Toeganklike lirieke met 'n digterlike aanslag.Strydom, Amanda. 2004. Kaalvoet. Liedtekste. Parklands: Genugtig! Uitgewers. 79 p. Prys: Onvermeld. ISBN 0 9584604 3 4. Resensent: Lucas Malan (Voormalige hoof: Dept. Afrikaans, Johannesburg College of Education) Onder die skrale viertal kontemporere Afrikaanse sangers wat hul eie lirieke skryf en daarvan gepubliseer het, is die van Koos du Plessis seker die belangrikste en die bekendste. Met hierdie keurig versorgde versameling liedtekste en treffende foto's voeg Amanda Strydom nou haar eiesoortige stem by die Gideonsbende en verruim sy 'n skraal literere genre. Hierdie tekste oorspan 'n hele aantal jare in Amanda Strydom se loopbaan as sanger en liedskrywer. Aanvanklik het sy vir haar opnames op die lirieke van ander skrywers gesteun, waarvan Hennie Aucamp s'n moontlik die beste by haar stem en temperament gepas het. En 'n beter model vir die skryf van haar eie lirieke later sou sy kwalik kon kies, want begaafdes en kundiges op hierdie gebied is in Afrikaans ewe dun gesaai. In die opstel "Die digter en die liedjieskrywer", opgeneem in sy bundel beskouings oor "randkultuur", Woorde wat wond (Tafelberg: 1984), verken Hennie Aucamp kortliks die herkoms van die term liriek, en aan die hand van vroeer digters in Afrikaans en ander tale, ook die aard van die liriese teks wat sig tot toonsetting en musikale uitvoering vir die publiek leen. Op grond van 'n uitspraak van die kabaretkenner, Erich Kastner, kom Aucamp op p. 52 tot die volgende gevolgtrekking: Die sleutelwoord is gespreek: die liriek is 'n gebruiksding. Nie noodwendig wegwerplik nie; nee: sedert die Beatles, Bob Dylan, Jacques Brel en ander is die bestendiging van lirieke vir (luister)liedjies die reel. Maar aan 'n drieledige eis kan die liriek nie ontsnap nie: dit moet singbaar, hoorbaar en onmiddellik toeganklik wees. Later in sy opstel meen Aucamp "'n Liriek moet onmiddellik self-verduidelikend wees", en waar hy twee voorbeelde van liedtekste deur Cole Porter en Hildegard Knef vir bespreking uitsonder, wys hy op die digterlike eienskappe wat van die twee tekste "geslaagde lirieke" maak, naamlik "'n intense emosie wat met al die tipiese middele van die poesie oorgedra word: herhaling, ritme, beelde". In Strydom se liedtekste sal die leser sonder moeite al hierdie trekke van toeganklikheid en 'n digterlike aanslag herken. Net hier en daar haper daar soms in enkele reels vir die leser van hierdie tekste iets aan die ritme, maar in die uitvoering daarvan sal die luisteraar dit nie agterkom nie, want sy maak gebruik van wat Aucamp 'n "beveiliging" of "redmiddel" in die kabaret noem, naamlik dat "trefreels gepraat of gesingpraat (kan) word." Moeilik soos dit is om in hierdie genre 'n teks en die uitvoering daarvan te skei, kan "Vrou by die spieel", "Hector P" en "Dicky se lied" as voorbeelde dien van die liedtekste waarin die effens problematiese ritme van die gedrukte teks in die musikale weergawe behendig uitgeskakel word. Omdat Strydom se gepubliseerde liedtekste oor 'n betreklik lang periode strek, is dit vir die leser 'n hulp dat sy dit hier nie chronologies nie, maar onder tematiese hoofde plaas: Die liefde, Die politiek, Die menslike kondisie, Die blou planeet se siek (ekologie) en ten slotte Reise en gebede. Voorspelbaar soos hierdie afdelingshoofde mag voorkom, is daar 'n verbasende verskeidenheid onderwerpe, sprekers en stemminge in elkeen van hulle. Hoewel daar 'n hoe frekwensie van die persoonlike en besitlike voornaamwoorde "ek" en "my" in hierdie tekste voorkom, is die oorheersende sfeer die van 'n algemene, eksistensiele nood. In die afdeling wat oor die liefde handel en dus gevaarlik eensydig kan wees, is dit byvoorbeeld nie net die versaakte minnares ("Ek loop die pad", "Madame Julie", "Houvrou") nie, maar ook die viering van die erotiese ervaring wat driftig ("Stoom"), sinlik ("Ons kan laatle") of as hooglied vorm kry, wat hierdie afdeling so verkwiklik nuanseer. En in die afdeling oor politiek is die ses tekste individueel so uiteenlopend dat dit omtrent net die forsheid van segging is wat hulle bind. Tegnies is Strydom se gebruik van herhaling as bindingsmiddel ook ruim gevarieerd. Soms is die klankbinding reelmatig ("Liefdeslied", "Dodedans", "Diva"), soms onderbroke ("Kom tog by die punt uit") en soms ontbreek dit ("Hector P".) Elders maak sy weer gebruik van sintaktiese herhaling (frases en refreine), en dikwels met effektiewe en subtiele variases ("Hoor hoe brom die wind", "Vrou by die spieel" en "Scattered thunder".) Haar beeldgebruik is opvallend sensueel: "die muskus van my lelie en die mufheid van my lyk" ("Liefdeslied"); "Gee my jou asem, laat ek rustig drink" ("Hooglied") en "Die lig lek stadig aan ons bed" ("Silwer somer") om net 'n paar te noem. Hiernaas is die konkretisering in haar tekste opvallend en trefseker vir die liriek. Plekname ("Rit huis toe"), handelsname ("Vrou by die spieel") en eiename ("Hotel Royale") is enkele voorbeelde hiervan. Met Kaalvoet bewys Amanda Strydom nie net haar skryftalent nie, maar bewys sy ons literatuur ook 'n guns. |
|
||||||||||||||||||||

Printer friendly
Cite/link
Email
Feedback
Reader Opinion