Printer Friendly

Van Tempeltronk tot katedraal: die kruisweg van Lodewyk XVII/van Tempeltronk tot katedraal: die kruisweg van Lodewyk XVII (1).

Abstract

From the Temple to the cathedral: the calvary of Louis XVII

In 2004, more than 200 years after his death in the Temple prison, the heart of Louis XVII, the successor to France's last king of the Ancien Regime, Louis XVI, was buried in the royal necropolis of Saint-Denis. Despite numerous publications on the destiny of the Little Prince, the chronology of his short life was not determined by historians and biographers, but by scientists who, in 2000, performed DNA tests on the petrified organ, which was miraculously preserved. Before this date, the biographies of the many pretenders to Louis XVII's throne (that of Naundorff in particular) were better-known than the life-history of Marie Antoinette's youngest son. Since then, various publications have changed this state of affairs, including an historical novel by one of France's most knowledgeable authors on the monarchy of the 17th and 18th centuries and a biographical novel by a member of the Bourbon family. Antonia Fraser's (2001) biography on Marie Antoinette and Sofia Coppola's (2006) film on her life have rekindled interest in the events of the French revolution. The story of Louis XVII, who was used as a pawn by the revolutionaries, is one the most tragic of that period in the country's history. This article provides an overview of key events gleaned from various sources, translated into Afrikaans for the first time.

Key concepts:

biography French Revolution historical novel Louis XVII Marie Antoinette

Opsomming

Van Tempeltronk tot katedraal: die kruisweg van Lodewyk XVII (1)

In 2004, meer as 200 jaar na sy dood in die Tempeltronk, is die hart van Lodewyk XVII, die troonopvolger van die laaste Franse koning van die Ancien Regime, Lodewyk XVI, in die koninklike nekropolis van Saint-Denis (2) te ruste gele. Ten spyte van 'n groot aantal publikasies oor die lot van die Klein Prinsie, was dit nie historici en biograwe wat uiteindelik die chronologie van sy kort lewe vasgele het nie, maar wetenskaplikes wat in 2000 DNS-toetse uitgevoer het op die versteende orgaan, wat wonderbaarlik bewaar gebly het. Voor hierdie datum was die biografiee van die vele aanspraakmakers op die troon van Lodewyk XVII (veral die van Naundorff) meer bekend as die lewensgeskiedenis van Marie Antoinette se jongste seun. Sedertdien het verskeie publikasies die lig gesien, onder andere 'n historiese roman deur een van Frankryk se grootste kenners van die sewentiende- en agtiende-eeuse monargie, en 'n biografiese roman deur 'n lid van die Bourbon-familie. Antonia Fraser (2001) se biografie oor Marie Antoinette en Sofia Coppola (2006) se film oor haar lewe het opnuut belangstelling aangewakker in die gebeure van die Franse Rewolusie. Die verhaal van Lodewyk XVII, wat as 'n pion deur die rewolusionere gebruik is, is een van die mees tragiese van daardie tydperk in die geskiedenis. In hierdie artikel word 'n oorsig gegee van daardie sleutelgebeure, afkomstig uit verskeie bronne wat vir die eerste keer in Afrikaans vertaal is.

Kernbegrippe:

biografie Franse Rewolusie historiese roman Lodewyk XVII Marie Antoinette

**********
 Dis hier waar die klein prinsie op aarde verskyn en toe
 weer verdwyn het. [...] As jy miskien daarlangs gaan,
 moet asseblief nie haastig wees nie, talm 'n rukkie onder
 die ster! (3)

 (De Saint-Exupery, 1979)


1. Inleiding

Op 8 Junie 2004 is die hart van Lodewyk-Karel van Bourbon tydens 'n plegtige seremonie in die Saint-Denis-katedraal in Parys, in die mausoleum van die Franse konings ter aarde bestel--200 jaar na sy dood.

Na die teregstelling van die koning op 21 Januarie 1793, is die enigste oorlewende seun van Lodewyk XVI en Marie Antoinette op beskeie wyse as Lodewyk XVII deur familielede in die Tempeltronk (4) erken. Sy "troonsbestyging" is verwelkom deur onder andere Spanje, Engeland, Oostenryk, Rusland, die Verenigde State van Amerika en die Pous. Dit sou Lodewyk-Karel se enigste eerbetoon wees. Sy liggaam is op 10 Junie 1795 om nege-uur die aand in 'n ongemerkte graf in die Sainte-Marguerite-begraafplaas (wat vandag onder die Saint-Bernard-straat le) begrawe. Kort daarna is hy "gereinkarneer" deur 'n horde vals kroonprinse (honderd-en-een, volgens die webwerf van die Memorial de France a Saint-Denys; Cadbury, 2002:218 verwys selfs na 'n "Dauphin epidemic") wat sou aandring op 'n onderhoud met Marie-Therese of Madame Royale, sy enigste oorlewende suster. Dit sou die hoop van 'n wonderwerk by koningsgesindes en Europese anti-rewolusionere magte laat opvlam, naamlik dat die tempelweeskind nie dood was nie, dat dit moontlik was om die tyd terug te draai en te verhinder, soos die Franse spreekwoord lui, dat die Rewolusie sy kinders, en veral Die Kind, eet.

Op agt jaar het Lodewyk-Karel as adellike en koninklike die ergste misdaad gepleeg deur 'n leuen te vertel en sodoende sy moeder en tante te verraai. Sy getuienis teen veral sy moeder (wat aan hom voorgese is deur dieselfde rewolusionere wat die seuntjie op 3 Julie 1793 van haar weggeskeur het) was bedoel om die beeld van 'n skaamtelose, losbandige vrou verder te versterk. Marie-Therese, wat in 1814 met die Restauration (5) na Frankryk sou terugkeer, sou nooit vergeet dat haar broer se woorde hulle moeder en tante na die guillotine gestuur het nie.

Die seremonie van 2004 het gevolg op die uitslae van DNS-toetse in 2000 wat bewys het dat die hart, wat tydens die lykskouing op 9 Junie 1795 deur dr. Pelletan (6) gesteel is, geneties tot die Bourbon-Habsbourg-lyn behoort. Die lot van Lodewyk-Karel is een van die Rewolusie se mees tragiese verhale.

2. Kroniek van 'n vroee dood

Daar bestaan verskeie portrette van Lodewyk-Karel van Bourbon, waarvan sommige selfs geteken is tydens sy gevangenskap in die Tempeltronk. Daar is Kucharski se portret van 'n jong volwassene in uniform (sien portret 1 aan die einde van hierdie artikel), 'n pragtige portret deur David (portret 2) en een deur Vien (portret 3) wat in die Tempeltronk geskilder is: Lodewyk-Karel is skaars herkenbaar, sy wenkbroue is gelig soos iemand wat permanent op sy hoede is, en die streng haarstyl van 'n vyftiende-eeuse Florentynse edelknaap kontrasteer met sy verwilderde uitdrukking. Die mees verontrustende beeld is egter die sepia-portret wat Mories (portret 4) in die Tempeltronk geskilder het van 'n volwasse gesig wat byna agter die kraag van 'n kindermantel verberg word. Hoewel die maak van afbeeldings binne die Tempeltronk verbode was, is die meeste van hierdie portrette in opdrag van die rewolusionere Convention (7) gedoen, miskien om die publieke mening met die beeld van 'n verswakte, gedegenereerde kroonprins te beinvloed.

Lodewyk-Karel van Bourbon sou 'n kwart van sy lewe in die tronk deurbring. Hy sou nooit die troon bestyg nie. Van sy geboorte af is die kind omring deur goewernantes, hofdames, geselskapsdames, kleedsters en voedsters. Sy opvoeding was modern vir daardie tyd en sosiale klas: teen die tradisie in sou albei sy ouers waak oor sy skoling en welstand. Gedurende sy leeftyd was daar reeds botsende berigte oor sy gesondheid: die enfant de paysan of "boerseun" (volgens Mercy-Argenteau, die Oostenrykse ambassadeur in Frankryk; Petrie, 1995:21) is ook beskryf as "ragities", 'n "sifilislyer" ('n xenofobiese verwysing na sy Habsburgse herkoms) en selfs as "epilepties" (volgens sy moeder het hy "sedert sy inenting [teen pokke] senu-aanvalle gekry wat soos epilepsie lyk"; Petrie, 1995:63). Verbasend genoeg het sy fisiese en psigiese gesondheid staande gebly tydens dramatiese gebeure in sy lewe. Hierdie gebeure was onder andere die koninklike familie se gedwonge vertrek van Versailles na Parys in 1789; die vlug na Varennes en die moeilike terugkeer na die Franse hoofstad nadat die ontsnappingspoging gefnuik is; die gepeupel se bestorming van die Tuileries terwyl Marie Antoinette met haar twee oorblywende kinders onder 'n tafel weggekruip het; die opsluiting in die Tempeltronk en die makabere parade van terreurslagoffers voor hulle tronkvensters, waarvan die skokkendste die erbarmlike oorblyfsels van die prinses van Lamballe (8) was. Die klam, bedompige toring, die kind se nuwe tuiste, het uiteindelik sy brose gestel verswak. Die beskrywing van die historiese romanskryfster Francoise Chandernagor (2002:36) lui soos volg:
 dit was nooit die bedoeling dat hierdie bergtop bewoon moes
 word nie. Dit was eers 'n uitkyktoring. Toe 'n brandkluis. Dit was
 'n opgaarplek vir goudstawe en argiewe ... (9)


Hier sou Lodewyk-Karel leer om eensaamheid te verduur. In die Tempeltronk het Lodewyk XVI aanvanklik vir horn lees-, skryf- en aardrykskundelesse gegee wanneer die gesin met etenstye bymekaar gekom het. Vanaf 11 Desember 1792 is Lodewyk XVI van sy gesin en veral van sy seun afgesonder. "Klein Lodewyk", 'n intelligente, ondeunde, blonde seuntjie met blou oe, die enigste lid van die koninklike familie wat die volk se hart kon vermurwe, moes aanleer om geluidloos te lewe en hy sou uiteindelik 'n uiters senuweeagtige kind word. Aanvanklik is 'n uur wandeltyd aan die gevangenes toegestaan, 'n toegewing wat later teruggetrek is. Gevolglik kon Lodewyk-Karel op tienjarige ouderdom nie meer loop nie. Die laaste van sy bewaarders moes hom buite in die arms ronddra nadat sekere toegewings weer na Robespierre se dood gemaak is.

Die tweede deel van sy biografie vertel die verhaal van 'n eensame, mishandelde kind. Pogings om die Bourbons te bevry (deur onder andere Toulan, die Baron van Batz, maarskalk Jarjayes en Lady Charlotte Atkins), sou misluk. Louis d'Andigne (1765-1857), 'n kontra-rewolusionere generaal uit die Vendee, het vanaf 1794 tot 1795 maniere ondersoek om die kind te bevry, maar het gou besef dat dit nooit sou slaag nie. Indien Lodewyk XVII sou sterf, sou sy ooms, Provence en Artois, aanspraak kon maak op die troon. Daar was selfs onverifieerbare gerugte dat Provence 'n komplot gesmee het om die kroonprins om die lewe te bring. Hoewel daar na 1793 nog "Lank lewe Lodewyk XVII!" langs die valbyl gehoor is, is Lodewyk-Karel deur almal in die steek gelaat. Sy naasbestaandes was onseker of hy nog lewe; die Parysenaars het hom die laaste keer in Junie 1793, op pad na die Tempeltronk, gesien. Miskien het die lot van 'n "verraaier" niemand meer geinteresseer nie.

Daar is verskeie bronne wat Lodewyk-Karel se sogenaamde "heropvoeding" deur die skoenmaker Antoine Simon en sy vrou Marie-Jeanne dokumenteer. Daar kan met 'n paar voorbeelde volstaan word om 'n beeld van die Simon-egpaar te skets. Deur hulle toedoen ondergaan Lodewyk-Karel 'n metamorfose: sy rouklere word deur 'n Jakobynse uniform vervang en sy aristokratiese krulle word afgesny. Die rewolusionere Convention se vrygewigheid ten spyt, word Lodewyk-Karel se klere al hoe minder gewas, sodat hy later oortrek is van ongediertes. Hy moet sy vader se lesse "afleer" (bladsye uit sy boeke word gebruik om Antoine se pyp aan te steek) en vulgere soldateliedjies memoriseer. Na drie maande van dreigemente en vernederings was sy denkbeelde se vervorm dat hy "erken" het (deur die gebruik van onwaarskynlike terme soos "herhaaldelike bloedskande", wat onnatuurlik geklink het in die mond van 'n agtjarige kind) dat hy sedert sy sesde jaar seksueel deur sy moeder misbruik is.

Gedurende sy "regeringstydperk" het die jong "koning" net een dokument geteken, naamlik sy aanklag teen Marie Antoinette. Lodewyk-Karel se oefeningboeke toon dat hy 'n mooi handskrif gehad het; op die verdoemende dokument wat sy moeder na die guillotine sou stuur, is niks daarvan te bespeur nie. Die agteruitgang is waarskynlik toe te skryf aan vrees of dronkenskap. Marie-Therese skryf in haar Memoire (Cadbury, 2002:116):
 Simon made him eat horribly and forced him to drink much
 wine, which he detested. All this gave him a fever ... and his
 health became totally out of order.


Na Marie Antoinette se teregstelling in Oktober 1793, was die klein prinsie se enigste beloning vir sy verraad 'n verlaging in status: die koning van Frankryk sou soos 'n kneg stewels poets, bedpanne leegmaak en mense aan tafel bedien. Die sieklike seun se tydsaamheid is gestraf met skoppe en slae. Hy sou al hoe minder praat, en uiteindelik byna afaties word. Toe die Simon-egpaar op 19 Januarie 1794 die Tempeltronk se diens verlaat het, het 'n legende ontstaan waarvolgens die kroonprins gered is deur sy bewaarder, wat hom in 'n wasgoedmandjie sou versteek het ('n onmoontlike scenario in die lig van die streng, onafgebroke bewaking van die potensiele troonopvolger; in September 1794 was daar byvoorbeeld, volgens Cadbury, 2002:155, vyfhonderd wagte om Lodewyk-Karel en sy suster te bewaak). Niemand sou Antoine se pos vul of verantwoordelikheid aanvaar vir die agtjarige seuntjie wat voortaan soos 'n gewone misdadiger behandel sou word nie:
 Louis-Charles was to have all semblance of humanity stripped
 from him and had to face the most nightmarish treatment
 possible for a young child. As security was greatly increased
 around him, the child was effectively entombed alive (Cadbury,
 2002:137).


Na Robespierre se val in Julie 1794 is Lodewyk-Karel se kamerdeur uiteindelik oopgemaak. Die simpatieke nuwe bewaarder, Laurent, het verdunde sop voorgeskryf, en velroom vir die sterwende kind se ekseem. Lodewyk-Karel het toe nog nie geweet dat sy moeder en tante intussen tereggestel is nie. Op 8 Junie 1795, teen kwart voor drie die middag, het hy volgens oorlewering vir sy laaste bewaarder, Lasne, gefluister dat hy iets gehad het om vir hom te se, maar "Meneer Karel" is kort daarna oorlede.

Marie-Therese, wat in 'n sel bokant die van haar broer aangehou is, was onbewus van die lykskouing wat die artse besig was om op haar broer uit te voer. Sy is nie gevra om die liggaam uit te ken nie: sy was nie mondig nie, en die dekreet waarvolgens broer en suster verbied is om mekaar te sien, was steeds van krag. Sy sou eers op 20 Julie 1795 van haar broer, moeder en tante se dood hoor. Haar bondige beskrywing van sy lyding en dood in haar Memoire ("I believe that no researches can show such barbarity to any other child", aangehaal in Cadbury, 2002:155)is waarskynlik gebaseer op gesprekke met bewaarders (veral Lasne en Gomin). Die twee artse (Jean-Baptiste-Eugenie Dumangin en Philippe-Jean Pelletan, bygestaan deur hulle kollegas Lassus en Jeanroy) het tot die gevolgtrekking gekom dat die kind dood is aan 'n "kliersiekte waaraan hy lank reeds gely het" (10) (Petrie, 1995:247). 'n Bourbon-afstammeling sou in 2001 opmerk dat dit 'n hoogs simboliese diagnose was:
 Die Latynse term 'scrofulae' beteken skrofulose. 'n Gesalfde
 koning het die vermoe gehad om hierdie siekte, wat wydverspreid
 in die koninkryk voorgekom het, te genees. Die Capetseun
 het beswyk aan 'n kliersiekte wat hy self sou kon genees.
 Lodewyk XVII is nie dood aan 'n siekte nie; hy is dood omdat hy
 onbewus van sy koningskap was (11) (De Bourbon Parme,
 2001:104).


Die lykskouingverslag verwys na 'n abnormale groeiproses: Lodewyk-Karel het 'n tenger borskas, uitermate lang arms en uitgroeisels aan sy bene gehad; hierdie misvormde liggaam sou vir die rewolusionere die inkarnasie wees van 'n regeringsvorm wat na 1 000 jaar tot 'n einde gekom het. Die verslag het die Rewolusie vrygespreek van alle blaam, asook van die klag van kindermishandeling:
 Die enigste skuldige was die siekte self; 'n vae, geheimsinnige
 siekte wat lank reeds deel was van hierdie onbekende liggaam,
 selfs voordat hy in die tronk opgesluit is. Dit was trouens
 dieselfde beentering waaraan sy broer in 1789 oorlede is; die
 oorerflike infeksie is maar net van een kind na die volgende
 oorgedra (12) (De Bourbon Parme, 2001:232).


Jeanroy, wat geassisteer het, het wel 'n betekenisvolle opmerking oor Lodewyk-Karel se brein gemaak:
 [...] in more than forty years' exercise of his art, he had never
 seen the brain so well developed in a child that age (Cadbury,
 2002:164).


Op 29 Maart 1817 (dus gedurende die Restauration) het Pelletan 'n verklaring in die teenwoordigheid van die Minister van Justisie, E.D. Pasquier, onderteken waarvan die terminologie aansienlik verskil het van die rewolusionere woordeskat wat die kind gedurende sy gevangeskap moes aanhoor. Pelletan verwys daarin na die "deurlugtige spruit", "koninklike kind" en "jong koning" (13) (Petrie, 1995:247) wat weens mishandeling aan sy "skrofuleuse toestand" (14) (Petrie, 1995:248) beswyk het. Pelletan bely ook sy orgaanroof: "[...] ek was stoutmoedig genoeg om die hart te buit. Ek het dit in die saagsels gerol waarmee die tafel bedek was en dit in my sak gedruk". (15) Sy bedoeling was om dit te "bewaar as 'n kultusvoorwerp, vir vereringsdoeleindes" (16) (Petrie, 1995:248). Sodoende het Pelletan onbedoeld 'n eeu oue Franse ritueel uitgevoer:
 For centuries it had been a tradition for the heart of a king to be
 embalmed and placed in the crypt of Saint Denis. It seems
 likely that Pelletan wanted to conserve this important relic of
 what he believed would be the last little king of France--after
 all, Louis XVI had been beheaded, his brothers had fled and the
 Republic was established (Cadbury, 2002:167).


Die hart is in gedistilleerde wyngees gedompel en die ties op die hoogste rak in Pelletan se studeerkamer versteek waar die ongebaisemde, vergete orgaan mettertyd kliphard geword het.

3. Die koning is nie dood nie, lank lewe die klein koning

Daar is drie verskillende datums by die Lodewyk-Karel-raaisel betrokke: die amptelike datum, waarvolgens die kroonprins op 8 Junie 1795 in die Tempeltronk oorlede is; 'n beweerde sterfdatum in 1794, waarna sy plek ingeneem is deur 'n plaasvervanger wat in 1795 die lewe gelaat het; laastens her die kroonprins (volgens die oorlewingsteorie) glad nie in die Tempeltronk gesterf nie en leef die Franse monargie deur sy nasate voort. Die verskillende hipoteses oor die dood van Lodewyk XVII kan kortliks soos volg uiteengesit word (Petrie, 1995:11-12):

* Die amptelike doodsertifikaat (gedateer 8 Junie 1795) weerspieel die historiese werklikheid: Lodewyk XVII is dus wel in die Tempeltronk oorlede.

* Die kroonprins her aan siekte en mishandeling beswyk; 'n plaasvervanger het sy plek ingeneem. (Hierdie teorie berus op die ontdekking van 'n kindergeraamte wat aan die voet van die Tempeltronk in ongebluste kalk begrawe is.)

* Die kroonprins is waarskynlik voor 1794 ontvoer; een of meer plaasvervangers het sy plek ingeneem. (Hierdie weergawe berus op 'n vergadering van die Directoire (17) wat in 1796 in die geheim gehou is; in 1920 is bewys dat die daaropvolgende "verslag" 'n vervalsing was.)

* Lodewyk XVII het 'n nuwe identiteit aangeneem, die van Carl Wilhelm Naundorff.

* Naundorff is die Pruisiese soldaat Carl Benjamin Werg en dus 'n bedrieer.

* Naundorffis 'n bedrieer.

Daar is verskeie opgrawings in die Sainte-Marguerite-begraafplaas gedoen waar Lodewyk XVII vermoedelik ter aarde bestel is: tussen 1805 en 1809, in 1816, 1846, 1894, 1904, 1970 en in 1979--maar almal sonder sukses. Die verskyning van Regnault-Warin se roman, Le cimetiere de la Madeleine, (18) het bygedra tot die legende dat die klein prinsie die Rewolusie oorleef het. Hierdie legende was die inspirasie vir 'n verskeidenheid boeke en gravures oor die onderwerp:
 [...] en als hij gered was, dan was de moord niet gepleegd. Zou
 hij zich nu bekendmaken, dan werd de schuld van wie hem
 erkenden gedelgd en daalde een miraculeuze kwijtschelding op
 het rouwmoedige Frankrijk neer (Zaal, 1995:42).


Die meeste tekste wat op verifieerbare bronne gebaseer was (soos die van die historikus Alcide de Beauchesne) sou eers vanaf 1850 verskyn, sodat vals aanspraakmakers op die troon meer as 'n halfeeu lank carte blanche gehad het. Die geskiedenis sou veral die name van die bedrieers Jean-Marie Hervagault, Mathurin Bruneau en die Baron van Richemont onthou. Melanie en Maximin, kinders uit Grenoble, het voorgegee dat die Heilige Maria by La Salette geheime inligting oor Lodewyk XVII aan hulle toevertrou het. Karl Wilhelm Naundorff sou homself laat herdoop as Karel-Lodewyk van Bourbon: die inversie van die voorname was 'n idee van sy monargistiese vriende. Toevallig was dit ook die naam wat in Regnault-Warin se roman gebruik word.

Naundorff (wie se moedertaal Duits was) is die eerste bedrieer in die geskiedenis wat die vertroue kon wen van mense wie se taal hy nie eens gepraat het nie--sodanig dat tolkdienste nodig was. Sy Frans was 'n brabbeltaal, terwyl Lodewyk XVII dit gepraat en gehoor het tot sy tiende lewensjaar. Met sy kastaiingbruin krulhare en grys oe het Naundorff nie juis na die kroonprins gelyk nie; wat veral opvallend was, was die afwesigheid van enige Habsburgse gelaatstrekke of die Bourbonse neus (Petrie, 1995:140). In teenstelling hiermee verwys Cadbury (2002:257) na Naundorff se "remarkable physical resemblance to the Bourbons". Petrie het sy Ph.D. verwerf met 'n studie oor Naundorff en het die DNS-toetse geinisieer wat tot die oplossing van die Lodewyk XVII-raaisel gelei het. Cadbury (2002:224) gee besondere erkenning aan Petrie in haar biografie, maar verklaar desnieteenstaande:
 his credentials were to prove so compelling that he effectively
 founded a rival royal dynasty and his case was to be more
 disturbing to Marie-Therese than any of the others.


Naundorff en Lodewyk XVI het wel 'n belangstelling in uurwerke gedeel: in Duitsland het Naundorff horlosies op straat verkoop. Gedurende die Ancien regime het die aristokratiese Bourbon-profiel die waarde van die Franse geldeenheid gewaarborg; in 1824 is Lodewyk XVI se "seun" weens geldvervalsing gearresteer. In 1825 gebruik hy vir die eerste keer die naam Ludwig Bourbon, foneties gespel as "Ludewig Burbong" (Petrie, 1995:117). Vervolgens sou die doopname van sy aansienlike kroos sy metamorfose as Franse kroonprins bevestig: Amelie (Marie-Therese se skuilnaam op die vlug na Varennes), Karl Eduard (verfrans tot Karel Edouard) en Berta Juliane. Vanaf 1829 word die Habsburgse assonansie duidelik hoorbaar: Marie Antoinette, Ludwig Karl en Maria Theresa.

Lodewyk XVI was 'n begaafde slotmaker; sy "seun" Naundorff was 'n ontwerper van onsinkbare militere skepe en vuurspuwende torings. In 1845 vestig hy hom in die Nederlande, waar hy sy "Bourbonse bom" demonstreer voor offisiere van die Militere Akademie van Breda. Hy word 'n goed-besoldigde pos in Rotterdam aangebied, maar sterf skaars vier maande later (waarskynlik aan tifuskoors). Sy grafsteen in Delft (wat sedert 2000 apokrief is, net soos die van die Baron van Richemont naby Lyon) lees: "Hier rus Lodewyk XVII, koning van Frankryk en Navarre, gebore te Versailles op 27 Maart 1785, oorlede te Delft op 10 Augustus 1845". (19) (De Bourbon Parme, 2001:29) Volgens sy Nederlandse doodsertifikaat was Naundorff inderdaad Lodewyk XVII. Sy nasate het hulle aanvanklik in Nederland gevestig en daarin geslaag om hulle geleende "Bourbon"-naam te wettig. Die Naundorff-mite word in stand gehou deur die publikasies van die Librairie de la Survivance in Saint-Sulpice, Parys, en deur die Institut Louis XVII wat in 1990 in die Rue des Moines, Parys, gestig is. Sedert 2000 word Naundorff se verhaal eerder as 'n anekdote beskou en sy ondersteuners byna as 'n sekte.

Historici en biograwe het talle publikasies oor die Naundorff-geval die lig laat sien: in sy proefskrif (20) van 1995 maak Petrie 'n lys van 2 000 boeke en artikels oor hierdie onderwerp. Naundorff self sou geen "openbarings" maak wat nie na kontemporere publikasies herlei kon word nie; sy grondige kennis van die tuine van Versailles, die binnekamer van Marie Antoinette se kamer en sy beskrywing van een van Lodewyk-Karel se kinderjassies het wel beindruk. Bewerings dat hy sekere van Marie Antoinette se briewe asook Lodewyk XVI se trouring en seel in sy besit gehad het, kon nooit gestaaf word nie.

Die Engelse aktrise Charlotte Atkyns-Walpole is een van die talle ondersteuners van die Franse monargie wat hulle persoonlike fortuin gebruik het om die Bourbons van die guillotine te red en is sodoende deur genadelose opportuniste (wat meer in hulle geld as in ontsnappingspogings belang gestel het) uitgebuit. Lodewyk XVII se twee ooms, wat as Lodewyk XVIII en Karel X sou regeer, was nie haastig om die raaisel van die Tempelweeskind op te los nie--indien die kroonprins nog gelewe het, sou dit hulle die troon kos. Hulle her ook gesloer om monargiste soos Atkyns-Walpole en Albouys ('n regter van Cahors en later 'n Naundorff-ondersteuner) te vergoed vir die koste wat hulle aangegaan het om die kind (of sy liggaam) te vind. Kort na sy terugkeer uit ballingskap in Mei 1814, laat Lodewyk XVIII die (moontlike) oorblyfsels van sy broer en skoonsuster opgrawe en in die koninklike grafkelder van Saint-Denis herbegrawe. In Januarie 1815 word sy minister van binnelandse sake, die Hertog van Vaublanc, beveel om 'n ondersoek te loods na die lot van Lodewyk XVII. Danksy die pleidooie van Chateaubriand (21) in die Chambre des Pairs (Franse Senaat) op 9 Januarie 1816, neem opgrawings in die Sainte-Marguerite-begraafplaas 'n aanvang op 21 Februarie 1816, maar sonder sukses. Die liggaam het vir altyd in 'n ongemerkte graf verdwyn. In 1832 spreek Chateaubriand in 'n brief aan Albouys die mening uit dat Lodewyk XVII waarskynlik lank reeds dood was en nooit sy identiteit sou kon bewys indien hy nog gelewe het nie. Die sterfdatum van Lodewyk XVII is nie in die Restauration se rou-kalender van die Ancien Regime herdenk nie; 'n gedenkteken vir die kroonprins is wel bestel, maar het nooit gerealiseer nie.

4. Van biografie tot historiese roman

Daar is min biografiee oor Lodewyk XVI, maar 'n oorvloed daarvan oor sy seun Lodewyk-Karel, hoewel dit in baie gevalle die van vals kroonprinse is. Navorsing oor die lot van Lodewyk XVII is bemoeilik deur die verdwyning van een van die belangrikste bronne, die Tempeltronkregister, na 8 April 1796, toe Etienne Lasne (die laaste bewaarder van Lodewyk XVII) dit aan die Minister van Binnelandse Sake, Benezech, oorhandig het.

Historici en historiese romanskrywers staan voor dieselfde uitdaging, naamlik om figure uit die geskiedenis en hulle tydperk te laat herleef. Op die webwerf van die Memorial (22) word Francoise Chandernagor se La chambre (wat as "roman" op die omslag van die 2002-Gallimard uitgawe getipeer word) in dieselfde asem as die DNS-resultate van 2000 genoem. Die terreine van die historikus en die historiese romanskrywer oorvleuel uiteraard, soos blyk uit die spesiale uitgawes van akademiese tydskrifte rondom hierdie tema (vgl. bronne aangehaal in Morgan, 2001).

'n Historiese en 'n biografiese roman deur twee Franse vroueskrywers sou uiteindelik die voile verhaal van Frankryk se mees tragiese kroonprins vertel. Chandernagor (2002:210) skilder die portret van 'n weeskind wie se ouers deur die vier inure van 'n tronkkamer vervang word en waar hy in donker afsondering die laaste maande van sy lewe deurbring:
 Trouens, die Geskiedenis sou hom nie onthou as die seun van
 sy ouers hie, maar as die seun van hierdie mure: mense sou
 praat van die 'Toringkind', die 'Tempelkind' ... (23)


Chandernagor gee 'n literere ekwivalent van Lodewyk-Karel se fisiese en sielkundige lyding en illustreer deur middel van die tema van verlies hoe hy geleidelik sy menslikheid verloor: die vier hoofdeugde (regverdigheid, krag, matigheid, behoedsaamheid) wat sy vroee opvoeding gekenmerk het, het hulle betekenis verloor; sy verlede is 'n verbode onderwerp; die buitew6reld is onbegaanbare terrein; herinnerings aan sy geliefde vader vervaag ("hy kan nie meer die kleur van sy oe onthou nie, maar wat sy buitelyn betref, meen hy dat daar miskien 'n ronding onder sy baadjie was" (24) (Chandernagor, 2002:32); hyself is naamloos ("hy het nie 'n naam gehad nie. In elk geval nie 'n naam waarvan hy absoluut seker was nie, een wat almal tegelykertyd sou tevrede stel nie" (25) (Chandernagor, 2002:25).

De Bourbon Parme (2001), 'n afstammeling van Lodewyk XVII, ondersoek die genetiese band tussen haarself en die kroonprins se versteende hart. Wat hierdie biografiese roman en genealogiese meditasie iets besonders maak, is dat die outeur daarvan noodwendig van dieselfde bloedlyn moes wees. Lodewyk-Karel se hart (waarvan enkele millimeter met moeite afgesaag is) is in die eerste plek 'n stukkie versteende geheue waarin herinneringe aan die veldslae van Hendrik IV en die gloriedrome van die Sonkoning (26) (De Bourbon Parme, 2001:25) sluimer:
 Sou die hart onthou dat die mag van [Lodewyk-Karel] se vader
 van God afkomstig was, en dat die aartsbiskop van Reims en
 die gedaante van brood en wyn as bemiddelaars opgetree het?
 En datsy grootmoeder keiserin van Oostenryk was? (27)


5. Die wetenskap gee die deurslag

Tussen 1999 en 2000 is 'n genetiese eksperiment in Belgie, Frankryk en Duitsland uitgevoer wat bepaal het dat die versteende hart wel afkomstig was van 'n familielid van Marie Antoinette. Naundorff-ondersteuners beskou dit egter as die hart van die eerste kroonprins, Lodewyk-Josef, wat in 1789 oorlede is. Die geskiedenis van die twee harte verskil egter hemelsbreed. Lodewyk-Josef se hart
 is op Christelike wyse verwyder en begrawe volgens 'n onveranderlike
 ritueel wat deel uitmaak van die Monargie se ware
 essensie; die tweede hart is in alleryl tydens die lykskouing
 verwyder, deur 'n arts wie se reputasie twyfelagtig en
 motiverings kompleks was (28) (Memorial, 2004).


Vir die sensasiepers en die Naundorff-ondersteuners is daar nog onbeantwoorde vrae: "2 vase 2 harte waar is die kristalskerfies?" (29) (http://www.louis-xvii.com/plaquette.html, p. 3). Die pro-Naundorffwebwerf van die Lodewyk XVII-Instituut verwerp die amptelike bevinding en bevraagteken die egtheid van die orgaan asook die mening van die historikus Alain Decaux, Franse Akademielid en voormalige Naundorff-kampvegter.

DNS-toetse word al vir meer as vyftig jaar uitgevoer en het die deurslag gegee in opspraakwekkende sake soos die vasstelling van dokter Mengele se ware identiteit. Daar kan sells gese word dat identiteitskwessies soms meer oortuigend opgelos word deur DNS-toetsing as deur biografiese navorsing, soos in die geval van Naundorff en Lodewyk XVII: 'n bedrieer sou dus beskryf kon word as 'n ouderwetse rariteit uit 'n voor-wetenskaplike era.

6. Die vertraagde teraardebestelling

Die Franse publiek van 1795 was onbetrokke by die begrafnis van die kroonprins: daar was geen gebede of blomme nie, slegs 'n veertigtal handtekeninge onderaan 'n versameling dokumente wat bevestig het dat die "koning" hierdie keer werklik dood was. Gravures en aandenkings met afbeeldings van gebreekte lelies en skoenlappers wat hemelwaarts vlieg, is wel per hand versprei.

Vanaf 1814 is herhaaldelike pogings aangewend om die kristalvaas (30) met die hart van Lodewyk XVII aan die Franse staat te skenk. Die reaksie was een van onverskilligheid en algemene wantroue. Pelletan is deur 'n oud-student beswadder en verdag gemaak by Lodewyk XVIII, wat die onbenydenswaardige posisie van opvolger van 'n vermiste martelaarkoning beklee het. Lodewyk XVIII was bedag op swendelaars en vals relikwiee en het (soos sy broer Karel X, wat horn sou opvolg) geweier om die versteende orgaan in ontvangs te neem. In 1828 het 'n sterwende Pelletan die hart toevertrou aan die aartsbiskop van Parys, sy hoogwaardige eksellensie De Quelen. Gedurende die 1830-plunclering van die aartsbisdom deur die Paryse gepeupel, is die vaas deur 'n sekere Lescroart gesteel. Hy het dit in stukke laat breek. Lescroart het Pelletan se seun (wie se naam in die bygaande dokumentasie vermeld is) van die verlies in kennis gestel, wat die versteende hart teruggevind het tussen die vullis waarmee die binnehof van die aartsbisdom bestrooi was. Die versteende hart en die skerwe van die eerste vaas is saam in 'n nuwe kristalhouer bewaar.

Met die dood van die jonger Pelletan in 1879, sou die hart aan die wettige troonopvolger geskenk word; die graaf van Chambord is egter oorlede voordat hy dit in ontvangs kon neem. Die nuwe effgenaam, Edouard Dumont, skenk clit aan Don Carlos, die oudste van die Spaanse Bourbons, wat dit aan sy seun Jaime bemaak. Laasgenoemde bewaar die relikwie in die kapel van sy kasteel in Frohsdod, Oostenryk. Die ongetroucle Jaime bemaak die relikwie aan sy suster Beatrice, prinses Massimo, wie se dogter Marie-des-Neiges dit skenk aan die Memorial de France a Saint-Denys. (31)

Inligting oor die teraardbestelling is byna eksklusief deur die elektroniese media versprei. (32) Die seremonie is deur 2 500 mense bygewoon; gebeure in die katedraal kon deur middel van reuseskerms op die kerkplein gevolg word. Ruikers wit blomme (lelies, rose en aronskelke: die kleur van die monargie) kon ook op die webweff bestel word. (33) 'n DVD van die plegtigheid is kort daarna deur die Memorial beskikbaar gestel.

Die seremonie het oor twee dae gestrek: op Maandag 7 Junie 2004 is die versteende hart van die laaste kroonprins van die Ancien Regime na die kerklike gemeente van die Franse konings (Saint-Germain l'Auxerrois) gebring, waar 'n requiem-mis gehou is. Op 8 Junie is die relikwie deur die klerus van die koninklike nekropolis van Saint-Denis op die kerkplein in ontvangs geneem. 'n Plegtige mis is bygewoon deur sy Hoogeerwaarde Eminensie, Kardinaal Jean Honore, emeritus Aartsbiskop van Tours en sy Hoogwaardige Eksellensie, Fortunato Baldelli, die apostoliese Nontius in Frankryk. Om drie-uur dieselfde middag het die hart uiteindelik sy plek in die Bourbon-kapel in die grafkelder van die basilika katedraal van Saint-Denis gevind. Dit is dieselfde hart wat eeue vantevore deur dokter Pelletan gesteel, in 'n sakdoek toegedraai en in sy sak gedruk is; wat in die loop van meer as tweehonderd jaar vermis geraak en weer teruggevind is en 'n voorwerp van verering en van spot was.

'n Postume "kroning"? Nouliks denkbaar! In 'n polities korrekte era het 'n regime wat deur sy ordetekens gedefinieer is geen reg op simbole nie. Op 8 Junie 2004 is geen vlae gehys nie: nie die wit vlag van die monargie of die republikeinse driekleur nie. Die enigste vlae wat toegelaat is, was die van "die betrokke families of die stede of streke van oorsprong van die vlagdraers" (34) (http://www. memorialdefrance.org/venir.html). De Bourbon Parme (2001:24) merk egter tereg op dat vergete seremonies, waar mense 'n enkele gebaar moet maak, in buitengewone omstandighede byna spontaan rondom 'n relikwie begin afspeel. (35)

7. Gevolgtrekking

Die geskiedenis het geen tekort aan bedrieers nie, maar die oorsprong van 'n volk se geloof in die onverganklikheid van 'n koningshuis is sells interessanter as individuele gevalle van bedrog:
 Onder het volk, of bij grote delen daarvan, is sprake van een
 utopisch wachten, van een geseculariseerd messiaans dynamisme,
 dat in de figuur van de valse pretendent zijn vervulling
 vindt (36) (Petrie, 1995:12).


Mense reageer verskillend op die Tempeltronkraaisel en op die naam van Lodewyk XVII. Belangstelling word dikwels geinterpreteer as ideologiese oortuiging of geringskatting van rewolusionere weldade. Belangstelling word ook as onfatsoenlik beskou, in die lig van die groot aantal slagoffers van daardie stormagtige jare. Die lot van Lodewyk-Karel is egter tekenend van hoe terreur ontspoor het, en wys reeds vooruit na een van die euwels van die moderne tyd, naamlik kindermishandeling.

Lodewyk-Karel se ouers het moedig gesterf; die kroonprins het stoisyns die lewe gelaat: sonder howelinge, sonder familie en sonder om 'n geluid te uiter. Op tienjarige ouderdom spreek dit van prinslike gedrag: miskien sou hy 'n goeie koning gewees het, wie weet? Lodewyk XVII se hart is in Saint-Denis en sy liggaam in Sainte-Marguerite. Terugskouend kan hierdie twee onthoofde heiliges wat die oorblyfsels van die laaste kroonprins van die Ancien regime bewaar, as ikone van die rewolusionere periode beskou word. Madame De Stael (37) (1996:58) her gesmeek:
 Verdedig die Koningin met alle wapens waaroor die natuur
 beskik; gaan red daardie kind: hy sal sekerlik sterf as hy [die
 moeder] moet verloor wat hom so verskriklik liefgehad het. (38)


Al wat Marie Antoinette op haar selmuur in die Tempeltronk geskryf het, was hoe lank haar seun was. Toe hy van haar af weggeneem is, het die koningin ure lank voor 'n klein venstertjie gestaan vanwaar sy hom in die binnehof kon sien speel. Toe sy in Augustus 1793 die Tempeltronk vir die Conciergerie (39) moes verruil, wou sy haar seun vir oulaas omhels, maar die versoek is deur die sipiers geweier. Haarmonsters van Marie Antoinette, Maria-Josepha en Johanna-Gabriela (twee van haar susters, wie se haarlokkies bewaar gebly het in die medaljons van 'n gebedsnoer), wat die mitokondriale DNS (afkomstig van die moeder) aan Lodewyk-Karel en aan 'n veraf afstammeling, Anna van Roemenie, oorgedra het, het gelei tot die identifikasie van sy versteende hart.

Lodewyk XVII sou nooit weet dat dit vir sy moeder veel moeiliker was om haar geliefde chou d'amour (liefste skatjie) te verlaat as om die skavot te bestyg nie. Ironies genoeg sou die raaisel rondom die lot van die laaste kroonprins van die Ancien Regime nie opgelos kon word sonder dokter Pelletan se orgaanroof nie:
 Whatever the motive that prompted dr. Philippe-Jean Pelletan
 to steal the child's heart--whether royal fervour, curiosity, or a
 desire to make money--it is ironic that an act of thievery should
 lead, two hundred years later, to such a satisfactory resolution.
 As Pelletan had consistently maintained, the child who lived
 and died alone and in such misery in the temple, unrecognisable
 as a royal prince and heir, his sickly body covered in
 sores and ulcers, was indeed the ten-year-old Dauphin. At last,
 the tragic circumstances of Louis-Charles' death had been
 proved to the world (Cadbury, 2002:283).


Geraadpleegde bronne

CADBURY, DEBORAH. 2002. The lost king of France: revolution, revenge and the search for Louis XVII. London: Fourth Estate.

CHANDERNAGOR, FRANCOISE. 2002. La chambre. Paris: Gallimard.

COPPOLA, SOFIA. 2006. Marie Antoinette. Columbia Pictures. DVD 0520. (ISBN/ISSN: 3388330030902.)

DE BOURBON PARME, AMELIE. 2001. Le sacre de Louis XVII. Paris: Gallimard.

DE SAINT-EXUPERY, ANTOINE. 1979. Le petit prince. Paris: Gallimard.

DE STAEL, MADAME GERMAINE. 1996. Reflexions sur le proces de la reine. Paris: Mercure de France.

FRASER, ANTONIA. 2001. Marie Antoinette. London: Weidenfeld & Nicolson. http://www.expatica.com/source/site_article.asp?subchannel_id =58&story_id =8305 Date of access: 5 Feb. 2007.

L'INSTITUT LOUIS XVII. 2007. Contre le projet d'inhumation sous une fausse identite du coeur de l'enfant du Temple. http://www.louis-xvii.com/ plaquette.html [5 fev. 2007].

MEMORIAL DE FRANCE A SAINT-DENYS. 2004. Ceremonies solennelles--deposition du coeur de Louis XVII dans la Chapelle des Bourbons en la cathedrale basilique de Saint-Denis. DVD, Editions Longs & Merveilles. http://www.memorialdefrance.org/science/html [23 fev. 2004].

MORGAN, NAOMI. 2001. Die roman maak geskiedenis: Jozef Simons se Eer Vlaanderen vergaat. Acta Academica, 33(3):67-109.

PETRIE, J.H. 1995. Lodewijk XVII--Naundorff: een mysterie ontrafeld. Amsterdam: De Bataafsche Leeuw.

ZAAL, WIM. 1995. Onnozele kinderen--Lodewijk XVII, Victor van Aveyron, Kaspar Hauser. Amsterdam: De Arbeiderspers.

Portretbylaag

Portret 1: Lodewyk XVII deur Kucharski (faksimilees van die vier portrette in Petrie, J.H. 1995. Lodewijk XVII--Naundorff. Een mysterie ontrafeld. Amsterdam: De Bataafsche Leeuw)

[ILLUSTRATION OMITTED]

Portret 2: Lodewyk XVII deur David

[ILLUSTRATION OMITTED]

Portret 3: Lodewyk XVII deur Vien

[ILLUSTRATION OMITTED]

Portret 4: Lodewyk XVII deur Mories

[ILLUSTRATION OMITTED]

(1) Ek bedank graag dr. E.M. Visagie van die Afdeling Frans, UVS, vir die proeflees van die vertalings van Frans na Afrikaans.

(2) Die twee spellings van Saint-Denis/Denys in hierdie artikel volg die konvensie van die bronne: eersgenoemde verwys na die Basilika-katedraal, en laasgenoemde na die privaat-organisasie wat omsien na die koninklike nekropolis binne dieselfde katedraal.

(3) C'est ici que le petit prince a apparu sur terre, puis disparu. [...] Et, s'il vous arrive de passer par la, je vous en supplie, ne vous pressez pas, attendez un peu juste sous l'etoile! (Alle vertalings uit Frans na Afrikaans deur N. Morgan.)

(4) Die Tempeltronk in Parys was oorspronklik 'n dertiende-eeuse Tempelierk-looster wat ook as vesting gebruik is. Gedurende die Rewolusie is die koninklike familie daar gevange gehou.

(5) 'n Term wat gebruik word om Frankryk se monargistiese politieke regime vanaf April 1814 tot Julie 1830 te beskryf.

(6) Die chirurg Philippe-Jean Pelletan is kort voor Lodewyk-Karel se dood deur die rewolusionere Comite de surete as die kroonprins se arts aangewys.

(7) Die Rewolusionere vergadering wat op 21 September 1792 in die lewe geroep is, die Eerste Republiek uitgeroep het en Frankryk regeer het tot 26 Oktober 1795.

(8) Marie-Therese Louise de Savoie-Carignan, een van Marie Antoinette se beste vriendinne, wat gedurende die September 1792-massamoorde wreedaardig gemartel en om die lewe gebring is.

(9) [...] jamais ce piton n'avait ete destine a l'habitation. C'etait d'abord un mirador. Puis un coffre-fort. On y entassait des lingots, des archives ...

(10) [...] un vice scrofuleux, existant depuis longtemps.

(11) En latin, "scrofulae" signifie ecrouelles. Le sacre donnait au roi le pouvoir de guerir cette maladie tres repandue darts le royaume. L'enfant Capet a succombe a ce vice scrofuleux qu'il aurait du guerir. Bien plus que de maladie, Louis XVII est mort de n'avoir pas su qu'il etait roi.

(12) La maladie etait la seule coupable; une maladie informe et mysterieuse qui existait depuis longtemps dans ce corps inconnu, bien avant son arrivee a la prison. C'etait d'ailleurs la meme tuberculose osseuse qui avait emporte son frere en 1789, d'une contagion hereditaire a l'autre, il n'y avait que l'epaisseur du sang.

(13) illustre rejeton, royal enfant, jeune roi.

(14) etat scrophuleux.

(15) [...] j'osai m'emparer du coeur. Je le roulai dans le son qui couvrait la table et je le serrai dans ma poche.

(16) [...] conserver comme un objet de culte et de veneration.

(17) Die regime waarvolgens Frankryk vanaf 26 Oktober 1795 tot 9 November 1799 regeer is. Daarna is dit vervang deur die Consulat.

(18) Die begraafplaas van die Heilige Marguerite.

(19) Ici repose Louis XVII, roi de France et de Navarre, ne a Versailles le 27 mars 1785, decede a Delft le 10 aout 1845.

(20) Universiteit van Groningen, Nederland.

(21) Francois Rene de Chateaubriand, Franse skrywer, ambassadeur en minister van buitelandse sake gedurende die Restauration.

(22) Il n'existe donc aucune possibilite d'erreur: le coeur expertise en 2000 est bien celui de Louis XVII, age de dix ans et mort a la prison du Temple apres une captivite de trois ans dont Francoise Chandernagor a fait recemment un recit bouleversant darts son roman La chambre. Et tout le reste est litterature ... (Memorial, 2004). Daar bestaan dus geen moontlikheid van 'n vergissing nie: die hart wat in 2000 ondersoek is, is definitief die van die tienjarige Lodewyk XVII wat in die Tempeltronk oorlede is na 'n gevangeskap van drie jaar. Francoise Chandernagor her onlangs die aangrypende verhaal vertel in "Die kamer". Die res is egter fiksie.

(23) D'ailleurs, il n'entrera pas dans l'Histoire comme le ills de ses parents, il y entrera comme le ills de ces tours: on dira "l'Enfant de la Tour", "l'Enfant du Temple" ...

(24) [...] il ne retrouve plus la couleur de ses yeux, mais, pour ce qui est de la silhouette, il lui semble, en effet, qu'il etait un peu gros sous sa veste.

(25) Il n'en avait pas. Pas de nom sur du moins, et aucun qui put plaire & tout le monde a la fois.

(26) [...] le souvenir des batailles d'Henri IV et les reves de gloire du Roi-Soleil [...].

(27) Se souviendrait-il que son pere tenait son pouvoir de Dieu, par l'intermediaire de l'archeveque de Reims et des saintes especes? et que sa grand-mere etait imperatrice d'Autriche?

(28) [...] a ete preleve et enterre chretiennement, selon un rite immuable et lie l'essence meme de la Monarchie; l'autre a ete preleve a la sauvette lors d'une autopsie, par un medecin de reputation douteuse et aux motivations complexes.

(29) 2 urnes 2 coeurs ou sont les morceaux de cristal?

(30) Gravures van 'n hart omring met sonstrale, die naam "Lodewyk XVII", 'n kroon en 17 klein sterretjies verskyn op die vaas, terwyl die Franse lelie op die deksel gegraveer is.

(31) Die Memorial de France a Saint-Denys is verantwoordelik vir die mausoleum (praalgraf) van die Franse konings in die Saint-Denis katedraal en meer spesifiek vir die jaarlikse mis ter herdenking van die dood van Lodewyk XVI en Marie Antoinette.

(32) Webwerf en e-posadres van die Memorial de France a Saint-Denys: http://www.memorialdefrance.org en abonnement@memorialdefrance.org.

(33) Die ruikerkatalogus het terme bevat wat 200 jaar laas gebruik is, soos die bloemiste Valerie Heim de Balsac se amp as "amptelike leweransier". 'n Keuse van drie ruikers is aangebied: 20 aronskelke (20 [euro]), 30 wit lelies (30 [euro]) of 40 wit rose (30 [euro]).

(34) [...] hors ceux des families concernees ou villes et regions de provenance des personnes les portant.

(35) [...] parfois, dans des circonstances exceptionnelles, des ceremonies oubliees, ou chacun n'a qu'un seul geste a faire, s'ordonnent presque spontanement autour d'une relique.

(36) Il est question chez le peuple ou une partie du peuple d'une attente utopique, d'un dynamisme messianique secularise, qui se realise en la personne du faux pretendant.

(37) Franse skryfster (1766-1617) en dogter van Necker, die Switsers-gebore direkteur-generaal van Finansies van Lodewyk XVI.

(38) Defendez la Reine par routes les armes de la nature; allez chercher cet enfant, qui perira s'il faut qu'il perde celle qui l'a rant aime.

(39) Die Middeleeuse deel van die Paleis van Justisie in Parys, vanwaar Marie Antoinette na die guillotine geneem is.

Naomi Morgan

Department Afrikaans, Nederlands, Duits & Frans

Universiteit van die Vrystaat

BLOEMFONTEIN

E-pos: morgann.HUM@mail.uovs.ac.za
COPYRIGHT 2007 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2007, Gale Group. All rights reserved.

 Reader Opinion

Title:

Comment:



 

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:text in Afrikaans
Author:Morgan, Naomi
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Essay
Geographic Code:4EUFR
Date:Apr 1, 2007
Words:7273
Previous Article:"Confessing out the soul to conform to the rhythm of thought": a reading of Allen Ginsberg's Beat poetry/"confessing out the soul to conform to the...
Next Article:The symbolic significance of P.T. Mtuze's poem "Isinagogo" in Uyavuth' umlilo/die simboliese beduidenheid van P.T. Mtuze se gedig "Isinagogo" in...
Topics:


Related Articles
Die sonsverduistering as (ge)diggeleentheid.
Sterke vrouwen! De institutionele positie van de eerste Afrikaanse schrijfsters (1).
Du Plessis het sy pen op die pols.
Die dramaturg as kanoniseerder.
Die Afrikaanse poesie sedert die 1980's ondenkbaar sonder Hambidge.
'n Waardevolle naslaanbron oor Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur.
Coverage of issues related to language, in particular language rights and language policy, in the South African print media/Mediadekking in die...
Afrikaans as voertaal en wetenskapstaal aan Suid-Afrikaanse universiteite.
N.P. van Wyk Louw.
Braam de Vries word 70.

Terms of use | Copyright © 2014 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters