Printer Friendly
The Free Library
4,488,821 articles and books
Member login
User name  
Password 
 
Join us Forgot password?

Gefnuikte verwagtings.


Fourie, P. 2003. Koggelmanderman. Pretoria : Protea Boekhuis. 54 p. Prys: R69.95. ISBN 1-86919-034-3.

Resensent: M.P. Human (Dept. Afrikaans, Randse Afrikaanse Universiteit)

Die verskyning van enige dramateks in Afrikaans is deesdae verblydende nuus. Wanneer dit egter 'n teks uit die pen van 2003 se Hertzogpryswenner vir drama is, en die leser boonop op die stofomslag lees dat die drama met die Nagtegaal/Klein Karoo Nasionale Kunstefees-prys vir nuutgeskrewe verhoogtekste bekroon is, is die verwagting groot. Aan hierdie verwagting word daar in Pieter Fourie se Koggelmanderman (2003) egter slegs ten dele voldoen.

Die teks is treffend uitgegee--veral die effens groter formaat is opvallend en aantreklik. Ek vind dit egter jammer dat daar aan die einde van die teks vyf lee bladsye is en dat die voorbladillustrasie van die koggelmanderman nie heeltemal met die beskrywing van die karakter in die rolverdelingslys ooreenstem nie: "Op sy kop--vanaf die lae voorkop tot agter in die nek--'n halfmasker uit 'n ou 5-liter-olieblik gesny wat duidelik die sierlike, puntige kamkop van "n bloukopkoggelmander suggereer" (7) (ele kursivering--MPH).

Koggelmanderman is besonder ryk aan intertekstuele verwysings, waaronder 'n aansluiting by die Jungiaanse psigologie; 'n huldeblyk aan Peter Shaffer se Equus; ooreenkomste met Brink se Bagasie-triptiek (1965) en Die jogger (1997); 'n (verbatim) uittreksel uit Jan Rabie se kortverhaal "Die padda en die maan" uit Een-en-twintig (1956) en raakpunte met Fourie se vorige dramas. Die titel roep reeds assosiasies met Fourie se Die koggelaar (1988) op. Verpleegster se woorde: "Die waarheid is soms die groot beskermengel van die liefde ... maar nie altyd nie ... Dit kan ook die leuen wees" (48) herinner aan Anna se woorde in Ek, Anna van Wyk (1986): "Die leuen is die beskermengel van die liefde". Net soos in Ek, Anna van Wyk en Die koggelaar is die handelingstruktuur van die drama gebou op die ritualisties-seremoniele en obsessionele uitspeel van episodes uit die verlede. Weer kom die verhouding tussen man en vrou ter sprake; weer is daar sprake van 'n "gesinstragedie"; van die simboliese konfrontasie tussen droogte (grond) en water en van die trourok as veelseggende simbool. Karel deel egter nie Boet Cronje of Anna van Wyk se obsessie om te bely nie. As "koggelmanderman" is sy woordeskat tot vier sinne beperk: "Sy sal kom. Ek sal jonk wees. Ek sal mooi wees. Ek sal sterk wees."

Die drama word gekenmerk deur 'n nieliniere handelingsverloop wat op verskillende tydsvlakke ontplooi. Tonele uit die verlede word by wyse van terugflitse, simultaantonele en die doeblering van karakters in die hede geaktiveer. Die redelik eensydige gesprek wat Verpleegster (36) in die hede met Koggelmanderman (62) voer, word telkens onderbreek deur die gesprekke tussen Karel (55) en Dina (29). 'n Duidelike parallel word op die wyse tussen Koggelmanderman en Karel, enersyds, en Verpleegster en Dina, andersyds, getrek. As middeljarige boer raak Karel verlief op Dina, die buurdogter wat na 'n roemryke loopbaan as ballerina ter wille van haar pa op die buurplaas kom boer. Alhoewel die seksuele vonke, ten spyte van Karel se fisieke voorkoms, aanvanklik tussen die twee knetter, koel dinge egter na hulle huwelik aansienlik af. Karel en Dina ervaar probleme op seksuele gebied. Daar is selfs 'n suggestie van ontrouheid en impotensie. By geleentheid merk Karel teenoor die bloukopkoggelmander op: "Gebeur dit met my, gebeur dit nie met haar nie. Gebeur dit dalk met haar, gebeur dit beslis nie met my nie" (46). Deels spruit die probleem uit Karel se verbete vasklou aan 'n Boesmangeloof waarvan Dina hom vertel het, naamlik dat "... waar die bloukopkoggelmander sit, daar le die vrou tevrede" (41, 43). Andersyds word die suggestie ook gelaat dat die verhouding wat Dina vroeer met Monica gehad het, 'n negatiewe invloed op haar huwelik met Karel begin uitoefen. Na die huwelik erken Dina byvoorbeeld aan haarself:
   Die aand by die plaashek was dit so maklik. Op 'n manier verruklik.
   Ek het dikwels daaraan gedink. Vas geglo dit kan weer so wees. Ek
   kwets hom nag na nag. En die arme man die glo dis hy. Glo die fout
   le by hom. Erger, by die koggelmandertjie (47).


Karel word deur jaloesie en agterdog verteer en uiteindelik tot waansin gedryf. In 'n woede-uitbarsting gooi hy soutsuur oor Dina se gesig en nek, skiet die bloukopkoggelmander met die haelgeweer dood en neem die reptiel se plek in. Hy word oplaas die "eksentrieke, geheimsinnige Koggelmanderman" (13-14) van die Kalahari.

Volgens Johan Coetser (2003:9) behels die drama 'n besinning van die verskillende gedaantes wat liefde kan aanneem, en die gevolge wat jaloesie daarop kan he.

Fourie se fyn aanvoeling vir die teatermatige blyk veral uit die geslaagde visuele oorgange tussen tonele. Die konfrontasie tussen Karel en die afstandbeheerde bloukopkoggelmandertjie in die openingstoneel is besonder funksioneel, aangesien dit 'n metafoor word vir die konfrontasie tussen ouderdom en die energie, vitaliteit en skoonheid van die jeug (hier uitgebeeld deur die ratse bewegings van die koggelmander). Die obsessie om dinge teen verganklikheid te bewaar, word 'n deurlopende bemoeienis in die drama: Karel dra byvoorbeeld die opgestopte koggelmander om sy nek, Verpleegster besing die krag van formalien, terwyl Dina en Monica die vervlietendheid van skoonheid in hul briewe betreur.

In sy drietalige monoloog verwoord die toergids van die Africa Unique, 'n toer(iste)bus wat onder andere in die Kalahari aandoen sodat die toeriste 'n kykie na die Koggelmanderman kan kry, belangrike agtergrondsinligting en enkele leidrade wat die leser tot 'n moontlike interpretasie van die drama kan lei, naamlik dat (i) die bloukopkoggelmander as mitologiese argetipe van die manlike libido beskou kan word en (ii) dat die ondergrondse, semi-woestynwater van die Kalahari 'n invloed op die sluimerende krag van die verbeeldingsmistiek kan he. Voorts behels dit ook 'n poging om die leefwereld van die San in die teks te betrek en lewer ironiese kommentaar op die netelige posisie van die mense wat dikwels deur buitestanders slegs as "antropologiese besienswaardighede" bejeen word. Die toergids se spreekbeurt is egter te lank, terwyl die deurlopende afwisseling van Frans, Duits en Engels nie werklik 'n doel dien nie. Ook die invoeging van die lang uittreksel uit Jan Rabie se "Die padda en die maan" is, myns insiens, ongemotiveer, aangesien 'n totaal vreemde simboolsfeer daardeur in die drama opgeroep word. Die binere opposisie padda/maan (as uitbeelding van die opposisie man/ vrou) word in elk geval reeds deur ander binere pare soos grond/water, see/land en plaas/stad gesuggereer. In die kort bestek van 45 bladsye probeer Fourie net te veel uiteenlopende dramatiese elemente met mekaar versoen: vanaf lang monoloe en briefuittreksels, tot by die invoeging van 'n aantal (soms ongemotiveerde) ballettonele. In hierdie opsig verteenwoordig die verpleegster se slotspreekbeurt 'n te gerieflike poging om die ongelyksoortige elemente tot versoening te bring: "Dit is die liefde. Magteloos teen die gif van jaloesie, besiUikheid en die uiteindelike kalahari-van-impotensie. Maar die verlange, die bewaak hy soos 'n kleinood" (53-54).

Uiteindelik is 'n mens se reaksie op die teks soortgelyk aan die toeriste se reaksie op die titelkarakter: in die droogtegeteisterde landskap van die Afrikaanse drama is Koggelmanderman 'n aardigheid met sy sierlik gestruktureerde koggelmanderkop en vasgehegte koggelmanderstert--gevleg uit verskillende "drama"-repies. Anders as die betowerde toeriste, kry die leser egter die ongemaklike gevoel dat hy andersins maar weinig om die lyf het!
COPYRIGHT 2003 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2003, Gale Group. All rights reserved. Gale Group is a Thomson Corporation Company.

 Reader Opinion

Title:

Comment:



 

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Koggelmanderman
Author:Human, M.P.
Publication:Literator
Article Type:Book Review
Date:Nov 1, 2003
Words:1193
Previous Article:'n Stygende lyn ... tog ontbreek fyner afwerking.(Enkeldiep)(Book Review)
Next Article:Ras, identiteit en ontluisterende kommentaar.(Trialoog)(Book Review)
Topics:



Related Articles
Inside Arthur Andersen: Shifting Values, Unintended Consequences.(book review)(Book Review)
Books.(VRG Catalog)(brief reviews of 14 books)(Book Review)
Papermaking Techniques Book.(Brief Article)(Children's Review)(Book Review)
Clinical Applications for Motor Control.(book review)(Book Review)
Kinesiology: the Mechanics and Pathomechanics of Human Movement.(book review)(Book Review)
What Remains: Sally Mann's encounter with death and wet collodion.(Books Reviewed)(Book Review)
Irredentos: Christian Cravo and his journey into Brazilian souls.(Books Reviewed)(Book Review)
Locke and liberal origins.(Book Reviews)(Launching Liberalism: On Lockean Political Philosophy)(Book Review)
Interpreting ancient texts.(Book Reviews)(What is Ancient Philosophy?)(Book Review)
Maverick conservatism.(Book Reviews)(Willmoore Kendall: Maverick of American Conservatives)(Book Review)

Terms of use | Copyright © 2008 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters | Submit articles