-vir-reel 'n klein verrassing of vindingryke moment, wat egter ook netjies deur die geheelkonsep van die betrokke gedig gebind word. Sy 'huisdig' uit die bundel Die boek Daniel (1986) dien as voorbeeld hiervan: hierdie sonnet ontstaan voor die oe van die leser onderwyl die digter-spreker te voet gevolg word, vanaf die smeeysterhek wat toegang tot die voortuin verleen tot die agterdeur in die laaste reel dig getrek word. Die leser verlustig hom by die lees van hierdie ars poetiese gedig in elke klein vonds wat hy teekom.

Hugo se digterlike besinnings oor lewe, dood en digkuns maak egter meer dikwels staat op 'n enkele onverwagte of gevatte wending of punchline [trefreel], gewoonlik aan die einde van die gedig. Selfs die ernstigste en triestigste verse vertoon in hierdie opsig dikwels iets van die grap. Dink maar aan die ontroerende 'ons weet net van duiwe' uit die bundel Korte mette (1982).

In sy jongste bundel, Hanekraai (2012), word hierdie tegniek weereens ruimskoots benut, soms redelik geslaagd, soos in die gedig 'Calvinisme' wat soos volg eindig: 'maar die lewe is 'n peri-/ stalse en jou uiteinde/ gepredestineer soos 'n poep'.

In die meerderheid gevalle is die wending slegs matig vernuftig en selfs flou. Vergelyk byvoorbeeld die gedig 'Klaaglied vir 'n bloekom: Kleinmond' wat uitloop op die waarneming dat die boom waaronder die familie vroeer vleis gebraai het nou braaihout is. In 'Donderweer' word in die eerste strofe aangedui dat weerlig al verklaar is as God wat foto's neem of sy swepe klap. In die tweede strofe bied die spreker 'n alternatiewe siening, naamlik dat weerlig God se wynglas is wat breek, en hy som as volg op: 'alles ruk nou hande uit/ God sukkel om die dinge vas te vat'.

Die gedig 'Nege metafore en 'n vergelyking' ontwikkel prosedure-agtig volgens 'n vaste patroon: 'kind kraai anders as 'n haan/ 'n kat lek anders as 'n kraan/'n deur piep anders as 'n muis', ensovoorts. Die slotreel lui: 'en digters doof gou soos 'n kers'. Wat hier na 'n flou, onbekookte slot lyk, is dalk doelbewus 'n antiklimaks en dus wel funksioneel. Teen hierdie agtergrond sou dan beweer kon word dat in die slot van 'Evolusie' ook 'n opsetlike pose van 'slegte' poesie ingeneem word: hierdie gedig eindig banaal, boonop met 'n vermenging van die poetiese en onpoetiese: 'en as vroegoggend 'n haan begin kraai/ weet ek ons het die natuur/ en ons eie aard gruwelik verraai'.

In Hanekraai sit Hugo die hooftemas en -tegnieke van sy digkuns voort: 'op my rekenaar kielie ek deesdae gediggies uit oor die lente, die liefde, die Lethe' (uit: 'Veertien reels vir 'n wettelose land'). Hierdie poetikale beskrywing dui op Hugo se aanpak--hy beoefen nie grootse digkuns nie, maar kielie by wyse van spreke die digterlike konsertina of trekklavier (soos 'n omie mymerend op die voorstoep). In hierdie aktiwiteit is daar benewens die spelelement ook iets van noodsaak en gewoonte vervat. Dit blyk by die lees van hierdie nuutste bundel gou dat Hugo 'n kompulsiewe opskrywer van selfs die kleinste gebeurlikheid en boekstawer van selfs die geringste gewaarwording is.

Die saambindende faktor in Hanekraai is die haanmotief. Een van die assosiasies van die haan is die heraldiese. Die haan kondig aan, basuin uit en juis in hierdie verband mag die leser bedenkinge he oor die 'mededeelbaarheid' van heelwat gedigte in die bundel, inhoudelik en verstegnies. Hier dink ek aan gedigte soos 'Evolusie', 'Na die Tetanus-inspuiting', 'Dagdrumpel', die driedelige 'Hoor hoe waai die wind', 'Restaurant Athena', 'Selfkatkisasie', 'Skande', 'Gesprek', 'Nuus', ensovoorts. Heel ironies, gegewe die titel, bied die driedelige 'Poskaarte' betreklik min om oor huis toe te skryf, maar juis hier begin die leser vermoed dat hy te make mag he met iets wat doelbewus deel van die bundelopset vorm, naamlik die problematisering van dit wat die haan in hierdie bundel met betrekking tot die poesie vergestalt. In 'Poskaarte' spesifiek is daar immers duidelik ook sprake van doelbewuste herhaling van en variasie op die haanmotief, waardeur Hugo as gedugte bundelbouer herleef: hier is dit nie die haan wat die nuwe dag aankondig nie, maar in gedig I die hondjies wat saam met die klokke van Salzburg kef. In gedig II gaan dit heel ontluisterend oor die beroerde staat van die natuurlewe in Pole, waar die spreker 'n voel gehoor het: 'een voel wat eenmaal tjilp'. Die derde gedig is, ofskoon heg gekomponeer, te mooi en sentimenteel, en daardeur word die vraag implisiet gestel of hierdie gedig, so soetlik toegestrik, wel as noemenswaardig kan geld:
   stralerlinte deurkruis die koue lug
   bokant dorpies vas teen mekaar gedruk:
   die Vlaminge praat met roomagtige g's
   in 'n sjokoladedoos toegestrik


Die algemene assosiasies van die haan is die van aankondiging, die oggendstond (en sy goud), oorwinning, die pril begin, die belofte of moontlike, maar ook arrogante vertoon, oormoed, verraad en rusverstoring. Hugo benut al hierdie kante van die haan, hetsy bevestigend of ondermynend, en vul dit aan deur die kraaiende haan ook met die fallus (in 'n staat van oggend-ereksie) in die verband te bring (in 'As die haan kraai' en 'Dagbreek'). Hier is die aanbieding ontluisterend (en verspot), wat dan weer aansluit by die voorstellings elders in die bundel van digterlike oormoed en impotensie (byvoorbeeld in die openingsgedig 'Kantekleer' en in 'Digters', 'Drieluik', 'Lesingsaal, 1975' en 'Nege metafore en 'n vergelyking'). Sommige gedigte bevat iets van die aubade, alhoewel die aubade se treurnis oor die liefdesnag wat verby is merendeels ontbreek. Daar is wel iets van laasgenoemde in die openingsgedig 'Kantekleer' waar die haan deur die son as rooi vos verjaag word (met intertekstuele heenwysing na onder andere Chaucer en die Middeleeuse fabel Chanticleer and the fox). Die liefdesbed-gegewe van die aubade spreek ten dele uit gedigte soos 'Aardrykskunde' en 'Hebban olla vogala'. Die opdrag staan wel betreklik duidelik in die teken van die aubade:
   Vir Mariene
   dit is tyd as die haan kraai
   om van die nag na die dag
   om te blaai:


Uiteindelik word die haan in hierdie bundel 'n beeld van oorgang. Hy is tussenganger tussen nag en dag. Hy word deur die voldonge son verjaag, en so ook die gedig wat groei uit die tussentyd, die sone van die moontlike:
   die gedig wat met hanekraai ontstaan, skitter kortstondig
   ('Kantekleer').


Net soos daardie 'ander lig-/ gevoelige organe' wat in 'As die haan kraai' saam met die 'morning glory' verrys:
   triljoene ereksies
   wat verskyn, weer verdwyn
   en in 'n Meksikaanse golf
   reg rondom die aardbol dein


Hierin is daar ook weer iets van herhaling, terugkeer. In hierdie verband word nog 'n verdere vergestalting van die haan benut, naamlik die weerhaan, wat dan ook op die voorblad pryk. Die weerhaan skakel met gedigte oor die wind (noordewind, die suidooster), die weer en die seisoene in hul opeenvolging en eindelose herhaling. Van die mees geslaagde gedigte in hierdie bundel, veral die haikoes, handel oor die seisoene--haikoes het per definisie dikwels die seisoenale as tema. Hugo lewer in hierdie verband tegnies getroue haikoes wat mens bybly, byvoorbeeld:
   Lente
   dit begin so bot:
   die sirkelredenasie
   van vier seisoene

   Somer
   elke bloekomboom
   is 'n sonbesiesender--
   dit is desember


In die volgende haikoe word die seisoenale, die gewoontelike en (vaardige) digterskap byeengebring:
   al weer 'n seisoen
   om lettergrepe te tel--
   dis herfs in Japan


Die tematisering van die digterskap kom ook tot sy reg in heelwat gedigte oor, vir en na digters (byvoorbeeld Ina Rousseau, Ernst van Heerden, Hennie Aucamp, Johann de Lange, Charles Malan, Joan Hambidge, Eugene Marais, T.T. Cloete, R.S. Thomas, W.H. Auden, Victor Hugo).

Hanekraai is nie 'n bundel wat 'n nuwe koers of begin in Daniel Hugo se oeuvre aandui of inlui nie, maar dit beskik oor voldoende substansie om as waardevolle aanvulling tot Hugo se werk gesien te word en 'n boeiende leeservaring te bied.

Reviewer:

Phil van Schalkwyk (1)

Affiliation:

(1) School of Languages, Northwest University, South Africa

Email:

phil.vanschalkwyk@nwu.ac.za

Postal address:

Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i2.400
COPYRIGHT 2013 African Online Scientific Information Systems (Pty) Ltd t/a AOSIS
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2013 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:van Schalkwyk, Phil
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Book review
Date:Aug 1, 2013
Words:1561
Previous Article:Herinneringe aan vanmelewe se dae: 'n Deernisvolle huldeblyk.
Next Article:Afrikaanse poesie geinspireer deur die Oosters-Ortodokse kerklike tradisie.
Topics:

Terms of use | Privacy policy | Copyright © 2019 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters